Dan Roodt: Afrikaneridentiteit tydens die identitêre tydvak

'n Identitêre groep betoog in Frankryk

In ‘n vorige rubriek het genoem hoe ek Frederik van Zyl Slabbert verafsku het, juis omdat hy so by Engelse gekruip het. Ek sou selfs verder gaan en verklaar dat enige Afrikaner se aantreklikheid negatief met Engelsheid korreleer. Daar is natuurlik uitsonderings: nie-Afrikaners met ‘n Engelse agtergrond wat hulle toenemend met ons vereenselwig, maar hulle is taamlik yl gesaai.

In weerwil van die Afrikaner se uitsluiting uit die Suid-Afrikaanse politiek en kultuurlewe — Engels, Engels, alles Engels, het Hoogenhout gedig en dis vandag waarder as ooit — bly ons identiteit ‘n nasionale vraagstuk. Of liewer: die vernietiging van Afrikaneridentteit bly ‘n nasionale vraagstuk. Pleks van die land te ontwikkel of te bestuur, is ‘n groot deel van die huidige politiek daarop gefokus om die Afrikaner as ‘n verskynsel uit te wis. Die term volksmoord is nie te sterk gestel nie… nóg is dit vergesog. Want wat anders is volksmoord as die uitwissing van ‘n volk se identiteit, geskiedenis, taal, kultuur en tradisies, hetsy deur assimilasie, hetsy deur fisieke eliminasie?

Maar, selfs afgesien van die gestadigde volksmoord wat rondom ons woed — en waarvan plaasmoorde die fisieke manifestasie is — word daar steeds boeke en artikels in vaktydskrifte oor die Afrikaner en die gewraakte “Afrikanernasionalisme” van die twintigste eeu geskryf. Van Wyk Louw het neerhalend van “mensvleisbredie” gepraat. Wel, die mensvleisbredie van Suid-Afrika kan net sy gewaande nasieskap definieer as anti-Afrikanerskap. Dit is nou wanneer die mensvleisbredie nie na Engelsheid en Britsheid hunker. ‘n Jaguar of ‘n Land Rover bly die mees gesogte statussimbool in Suid-Afrika.

Die ironie by dit alles is dat die Afrikaner so swygsaam oor homself geraak het; dit is nou wanneer die erbarmlik onnosele propagandiste in die hoofstroommedia nie hul witskuld en anti-Afrikanerskap bely nie. Ook ons sogenaamde skrywers, wat soos geblinddoekte sjimpansees in ‘n dieretuinhok rondstrompel. Swak, Piketberg, swak. Ek hou regtig van daardie uitdrukking, al weet ek nie mooi waar dit vandaan kom nie. Ek kan my feitlik nie daartoe bring om ‘n hedendaagse Afrikaanse boek te lees nie, so oninteressant, oningelig, gemeenplasig is dit.

Vandeesweek ry ek in my motor en omdat ek al bietjie moeg was vir Duitse opera, skakel ek op RSG in. Skielik is daar ‘n voorlesing uit Op ‘n dag, ‘n hond, ‘n roman deur John Miles. Die skrywer was destyds ‘n dosent van my by Wits. Miles se probleem, soos dié van vele fiksieskrywers, is dat hy dink dat hy interessant is. En hy is nie. Nie ver in die voorgelese gedeelte in nie, vaar die skrywer of die verteller van Op ‘n dag, ‘n hond, teen nasionalisme uit. Eensklaps en ongevraag. Maar sonder sulke kniebuigings aan politieke korrektheid en linksheid — Marx en Engels se internasionalisme wat uit die kommunistiese mausoleum aanhou stink — sou jy seker geen roman by ‘n hoofstroomuitgewer gepubliseer kry nie. Ek stel my voor dat Eloïse Wessels, die hoofuitvoerendebeampte van die “NB-groep” wat John Miles se boek uitgegee het, so ‘n voorskrif in ‘n memo aan al haar mak skrywers uitgestuur het: vaar iewers teen nasionalisme uit en hemel internasionalisme en globalisme op. Dis soos die geniale swart wetenskaplike in ‘n Hollywoodfliek: hy móét daar wees, anders kom die draaiboek nie verby die eerste sensuurhekkie nie. (So pas het Harvey Weinstein, maker van ‘n reeks antiblanke films, waaronder Django Unchained, gewys hoe dit agter die Hollywood-skerms gedoen word.)

John Miles weet omtrent soveel van nasionalisme soos van wiskunde. Iewers naby aan nul. Dog die letterkunde, of gebrek daaraan, is ‘n onderwerp vir ‘n ander dag. Hier gaan dit vir my om ons Afrikaneridentiteit.

