Leon Lemmer: Is Dana Snyman ‘n beter Afrikaner as sy pa?

Dana Snyman. Foto: YouTube.

‘Ek het twee boeke van Dana gelees en sal seker nie nog van sy boeke lees nie.’ — Leon Lemmer

Dana Snyman, gebore in 1962, is ‘n joernalis wat ‘n voltydse skrywer geword het. Hy het bekendheid verwerf met sy seggingskrag en fyn waarnemingsvermoë, wat in veral reisbeskrywings uiting vind. Een van sy bekendste temas is die politieke stryd wat hy met sy pa, Coenie, bedryf. Dana word voorgestel as die verligte seun en sy pa as die verkrampte outoppie wat aan die verlede vasklou. Soms lyk dit asof hierdie kloof meer skyn as werklikheid is, maar die kontras word volgehou, dalk omdat politieke byderwetsheid deesdae van ‘n skrywer vereis word as hy finansieel suksesvol wil wees. Maar Dana is nie heeltemal ‘n verlore seun nie. Hy noem homself ‘n Afrikaner en hy stem teen die ANC.

Ek het twee boeke van Dana gelees en sal seker nie nog van sy boeke lees nie. Hy is bv glad te weifelend in die politiek, soos hier onder blyk. In sy jongste boek (2017) is daar ‘n neiging om te herhaal wat in ‘n vorige boek (2011) staan. Daar is ook ‘n resepmatigheid wat opval, maar dalk is dit ‘n faktor wat van Dana ‘n gewilde skrywer maak. Sy pa verkies die Bybel en hy die bottel.* Sy pa voel in die kerk tuis en hy in die kroeg. Hierdie twee B-woorde en twee K-woorde som sommige van die kontraste tussen hulle op. Pa Coenie was ‘n lid van die Afrikaner-Broederbond. Hy was byna agt jaar lank die kapelaan-generaal van Eugène Terre’Blanche se Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB). Vir Dana is sulke uiterste verkramptheid moeilik, skynbaar onmoontlik, om te verteer. Coenie kan hom nie meer teen die aanvalle van Dana verdedig nie. Daarom tree ek hier onder soms in gesprek met Dana.

[* Dana verwys na “die Groot Ses … brandewyn, whiskey, vodka, rum, cane [en] gin” (2011-boek, Kindle 1604). Dit kan drank wees wat Dana die moed gee om soms so oneerbiedig te wees. “Dalk kry ek onkeerbaar lus vir drank elke keer wanneer ek die grootste behoefte het om te bid” (2017-boek, p 156). “Ek aanvaar ek moet die wêreld eeder probeer vermenslik as om dit te probeer kersten” (158). Coenie is dikwels dronkgeslaan deur sy seun se verligtheid.]

Hiervandaan

Snyman se boek, Hiervandaan: Op reis in die geliefde land (Kaapstad: Tafelberg, 2011, 178p; Amazon Kindle $12,53) is die enigste van sy boeke wat in e-formaat teen ‘n redelike prys beskikbaar is. Die ander kos almal meer as $20 elk, wat buitensporig duur is. Op die omslag beveel Max du Preez die boek aan, wat ‘n mens kan laat twyfel of jy die boek wil koop. Die motto is ‘n aanhaling van Ivan Vladislavic: “How much past can the present bear?” – dus, hoeveel van pa Coenie en hoeveel van sy seun Dana is goed vir ‘n mens se gees. Dana verwyt sy pa omdat hy “die geestelike leier [was] van mense [die AWB] wat die land wou terugdwing na ‘n donker tyd toe” (Kindle 1125).

Die outeur begin by die begin, by die Solms-Delta-landgoed naby Franschhoek, wat tans weens finansiële probleme en oorverligtheid in die nuus is en eens aan die Snyman-stamvader, Christoffel, behoort het. Dit is nogal deursigtig waarom die boek dáár begin, want dit is sedert 1994 in sommige kringe ‘n misplaaste nieu-prestigesaak om ‘n slavin as stammoeder te hê. Die Snymans se stammoeder is Groot Catrijn van Batavia, wat in 1657 na die Kaap verban is. “Sy het as ‘n wasvrou vir Jan van Riebeeck in die Kasteel begin werk” (99). Dana sleep sy pa dadelik by. Die Coeraad Snyman wat in die Slag van Bloedrivier (1838) geveg het, “is al ver-terug-Snyman van wie ek Pa ooit hoor praat het” (89). In 1658 het Catrijn ‘n “buite-egtelike kind gehad by Hans Christoffel Schneider, ‘n Duitse soldaat in die Kasteel. Groote Catrijn het die seuntjie Christoffel genoem, en omdat daar ‘n Nederlandse bewind aan die Kaap was, het die ‘Schneider’ in die dokumente ‘Snyman’ geword” (109).

Dana wen hierdie rondte teen sy pa, want ‘n mens moet verkieslik feitelik en ingelig met die verlede omgaan. “Ons [Afrikaners] was so seker van wie ons is, want ons kon dit nie bekostig om te weet waar ons werklik vandaan kom nie” (167). Met daardie stekie is Dana nie tevrede nie, gevolglik borduur hy voort: “Die aparte huwelike en aparte woonbuurte en aparte hospitale en aparte skole en aparte parke en aparte strande, en die polisiemag wat die wette afgedwing het om dit apart te hou, het eers baie later gekom” (147). Dana, was daardie voorbeelde van apartheid wat jy lys almal slegter as rasse-integrasie? Jy het al twee keer met ‘n huwelik binne jou etniese groep misluk. Is daar ‘n kat se kans dat jy ‘n reuse sukses sal maak van ‘n huwelik as jou maat uit ‘n ander etniese of rasgroep kom? As dit prakties of funksioneel is wanneer sommige dinge rasgeïntegreerd geskied, volg dit nie dat alles altyd só behoort te wees nie.

