Suidpunt: Skryf vandag nog jou lewensverhaal!

Soos ek deur mnr. Leon Lemmer se weeklikse rubriek lees, raak dit vir my gans te duidelik wie die geskiedenis skryf. Of, wie ‘n platform gegee word om geskiedenis te skrywe. Baie van ons lesers dink miskien: “Mastig, net mense met ‘n hoë dunk van hulself skryf ‘n boek oor hulself”.

Ek stem nie saam nie. Nou minder as ooit. Om ‘n voorbeeld te noem. Iewers in M.E.R. se outobiografie (bl. 208-209) word geskryf sy het die benaming “toebroodjie” bedink as vertaling vir “sandwich” toe sy vir “Die Burger” gewerk het, al was daar reeds “planksny” êrens in die Noordwes-Kaapland in omloop. Tot dusver kon ek in geen etimologiese woordeboek steun of weerlegging vir hierdie stelling kry nie, slegs wat sy neergeskryf het. As mens maar geweet het in watter artikel sy die woord die eerste maal gebruik het, sou dit gerusstellend gewees het. En dit is juis hierdie soort “verlies van feite” wat my geweldig bekommer.  Elke detail wat weggelaat word, se bewyse gaan verlore vir die volgende geslag. Party gaan deur snippermasjiene, huisbrand of die asblik verlore. Indrukke gaan verlore. Ervaring gaan verlore. Die belangrikste weer: FEITE gaan verlore. Want nou is jy maklik vatbaar vir die denkfout “argumentum ad ignorantiam” – alles is waar as daar geen teenbewyse is nie. Dit weet die rasionaliste, maar nie jou tipiese progressiewe skrywer wat geen tyd vir die rede het of deeglike navorsing nie. Vir hom of haar is enigiets gangbaar solank dit net byderwets KLINK of eerder, VOEL. Fiksie het die nuwe norm geword.

Ek dink die Afrikaner/Boer is net skaam, of het nog geen skryfkultuur ontwikkel nie. Party Duitsers en Hollanders bring skaars 30 dae in Afrika deur, en skryf ‘n “lewensveranderende” boek daaroor wat maklik-maklik oor die 100 tot 240 bladsye strek. Ek dink nou sommer in die verbygaan aan Barbara Imgrund se “Wild Woman: Die Fremde in mir” (2010). En dominee Herman Huber Kuyper se reisverhaal, “Zuid-Afrika: Reisindrukken”, op archive.org ( https://archive.org/details/HermanHuberKuyperZuidAfrikaReisindrukken ) uit die jaar 1925.

Skaamheid kan nie, mag nie in die weg staan van verantwoordelikheid nie! Hieronder behandel ek die noodsaak, enkele voorbeelde, en “groei”.

Die noodsaak

Ten eerste, om misleiding te voorkom.

Voorbeeld, rondom Apartheid: “Ons moet onthou dat die lewenstandaarde van blankes toe baie hoër was as dié van swartes, so dis glad nie snaaks dat die blanke bevolking ‘n stadiger verhoging in lewenstandaarde gehad het as die swart bevolking tydens ‘n tydperk van ekonomiese ontwikkeling nie.”

Dit is natuurlik ‘n growwe veralgemening wat dag na dag gebeeldsend of op die internet geskryf word. Ek sou die teendeel kon bied met my eie moeder as voorbeeld in die 1950’s tot 1960’s – sy was ‘n plaasbywoner se dogter. Het ook nie krag, water, spoeltoilette en vullisverwydering gehad nie, en alles maar so geiserloos aanvaar. My moeder moes maar water winter en somer, in wind en weer, uit die nabygeleë sloot gaan haal met die emmer of skottel. Die sloot was altyd skoongehou, met krappies wat na jou toe aangeskarrel het. Hordes van die goed. En ‘n paar klein vissies. So skoon was die water. Vandag word daardie huisie bewoon deur ander, die doringbome en bosse het die sloot ingeneem. Die stroom vloei dus nie meer nie. Die krappies en varswatervissies lê seker dekades onder sediment begrawe. Daar was destyds ook geen openbare vervoer skole toe nie, my moeder en haar broer moes kaalvoet skool toe stap. Winter en somer. Maak jy in die winter langs die pad vuur net om jou hande warm te maak, word jy deur die onderwyser geslaan omdat jou hande en naels vuil is. Maklik was die lewe nie. My vader was wel ‘n stedeling in Johannesburg, en hy het wel al hierdie stadsgeriewe gehad. Vir my moeder was dit seker desjare ‘n skandvlek, vir my is dit vandag ‘n eer. ‘n Eer om die progressiewe vooroordele verkeerd te bewys.