Terloops, my vrou was so pas vir ‘n heen-en-weertjie in Swede: Gotenburg en Stockholm. Net soos Afrikaners, ly Swede ook aan ‘n internasionale stereotipe. Ons word gekonstrueer as dom, rassisties en regs, terwyl Swede gewoonlik in die globale Engelse media as slim, multikultureel en links voorgestel word. Soos wat die Sweedse politiek egter verregs, is hul voorheen positiewe mediabeeld ook aan’t verander. Een van die dae sal hulle ook as “dom, wit en regs” voorgehou word. Trouens, ons is veel nader aan die Swede en ander Skandinawiërs, aan Nederlanders, Vlaminge of Noord-Duitsers as aan die Zoeloes van Natal wat ons tans regeer. Afrikanernasionalisme en die ou staatskultuur van die Afrikaner het veel in gemeen met die Skandinawiese sosialisme gehad: die drang om vir jou eie mense te sorg. Daar was ‘n tyd toe Afrikaners vir mekaar omgegee het… voordat hulle, soos swartes, Jaguars en Land Rovers begin ry het. Of hul kinders — hoe afgryslik — na Engelse skole begin stuur het.

Suid-Afrika, die gedwonge huwelik van 1910, frustreer my. Dis ‘n agterlike klein Engeland dié, met sy rugby en krieket, sy snobisme, sy aanstellerigheid, sy neersien op ander. Darem dra hulle in Londen snyerspakke en mooi mansskoene. Hier dra hulle meesal sweetpakke en lelike tekkies, maar steeds wil hulle Engels wees. Dis so ‘n geval van: hulle het die klok gehoor, maar hulle weet nie mooi waar die bel hang nie.

Van my studentedae by Wits af het dit my die mure uitgedryf. Ek was nog altyd nuuskierig en sensitief vir die tydsgees, vir verandering, veral ook: verandering van denke. Nou die dag sê ek vir my dogter: destyds was Suid-Afrika intellektueel so tien jaar agter by die res van die wêreld. Tans, in weerwil van die internet en die reuse-ontwikkeling in kommunikasie, is die land, “hulle”, die aspirant-Engelse met hul braaivleis en rugby en Chevrolet (wat onlangs die land verlaat het), twintig of dertig jaar agter.

Dog iemand wat “agter” is, kan nog inhaal. Die huidige geslag met hul Land Rovers en sotlike liberale, multikulturele, konformistiese idees, gaan nooit inhaal nie. Alles gaan by hulle verby. Hulle verstaan min, of niks.

Vandaar dus my opskrif: Afrikaneridentiteit in die identitêre tydvak. Die woordspel is bedoel: die sin bevat twee keer die woord “tyd”. Dalk moes ek “identityd” geskryf het. Want dwarsdeur die wêreld het identiteitskwessies en identiteitspolitiek belangrik geword. In die VSA, maar veral in Europa, heers daar ‘n “identitêre beweging”. Eintlik is dit ‘n Franse woord (identitaire), maar wat in ander tale posgevat het. Dit druk iets van die huidige tydsgees uit.

Behalwe nou in Suid-Afrika. Want hier aspireer ons nog na Engelsheid en outydse kommunisme, wat dinge soos sensuur, konformisme en denkbeheer insluit. Vandaar John Miles se alleenspraak teen nasionalisme: dit was ook in die Sowjetunie aanvaarbaar om teen die nazisme uit te vaar. Meer nog: dit was vir elke Sowjetskrywer verpligtend. Hulle het ook memo’s daaroor ontvang.

Elke Afrikaner behoort Noord-Europa, waaronder die Lae Lande, Skandinawië en daardie eertyds Platduitse of Nederduitse Länder (Sakse, Mecklenburg-Voorpommere) wat tans so onverbiddelik regs begin stem, te besoek! Die ou Hanse-gebied. Dis waar ons vandaan kom; dis waar ons taal vandaan kom. Dis die oorsprong van ons identiteit, van ons Afrikanerskap. Eintlik is ons Eurokaners wat in Suid-Afrika en Suidwes-Afrika wortel geskiet het. Dis ‘n teenstrydigheid, dit skep spanning. Maar dis ‘n kreatiewe spanning. Daaruit het ons ‘n land voortgebring, geboetseer. Totdat die konformistiese, verraderlike, verengelste, gedekultureerde Afrikanerelite dit vir ons afgeskaf het.

Iewers smeul daar nog iets van die ou Afrikaner, van die Hanse, van die Nederlandse Goue Eeu waarvan die welvaart en stukrag vir Jan van Riebeeck met sy drie seilskepies tot hier gedra het… Ons wonderskone avontuur, om ‘n soort Calvinistiese, geordende Nederland-in-Afrika te skep. Die Prometheaanse waagstuk daarvan, die geswoeg van eeue, die triomf, die tragedie!

