Leon Lemmer: Die uitdagings van saamleef in Afrika

Toe daar destyds oor die ondergang van blanke politieke mag gekonkel is, eufemisties ons oorgang na demokrasie genoem, is die volgende boek van ‘n teoloog gepubliseer: Attie van Niekerk, Sáám in Afrika (Kaapstad: Tafelberg, 1992, 119p). Hierdie teks is op Praag (8.04.2017) bespreek. Van twee teoloë, Pieter van Niekerk en Chris Jones, het onlangs ‘n soortgelyke boek verskyn: Saam in Suid-Afrika (Kaapstad: Lux Verbi, 2017, 207p, R200). Let daarop dat Lux Verbi deesdae deel van Naspers se Media24-groep is. ‘n Mens kan met reg verwag dat ‘n nuwe boek oor plaaslike pogings om saambestaan houdbaar te maak, getuienis sou lewer van die duidelik waarneembare agteruitgang oor die afgelope meer as twee dekades, maar dit is eintlik glad nie die geval nie: “Ons land lê nie in sak en as nie” (p 194). Die uitgangspunt is veel eerder dat ons almal mense is en hande moet vat en dan sal alles wonderlik wees. Myns insiens kan bv onderlinge verskille tussen mense en groepe sodanige utopie onbereikbaar maak.

Om mense te motiveer om die boek te koop, is die voorwoord en die laaste “hartroerende” storie (20) deur Ivor Price geskryf; iemand wat myns insiens kwalik as ‘n rolmodel of gesaghebbende orakel beskou kan word. In die voorwoord noem Price die boek ‘n “kragtoer” (7) en ‘n “woordlafenis” (5). Sonder om ‘n poging tot oorspronklikheid aan te wend, verwys hy na oogklappe, Madiba-magic, braaivleisvure, die “rassemanie” op sosiale media (5), “die nare werklikhede van die verlede” (6) [en die hede?] en vra dan die retoriese vraag: “Was die struggle* en die bloedvergieting dan alles verniet?” (5). Price se “hartroerende” storie is dat die Price-gesin in Junie 1990 toegang tot verblyf in ‘n tradisioneel blanke gastehuis geweier is. Die fout wat hulle gemaak het, was om te dink dat apartheid met FW de Klerk se toespraak op 2 Februarie 1990 afgeskaf is terwyl De Klerk dit eers in 1991 mandaatloos gedoen het. [* Die Afrikaanse woordelys en spelreëls, 2017, p 505, erken die Struggle en Strugglepoësie as Afrikaanse woorde.]

Agterop word die inhoud van die boek soos volg verwoord: “Saam in Suid-Afrika praat kaalvuis oor die sensitiewe onderwerp van ras en rassisme – en die realiteit daarvan in ons land. Samestellers Chris Jones en Pieter van Niekerk gee vir die leser ‘n eerlike blik op hoe Suid-Afrikaners van verskillende rasse saam leef, en ook hoe ons mekaar se andersheid kan vier én versoening kan bring.” Daar word tereg dikwels na verskille by mense verwys maar die ooreenkomste kry voorkeur. Die teks het dit by uitstek teen rassisme by blankes en hoe hulle hulleself moet hervorm om die genesing van ander mense se beweerde apartheidspyn moontlik te maak. Die waarheid is dat van blankes verwag word om herhaaldelik verskoning te vra, maar dikwels word aangevoer dat dit nie goed genoeg is nie. Sommige swartes eien hulle die reg toe om blankes nie te vergewe nie. Swartes mag maar onbepaald voortgaan om hulle griewe te koester. Van blankes word daar onvoorwaardelike welwillendheid en opofferings geëis

Daar word van die myns insiens valse veronderstelling uitgegaan dat enersyds bruin en swart mense en andersyds Asiate en swart mense beter rasverhoudings as blankes handhaaf. Dit is heel moontlik dat blankes se rasverhoudings prominent is omdat blankes vir veroordeling geteiken word. “Dit is veral wit mense wat na swart en bruin landgenote se verhale van seerkry en vernedering moet luister” (16). “Ons [blankes] is in hierdie opsig bewus van ons historiese bevoorregting” (20; ook 41) of bevoordeling (36). Daardie “ander mense” moet glo nie nie-blankes genoem word nie: “Die gebruik van die woord nie-blanke word negatief geweeg. Dit kan beteken dat swart, bruin en Indiërmense die negatief van blank is” (199).