Ten tweede, dink hier ook aan stamboomnavorsing. Jy het name, vanne, geboortedatums en sterftedatums voor jou. En dit is al. Jy weet nie waarvan die persoon gehou het nie, weet nie wat die persoon deurgemaak het nie. Inteendeel, jy weet nie eens wat die persoon se gunstelingkleur of -kos was nie. Jy weet nie deur hoeveel lyding jou oumagrootjie was nie. Jy weet nie hoe sy gelyk het nie. Weliswaar weet jy nie eens of die persone ooit gedink het nie. Al wat jy weet: iewers het betoorgrootvader en betoorgrootmoeder mekaar waarskynlik op die muwwe strooimatras beetgepak en geliefkoos, sodat oupagrootjie min of meer 9 maande later gebore moes word. En die lewensverwelkomende raps sadisties op die boud gekry het. So loop die ritueel nou maar verby die doopvont, die katkisasie, voorstelling en aanneming, die eerste nagmaal en… die res hoop jy maar om by GISA of die kerkkantoor uit te vis. Dikwels vrugteloos. Waarom jou oupagrootjie tog so ‘n nukkerige ou man uitgedraai het, weet nugter. Dalk het hy verbitterd geword omdat hy nooit suiglekkers kon kou nie, hoe sal ons weet? Of dalk het sy boesemvriend sy droommeisie afgevry – daar was immers nog nie invoerbruide op bestelling nie. Wat hy van godsdiens, God, die kerk, die staat, die landsgenote gedink het, weet jy ook nie. Wat sy lewensarbeid betref, weet jy heeltemal niks. Al wat jy het, is rudimentêre gegewens wat jy êrens op ‘n foto van ‘n swambedekte grafsteen miskien gekry het op eggsa.org. En miskien identitynumber.org. Dit is al.

Deficit omne quod nasciture: alles wat gebore word, vergaan. Tensy mens iets aan die saak doen, is ons doodgewone mense na drie geslagte ook vir die geskiedenis vergete. Nou ja, as jy dink iemand gaan ‘eendag’ ‘n biografie oor jou skryf, gaan jy lank wag. Jy kan maar netsowel self aan die werk spring. ‘n Biograaf soos J.C. Kannemeyer is buitendien in 2011 oorlede. Ek sien nog geen soortgelyke opvolger nie.

Skryf die oorwinnaars werklik AL die geskiedenisboeke? Leerplanne miskien, ja. TV/radio-programme, miskien ja. Die koerante, miskien ja. Boekpryskortlyste, miskien ja. Die “commendationes”, miskien ja. Maar vir die res? Dis eenvoudig ‘n gebrek aan belangstelling van die behoudendes se kant af. En oor 50 jaar is almal buitendien uitgekuier met die “bespotlike standaard” van die 1990’s, 2000’s en 2010’s – as daar ooit nog iets van oor is. Jou eenvoudige bietjie slêngtaal hier en daar wat jy vandag skryf, is oor ‘n honderd jaar of so “verhewe taalgebruik”. Vra maar vir Joost van den Vondel en William Shakespeare.