Dana reis die binneland in. “Ek [is] moeg daarvan … om vreemd in die land te voel” (329). Sy pa antwoord: “Jy praat van die land wat vreemd geword het, Seun. Kom ek sê jou, ek sien nie meer hoop vir ons nie. Ons is besig om die pad van die res van Afrika te stap. Ons is besig om ‘n tweede Zimbabwe te word” (443). Later antwoord Dana sy pa: “Ek is die een wat rondry en namens ons wonder of ons nog hier hoort. Jy is die een wat moed opgee en die regering die skuld vir alles gee, Pa. Jy is die een wat van ‘hulle’ praat” (788). Dana, moet ons as blankes dan eerder sê: Ons is onbekwaam, korrup, misdadig, moorddadig, ens?

Oral sien Dana verandering of transformasie in die vorm van agteruitgang. “Dit verstom my hoe vinnig ‘n dorp kan verander. ‘n Mens sien dit oral” (1467). “‘n Kafee is nie meer ‘n plek om in te vertoef nie” (238). Op omtrent iedere dorpie is daar deesdae ‘n Chinese winkel. Die Transkaroo-passasierstrein is nou die Shosholoza Meyl (369). Naboomspruit is nou Mookgopong, Potgietersrus heet Mokopane en Nylstroom het Modimolle geword. Witbank word deesdae eMalahleni genoem. Dit lyk asof ons hier met nuwe bewindhebbers te make het wat nie in bestuur en administrasie bedrewe is nie, maar knap is met die uitdink van name; dalk omdat hulle tradisioneel baie kinders het. Louis Trichardt-straat in Naboomspruit is nou Thabo Mbeki-straat: “Hier het Afrika jou voor die borskas beet” (2051). “Dit is asof die land al hoe nukkeriger en onpeilbaarder raak hoe verder noord ‘n mens ry” (1881); dus, hoe dieper jou intog in Afrika is. “Dit het iets met Afrika te doen, hierdie onrustige gevoel wat ek toenemend kry terwyl ek noord ry. Hierdie gevoel dat daar iets in die strate en in mense se kop en tussen mense aan die gang is wat gevaarlik kan wees. Of is Afrika net die naam wat ‘n mens gee vir party dinge wat jy sukkel om te verstaan?” (2060).

“Ek het uit die Kaap uit noord begin ry om te probeer uitvind hoekom ek soms so vreemd in hierdie land voel. Dit het iets te make met ‘n afskeid van die ou dinge, weet ek nou – ‘n afskeid van die ou dinge, en ‘n onsekerheid oor die nuwe dinge in die land. Maar die reis moes ek aanpak, dit weet ek, ondanks die weemoed van afskeid en die vrees vir die toekoms” (2254).”Daar is nog goed wat die land vir my vreemd laat voel: die moorde, die rooftogte, die slaggate in die pad en die koeëlgate in die padtekens – die knaende nuus van geweld en woede en wanhoop uit die binneland” (258). “‘n Moord soos dié op die Potgieters [by Lindley] is ‘n daad iewers anderkant woorde” (1757). Op plaasnaamborde verskyn deesdae ‘n identifikasienommer (soortgelyk aan ‘n straatnommer) by die plaasnaam “wat die polisie [teoreties] in staat stel om vinnig op klagtes te reageer” (1696). Pasop-vir-die-hond-bordjies word al hoe meer dreigend en militant. Hulle “sê iets van hoe magteloos en desperaat misdaad en geweld mense maak” (1910). Oor die hoewes in die buitewyke van Vanderbijlpark skryf Dana: “Die oorspronklike eienaars is nie meer hier nie, moontlik weens Sebokeng wat sedertdien hier naby ontstaan het” (1941).

Geen wonder dat Dana soos volg kla nie: “My reis het in nostalgie vasgeval” (1243); dus, die verlede skyn beter as die hede te wees. Hy verduidelik dat “nostalgie” saamgestel is uit die Griekse woorde nostos (terugkeer) en algos (lyding) (1243). Hierdie geestestoestand is in 1688 die eerste keer deur ‘n Duitse dokter, Johannes Hofer, beskryf. Die simptome sluit in “aanhoudende hartseer en ‘n gevoel van verlies … die toestand … kan [ook] ontstaan wanneer ‘n vaderland verander en vreemd vir iemand word” (1252). Juistement! Desnieteenstaande probeer Dana later om weer in sy verligte rat te kom: “Die verlede was nie beter as wat dinge nou is nie, Pa. Ek is gatvol vir mense, insluitende myself, wat aanhoudend na die verlede verlang. Dit is wat die land so vreemd vir ons maak” (1969). Pa Coenie vra: “Was daar nie goeie dinge ook in die verlede nie? Was ons net sleg” (1969). Dana antwoord: “Ons was nie net sleg nie, Pa. Maar ons verlang onsself op die oomblik in die onskuld in” (1982).