Van Niekerk en Jones is eerder die samestellers as die outeurs van die teks omdat talle ander mense se bydraes in die boek opgeneem is. Ná hulle inleiding spreek die samestellers in Afdeling 1 “gedagtes oor rassisme” uit (19). Afdeling 2 bestaan uit vertellings deur 16 verskillende mense. “Die doel om na mense se stories te luister, is nie net om dieper insig te verkry nie, maar ook om tot transformasie by te dra” (72). Dit gaan dus nie om ‘n realistiese waardering van die verlede nie, maar om verandering van die hede, al kan dit bevraagteken word of transformasie (altyd) verbetering is. “Die keuse van deelnemers was lukraak, persone wat ons ken of van gehoor het, is genader” (17). Hier onder blyk dit dat hierdie vertellers veel eerder met voorbedagte rade uitgesoek is. Die samestellers het uiteraard gedikteer wat hulle in die boek ingesluit wil hê en wat uitgesluit moet word. In Afdeling 3 word “remedies”, oftewel medisyne, vir rassisme aangebied. Die medisyne is maar flou en onoortuigend. Ook hier was die samestellers aangewese op ‘n aantal mense wat om insette gevra is. Eintlik wek die hele boek die indruk dat dit glad nie ‘n diepgaande, akademies-wetenskaplike besinning oor die onderwerp is nie. Die aanslag is sonder ‘n skerp fokus en van populêre aard en word myns insiens met die oog op onkritiese konsumpsie aangebied.

In die samestellers se hoofstukke is daar 13 verwysings na Bybelverse. Pleks van verder te spekuleer oor wat elk van die samestellers bygedra het, volstaan ek met die gedagte dat dit seker Van Niekerk is wat hierdie enkele versverwysings ingesluit het. Ek sê dit omdat dit myns insiens ‘n kenmerk van Jones se geskrifte is dat hy hom nie beswaar met wat in die Bybel staan nie. Myns insiens vind hy die grondslag vir sy oortuigings by voorkeur in homself. Dit word dus ‘n Jones-evangelie, ‘n “evangelie van inklusiwiteit” (14). “‘n Kerkgebou op Sondagoggende met net wit of slegs swart gesigte, kan tog nie volwaardig kerk wees nie. Die kerk as geloofsgemeenskap het tog geen ruimte vir rasseskeiding nie” (14). Dus, die Boere/Afrikaners het tradisioneel “tog” verkeerd kerk gehou. By ‘n vorige geleentheid het ek, na aanleiding van hulle opmerkings oor veral homoseksualiteit, na Jones en André Bartlett as voorbeelde van ontbybelde teoloë verwys.

Daar is ‘n onmiskenbare soeke na aktualiteit en selfs sensasie in die boek. Die eerste sin van die Inleiding lui: “Dit is asof die sluimerende rassisme na 1994 se reënboogdroom met ‘n groot knal oopgebars het” (8) en “Tog lyk dit of daar ‘n toename in veral kru vorms van rassisme te bespeur is” (10). Later word egter gesê: “Rassisme kom vandag redelik verskuil voor” (31). As ons tans ‘n opbloei van rassisme beleef, is een van die redes daarvoor dalk ‘n stelling soos die volgende komende van die samestellers: “Die regstellende, demografies verteenwoordigende rasseformule van 80-9-9-2 lyk op die oog af geregverdig” (12). Daarna volg hierdie kwalifisering, wat blankes grootliks uitsluit: “Maar dit word ‘n berekende slaanstok teen minderhede, van wie sommige self onder apartheid gely het” (12). Polities byderwetse retoriek kom dwarsdeur die boek voor. Verskille, soos kleur, word nie ontken nie. Andersheid moet glo gevier word (17). ‘n “Nuwe kleurryke identiteit” (8) word vir ons in die vooruitsig gestel. Rasse-integrasie en -assimilasie, insluitende rasvermenging, word (onvoorwaardelik) aangemoedig. Op hierdie manier sal die andersheid mettertyd verminder. Die samestellers probeer om hierdie pil soos volg te versuiker: “Gasvrye optrede vra nie van ons om ons identiteit prys te gee nie, maar juis om dit te verruim” (66). Rasse-integrasie en assimilasie skuil hier onder die mooi woord “gasvryheid.”