Ten derde is die groot gelykmaker (naas die dood) die internet. En mense is nou ook nie almal onder ‘n kalkoen uitgebroei nie, hoor. Heelwat mense sal nie belangstel in broodskrywers van Netwerk24 wat steeds aanvoer Verwoerd was bang vir televisie omdat hierdie medium die NP sou sink nie. Gelukkig is hierdie skrywers se ondeurvorste prulstukke in elk geval agter ‘n betaalmuur, amper soos ‘n pornokanaal wat uit maatskaplike verantwoordelikheidsin ledegeld begin vra, veilig weggesteek van jong onskuldige blink Afrikanerogies wat maar huiwerig is om koerant onder die blad gesien te word. Dit pas my goed. Nee, dit pas my UITSTEKEND! Mense met gesonde verstand sal eerder na “Verwoerd aan die woord” (1963) gaan en sy toesprake deurlees, veral vanaf bl. 326 tot 333. ‘n Gewigtige bronteks. Maar het Verwoerd se tekste nooit gebundeld bestaan nie, dan moes ek seker maar alles vir soetkoek opvreet op ‘n werf wat hom CNN-styl uitgee “vir nuus wat jy kan vertrou”? Vragie: waarom is Verwoerd se toesprake nooit herdruk nie? Ek bedoel, “Mein Kampf” (vir die ou progressiewes wat mos Apartheid voortdurend met die Nazi-Duitsland vergelyk) het al derduisende, miljoene herdrukke beleef. En vertaal. En vandag is sy werk selfs vryelik beskikbaar vir Jood en nie-Jood om te lees. Waarom nie Verwoerd s’n nie? Verwoerd is mos langer as 50 jaar al dood – sy werk is immers streng gesproke in die openbare besit. Omdat Verwoerd te logies gedink het? Om die waarheid doelbewus te verswyg? Waarom Verwoerd vrees as hy dan storietjies in die parlement sou opdis? Wat is daar dan om weg te steek?

Juis daarom stel ek voor jy moet jou werk orals gaan berg en rondversprei. Persoonlik sal ek nie my boek na my dood geberg wil hê by GISA, saam met my in my uitgevoerde geelhoutdoodskis (soos Heinrich Schörbech gewens het), by die Kaapse Argief, bankkluis, by openbare dorpsbiblioteke of in ‘n tydkapsule onder die preekstoel nie, maar eerder digitaal opgelaai by Amazon, WikiCommons, archive.org, Dropbox of selfs Google Drive wil kry. Brandstigting hinder my, onder andere. En die drukkoste is peperduur. As jy bang is die rekenaarwêreld gaan in die toekoms heeltemal verander of in duie stort, kan jy jou werk liewers laat uitdruk en vir jou kinders en familielede aanstuur – maar jy weet seker nou reeds wat het met al jou ouma se erfstukke gebeur. Dit kry voete en verdwyn spoorloos. Jy kan altyd 600 kopieë laat druk en regoor die wêreld laat versprei, as jy werklik moet. Een van hulle behoort die tyd te deurstaan; net soos die Qumranrolle.

‘n Paradoks soos dit mag klink – ongeveer 5.000 bladsye oor daaglikse gebeurtenisse wat oor 5 jaar strek, is steeds ‘n opsomming van 1.826 dae se 21.912 uur dink- en doenwerk (ek neem ‘n uiters lae 12-uur-gemiddelde). Deesdae kan mens maklik tot 3 bladsye per dag tik, soos jy inligting vergader, beredeneer, kiekies steel en plak (met bronverwysing), aanhalings knip en plak, kommentaar oor jou werk berg, metakritiek oor jou kritiek op ander se kommentare knip en plak, Youtubevideo’s opsom, “podsendings” opsom, ou webblaaie op web.archive.org of archive.is gaan argiveer en hierdie webadresse êrens wil neerskryf. As mens op reis gaan, begin mens nie meer uurliks opsommings maak nie, maar per minuut (soos terloopse notas, foto’s, videos en stemopnames op jou selfoon). Elke kosbare oomblik raak belangrik – wat is gesê, wat is gedink, wat is die indruk van die plek. Met ‘n pen en papier neem dit my dikwels ‘n volle uur om ‘n A4-bladsytjie vol te skryf, want jy moet eers die sin formuleer, dan neerskryf, dan ‘n verkeerdgevormde lettertjie doodkrap. Of ‘n hele sin doodtrek. En ek skryf boonop met my linkerhand, teen ‘n slakkepas. En dit lyk slordig en onleesbaar. Met die toetsbord word my woorde egter leesbaar gevorm terwyl ek tik. Soos ek dink, skryf ek neer. Ek het geen beperking hoe lank ek wil skryf of dink nie. Hoe meer jy skryf, hoe meer wil jy skryf.

