Wêreld- Joodse Kongres sê Duitse AfD ‘moet verbied word’

Alexander Gauland en Alice Weidel, gesamentlike leiers van Alternatief vir Duitsland (AfD) was gisteraand in hul noppies met die party se vertoning in die algemene verkiesing.

Rebelse Duitse kiesers wat siek en sat vir Merkel en haar oopgrensbeleid is, het gisteraand fees gevier oor die Alternatief vir Duitsland (AfD) se 12,6% stemme in gister se Bondsdag-verkiesing. Dog Joodse groepe in Europa en die VSA het hul “uiterste kommer” oor die anti-immigrasieparty se welslae uitgespreek en het ander partye versoek om die AfD te boikot as dit by samewerking of koalisies in die Bondsdag kom.

Vroeë vooruitskattings het die AfD op ‘n stempersentasie van 13,5 persent gestel, maar tans is die amptelike gepubliseerde syfer 12,6%. Nietemin is die verwagting dat die AfD oor 93 setels in die Bondsdag met sy 630 setels gaan beskik. Die party is ook reeds die derde grootste in die land, soos op die grafiek hier onder met die jongste amptelike syfers teen ongeveer 8-uur Maandagoggend in Suid-Afrika gesien kan word.

Die party se ongewone kombinasie van die lesbiese bankier dr. Alice Weidel (38) en die voormalige CDU-strydros mnr. Alexander Gauland (76), het kennelik vrugte afgewerp. Die AfD, wat met vyandigheid deur die Duitse hoofstroommedia bejeën word, het sosiale media tot die maksimum benut, maar ook in die laaste weke voor die verkiesing met twee voertuie wat met slagspreuke oordek was, in Berlyn se strate rondgery.

Volgens Alice Weidel gaan hulle hul nuutgevonde posisie in die Bondsdag gebruik om ‘n “kommissie van ondersoek na Angela Merkel” te loods. Vele AfD-lede voel dat Merkel verraad teenoor Duitsland gepleeg het deur twee miljoen, hoofsaaklik Moslem-immigrante in die land toe te laat, iets wat ook haar grondwetlike magte oorskry het.

“Ons is her om te bly,” het Weidel gisteraand gesê.

‘n Ander lid van die AfD-leierskap, Armin-Paul Hampel, het gemeen dat “Gauland reg is” dat hulle Merkel sou vervolg, aangesien die regering ‘n “ware opposisie” nodig het, veral oor die migrasiekwessie.

“Die establishment het gedink die vlugtelingekwessie was dood. Maar dis nie dood nie,” het hy gesê.

Op sy beurt het Ronald Lauder, president van die Wêreld- Joodse Kongres in New York, kanselier Angela Merkel “‘n ware vriend van Israel en die Joodse volk” genoem en die AfD se vooruitgang betreur in ‘n tyd dat anti-Semitisme wêreldwyd aan’t toeneem is.

“Dit is afgryslik dat die AfD-party, ‘n skandelik reaksionêre beweging wat aan die ergste in Duitsland se verlede herinner en verbied behoort te word, tans oor die vermoë binne die Duitse parlement beskik om sy vuige platform te bevorder,” het Lauder gesê.

Die Europese Joodse Kongres het die sentrumpartye gemaan om hul by hul voorneme te hou om enige koalisies met die AfD te vermy.

“Sommige van die standpunte wat dit tydens die verkiesingsveldtog ingeneem het, het kommerwekkende vlakke van onverdraagsaamheid vertoon wat baie dekades lank nie in Duitsland gesien is nie en wat, natuurlik, uiters kommerwekkend vir Duitse en Europese Jode is.”

Leiers van ander patriotriese partye in Europa was gou om die AfD geluk te wens. Sowel Marine Le Pen van die Franse Front National as Geert Wilders van die Nederlandse Partij voor die Vrijheid het hul gelukwensinge aan die AfD getwiet. Ook Tom van Grieken, voorsitter van die Vlaams Belang, het hom positief oor die AfD se vertoning uitgelaat.

Dit was egter veral in die voormalige Oos-Duitse Länder of deelstate waar die AfD besonder goed gevaar het en reeds tot die tweede grootste party naas Merkel se CDU gevorder het, met meer as 20% steun. In Sakse is die AfD selfs nou die grootste party in die deelstaat, met ‘n raps meer steun as die CDU, op 27 persent.

Só lyk die kaart van AfD-steun ná gister se verkiesing, met die donkerder blou dele wat groter steunvlakke vir die party voorstel.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.