Die omarming van ‘n “reënboognasie” (8) word van Desmond Tutu oorgeneem, wat dit op sy onoorspronklike manier uit die Amerikaanse burgerregteliteratuur ontleen het. ‘n Ander teoloog wat deur die samestellers as navolgenswaardig geag word, is Allan Boesak: “Alhoewel die meeste mens dink dat rassisme eers ‘n relatief onlangse verskynsel is, kom dit eintlik al sedert die begintyd van slawerny af. Volgens die teoloog en aktivis Allan Boesak is dit deur wit Protestantse Christene as deel van hul sogenaamde kapitalistiese revolusie teologies ontwikkel, gemotiveer en begrond” (25). Dit is skokkend hoe onkrities die samestellers hier met Boesak se anti-blanke gesindheid omgaan. Voorheen was slawerny kenmerkend van baie volke. Die Arabiere was/is by uitstek bekend as slawehandelaars en -besitters. Soos by Boesak het dit egter die gebruik geword om net blankes vir slawerny te blameer. Boesak gaan verder. Volgens bostaande aanhaling beskuldig hy uitsluitlik blanke protestante vir die teologiese regverdiging van slawerny en rassisme.

Boesak en die NG Sendingkerk se verdoeming van apartheid as kettery in 1982, asook die Belydenis van Belhar wat in 1986 daaruit gevolg het, word as versoeningsmaneuvers voorgestel. Ons is glo veronderstel “om te weet vir wie Jesus die grootste deernis het” (42). Daar word beweer dat “die benadeeldes weens apartheid arm bly” (49). Die selfkoesterende vertolking “dat God in enige situasie van onreg die God van die onderdrukte is” (30), word sonder meer onderskryf. Bruines en swartes word dus by wyse van spreke God se witbroodjies. Die Verenigende Gereformeerde Kerk, wat uit die NG Sendingkerk ontstaan het, is egter self nie vry te pleit van rassisme nie. Daar bestaan “die vermoede onder wit predikante … dat hulle minder beroep word” (31).

“Dit is lofwaardig dat diversiteit en pluraliteit wyd erken word, terselfdertyd ook die regte van verskillende groepe en dié van minderheidsgroepe” (31). Dit is verbasend dat die samestellers skynbaar onbewus daarvan is dat in ooreenstemming met die wense van die ANC net individuele regte in die nuwe Suid-Afrika erken word. Daar bestaan vir bv die blanke minderheid in Suid-Afrika, anders as vir die swart minderheid in Amerika, geen minderheids- of enige ander groepregte nie. Blankes moet deesdae alle groepregte ontbeer omdat by uitstek Nelson Mandela hoogs militant teen “bedompige groepsdenke” (66) gekant was. Die verswelgende swart meerderheid kan egter weens hulle getalle en die huidige politieke opset enige groepregte vir hulleself afdwing. In hierdie konteks kan Joseph Barndt aangehaal word: “Racism goes beyond prejudice. It is backed up by power. Racism is the power to enforce one’s prejudices … It victimizes entire racial or ethnic groups for the purpose of maintaining the benefits and privileges of another group” (33). Dink bv aan die ANC-regering se regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging. “Wit dominansie lei tot wit arrogansie” (36). En swart dominansie? Nee, dit word nie deur die samestellers te berde gebring nie.