Ten vierde. Die mens het ‘n besonder kort geheue. Ek neem hom of haar nie kwalik nie – ons word doodgegooi met inligting en snert. En ons arme verstandjies kan ook maar net soveel verduur. Kan jy onthou wat die dominee drie Sondae gelede gepreek het? Was seker dan nie belangrik nie. Kan jy dag en datum presies onthou wat jy verlede jaar dié tyd gedoen het? “Ja, maar dit steek tog êrens vas!” is die verweer. En diegene wat nie daar was nie? Ek neem aan jou ervarings is nie vir hulle belangrik nie? Eintlik verbasend hoeveel mense aand vir aand sepies kyk en nie oor die sin daarvan nadink nie. ‘n Halfuur, uur, anderhalf uur, twee uur van jou lewe word elke dag vernietig, want jy vergeet dit tog. Jy kon netsowel nie gekyk het nie.

Voorbeelde

Die hele doel van ‘n dagboek (of, daglêer?) is om soveel inligting moontlik na een sentrale punt byeen te bring. By ‘n outobiografie los jy verkieslik die té persoonlike en “minder belangrike” feite uit. En tog is dit ook feite wat verlore gaan. Feite wat verhoed dat mens dieselfde foute maak. En dis daardie voorkoming van foute wat mens tyd en geld spaar.

Veelmaal raak mens teleurgesteld, soos met Jan Rabie se “Paryse dagboek”. Vir my moet mens op 27-jarige ouderdom darem al ‘n gesonde weerstand teen nuwe giere en geite begin ontwikkel het. Ek bedoel nie jy moet ‘n remskoen wees nie. Plek-plek vind ek Rabie hier soos ‘n naïewe kind wat in ‘n speelgoedwinkel losgelaat word van filosofie en jolyt weens “ontkoppeling van die Calvinisme in die vreemde”. Dis ‘n meesleuring, meevoering, oe en a, oor niks. Sy teks, “‘n Boek vir Onrus” (1982) en “Buidel” (1989), toon in hierdie geval veel meer volwassenheid – dit wil sê, nuttige inligting, toe sy woonhuis op Onrus klaar aangebou is (ook daardie bouery het nie seepglad verloop nie). In daardie boeke redeneer hy oor die voordele en nadele van vertalings (wat ek besonder nuttig vind, want dit spaar my dinktyd), oor boeke wat geskryf word slegs vir die uitvoerwaarde daarvan (“culture for export, is culture no longer”), sy bekommernis oor die omgewing en oorbenutting van die seelewe (hierdie vind ek geskiedkundig, want nou kon jy uitvind wanneer die dorp begin uitbrei het), sy wisselvallige groenteboerdery in die agterplaas as gevolg van voëls wat in die slaai- en koolblare nesmaak. Selfs smaaklike seewierresepte sal jy daarin vind. Die alewige gaste wat tydig en ontydig wil kom afpak en teedrink kom ook onder skoot, hoewel dit nie in ‘n geskinder ontaard nie.

Maar laat ek jou hierdie meer eietydse outobiografie vertel. Baie weet reeds van hom, maar ek gaan dit tog weer vertel. Ek het op ‘n besonderse outobiografie afgekom, geskryf deur Klaus Dieter Vaqué, getiteld “An der Hand Gottes… von Pommern nach Südafrika” (2004). Mense mag bekend wees met Klaus Vaqué se “Verraad teen Suid-Afrika” (1989-vertaling), en dat hy ‘n koerant hier in Suid-Afrika vanuit sy huis bedryf het, bekend as die “Insider”. Miskien sal die naam Aida Parker ook ‘n klokkie lui.

Sou hierdie afgetrede Duits-Deense miljoenêr genoeg rede gehad het om ‘n outobiografie te skryf? Wel, seker nou nie soos Raymond Ackerman wat tot drie boeke (2001, 2005, 2010) die lig laat sien het wat tans in sy eie supermarkte verkoop word nie. En tog, ons sou armer gewees het sonder hierdie boek met ‘n bitter kleine oplaag. Ek sou nie geweet het “Verrat an Südafrika” (1988) het tesame met sy Engelse en Afrikaanse vertalings ‘n oplaag van 21 000 kopieë met 7 drukke beleef nie – nogal ‘n rekord vir desjare. Ek sou nog minder geweet het die afgetrede Oudpresident P.W. Botha het Vaqué persoonlik vanuit sy strandhuis op Wildernis geskakel om hom met die boek (“Verraad teen Suid-Afrika”) geluk te wens (die agt Afrikaanse boeke wat Botha by Vaqué wou aanvra was op daardie stadium uitverkoop). Botha het ook destyds, voor hy afgetree het, sy hoogste generaals in die hoofkwartier te Pretoria aangeraai om hierdie boek te lees. Die “Insider”-koerant sou later “pligleesstof” word in die parlement. Die “Insider” is ook gelees in Hamburg, Bonn, die Staatsbiblioteek in Leipzig, asook die vier grootste staatsbiblioteke in Suid-Afrika. Ook is P.W. Botha deur die “Financial Mail” fotografeer met die boek in sy hand; sy “gunstelingboek”, soos Botha dit self stel. Toe skiet die boekverkope die hoogte in.