Dana skyn geneig te wees om geykte, polities byderwetse propaganda te glo: “Soms voel ek ook vreemd hier oor wie ek is: ‘n wit Afrikaner wat bevoorreg op die platteland grootgeword het. Ek het voordeel uit apartheid getrek en is onseker hoe om oor die verlede te voel. Party mense sê ek moet stil en vol boetedoening daaroor nadink. Ander sê ek hoef nie so sleg te voel oor wat verby is nie, daar is goeie verduidelikings vir die wreedhede en vergrype” (258). Dana, was jy bevoorreg en bevoordeel, of is dit omdat jou pa hom vir ‘n beroep bekwaam en dit getrou beoefen het en goed vir jou kon sorg? Afrikaners is deur die “wreedhede en vergrype” van die Anglo-Boere-oorlog benadeel en dít sonder dat die Britte ooit boetedoening daaroor gedoen het.

Later verwys Dana na openbare plekke soos strate, geboue, brûe, damme, ens, wat na Afrikaners van weleer vernoem is. “Baie van die mense wie se name op sulke bordjies staan, is van Pa se geslag. Hulle is nou oud, of al dood. Hulle was nie vlekkeloos nie. Hulle het gestem vir landswette wat die pyn en die swaarkry vir ander gebring het. Baie van hulle het daardie wette help afdwing. Maar baie van hulle, soos Pa, was ook trots en hardwerkend, want hulle het geglo in die sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien. Die werke van hulle hande is oral in die land te sien” (2282). Dana, daar is deesdae oud-terroriste in topposte wat nie naasteby vlekkeloos is nie. Hulle het dood en verwoesting gesaai. Jou pa en diegene soos hy is op ‘n hoër morele vlak as hierdie kamerade wat nooit verskoning hoef te vra nie. Jou pa het op ‘n meer edele en beskaafde manier vir sy mense gestry as wat bv Nelson Mandela met bomplantings en ander terreurdade vir sy mense geveg het.

Dana hou daarvan om plek-plek in elk van sy boeke uit ‘n boek aan te haal wat hy na bewering tweedehands bekom het. In hierdie boek kom die aanhalings uit FA Venter (1916-1997) se Werfjoernaal (1965). Hy haal ook graag aan uit koerante wat hy tydens sy reise teëgekom het en herhaal berigte wat toe oor RSG uitgesaai is. Sulke “kunsgrepe” kan aktualiteit verleen aan wat hy skryf, maar hulle kan ook as bladsyvullers dien.

FA Venter het onder meer vier boeke gepubliseer waarvan die titels patrioties klink: Geknelde land (1960), Offerland (1963), Gelofteland (1966) en Bedoelde land (1968). Dana het Venter se eertydse plaas, Constantia, by Vanwyksvlei, besoek. “Ek het nog nooit self op ‘n plaas gewoon nie, maar iewers in my, só voel dit soms, is ‘n plaas – nie net één plaas nie. Daardie plaas in my is al die plase wat ek van kleins af leer ken en liefkry het” (968). Dana, dit toon dat daar steeds reste van Boerwees in jou is. Iemand het gesê: “Frans [Venter] was mos ‘n Sap” (903). Venter het hom later in die Strand gevestig en steen en been gekla oor die rasgesegregeerde strand wat hy uit sy woonstel kon sien. Deesdae is (feitlik) geen blankes in die somer op daardie Melkbaaistrand op naweek- en vakansiedae te sien nie. Is dit wat Venter verlang het en Dana werklik begeer?

As kind het Dana ‘n tyd lank op Daniëlskuil gewoon; “my grootworddorp” (1148). “Dit was ‘n vroeëre boereparadys van kerkbasaars, Sondagskoolpieknieks en gemoedelike vendusies” (810). Dit is dinge waaroor baie Afrikaners nostalgies terugdink. Dit is vir hulle uiteraard makliker om eerder so ‘n boereparadys as die nuwe Suid-Afrika te koester. Destyds was Suid-Afrika letterlik die blankes en veral die Afrikaners se vaderland, ‘n woord wat Dana met die verlede en dus met sy pa assosieer (1048). Op Vosburg sê ‘n bejaarde werktuigkundige vir Dana: “Iemand moet ons opskryf, want as iemand ons nie gaan opskryf nie, gaan almal dink ons geslag, en dié voor ons, was net sleg. Ons het help bou aan hierdie land” (1078). Dana skryf: “As jy nostalgie kan neerskryf en dokumenteer, hoekom kan ‘n mens dit nie ook met jou vrese doen nie? Hoe verder ek ry, hoe meer begin dit vir my voel na ‘n kuur vir hierdie vreemde gevoel wat die land my soms gee” (1868). Dana konkretiseer een van sy vrese soos volg: “Malema is ‘n woord wat swaar dra aan die toekoms, en aan wat nog in die land kan gebeur” (1868).

Dana het die terrein besoek waar die Slag van Bloedrivier in 1838 gelewer is. Dit was ‘n merkwaardige oorwinning vir die Voortrekkers, wat om selfbehoud suksesvol teen ‘n groot oormag swartes geveg het. Dit is die blankes se laer wat aangeval is, maar volgens Dana het dit vir die Voortrekkers om wraak gegaan, wat vir hom verwerplik is. Dit is ‘n tipiese voorbeeld van hoe Dana se pogings tot oorverligtheid hom mislei: “Hoe het die Voortrekkers van gode na gewone mense vir my verander? Dit het nie oornag gebeur nie. Dit was ‘n ver pad van vrae stel en dinge bevraagteken wat van kleins af vir my geleer is” (2337). Dana, moes die Voortrekkers dan liewer weggehardloop het, of moes die Zoeloes eerder gewen het? Pa Coenie is oorlede kort voor Dana se besoek aan Bloedrivier. Dáár kry Dana “dit die eerste keer reg om oor Pa se dood te huil” (2435).

