Plaasaanval op Emslie-gesin dood vader, beseer moeder en dogter

Drs. Werner en Mariëtte Emslie

Dr. Werner Emslie (55) van Ellisras is deur vier swart plaasaanvallers doodgeskiet, terwyl sy vrou Mariëtte in ‘n ernstige toestand verkeer met ‘n koeël wat haar lewer beskadig het. Die dokterspaar se dogter, Barbara wat insgelyks medies aan die Universiteit van Pretoria studeer, is aangerand maar nie geskiet nie.

Volgens ‘n polisiewoordvoerder, kolonel Moatshe Ngoepe, is ‘n intensiewe soektog na die gewapende verdagtes geloods.

“Daar word beweer dat op 20 September 2017 omstreeks 20:00 het dr. Werner Emslie, 55 jaar oud, buite sy huis op die plaas by Afguns gesit toe vier onbekende mans, waarvan twee met handwapens gewapen was, hom aangeval en doodgeskiet het, asook sy 55-jarige eggenote, Mariette Emslie, insgelyks ‘n dokter, geskiet het,” het Ngoepe gesê.

“Sy het die aanval met ernstige beserings oorleef en is onmiddellik vir mediese behandeling hospitaal toe geneem,” het Ngoepe vervolg. Hy het ook gesê dat twee handwapens gedurende die voorval gebuit is en dat die aanvallers met dr. Mariëtte Emslie se nuwe wit Toyota-dubbelkajuitbakkie met registrasienommer DTR 758 L weggery het.

“Die voertuig is later 2km van die huis af gevind waar dit agtergelaat is,” het Ngoepe verklaar.

Mariëtte en Barbara Emslie

Die 18-jarige Barbara Emslie is ook deur die aanvallers beseer, maar nie so ernstig soos haar ma nie. Albei word tans in ‘n Pretoriase hospitaal behandel.

Barbara was verlede jaar hoofmeisie van die Hoërskool Ellisras en het agt onderskeidings in matriek behaal. Die skool het die volgende boodskap op sy Facebook-blad geplaas:

Hoërskool Ellisras en die Ellisrasgemeenskap is in rou gedompel.

Woorde is min.

Ons groet dr. Werner Emslie en ons salueer ‘n person wat op baie gebiede soveel mense se lewens aangegryp het.

Dr. Emslie, jy laat ‘n groot leemte, jy sal as vriend en voormalige voorsitter van Hoërskool Ellisras se beheerliggaam, gemis word.

Mag die Here Sy hand oor dr. Mariette Emslie, Grant en Barbara, hou.

Ons bid dat Mariette gou sal herstel.

Aan die Emslie-gesin en familie, mag God julle styf vashou en troos in hierdie hartseer tyd.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.