Uit die telefoonoproep kom ons nogal heelwat te wete (wat aanvanklik in Afrikaans geskied, maar dan oorskakel na Engels):

  1. Botha het sy inskrywing by die “Insider” gestaak (wat hy al twee jaar lank gelees het), omdat hy hom van die politiek wil distansieer. Hy lees nou slegs Christelike boeke en geskrifte wat vir hom belangriker en relevant is.
  1. Botha het “kein gutes Haar” vir De Klerk. De Klerk word deur Botha beskou as ‘n verraaier wat sy land en sy volk uitverkoop het. “Hy, Botha, het ook hervormings voorgestaan (“befürwortet”) en was bereid gewees om ‘met die swartes van die land die politieke mag te deel’ (verbatim: “mit den Schwarzen des Landes die politische Macht zu teilen”), maar dit sou in ‘n ander raamwerk moes geskied, waar die blankes van ‘n absoluut sekere toekoms gewaarborg sou word”.
  1. Botha was verheug oor die kommunistiese stelsel van die Sowjetunie wat in duie gestort het. Hy glo Mandela het hom in die tronk verander, en dit was ‘n geluk. Mandela is vir Botha ‘n “nice chap”, met wie mens ‘n gesprek kan voer. Van hom sou die blankes niks hoef te vrees nie. (verbatim: “Von ihm hätten die Weißen nichts zu befürchten”). Maar hy weet nie wat ná Mandela sou kom nie. Daaroor was Botha bekommerd.
  1. Vaqué stel dit duidelik: Botha was uiters hoflik oor die telefoon, en glad nie die mens soos wat mens hom op televisie gesien het met die vermanende vingertjie wat sy opponente die Leviete voorlees nie.

Hierdie is nog ‘n stukkie in die politieke klimaatlegkaart waarvan ons miskien onbewus is, of as aanvulling kan dien vir Stem uit die Wildernis (1997) deur Dr. Daan Prinsloo. So tussendeur die boek lees mens van die druk van die Wêreldraad van Kerke wat via die Duitse Evangeliese Kerke vanuit oorsee op Suid-Afrikaanse gemeentes uitgeoefen is om Apartheid te beëindig. Dit vind Vaqué juis vreemd, want nêrens in Afrika op daardie tydperk was die swarte in Afrika soveel beter daaraan toe as in Suid-Afrika onder blanke bewind nie. En tog is hierdie land van regoor die wêreld veroordeel. Hy skryf hier, in Suid-Afrika ly vele swartes desjare al aan vetsug, terwyl in die res van Afrika soveel verhonger is en skaars kan oorleef. Hier is skole, universiteite, geriewe en mediese sorg vir almal. Heelwat Duitse immigrante hier in Suid-Afrika het uit die kerke gestap om hul eie gemeentes te stig. Vaqué was een van hulle.  Soos ‘n sakeman het hy ook gewonder waar kry hierdie terreurgroepe hul geld vandaan – want oorlogvoering is nie goedkoop nie. Toe Vaqué begin agterkom maar hierdie Wêreldraad van Kerke sorg in hul sogenaamde ”antirassismeprogram” vir al die pro-kommunistiese “bevrydingsgroepe” regoor die hele Afrikakontinent en oorsee, groepe wat juis die pro-Westerse en Christelike groepe aanval – toe ruik hy ‘n rot. Hoe kan ‘n kerk homself dan probeer vernietig? Hoe langer hy die saak oordink het, hoe meer het hy begin insien dat hier sprake is van buitelandse drukgroepe waar dit meer uit ekonomiese eiebelang en gierigheid handel as om humanitêre redes.

