Johannesburgse middestad ‘n spookdorp ná kabeldiefstal

Die burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba, op die toneel waar van die koperkabels gevind is en van die handelaars glo in hegtenis geneem is.

Groot dele van die Johannesburgse middestad was gister ‘n spookdorp nadat kabeldiewe blykbaar verlede naweek “etlike kilometers ondergrondse koperkabels” gesteel het. Die wetteloosheid in Suid-Afrika het so ‘n erge graad bereik dat kabeldiefstal feitlik ‘n alledaagse verskynsel geword het.

Volgens ‘n woordvoerder van City Power, die nutsmaatskappy wat krag aan die stad voorsien, het die diewe verlede Sondag toegang verkry tot ondergrondse tonnels waarin die kabels gehuisves word. Eers is die kabels aan die brand gesteek om ‘n elektriese kortsluiting te veroorsaak wat sekerings sou laat afgaan ten einde die hele netwerk af te skakel. Daarna was dit vir die diewe veilig om die elektriese kabels te knip en weg te dra.

‘n Groot deel van die middestad is deur die kragonderbreking getref, vanaf die Carlton-sentrum tot Selbystraat. Ook die land se besigste Hooggeregshof, die Gautengse plaaslike afdeling in Pritchardstraat, is getref en het vanaf die begin van die week met behulp van noodkragopwekkers gefunksioneer. Gister teen etenstyd het die diesel egter opgeraak en is hofsale tesame regters, advokate en prokureurs eensklaps in donkerte gehul. Verskeie dringende sake moes tot later in die week uitgestel word, in die hoop dat die kragtoevoer herstel sou word.

Alle winkels in die Carlton-sentrum is al heel week lank gesluit, met veiligheidswagte wat ingange bewaak. Die parkeergarage van die Carltonsentrum, Afrika se hoogste gebou, was gister nog oop en die gedruis van die noodkragopwekkers was in die kelderverdieping hoorbaar, met ‘n swaar reuk van diesel wat in die lug hang.

Met verkeersligte oral buite werking, het groot verkeersopeenhopings motoriste en voetgangers geteister.

Vanoggend het City Power aangekondig dat die kragnetwerk waarskynlik eers teen Saterdag herstel sal word.

Maandagaand het brande steeds in die tonnels gewoed, wat tegnici daarvan weerhou het om die nodige herstelwerk te doen.

Die omvang van die skade wat die brande en kabeldiefstal veroorsaak het, is nog nie bepaal nie, maar die tonnels waarin kabels gehuisves word, is volgens Wayne Minnaar, superintendent van die Johannesburgse Metropolisie, “nege kilometer lank”.

 

Minnaar het verskoning aangeteken teenoor alle kliënte van die munisipaliteit en gesê: “Ons doen ons bes om die situasie so gou moontlik op te los.”

Honderd-en-vyftig verkeerspolisiemanne is ontplooi om die verkeer te help reël.

So pas het ons via Twitter verneem dat die koperdiewe blykbaar aangekeer is. ‘n Foto van die burgemeester Herman Mashaba op die toneel van ‘n koperskrootwerf is getwiet (foto hier bo).

Volgens ‘n e-pos wat later vanmiddag deur die munisipaliteit uitgestuur is, sal die krag nie meer teen Saterdag nie, maar eers teen Sondag herstel wees.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.