Hier op Disqus het Casper Labuschagne vandeesweek ook iets raakgevat toe hy sê:

“Die Afrika-dilemma van die verligte Afrikaners: Die edele barbaar wat maar net nie meer edel, en minder barbaar wil wees nie. Dit is juis die optrede van die swart Afrikaan wat die wit Afrikaner se groepsidentiteit definieer en versterk. Dana Niehaus (en Media24) sal leer dat in Afrika tel aksies veel meer as woorde, en ‘n oneindige getal woorde vanaf die postmodernistiese filosofie van ‘n progressief verligte mediahuis sal nie lank staande bly teen die dade van die inheemse Afrikane nie.”

Dit is waar dat, hoe mooi die reënboognasie-ideaal ook al geskilder word en in die bieradvertensies opgevysel word, gaan die gedrag van die Afrikaan dit altyd kelder. Hoe meer korrup dié Engelse “produksie” – lees hierin beide die kunsmatige, teatrale, maar ook die marxistiese – raak, hoe minder kan ons ons daarmee vereenselwig. Selfs al wil Afrikaners nie weens onderlinge struwelinge, verdeeldheid en verwarring graag met mekaar assosieer nie, geskied ideniteitsvorming deur disassosiasie met die ander! ‘n Beter, meer Afrikaanse en Germaanse woord as disassosiasie is dalk: verontselwiging. Ons verontselwig ons van die sg. nuwe Suid-Afrika en moet ons daarom op die duur met onsself vereenselwig.

Die vraag, “wie is ons?” dring hom egter daagliks aan ons op. Dit is ‘n vraag wat op ‘n neutrale, onbevange, enigsins nuuskierige wyse gestel behoort te word. Nie te lank voor sy dood nie, het die vermaarde Amerikaanse kenner van die staatsleer, Samuel Huntington, dieselfde vraag aangaande die VSA gevra, in sowel artikel- as boekvorm: Who Are We? The Challenges to America’s National Identity.

Oor die Suid-Afrikaanse identiteit, wat ná 1994 onherroeplik Engels geword het, het ek geskryf in my opstel Raiders of the Lost Empire: South Africa’s ‘English’ identity. Wesentlik het die “getransformeerde” Suid-Afrikaanse identiteit misluk. Tans rafel dit uit in korrupsie, gierigheid, swart-teen-wit rassisme en xenofobie.

Om die vraag te beantwoord oor wie ons is, moet ons teruggaan op die spore van ons Europese herkoms, daardie selfde Europa waar die identitêre beweging tans woed. Aanstaande Sondag gaan Oostenryk verkiesing hou en dis feitlik ‘n uitgemaakte saak dat dié kleiner Duitssprekende land ‘n regse regering bestaande uit die Volksparty en die Vryheidsparty gaan kry. Soos wat Europa na regs swaai, sal Afrikaners toenemend weer die geleentheid kry om op amptelike vlak met Europese volkere en regerings te skakel. Die tydperk van ons isolasie en uitsluiting uit die Westerse wêreld, wat van Links geskied het, loop ten einde. Juis daarom moet ons deel word van die opwindende nuwe Europese debat rondom herkoms en identiteit!

Maar is ons gereed daarvoor? Kan ons sinvol deelneem aan ‘n soms diepgaande intellektuele gesprek oor die Europese en Westerse kultuur as ons self nie eens weet wie ons is nie? Ná jare van propaganda en sosiogeniëring deur die ANC-bewind, maar ook die magtige Naspers en ander organe, is ons mense grondig verdom, verwar en verengels.

Op ‘n manier was Engeland nog nooit deel van Europa nie… Vandaar ook die Brexit. Engeland, die eiland, “die groot vis” soos Carl Schmitt dit beskryf het, wil wegswem en droom van ‘n nuwe empaaier, ‘n ryk wat sekerlik Suid-Afrika sal insluit, want ons land is byna volledig geherkoloniseer, verengels, volgestop met Britse liberalisme en politieke korrektheid, wat antiblanke haat insluit. Op ‘n sekere vlak was Engeland nog altyd anti-Europees, anti-Westers. Indië, oftewel die Raj, was vir haar meer werd as al die Europese lande saam. Trouens, indien Engeland strategies daarby sou baat, sou sy môre die wêreld se totale blanke bevolking op die altaar plaas vir ‘n bietjie ekonomiese groei, ‘n paar honderd Indiese kerrierestaurante en dalk die skyn van binnelandse, “nie-rassige” harmonie.

Die Engelsman voel hom meerderwaardig teenoor die Europeër en omdat die Afrikaner ook ‘n soort gedesentreerde Europeër is, spreek dit vanself dat hy hom insgelyks meerderwaardig teenoor ons voel. Dit is die negatiewe horison waarteen die vraag oor wie die Afrikaner is, beantwoord moet word. Dit is die keersy van die munt. As jy “ja” sê vir Afrikanerskap, sê jy eintlik “nee” vir verengelsing, om die Britse identiteit aan te neem, ook die veel geprese “multikulturele” Britse identiteit wat die voormalige Arbeiderminister van buitelandse sake, Robin Cook, so pragtig opgesom het toe hy gepraat het van “hoender-tikka-massala-Brittanje” (chicken tikka massala Britain).

