Nederlandse toeriste ‘gyselaars’ in SA misdaadhel

Die Nederlandse toeriste op pad terug lughawe toe om van Suid-Afrika af weg te kom.

Die groep van 36 Nederlandse toeriste wat kort ná hul aankoms by die Johannesburgse lughawe in hul toerbus gekaap en beroof is, het gister na hul land teruggekeer, waarskynlik ontnugter deur die wettelose toestande in Suid-Afrika. Met die internasionale publisiteit wat die voorval geniet het, het die minister van polisie, Fikile Mbalula, vure probeer doodslaan maar eintlik net die haglikheid daarvan bevestig deur die rooftog as ‘n “amperse gyselaarsituasie” te beskryf.

Mbalula het gesê: “Dit was ‘n dramatiese ervaring en ondanks die feit dat hulle langer wou bly, was dít wat hulle Sondag teëgekom het, amper soos ‘n gyselaarsituasie deur misdadigers wat die gesag van die staat ondermyn.”

Die ANC-minister het sy kommer uitgespreek oor die uitwerking van die wydverspreide negatiewe publisiteit op Suid-Afrika se toerismebedryf, maar was dankbaar dat niemand gesterf het nie. “Ons grootste bekommernis is, as mense op daardie bus sou gesterf het, dan sou dit erger as nou gewees het. In God se gebede, het niemand gesterf nie.”

Die groep van 36 niksvermoedende toeriste uit Nederland het by die lughawe, wat na die ANC-terroris O.R. Tambo vernoem is, aangekom en uitgesien na 22 dae se vakansie in Suid-Afrika. Dog kort nadat hulle die bus bestyg het wat hulle na hul hotel in Fourways, Johannesburg, sou neem, is hulle deur ‘n voertuig met polisiekentekens voorgekeer en is die bestuurder gedwing om na ‘n stiller pad te ry. Ten minste een van die rowers het ook ‘n polisie-unifom gedra, terwyl vyf ander gewone klere aangehad het.

Hierna is die toeriste hardhandig van hul besittings ontneem, met sommige wat agterna vir beserings in die hospitaal behandel moes word. Kameras, selfone en ander elektroniese toerusting, maar ook hul bagasie, is gebuit en in die “polisievoertuig” weggery.

Nederland se linkse ambassadrise in Suid-Afrika, Marisa Gerards, wat Nederlandse maatskappye in Suid-Afrika gereeld aansê om nie met blankes sake te doen of hulle in diens te neem nie, het voorgegee dat dit “buitengewoon” was vir mense om op pad terug van die lughawe af in Johannesburg beroof te word.

“Ons het nog nooit so iets ervaar nie, het sy gesê. “Ek is regtig geskok hierdeur, maar ek is vol vertroue dat ons die mense sal vind wat dit gedoen het.”

Terwyl Mbalula so dankbaar is dat niemand op die bus gesterf het nie, is daar wel deur die Nederlandse dagblad De Telegraaf berig dat die rowers gepoog het om op hul gyselaars te skiet. “Dit was hel,” het die passassier gesê. “Mense was paniekerig en het selfs vuurwapens op hulle gerig gehad. In twee gevalle is die sneller getrek maar die wapen het nie afgegaan nie.”

Terwyl daar daagliks gruwelverhale in die SA media oor plaasmoorde, huisrooftogte en motorkapings verskyn, is die land besig met ‘n bod om die Wêreldrugbybekertoernooi van 2023 aan te bied. Soos iemand in reaksie getwiet het: “Dit gaan net mijoene dollar in die sakke van misdadigers laat beland.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.