Die Universiteit van Reims in Frankryk, URCA, het aangekondig dat dit nie langer die veiligheid van studente kon waarborg nie en tydelik gesluit moes word nadat die kampus onwettig deur derdewêreldinkommers beset is.
Die rektor van die Universiteit, Guillaume Gellé, het aan die personeel en studente gesê dat daar Dinsdag geen lesings sou wees nie aangesien hy nie hul veiligheid kon verseker nie.
In ‘n gesprek met plaaslike media, het Gellé, gesê: “Betreffende die onwettige besetting van die universiteit, kan ek nie langer almal se veiligheid verseker nie, en ek dring op veiligheid vir almal aan. Dit is waarom ‘n tydelike sluiting van die universiteit Sondagaand afgekondig is.”
Dit is die eerste keer dat ‘n Franse universiteit sy deure moes sluit weens die migrantekrisis in die land.
Die rektor het gemeen dit is nie vir sy instelling om oplossings vir die plakkerskamp in die stad te vind nie, maar vir die staat. Hy het die regering versoek om in te tree aangesien vele studente poog om hul studies onder moeilike omstandighede te voltooi.
Daar word beraam dat daar ongeveer 41 migrante in die plakkerskamp woon, met ‘n verdere 18 tente wat langs die regsfakulteit aan die ander kant van die kampus opgeslaan is.
Enkele dae gelede het inwoners van die St John Perse-parkomgewing in die plaaslike pers die toestande veroordeel en dit ‘n “mini-Calais” genoem wat slegs enkele meters van hul huise af bestaan.
Volgens France Bleu het die migrante in die nabye St John Perse-park gekampeer, maar sou daar deur die polisie uitgesit word, daarom het hulle besluit om hul intrek op die kampus self te neem, waardeur die owerheid gedwing word om opnuut ‘n uitsettingsprosedure teen hulle te begin.
Die Franse studentevereniging, UNEF, het die “lewensomstandighede van dié gesinne” veroordeel en gevra “vir solidariteit van die plaaslike owerheid en die stadsraad van Reims, asook die Prefektuur, om die gesinne te huisves”.
Daar is slegs drie maande oor van president Emmanuel Macron se verkiesingsbelofte dat daar teen die einde van die jaar geen meer migrante op straat sal slaap nie.
Le collectif 51 qui soutient les migrants sur le campus de #Reims cite Macron… pic.twitter.com/fxqNu15Cj3
— Valérie Coulet (@ValerieCoulet) September 18, 2017
Volgens ‘n twiet deur Valérie Coulet (hier bo) “haal die migrante op die kampus van Reims vir Macron aan”.
In ‘n persverkaring Maandag het die rektor van die URCA gesê dat hy hom “ná raad deur die bekwame owerhede”, tot die administratiewe hof wend. Die verhoor sou vandag, Woensdag 20 September te Châlons-en-Champange gehou word.
Intussen sal die Rooi Kruis-kampus geslote bly en word ongeveer 8 000 studente van opvoeding weerhou.