Hierna het Dana die Geloftekerk in Pietermaritzburg besoek. “In die vertrek agter die kerkie kry ek dit: Oorooroorgrootjie se broek” (2557) in ‘n uitstalkas – die broek van Coenraad Snyman, “die Sterkman van die Groot Trek” (2567), wat in die Slag van Bloedrivier geveg het en waarop Dana se pa, Coenie, so trots was. En waarom sou pa Coenie nie met reg trots op sy naamgenoot-voorvader wees nie?

In die Nawoord motiveer Dana sy 8000 km lange 2010/11-reise en die skrywe van hierdie boek soos volg: “Dit is die land soos ek dit ervaar het … Ek wou die land en my plek daarin vir myself verduidelik” (2587). Hy kry dit waaragtig reg om op ‘n optimistiese noot af te sluit: “‘n Mens kan nie 8000 km deur hierdie land ry sonder om vol moed en geloof in die toekoms terug te keer huis toe nie” (2606). Regtig?

Op pad

In Julie is Dana Snyman se jongste boek gepubliseer, Op pad: ‘n Reisjoernaal (Kaapstad: Tafelberg, 2017, 264p, R230; Amazon Kindle $20,83). Harry Kalmer skryf: Dana “ondergrawe … met ‘n gemoedelikheid, moedswilligheid, die erg Afrikaanse [eerder: Afrikaner-] verlange na ‘die goeie ou dae'” (p 263). Hierdie keer word Dana die geleentheid tot ‘n reis deur die land gebied omdat hy as die aanbieder optree van dertien episodes op Media24 se VIA-kanaal op DStv. Die reis word onderneem om gestalte te gee aan die reekstema: Het ons nog hoop vir Suid-Afrika? (14). Sy boek is Dana se weergawe van hierdie televisiereeks.

Dana begin op ‘n vals noot met ‘n aanhaling van Günter Grass (1927-2015) waarin hy hom verwyt dat hy stilgebly en eerder agter kollektiewe skuld probeer skuil het. Die assosiasie van apartheid met naziisme is smeerpropaganda waarin die groot verskille tussen hierdie twee verskynsels geïgnoreer word. Dana val daarna weg met verwysings na plakkershutte, armoede en die ellendekultuur waarin winkeltrollies gesteel word asof dit ‘n mensereg is. “Armoede. Misdaad. Verval. Die wanhoop wat jy oral sien” (32). “Geen water in die krane nie … Slaggate in die straat” (80). By Zebediela, destyds die grootste lemoenplaas, is dit “nou woes en leeg” (128). Die ANC-regering en die prestasieloosheid van die gepeupel moet myns insiens vir hierdie wantoestande geblameer word; nie die standaardsondebok apartheid en dus die blankes nie. “Oral sien ‘n mens die agteruitgang en verval, Pa. Is dit toevallig dat dié agteruitgang saamval met die verbygaan van die era van die Afrikaner-oom?” (127).

Ek dink nie hierdie agteruitgang is toevallig nie. Die Afrikaner-ooms het die land doeltreffender bestuur en geadministreer as die ANC-kornuite. “Zuma steel ons hoop” (82). Agteruitgang, verval en misdaad, onder meer brutale moorde, soos dié op plase, beweeg Dana om te skryf: “Al wat ek eintlik wys geword het, is ons woon in ‘n vernielde land en van soveel wrede dinge wat gebeur, verstaan ek byna niks” (93). Die onbeskaafdheid is “anderkant woorde,” soos hierbo genoem is. “Al die getransformasie laat my soms na ou sekerhede verlang” (206). “Hoe kan ek oor my vrese en onsekerhede praat sonder om in die een of ander stadium soos ‘n rassis te klink?” (162). “Ek word toenemend bang om oor my vrese te praat, bang ek word van rassisme beskuldig … PW [Botha] se optrede kon ek nog verstaan, want sy vrese was my vrese” (159).

“‘n Mens word kwaad, jy word magteloos kwaad oor wat in die land gebeur. Die misdaad. Die geweld. Die korrupsie. Jy wil iets doen om dinge beter te maak, maar jy weet nie wat nie … Ja, ek kan elke vier [eintlik vyf] jaar op ‘n stembrief ‘n kruisie teen die ANC trek, maar dit doen ek reeds. Ek kan ook aan protesoptogte deelneem, maar ek moet aanvaar my politieke invloed in die land het verskraal tot byna niks. Ek moet aanvaar ek is lid van ‘n minderheidsgroep in die land, die Afrikaners, ‘n groep wat deur sommige gehaat word” (165). Dana, ek het begrip vir die situasie waarin jy en al die ander blanke inwoners hulle bevind. Die fundamentele probleem is dat die land se grondwetlike grondslag sedert 1994 in basiese opsigte foutief is, met katastrofale gevolge. ‘n Opsig waarin jy meer waaksaam moet wees, is om jou te staal teen die stortvloed polities byderwetse propaganda.

Polities byderwets het Dana dit teen die predikante van weleer omdat hulle almal mans was. Daar word verwys na hulle waarskuwings teen internasionalisme en liberalisme en hulle ondersteuning van blanke voogdyskap (18). Dana, is die huidige onverkwiklike situasie onder swart mag beter? Dana sleep sy oorlede vader by, wat steeds die rol van klankbord vir Dana se verligte politiek moet vervul. “Hoekom rus jy nie? Of is dit ek wat jou nie met rus wil laat nie? Wanneer ek oor ons land begin dink, kom jy altyd ter sprake. ‘n Mens praat nie verniet van ‘n vaderland nie, né, Pa?” (19). Hier bo, in sy ander boek, het hy dieselfde oor die begrip vaderland geskryf.