Toe hy die 1988-boek kant en klaar geskryf het, was nie een enkele Duitse uitgewer bereid om sy werk te publiseer nie. Nou ja, dan publiseer ek dit sommer self, sê hy, wat dit ook al mag kos. So het die privaatuitgewery “Varama” sy ontstaan in die rykmansbuurt, Herbert Bakerstraat, Groenkloof, Pretoria, te danke. “Es schlug wie eine Bombe ein”. Eers word kopieë deur plaaslike Duitse kopers Duitsland toe gestuur, en toe word menige van die boeke vanuit Suid-Afrika op bestelling deur boekhandelaars in Duitsland aangevra. ‘n Internasionale ekonomiese inspuiting te midde van die opgelegde sanksies. Een van die eerstes om Vaqué geluk te wens was Ernst “Prinz von Isenburg”. Prins Von Isenburg wil sommer nog 20 boeke koop wat hy aan Prins Philip van Engeland, Otto von Habsburg en “anderen Freunden” sal stuur. Ja, jy het reg gelees! Afrikaanse en Engelstalige Suid-Afrikaners het Vaqué “bestorm” om die boek vertaal te kry. CNA het die boek landwyd verkoop – in al drie tale. Van regoor die wêreld stroom die gelukwense toe in. Onder andere uit Boksburg, Soutrivier, Hillcrest, Windhoek, Swakopmund, München, Zürich, Adelaide (Australië), Boston (VSA), Dr. Andries Treurnicht self, die Duitse Ambassade in Maseru, Prof. T.S. uit Madrid en Pastoor Wolfgang Borowsky uit St. Trojan, Frankryk.

Nou bly die vraag: indien ons sou veronderstel die prinse was onder andere deel van die komplot teen Suid-Afrika en die Weste (en dat die monargie deel van die geldmag of derdemag is), sou “Verrat an Südafrika” gekoop gewees het suiwer om die vermaak oor die onbewustelike misleiding van die plebs, of juis om neefs en niggies te waarsku van hul planne wat te vroeg op die lappe gekom het? Waarom, onder andere, het die Berlynse muur skaars ‘n jaar later geval? Het Vaqué se doodeenvoudige sakemanlogika ‘n veel groter rol in die wêreldgeskiedenis gespeel as wat hy hom kan indink, of misgis ek my? Of is die prinse vandag ook maar ewe broos en oningelig soos die publiek en die koningshuis van Frankryk van weleer?

Wat ek hierbo bespreek het was slegs uit hoofstuk 21, “Das Lieblingsbuch des Präsidenten” (bl. 237 tot 251).

Ek het heel toevallig op 2 Oktober 2017 deur ‘n bydrae op Wikipedia op ‘n digitale plakboek of fotoalbum van ene Pietie Beukes afgekom, netjies genestel op Google Drive ( https://drive.google.com/file/d/0BxEzJ54wEglqU1NmLVlxRHpoWjQ/view ). Ek het in my meer as 27-jarige leeftyd nog nooit van hierdie man gehoor nie (dalk omrede ek doodgegooi is met die name van onbenullige literatore). Deur koerantuitknipsels, foto’s en onderskrifte van hierdie 22,6 megagreep-dokument vind ons ‘n merkwaardige, dog doodgewone man van Worcester wat indirek tot die stigting van die Cape Leopard Trust gelei het. In sy lewe het hy die televisieseine “gebuig” sodat mense van Rawsonville televisie kon kyk; hy het sy eie troetelluiperd aangehou; en was lief vir tydrenne. Ook sy deelname aan die Grensoorlog as recce word hier uitgebeeld. Die koerantberigte, foto’s, dokumente en aktes doen die praatwerk, nie die persoon oor wie die album handel nie. Slegs die sorteerwerk is gedoen. Hier het ons weer nog ‘n legkaartstukkie van die groot geheel.

“Ja, maar ek is nie belangrik genoeg nie! Hoeveel derduisende reisverhale is byvoorbeeld in Latyn nie geskryf nie? En niemand lees dit nie!”, mag jy miskien protesteer. Sover ek weet was iemand soos Louis Tregardt maar ‘n doodeenvoudige veldkornet en boer, maar vir die taalkundiges, geskiedkundiges, menskundiges en vir ons bied hierdie beskeie dagboekie uitsonderlik kultuurhistoriese waarde. Daarvan is die skrywer vandag natuurlik heeltemal onwetend, want hy is op 55-jarige ouderdom in Delagoabaai aan malaria oorlede. Sy seun het die dagboek met hom saamgeneem.