In die Suid-Afrika van weleer was die gangbare opvatting by blankes dat die ANC/UDF ‘n immorele, terroristiese entiteit is. Weens bv propaganda is daar in die nuwe Suid-Afrika die geykte opvatting dat die ANC moreel die hoë grond beklee. Diegene wat voor die ANC aan die bewind was, was/is gruwelik sleg. Die samestellers stem klaarblyklik hiermee saam. Hulle maak melding van “die ANC-regering wat sy morele kompas begin [!] verloor” (52). Die gewaande uitmuntende moraliteit van die ANC is glo veral deur die ikoniese Nelson Mandela verpersoonlik. Soos in die geval van bv Tutu en Boesak het die samestellers vir Mandela uitsluitlik onkritiese verering. In die eerste hoofstuk beweer hulle: “Rassiste word nie gebore nie, maar gevorm” (22); dus, rassisme is ‘n “stuk boosheid” (23) wat glo aangeleer word (15). Later blyk dit dat Mandela die bron van hierdie uitlating is. In die Mandela-outobiografie staan: “No one is born hating another person because of the colour of his skin, or his background, or his religion. People must learn to hate” (136). Maar ‘n mens moet insgelyks leer om lief te hê, asook baie ander dinge, soos dié wat jou veiligheid bedreig en jou identiteit aantas.

“Swart bewussyn volgens Steve Biko is op soek na ware menslikheid. Dit is ‘n ingesteldheid en leefwyse – in verset teen wit oorheersing. Dit is daarop gemik om die wit gemeenskap uit sy meerderwaardigheidskompleks te help en die liberale establishment uit te daag om hul vermeende rol as mondstuk vir die onderdrukte te heroorweeg. Dit is ook ontwerp as ‘n ewe openhartige kritiek teen die swart gemeenskap se passiwiteit wat swart mense in die loop van die geskiedenis in die rol van ‘toeskouers’ geplaas het” (37-38). Hier word opstand, swart broederskap en die uitsluiting van blankes bepleit. Is dit “ware menslikheid”? Geen kritiek word deur die samestellers op swart bewussyn gelewer nie, al voldoen dit uitdruklik nie aan hulle dogmas van nie-rassigheid en inklusiwiteit nie. As swartes die reg het om teen blanke oorheersing in opstand te kom, het blankes sekerlik ook die reg om hulle teen swart oorheersing te verset, maar die samestellers noem dit nie.

Die enigste definisie van rassisme wat aangebied word, is dié van Hans Opschoor en Theo Witvliet: “The specific ideology which organises and regulates the exploitation and dependence on a specific ‘race’ on the basis of the assumed cultural and/or biological inferiority of that ‘race’. In this way actual differences in power are maintained and intensified” (23). Die woord “ras” word tussen aanhalingstekens geplaas, eerstens omdat geen ras glo suiwer is nie; dus dat daar nie ‘n “diskrete, geografies afgebakende genepoel” is nie (27). Tweedens word aanvaar: “Ons het dieselfde (een) gemeenskaplike oorsprong” (26), wat impliseer dat “ons almal aan dieselfde ras behoort” (27). Maar die NP- en die ANC-regering sou nie vier rasgroepe (wit, bruin, swart en Asiaat) kon onderskei het as daar nie verskille in bv “velkleur, liggaamvorm, haartipe en gesigskenmerke” (26) was nie. Naas hierdie liggaamlike verskille is daar duidelike verskille in “etnisiteit of liewer identiteit” (28), dus maniere van dink en doen, oftewel leefwyse, bv taal, godsdiens, gewoontes, ens. Maar dan gebruik hierdie twee teoloë ‘n religieuse argument om hulle standpunt te probeer afdwing. “Vanuit ‘n geloofsperspektief moet ons onthou dat ons elkeen deur God geskep is. Ons het dieselfde herkoms … Ons is eintlik so eners. Ons deel, ten spyte van verskille, ‘n groot stuk gemeenskaplike mensheid” (59). Eendersheid en gelykheid word dus hiermee tot by God teruggevoer, maar die hier en nou toon dat my ouers en grootouers in baie opsigte baie anders as dié van bv Mandela en Tutu is en daarom ook my kinders en kleinkinders.

Volgens die aangehaalde definisie is die blote erkenning van kulturele en biologiese verskille nie rassisme nie. Politieke mag kan egter wel rassisties beoefen word. In ‘n land waarin ‘n groep demografies 80+% verteenwoordiging het en daarby dwaaslik toegelaat is om in (feitlik algehele) beheer van die politieke en ander lotgevalle van die hele bevolking te kom, is rassisme jeens die minderheidsgroepe ‘n wesenlike gevaar. Die samestellers verkies egter om in hierdie opsig nie die onverkwiklike hede raak te sien nie, maar eerder terug te kyk: “Ongelukkig word Suid-Afrika se geskiedenis deur rassisme gekenmerk” (22). Daar was glo “skokkende ongeregtigheid” tydens die blanke politieke bewind (25). Dit is egter ‘n onbegonne taak om die verlede te verander. Dit is die hede wat ingrypend reggetrek moet word. “Die nadeel van ‘n ideologie [bv swart mag] is dat dit kan funksioneer om ‘n bestaande orde in stand te hou” (24); selfs wanneer daardie orde chaoties en katastrofaal is.