Penny Sparrow se uitlating oor swartes word “onverdunde rassisme” genoem en haar haarstyl is glo soos dié van die gifmoordenares, Daisy de Melker (1886-1932) (25). Het ons hier nie met goedkoop propaganda te make nie? Afrikaners word vervolgens aangespreek oor liminaliteit: “Die onvermoë om oor ‘n drumpel te tree na iets nuuts. Om vasgevang te wees in ‘n manier van bestaan waarvoor daar nie meer plek in die wêreld is nie. Kan jy nie aanpas by jou veranderende omstandighede nie, is wanhoop soms al wat oorbly” (28). Dana, ek sou eerder beweer dat Afrikaners bereid is om iets nuuts te aanvaar as dit beter is. Dit is misplaas om van jou pa en diesulkes te verwag om bv agteruitgang en verval entoesiasties te omarm.

Dana keer later terug na “Liminaal. Liminaliteit. Sosiaal wetenskaplikes gebruik dié woord om ‘n tydperk te beskryf waarin ‘n mens of ‘n groep mense hul vorige identiteit laat vaar en hulle in ‘n proses begewe om ‘n nuwe identiteit aan te neem. Dit is afgelei van die Latynse woord limen wat drumpel beteken. Om die bekende agter te laat en oor ‘n drumpel te tree na iets nuuts, iets onbekends. Jy voel onseker, onveilig, soms verlore, soms angstig. Dit is waar ons Afrikaners ons op die oomblik bevind” (101). Ek dink Afrikaners sou tot drumpeloorsteek bereid wees as dit tot iets beters lei en nie bloot die ingang tot die afgrond is nie. In hoeverre is dit werklik moontlik of wenslik om ‘n “vorige identiteit” vir ‘n “nuwe identiteit” te verruil?

Dana wil die rolprentspan aanvanklik nie na Orania, “die Afrikaners se nuwe beloofde land” (32), neem nie: “Ons sal nie eerlik oor daai mense kan wees nie … Ons is veronderstel om liberaliste te wees, onthou – en ons maak die reeks vir Media24. Dit word van ons verwag om daai mense sleg te laat lyk. Fanaties. Rassisties. Hunkerend na die ou Suid-Afrika” (32). Dankie, Dana, vir hierdie sprankie eerlikheid. Daarna verwys hy na Orania “as ‘n soort volkstaat vir Afrikaners … ‘n Tuiste. ‘n Tuisland” (41). Maar dan smeer Dana die Oraniërs deur na Carel Boshoff, die stigter van Orania, en “sy kamerade” te verwys (41), terwyl hy weet dat die kontras tussen die Oraniërs en die ANC-kornuite en -kommuniste groot is. Slegs “wit arbeid” word in Orania gebruik (43), waarmee myns insiens niks verkeerd is nie, want dit is die sleutel tot blanke selfbehoud.

“Ek sal nooit hier op Orania kan woon nie, Pa. Ek kan nie vassteek in wit nie” (57). Dana verkies multikulturaliteit, wat geen waarborg vir die behoud van Afrikaneridentiteit en -etnisiteit bied nie; eerder die teenoorgestelde: die gewaarborgde ondergang van die Afrikanerdom. Dana haal die anti-Afrikaner Antjie Krog soos volg aan: “ek is moeg vir … ‘n spul stinkende identiteite … (en ‘n taal gestroop van die grammatika van menslikheid en berou) mens sê maar gereeld mens is niemand se Afrikaner nie” (57). Later onderskyf en herhaal Dana klakkeloos Krog se gewraakte, oordrewe uitlating: “‘n Taal gestroop van ‘n grammatika van menslikheid. Ons taal” (85).

“Ek is een van die gebreinspoeldes wat myself al hoe lank probeer ontspoel” (46). Dana, probeer jy dieselfde doen met die huidige vlaag polities byderwetse propaganda? Dit lyk nie so nie: “Apartheid is tot almal in die land se voordeel, is ek gemaak glo, maar eintlik was dit net sodat ons, die wittes, die Westerlinge, veral ons Afrikaners, ons leefwyse, taal en kultuur kon handhaaf en onsself ten koste van miljoene ander kon verryk” (46). Dana, oral ter wêreld en veral in die Weste is blankes tradisioneel die welvarendste. Dit kan eerder op besondere vermoëns as op uitbuiting dui en kan in ander lande nie aan apartheid toegedig word nie. Kan dit verkeerd wees as Afrikaners hulle leefwyse wil handhaaf sonder om ander etniese groepe te benadeel?

Dana ontken darem nie, soos ander oorverligtes, dat hy ‘n Afrikaner is nie: “Ek is ‘n onrehabiliteerbare Afrikaner. Dit is wie ek is en wie ek wil wees, al dra ek soms swaar aan die bagasie van die verlede” (55). Dra ANC- en PAC-lede swaar aan hulle terroristiese verlede? Nee, dit is vir hulle ‘n bron van trots. Hulle funksioneer gewetenloos asof hulle geen “bagasie van die verlede” saamsleep nie. Dana reageer anders: Ek is “vasgevang in my witheid, onseker van my gevoelens, onseker hoe om op te tree, bang vir sentimentaliteit, selfsugtig, belaai met skuldgevoelens” (66). Dit is presies wat die swart bewindhebbers van blankes verlang.