Groei

Waarskynlik sal jy as nuwe skrywer begin met die prosaïese en die absoluut pittige minimum: “Vandag het ek gestofsuig; die stort geskrop; die avokadopeerboom groei nou mooi; by die supermark het ek R20,00 te veel betaal weens ‘n prysfout op die stelsel, moes 30 minute vermors by klantediens om die saak reg te stel, diens is maar traag deesdae; ‘n bedelaar het drie liter petrol kom bedel – nie geld nie, petrol! – hy wou glo by die werk kom. Hy het nie vir my baie haastig gelyk nie. Het seker vir geld geskimp.”

Dikwels help dagboekskrywery om “ruimte in jou kop te maak” vir belangriker sake. Anders tob en tob en tob jy snags vir 30 jaar lank oor ‘n onbenullige saak – en word jy die spreekwoordelike karakter uit een dramateks van oorle’ André P. Brink se eksistensialistiese teater van die absurde, Die koffer. Nee, jy soek ‘n oplossing vir die probleem en gaan voort met jou lewe. Anders maak jy vrede daarmee.

Geleidelik begin jy ‘n herhalende patroon in jou leefwyse raaksien. Veral as jy die soekopsie met kernwoorde in jou woordverwerkerprogram gebruik (en mens onthou nogal goed watter woordekeuse jy gebruik het!), sny jy deur die maande en jare soos ‘n warm mes deur botter. En deur middel van hierdie chronologie begin jy eksperimenteer om die lewe meer (koste)doeltreffend te maak deur die hindernisse te verminder of te vermy.

Jy mag selfs die volgende wisselvorme van ‘n Sumeriese spreekwoord aanleer. En ‘n skokkende verband vind deur hierdie oeroue wysheid te vergelyk met sekere eietydse “gemarginaliseerde groepe” wat nou as die “uitbouers van Afrikaans” voorgedruk word:

‘n Vos het in die see gepiepie. “Die hele see is my pie!” sê hy.

‘n Vos het in die Tigris gepiepie. “Ek laat die springgety styg”, sê hy.

(Iemand wie se aandeel in iets besonder min is, of nie heeltemal presies die omvang weet hoe stelsels op ‘n delikate en ingewikkelde wyse funksioneer nie, het die neiging om hul eiewaarde te hoog aan te prys).

Sekere dinge soos hierbo verander na 9 000 jaar steeds nie. En dit is hoe jy die kaf van die koring skei: iemand met iets tussen die ore sal meer fokus op prosesse en stelsels. Hy vra homself: kanselleer my standpunte mekaar uit, of vul hulle mekaar aan? Watter ander standpunte is daar buite? Mense met verstand probeer immers die groot geheelbeeld van die proses insien en verskaf nuttige detail aan die onbekende leser (dankie, “The Bell Curve”!). Persone met minder verstand plaas hulself meer, indien nie heeltemal, op die voorgrond van hul skryfwerk. Dit skree in die teks uit: “Sien my tog net raak, asseblief!” Die PRODUK spreek egter vanself, nie die persoon nie. Jy kan nie ‘n donkie as ‘n perd probeer bemark nie. En dit is wat die deursnit Suid-Afrikaners glad nie verstaan nie. Ewe min as: “Ja, hierdie wingerdplaas is mooi lowergroen – maar waarom is hy mooi? Hoe lank neem dit ‘n wynstok voor hy vrugte kan dra? Hoe het hy so gekom? Watter middele gebruik die boer daarvoor? Hoe lyk sy klantebasis en kliënte? Hoe lyk die mark oor die algemeen? Hoe was die weer die afgelope paar maande? Wat kan ek hieruit leer?” Niks kom vanself nie.