Die huidige Afrikaneridentiteit het sy beslag gekry in die vroeë twintigste eeu, veral in die dertigerjare, ‘n tyd toe daar soos tans oral ‘n nasionalistiese gisting aan die gang was. Dit is ‘n fout om die tweede wêreldoorlog soos die ontslape Franse sosialis, François Mitterand en vele ander, as die uitvloeisel van nasionalisme te sien. (Le nationalisme, c’est la guerre, het hy gesê.) Trouens, in Noord-Europa en veral in die sg. Germaanse wêreld heers daar groot welwillendheid tussen die huidige identitêre bewegings. Hulle kuier oor en weer, lees of vertaal mekaar se boeke, koester wedersydse empatie met mekaar as “broers in die stryd”. Toe ‘n klein Sweedse koerantjie ‘n jaar of twee gelede ‘n berig oor ‘n plaasaanval in Suid-Afrika en die mediese behoeftes van die slagoffers plaas, het daar spontaan meer as tweehonderd duisend rand aan skenkings ingestroom. Dít nou van die “liberale” of “linkse Swede” wat, nes Afrikaners, al jare lank deur hul media gebreinspoel word met selfhaat, anti-Westersheid en, natuurlik, Boerehaat jeens die “suidelike rassiste”. Maar iewers is “bloed tog dikker as water” en verstaan ons en die Europeërs mekaar byna instinktief.

Op die keper beskou, verteenwoordig Afrikaans net een Europese dialek tussen ander. Trouens, ons is een van die groter Germaanse dialekte en een van die kleiner Germaanse kultuurtale. Op meer as een plek in Noord-Europa bestaan daar dialekte met ‘n “dubbele nie” soos in Afrikaans. Deur eeue heen het ons taal sy oorspronklike vorm en verbintenis met Noord-Europa behou, veral met die Oossee en die ou Hansegebied waarin Nederlands so ‘n vername rol gespeel het.

“Terug na die Dertigers”, behoort ons slagspreuk te wees! Wat natuurlik ook slaan op die vernaamste geslag digters in Afrikaans, wat ons taal vir altyd tot sy huidige grootsheid opgehef het: N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman, Elisabeth Eybers, C.M. van den Heever, om maar enkeles te noem. Almal van hulle was intens bewus van ons band met Europa. Iemand soos Eybers het selfs na Nederland geëmigreer van waar sy aangehou dig het in Afrikaans. Maar vir alle praktiese doeleindes het sy Nederlandse geword, waarmee sy insgelyks gedemonstreer het dat die grens tussen ons en Nederland, selfs tussen ons en Europa, ‘n sagte grens is.

Alain de Benoist

Iewers het Alain de Benoist, een van die gróót eietydse Franse denkers wat eintlik die hele moderne denke vir ons geïnterpreteer het en ‘n voorloper van die huidige identitêre beweging was, gesê: “Die grense van bloed is belangriker as dié van geografie.” En hoe waar is dit nie: Ons woon reeds eeue lank in Afrika, sonder om te verafrikaniseer! Terselfdertyd voel ons ‘n instinktiewe band met Europa, veral ons stamlande, aan wat dieselfde eeue van verwydering nie kon verflou nie.

Natuurlik druis alles wat ek hier sê teen die heersende (Engelse/Britse) ideologie in Suid-Afrika in, wat alles tot vermenging wil reduseer. Selfs ons taal, Afrikaans, word oneerlik as ‘n “mengeltaal” voorgestel ten einde ons te oorreed om ons Europese en Westerse identiteit prys te gee en klakkeloos te assimileer by “Afrika”, wat dit ook al mag beteken. Want anders as Europa beskik Afrika oor geen gemeenskaplike godsdiens of stel waardes nie. Afrika verteenwoordig eerder… chaos, nie-waardes. Elke reël bestaan net om oortree te word.

Per definisie kan ons niks by verafrikanisering, daardie “ideaal” wat die linkse oud- of post-Afrikaner aan ons voorhou, baat nie. Ons sal nie eens deur die radikale swart politici soos Mugabe en sy vele volgelinge in Suid-Afrika aanvaar word nie.

Aan die ander kant kan die herontdekking van ons Europese wortels, tesame met ons deelname aan die globale debat rondom kwessies soos kultuur, identiteit en etnisiteit, vir ons slegs voordele inhou. Ons mag selfs vir ons unieke ervaring en insig in daardie probleem geag word.

Terwyl ons in ons eie land nog nooit — nie eens onder die Britse Ryk — so geminag is as juis nou nie…

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.