“Die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk is ná hoeveel jaar steeds aparte kerke, sonder enige onmiddellike vooruitsig op eenwording. In die NG Kerk is nog nie eens eenstemmigheid oor die Belydenis van Belhar nie” (89). Dana wys stiksiening die vinger van beskuldiging na die NG Kerk terwyl dit die VGK is wat liefdeloos weier om in gesprek te tree tensy die NG Kerk vooraf ongekwalifiseerd oorgee, soortgelyk aan die oorgawe van FW de Klerk & kie aan die ANC.

“Dit was toe ‘n ander land hierdie, Pa. En dis jy en ooms soos jy wat die land anders help maak het. Jy was in die Broederbond. Jy weet ek weet dit. Julle was in beheer van die kerk en die skool en die dorp en die land, en julle het ons nooit toegelaat om te vergeet ons is deel van ‘n klein, blanke volkie hier aan die suidpunt van Afrika wat teen die Totale Aanslag van die kommuniste stry nie. Julle vrese het ons vrese geword, Pa. Ek is die bliksem in vir jou en ooms soos jy, Pa, want met julle direkte NG lyn na God toe en julle aardse planne vir ‘n aparte naasbestaan het julle gemaak dat ek swart mense – bruin mense ook, almal wat nie soos ons is nie – as minder as mense begin beskou het” (126-127). Dana skryf hy is “in opstand … teen die patriargale hegemonistiese, veroordelende dogma van die wêreld waarin ek grootgeword het” (249).

Ja, dit is ooms soos Dana se pa, Coenie, wat Suid-Afrika anders help maak het en daardie andersmaak was grootliks verbetering. Ek gaan nie vir die Broederbond in die bres tree nie. Ná 1994 het die Broeders en blanke lidmate van die Afrikaanse kerke al hoe minder geword. ‘n Mens vra jou af: Hoe opreg was hulle in wat hulle destyds voorgegee het om te wees? Soos tans was daar destyds oordrewe regeringspropaganda. Maar die vrese vir kommunisme en swart mag was glad nie ongegrond nie. Nie-wittes is nie en behoort nie “as minder as mense” beskou te word nie. Wat egter ruiterlik erken behoort te word, is ras-, etniese en kulturele verskille. Die mites van gelykheid en eendersheid moet nie sonder meer aanvaar word nie. Daar moet nagegaan word in watter opsigte mense gelyk en eenders is en in watter opsigte dit klaarblyklik nie die geval is nie.

Dana kry iets reg waartoe ek nie meer in staat is nie. Hy bly optimisties. “Oral sien jy armoede en die swaarkry, maar jy sien ook die onvernietigbaarheid van die menslike gees en die hoop. As jy dit wil sien” (177).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Ou Transvaal

    Depressie hang soos ‘n mantel om die skouers van die liberalis van vandag , want hulle weet dat hulle gewetenlose minagting van ons Volksgoed nie vir hulle ooit ‘n blywend erflating is nie .
    Hulle teleurstelling kom daarvan dat hulle eindelik besef dat hulle bewind kortstondig en verbysnellend tot ‘n stinkende rioolput uitgeloop het …In die proses het hulle hulself vervreem van die behoort aan hulle eie mense en besef dat hulle ook nie tussen die volkies tuis is nie , dit in ‘n tyd waar ons mense weer besef dat daar lig aan die einde van die tonnel is ……Selfvernietiging selfverlooning blyk hulle enigste opsie te wees ..

  • Kalium_Chloraat

    Lukas Potgieter het eenkeer gesê dat hy seker nooit ‘n goeie skrywer sal word nie, want hy is nie jammer oor wat sy voorsate gedoen het nie. Dit lyk my asof hy reg was oor alle gewilde skrywers deesdae. Ek onthou nog Dana se aanval op dr. Verwoerd ‘n klompie jaar terug in die Burger. Hy draai ook maar sy seile na die wind, so dink ek.

  • Antonie Geyser

    ek wou so graag die land se plekke gaan besoek, op die strande gaan loop, verlate plekke gaan aandoen-maar petrol het so duur geword, ek gaan ook nie veilig wees nie, my kleur is n onding vir die donkere afrikane- die liberale het mos n seding gehad: ‘volksiemoord’

  • Rooikop

    “Pa. Ek is die bliksem in vir jou en ooms soos jy, Pa, want met julle direkte NG lyn na God toe en julle aardse planne vir ‘n aparte naasbestaan het julle gemaak dat ek swart mense – bruin mense ook, almal wat nie soos ons is nie – as minder as mense begin beskou het” (126-127).” – Wel hierdie is die ou se eie probleem – hoekom sou jy hulle asl “minder” beskou? Dit gaan juis daaroor om die mense hulle eie selfbeskikking te gun – hoeveel beter wil jy nou eintlik hê?
    Gaan kyk juis hoe daar ook met “minderes” van ons eie volk omgegaan word – dan verstaan ek hoekom die spul skuldig voel. Skuldig omdat hulle die mense as “minderes” gesien het. Het ek hulle as gelykes gesien? Nee maar ook nie as “minderes” nie – dit is dalk waar die hele dilemma van hierdie oordrewe skuldgevoelens lê.

