Liberale Kaliforniese wetgewers wil MIV-verspreiding dekriminaliseer

Gay optog in San Francisco, nadat huwelike van dieselfde geslag in dié deelstaat gewettig is.
Deel op

Die Demokratiese senator vanaf San Francisco, Scott Wiener, werk hard daaraan om die oordrag van die MIV-virus van een mens na ‘n ander ‘n geringe oortreding te maak. Diegene wat willens en wetens MIV versprei, mag in die toekoms min of meer oor dieselfde kam geskeer word as iemand wat ‘n verkeersoortreding of “misdemeanor” in die VSA begaan.

NUUT!

Die LA Times het vandeesweek berig dat wetgewers van die Kaliforniese deelstaat Maandag hul finale goedkeuring aan ‘n wetsontwerp verleen het wat die bewuste oordrag van MIV van ‘n strafregtelike ootreding na ‘n geringe oortreding verminder. Die wetsontwerp sal nie langer die bewuste blootstelling van ‘n seksmaat aan MIV sonder om die infeksie te openbaar as ‘n ernstig strafbare misdaad  behandel nie.

Die wetsontwerp, SB 239, sal binnekort deur die goewerneur gepromulgeer word deur dit te onderteken. Dit is deur Wiener ter tafel gelê, wat sê dat die huidige wet teen diegene diskrimineer wat die menslike immuniteitsgebrekvirus, of MIV, onder lede het. MIV lei gewoonlik tot Vigs.

Wiener sê dat sommige mense dalk mag verkies om nie getoets te word as dit hulle strafbaar sou maak as hulle iemand anders aan MIV blootstel, wat daarop neerkom dat dit ‘n mensereg is om iemand anders met MIV te besmet.

Besmette mense wat bloed of semen skenk sonder om bekend te maak dat hulle positief vir MIV of Vigs getoets het, sal nie langer streng gevolge hoef te dra nie, aangesien hulle “diskriminasie” verwerp. Die huidige toestand is “homofobies” en “diskriminerend” teen LGBT-mense, volgens die wetgewende vergadering van Kalifornië.

“Tans word MIV uitgesonder vir besonder streng behandeling as ‘n misdaad,” het Wiener gedurende die debat gesê.

Republikeine is buite hulself van woede oor die wetsontwerp. Sen. Joel Anderson van San Diego, wat teen die wetsontwerp gestem het, sê dit stel die algemene publiek aan risiko bloot. Hy het die wetsontwerp “totaal mal” genoem.

“Ek is van mening dat as jy doelbewus iemand anders met ‘n siekte aansteek wat hul leefstyl vir die res van hul lewe verander, en hulle op ‘n medikasieprogram plaas net om enige sweem van normaliteit te handhaaf, behoort dit as ‘n misdaad beskou te word,” het Anderson gesê. “Dis absoluut kranksinnig dat ons dit ligtelik behoort op te neem.”

Anderson het gesê dat strenger strawwe uitgebrei te word na diegene wat ander aan aansteeklike siektes blootstel. Volgens die Sentra vir siektebeheer en -voorkoming in die VSA (Centers for Disease Control and Prevention (CDC)), is 1 uit 5 gay mans MIV-positief.

Sen. Jeff Stone, ‘n Republikeinse apteker van Murrieta, het aan die LA Times gesê dat dit ‘n misdaad behoort te bly om enigeen met MIV aan te steek, aangesien dit daardie persoon “waarskynlik daartoe verdoem om $1 miljoen se medikasie vir die res van sy lewe te neem”.

Maar Wiener het geargumenteer dat gays nie “gestigmatiseer” behoort te word deur wette wat die bewuste verspreiding van ‘n dodelike siekte bekamp nie. “Hierdie wette voorkom nie MIV-infeksies nie,” het Wiener gedurende die debat gesê. “Al wat hulle doen, is om mense wat met MIV leef te stigmatiseer en toegang tot toetse en mediese sorg te verminder.”

Die wetsontwerp word deur groepe soos die American Civil Liberties Union of California, die Black Aids Institute en Equality California ondersteun, wat almal groter vryheid vir die LGBTQ-gemeenskap voorstaan.

Die Kaliforniese Demokrate het die saak van LGBTQ+ hul eie gemaak as deel van hul “weerstand” teen president Donald Trump. In Februarie het die Trump-regerintg die Obama-administrasie se voorskrifte aangaande transgeslagbadkamers in openbare skole omgekeer, en die deelstate en plaaslike gemeenskappe toegelaat om weereens hul eie beleid oor dié sake te maak.

In reaksie het Wiener ‘n ander wetsontwerp voorgelê wat dit ‘n misdryf maak om iemand ‘n openbare gesondheidsfasiliteit te ontsê en dit strafbaar maak met ‘n jaar tronkstraf of ‘n boete van $1000.

In 2015 het Kalifornië reeds oor die grootste minderheidsbevolking in die Verenigde State beskik. Blankes het afgeneem van ongeveer 78 persent van die deelstaat se bevolking in 1970 tot 38 persent in 2015.

Kalifornië huisves ook die stad van San Francisco, wat as die “gay-hoofstad van die VSA” bekendstaan, met ‘n hoër persentasie volwassenes in dié stad wat as lesbies, gay, biseksueel of transgeslag identifiseer as in enige ander stad in die land.

Volgens ‘n opname deur Gallup van die 50 grootste metropolitaanse gebiede in die VSA, identifiseer 6,2 persent van San-Franciskane as LGBT, wat 2,6 persent hoër as die nasionale gemiddeld is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.