Dan begin jy ‘n herhalende patroon rondom jou waarneem: dat alle stelsels in die lewe uit siklusse, parallelle, toeval, spirale of ratmeganismes bestaan – soos KEUSE A wat deure 1, 4, 6 oopsluit, maar deure 3, 8, 9 toesluit – maar selde, bitter selde, uit ‘n enkele punt of ‘n pylreguit lyn. “Harde werk” het deesdae ‘n relatiewe begrip geword: gedenk die tragiese Griekse verhaal van Sisifus en die klip wat altyd na benede donder; ten spyte van al sy geswoeg om bo by die kruin uit te kom, kom hy net mooi nêrens nie. Dikwels kom selfs ‘n onwaarskynlike gelukskoot jou pad teë, soos ‘n R200-noot wat na jou met die wind aangesweef kom, wat jou hele komplekse neurale netwerk van “waarskynlikheidswette” kom deurmekaarklits (wat mens weer laat wonder wie is nou R200 kort? Die een se dood is die ander se brood). En hierdie uiteenlopende stelsels kan of doeltreffender gemaak word – of moet met weerstand beveg word. Maar dit mag nooit, nooit, uitgebuit word ten koste van die samelewing nie. Maar nou raak ek te ingewikkeld esoteries. Sekere wonderwerke is eenvoudig verhewe bo die logika. Ander is uitgelewer aan tragedie, waaraan jy niks kan doen nie.

Sou jy self nie ‘n verhaal kan skryf nie, kry dan een wat dit vir jou kan doen. Hier in my boekrak het ek “My life with leopards” (2012), die verhaal van ene Graham Cooke, en die welpies Boycat en Poep, soos geskryf deur die Nederlanderin Fransje van Riel, ‘n ingesetene in die dorre kuswoestyn, genaamd Kaapstad.

In my dorpsbiblioteek het ek selfs op Frans van Rensburg afgekom, waarin uitvoerig sy besoek aan Rusland beskryf word tydens ‘n biblioteekuitstappie in die vroeë 1990’s – die boek is getiteld “Nagvlug oor Siberië: ‘n ongewone reis in Rusland” (1998). Peter Allison skryf ‘n boek “How to walk a puma, and other things I learned while stumbling through South America” (2012). Joy Adamson het hoeveel boeke geskryf oor diere wat sy verpleeg en grootgemaak het, ene met medisynemiddels, bronstyd, dragtigheid, geboorte en gedrag alles stiptelik opgeteken. En dan, Riaan Manser se “Around Iceland on inspiration” (2012) – hy en ‘n verlamde vriend vaar rondom die stormagtige Ysland met ‘n opblaasbootjie vir die avontuur en om hul eie “sielkundige grense” te toets en deurbreek. In Christelike boekwinkels is daar tientalle mense wat hul betrokkenheid by satanisme in Suid-Afrika beskryf, hul bekering, hul bevryding, hul verlossing, ens.

“Ja, maar is sulke goed dan ooit wetenswaardig?” mag jy vra. Wel, die uitgewers het beslis so gedink.

As jou lewe op papier (jou keuse!) nooit vir die dorpsbiblioteek oorweeg sou word nie, hoef jy GLAD NIE sleg te voel nie. Dit gaan vir jou tog nie oor die geldwaarde daaraan verbonde nie: eerder – “ek was nie verniet hier nie; en mag daardie jongman in die jaar 2142 tog uit my foute leer!” Dit is hoe beskawings immers gebou word; deur nie herhaaldelik dieselfde foute te maak nie.

‘n Biografie getiteld A beautiful mind (1999) deur Sylvia Nasar is deur die Wes-Kaapse biblioteekdiens aanvanklik “te hoog” bo Jan Publiek se jakkals geskat en van die hand gewys, op grond van ander resensies wat die boekkeurders gelees het, soos: “To fully appreciate Nash’s career accomplishments, readers must have some grasp of advanced mathematics. But Nasar tells the story of a great mind broken and then healed with subtle sympathy”. Die raad het beslis: “Looks quite heavy going and interest would be fairly limited. In view of limited funds, leave unless there is clear indication of demand.” Toe die fliek uitgereik word in 2001, is die provinsiale biblioteekdiens skielik nie skaam om die 2002-herdruk aan te vra nie: “For review of 1999 pbk. ed. that we did not buy, see BRN 900304624. We should consider this new ed. as the filmed version with Russell Crowe was shown here recently and there will be interest in this biography of John Nash.” Die boek ressorteer vandag onder die slagwoorde “biography”, “readable non-fiction” en selfs, wil jy glo, “popscience”! O, ek dag dan die biografie was te “moeilik”?

Nou laat ek nie verder in jou pad staan nie.

Jy het ‘n lewenstaak om te verrig.

“Ja, maar…”

Loop skryf net.

— Suidpunt

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.