  • Die groot stryd tussen ons Afrikaner Coenies en ons Danas woed voort! Ek is self ‘n 1959 model en dik vies vir die generasie so 15 jaar en meer ouer as ek. Ek sit darem met ‘n bitter ongemaklike erfporsie! Baie dankie ou ballies! Ek is ook self nie seker wat die belangrike Broeders en die groot Vrymesselaars of Sinodale Priesterordes van Baal in my familie nou eintlik bereik en vir die Afrikaner nageslag nalaat nie. Lyk my Alzheimers raak ‘n gerieflikheidssiekte terwyl ons teug aan ons braaksel en rondrol in ons volksnageboorte? Synde ek nou deel van die “tafel, politieke en werkplek afgeveegde” generasie van blanke (Boere) Afrikaners is, bevind ek myself nou tussen die ou bulle wie haas op pad graf-toe is en die jonger generasie met oorbelle en die bygeloof dat hulle geen oorlog het om te baklei nie. Nou hoe die “Coenies” en die WW II oorblyfsel op suurstof nou die bal (watter bal) gaan uitgee oor die koppe van die ander “Baby Boomers”, generasies X, Y en Z na die Millennials weet ek nie. Maar, by die A*K bou ons knus en met oogklappe “aan die toekoms”, met strooibale en ou wynsakke.

  • Suidpunt

    Dankie mnr. Lemmer. As u nou werklik wil, kan u ‘n stophorlosie byderhand hou en kyk wat die leestyd is. ‘n Mens wonder hoeveel tyd mens spaar deur NIE hierdie boeke te lees nie. Tyd is ‘n gewaardeerde kommoditeit.

    Uit u hele resensie kom ek al hoe meer agter hoe onsamehangend Dana skryf. Yl hy? Kyk, ‘n mens dink mos volgens ‘n ontwikkelingsgang. Daar is nie een faktor wat tot iets lei nie, maar verskeie – soos ‘n druppel van ‘n blaar wat in ‘n stroom beland (as die grondwatertafel versadig is), in ‘n beuk, in ‘n rivier in die see.

    Hierdie week was ek geskok toe ek agterkom hoe hoog die spaarkoers in Sjina en Japan is, vergeleke met Suid-Afrika waar 20c uit elke R100 gespaar word ( https://tradingeconomics.com/south-africa/personal-savings ). Is dit Confucius se leerstellings wat die spaarkultuur aanmoedig? NEE – die banke het in die verlede nie gehou van krediet uitdeel nie (in Sjina onder die kommuniste), en baie werkers beskik oor geen pensioene nie; dan moet jy maar jou eie geld oppot. 2008 het die wêreld geruk en die Asiate benader nou net kontant anders. Ook verkies die Asiate om geld onmiddellik in gereedheid te hê sou ‘n ramp hulle tref. Die banke hou egter nie hiervan nie – want hoe moet die banke nou rente terugwin? Ook sal die tipiese ekonome nou kla dit is onvolhoubaar vir die ekonomiese vooruitgang – ewe veel as die onvolhoubaarheid van die Amerikaanse oorverbruik en oorbesteding.

    Oorsaak en gevolg. Daardie kousaliteit mis ek by Dana se skryfwerk. Eintlik herinner dit my baie aan David van Reybrouck se skryfwerk ook – presies dieselfde “snapshot”-oomblikke. Amper soos ‘n joernalis met ‘n spertyd wat, tereg hierbo genoem, “vullers” soek.

    “Apartheid was nie goed nie”, “maar kyk hoe lyk die plek”, “nee, ek mag nie nostalgies dink nie” (“nou waarom skryf ek dan?”, “ek weet nie, die ink moet op”), “kom ons vreet ‘n vienna en bepeins die saak”, “my Pa was ‘n Broederbonder” – regtig! ‘n Mens verwag hierdie logika van ‘n 12-jarige se opstel tydens ‘n eksamen van 30 minute. Te veel gevoel, en te min deurdink.

    • Riaan Slabbert

      “Uit u hele resensie kom ek al hoe meer agter hoe onsamehangend Dana skryf. Yl hy?” Absoluut. Kon nog nooit vat kry aan die oros mannetjie nie.