Daar word verwys na “die Huntley-tese” (50) na aanleiding van die Suid-Afrikaner, Brandon Huntley wat in Kanada om vlugtelingstatus aansoek gedoen het omdat “die ANC-regering daarin gefaal het om die wit minderheid teen die geweldmisdaad wat deur swart mense gepleeg word te beskerm” (50). Dit lyk vir my feitelik korrek. Dink bv aan die vlaag plaasmoorde. In die meeste gevalle is dit swartes wat blankes wreedaardig vermoor. Hoe plooi die samestellers hierdie verskynsel sodat die beeld van swartes nie swakker as dié van blankes lyk nie? Deur aan te voer “dat swart en arm mense disproporsioneel die grootste slagoffers van geweldsmisdaad is” (51). Dit hef egter nie Huntley se argument op dat blankes van owerheidsweë onvoldoende beskerm word nie.

Die onderwerp van die derde hoofstuk is “‘n waardegedrewe samelewing” (54). Uit my perspektief het ek gedink aan toewyding, deursettingsvermoë, meriete/verdienste, harde werk, persoonlike verantwoordelikheid, voorkeur aan verpligtinge bo regte, eerder eie inspanning as parasitering, ens. Die samestellers het ‘n heeltemal ander en daarby ‘n politiek-gedrewe invalshoek. Die waardes wat hulle koester is: “nierassigheid, vrede, geregtigheid, waarheid maar boweal hoop” (56). Later word die volgende gelys: “medemenslikheid, integriteit, menswaardigheid, versoening en respek” (67). Die samestellers noem na aanleiding van wat hulle bevind het “dat sekere verskille tussen mense van verskillende identiteite permanent is (57-58). Sodanige verskille het seker gekom om te bly, maar daarna volg hierdie omstrede stellings: “Een identiteit sal egter nooit ‘n ander verswelg of opslurp nie. Ons sal moet leer om met mekaar saam te leef en dat saamloop, saamleef en blootstelling aan ander nie jou unieke waarde as mens hoef aan te tas nie” (58). Wat hulle hiermee beweer, is dat rasse-integrasie en -assimilasie nie (juis) gevare inhou nie, dus dat dit ‘n goeie ding is; dat verswelging eintlik ‘n illusie is; dat Afrikanisering nie bv Afrikaners of Afrikaans (noemenswaardige) skade sal berokken nie. Let op hoe mooi word dit ingeklee: “Die uitdaging vir ons is om só te leef dat ons insluit, dat ons ten spyte van verskille nie diskrimineer nie. Ons moet die beste, die positiewe, die verhewe in ander soek en probeer ontgin” (58). “Ons etiek moet ten diepste ‘n etiek van ‘vreemde feestelikheid’ wees, waar almal welkom is” (67). Die samestellers se siening van identiteit neig om ‘n ontkenning van onderskeibare identiteite te wees: “Ons ontvang ook menslikheid, ons identiteit van ánder” (68). Op die vlak van die algemeen-menslike is daar nie erkenning van bv kulturele groeps-, bv Afrikaner-, identiteit nie.