  • Sureta von Holtzhausen

    Ek het hierdie artikel van Leon Lemmer nou sit en deurlees en ek verstaan waar sy kritiek hom ontleen en ek stem ook saam met Leon se breë politieke benadering.
    Ek moet egter sê dat die vraag in die titel nie so eenvoudig gestel kan word nie. Dit vervat ñ onreg teenoor die skrywer onder bespreking.
    Ons verhouding met ons ouers is soms uiters kompleks. Dit is ongeëwenaarde liefde, of dan minstens ñ tipe sui generis-liefde, gepaardgaande met die intense konflik wat die beperkinge van daardie einste ouerliefde ons oplê in die super-sensitiewe tienerjare wanneer ons so graag ons eie mens wil wees: soms lynreg teen ons ouerhuise en die waardesisteme daar. Kompleks, nietemin.
    En ek dink ñ sekere mens tree gereeld met hul ouer in gesprek oor die konflikpunte van die vroeë jare. Ek dink geensins die skrywer probeer homself voorhou as ñ beter Afrikaner as sy pa nie. Ek dink bloot deur sy ‘gesprekke’ met sy pa, soek hy steeds na ñ definisie vir Afrikaners waarmee hy persoonlik kan vrede maak, probeer hy die foute in die verlede onverdun betrag sonder om die kollektiewe verantwoordelikheid te negeer, indien daar enigsins so ñ verantwoordelikheidsbesef behoort te wees en voel hy terselftertyd die swaarkry, veral in die noorde, van die land aan. Ek dink in alle eerlikheid weerspieël hy die worsteling in ons almal rondom verlede, hede, verantwoordelikheid, menslikheid en eie-behoud of eie erfenis.
    Sommige van ons het ñ antwoord op al hierdie kwessies slaggereed en dis wonderlik. Maar sommige van ons probeer tastend ñ waarheid vind wat waar is vir almal in die land.
    En dit blyk tans ñ onbegonne taak te wees, maar dis wonderlik dat daar mense is wat dit nastreef.
    Natuurlik val die spesifieke skrywer se klem nie presies waar baie van sy lesers se klem val nie, maar iewers tussen die vrae waarmee Dana Snyman worstel, sy oordeel oor sy pa en jou as die leser, se eie siening, lê daar ñ sagter waarheid. En ek dink tog dis waar Dana Snyman (en die leser) behoort uit te kom. Iewers by ñ nuwe neutraal, waar ons as Suid-Afrikaners natuurlik geensins tans is nie.
    Ons almal wieg tans op ñ gevaarlike pendulum en is soekend na ñ werkbare antwoord.
    Boeke soos Dana Snyman s’n neig tans dalk links van die pendulum, maar as jy sy werk ken sal jy ook sy piëteit met sy mense ken. Ek mag hom dalk verkeerd ‘lees’, maar ek dink sy klem is op die goedwees vir mense op mikrovlak, vir mekaar. En hy leef soekend na ñ antwoord om daardie goedwees te probeer verwoord op kollektiewe vlak. Want wat in die land op grondvlak tussen goeie mense gebeur en op kollektiewe vlak tussen politieke faksies, is nie nou versoenbaar nie. Ek stem saam. En ek dink dis hier waar Leon Lemmer van hom begin verskil. En tot ñ groot mate ek ook.
    Maar as jy Dana Snyman se bedoeling tussen sy woorde sien opstaan, dan sal die felle kritiek dalk taan.
    Boeke soos Dana Snyman s’n soek nie kollektiewe oplossings in die politiek nie, maar in menslikheid. Ja, die menslike aanslag vir ñ klomp vernielde mense is dalk te hoopvol vir ons tydgleuf, maar menslikheid is ñ edele doelwit of waarde om voortdurend na te streef, veral in tye waarin dit nie noodwendig aan ons, as minderheidsgroep, betoon word nie.
    Ons het die stories en dokumentering waarmee hy hom gewoonlik mee besig hou juis nou nodig.
    Kritiek teen enige skrywer se werk of teen sodanige skrywer se sienswyse is altyd nodig en welkom, maar ek voel in hierdie spesifieke stuk is daar ñ onregverdige politieke fokus wat die publiek kan ontmoedig om sy werk te lees, en dit sou werklik nog ñ nederlaag wees vir ons wat Afrikaans liefhet. Ons verhouding met ons ouers is kompleks, die verhouding met ons Afrikanerskap selfs meer so, die trots op ons erfenis moet beslis beskerm en aangemoedig word, maar om diegene te kruisig wat eerlik hierdie worsteling blootlê, dien nie een van bogenoemde nie.

  • Die Afrika-dilemma van die verligte Afrikaners: Die edele barbaar wat maar net nie meer edel, en minder baarbaar wil wees nie. Dit is juis die optrede van die swart Afrikaan wat die wit Afrikaner se groepsidentiteit definieer en versterk. Dana (en Media24) sal leer dat in Afrika tel aksies veel meer as woorde, en ‘n oneindige getal woorde vanaf die postmodernistiese filosofie van ‘n progressief verligte mediahuis sal nie lank staande bly teen die dade van die inheemse Afrikane nie.

    • Sjoe, dit is baie mooi gestel, Casper! Ek het ook al dikwels hieraan gedink, dat geen van die polities korrekte propagandiste beheer het oor die gedrag van die swart Afrikaan nie, maar ja jy omskryf dit hier baie mooi, met die positiewe gedagte dat dit eintlik ons eie identiteit versterk omdat ons ons noodwendig daarvan moet disassosieer.

      • Ek wonder of Casper nie dalk “Mike Smith” is nie, daardie uitleg van hom Laat my baie aan die blogger dink.

        • Nee, ek is nie Mike Smith nie.
          Maar… Mike Smith gebruik Dragon Dictate en dikteer sy blog vroegoggend. Toevallig ken ek ‘n paar persone wat skryf en Dragon Dictate gebruik, en een van hulle is enkele jare ouer as ek en skryf wanneer die son opkom, en sy politiek is NIE liberaal nie. Hy bly ook nou in ‘n Skandinawiese land waar hy sy lewe maak uit skryfwerk op die Internet en sy skryfstyl is…

          • Rifrug

            ” … en sy skryfstyl is… ”

            Jy maak my nuuskierig met daardie ellipsis!

  • @Leon Lemmer – Ek het so ‘n bietjie intussen opgelees oor ‘liminaliteit’ daardie antropologiese terme wat betek die drumpel van ‘n oorgangsfase. En hoe meer ek lees hieroor, hoemeer word ek warm onder die kraag. Nou moet die Afrikaner sy ou identiteit en herkoms afwerp, agterlaat en die drumpel oorsteek na ‘n nuwe mens? Watse nuwe mens sê niemand nie, seker iets baie naby aan die model van die Marxiste se ‘nuwe mens’? So daar is vir ons besluit dat in hierdie nuwe Suid-Afrika ons nie meer mag wees wie en wat ons is en was nie, maar moet hervorm na iets anders wat nie in konflik met res van die landsburgers sal kom nie. Nou is ek eers die d****r in. Hou aan navors en skryf hieroor, mense wat liminaliteit vir die Afrikaner voorstaan moet met wortel en tak uit ons samelewing uitgedryf word.