Die samestellers spesialiseer by voorkeur in eensydigheid. “In Kaapstad is daar twee merkwaardige museums, die een is die Distrik 6 Museum” (65). Die ander een is die Holocaust Museum (66). Die eerste een vertel glo ‘n “tragiese verhaal van waansin” (65). Die ander een handel glo “oor dieselfde saak” (66), dus apartheid word (ongekwalifiseerd) met naziïsme vergelyk, selfs gelykgestel: “Dat sekere mense nie die reg het om in sekere sosiale ruimtes te woon nie. Daar is vir mense gesê dat hulle elders hoort. Hierdie elders is gewoonlik nie ‘n goeie plek nie. Dit word soms ruimtes van die dood” (66). “Nie ‘n goeie plek nie”: Oor die algemeen is beter huisvesting as in Distrik 6 elders in die Kaapse metropool voorsien. “Ruimtes van die dood”: Dit is ‘n skandalige insinuasie. Is daar naasteby ‘n ooreenstemmende getal dooies weens enersyds naziisme en andersyds rassesegregasie/apartheid? Is die manier waarop die slagoffers in die twee kontekste gedood is (ongeveer) dieselfde? Behoort daar waardering te wees vir teoloë wat so ‘n uiterste gebrek aan genuanseerdheid openbaar ten einde mense tot hulle standpunt oor te haal? Is dit hoe hulle hulle eie ideaal van waarheid (56) koester?

Die eerste verteller in Afdeling 2 is Winnie Nel, ‘n onderwyseres en die dogter van Winnie Rust wat in Wellington vermoor is omdat “ek die [bruin] aangeklaagde moordenaar in my ma se lewe gebring het” (77). Hierdie moord het Nel nie uit haar politieke verligtheid geskok nie. “Op my eiland van wit bevoorregting het ek salig onbewus van die onreg in ons land grootgeword” (73). “In die tagtigerjare het my wit gewete wakker geword … Ek het aande teatraal op my kamervloer geween en om vergifnis gepleit vir ons wit sondes. Sondae het ek vir ure saam met my bruin broers en susters gekerk … Alles van die bruin kultuur was vir my aantreklik” (74-75). “Ek het geweet dat ons geskiedenis my altyd in die beskuldigdebank sou sit. Vir ‘n hoogs sensitiewe mens is dit aaklig om gedurig skuldig te voel … dit is baie erg om heeltyd sleg te voel oor my voorregte” (75).

Die tweede verteller is Stefaans Coetzee, wat in Desember 1996 ‘n bom in ‘n winkel in Worcester laat ontplof het. “Ek wou soveel as moontlik swart mense doodmaak” (80). Hy het langer as 18 jaar tronkstraf uitgedien. Coetzee het in die tronk tot ander insigte gekom en begin met ‘n proses van verskoningvra. “As jy jou huishulp, tuinhulp of aan wie ook al om verskoning gevra het, goed en wel, maar indien jy nagelaat het om dit te doen, het versoening nie plaasgevind nie. Dan het jy probeer om aan te beweeg sonder om die pyn van die verlede te erken of te probeer genees” (84). Hiervolgens lyk dit asof onreg net deur die blankes, bv weens apartheid, gepleeg is en net blankes om verskoning moet vra. Swart bomplanters is egter in die meerderheid. “Swart mense loop steeds na 23 jaar se demokrasie met wonde rond. ‘n Mens sien dit in die wreedheid van onder andere plaasmoorde” (83-84). Dit is ‘n bedenklike redenasie. Apartheid, dus blankes, kry hiermee die skuld vir plaasmoorde en nie die moordenaars nie.

Die derde verteller is Jesse Steyl, ‘n sielkundestudent aan die Universiteit Stellenbosch. Sy het (geslags)verhoudings met vroue oor die kleurgrens heen. Sy is teen rassediskriminasie gekant en bepleit geslagsgelykheid. Taal is volgens haar “ook ‘n rasse-aangeleentheid” (89). “Baie gesinne en gemeenskappe leef egter steeds met die gevolge van apartheid en die talle informele nedersettings oor die hele land is getuienis hiervan” (91). Apartheid, dus blankes, kry die skuld vir hierdie ellende; nie diegene in ellende nie. Ellende in die res van Afrika en die wêreld kan egter nie aan apartheid toegedig word nie. Sy raak die volgende veralgemening kwyt: “Die grootste probleem ten opsigte van rassisme is dat wit mense dink alle swart mense is sleg” (92).”Mense het nog nie vorentoe beweeg nie” (91).

Die vierde verteller is Danai Tembo van Zimbabwe wat ‘n doktorale student aan die universiteit in Port Elizabeth is en voorheen ‘n private skool in Pietermaritzburg bygewoon het. Toe sy na Suid-Afrika gekom het, was sy senuweeagtig. “Al wat ek van Suid-Afrika geweet het, was dat dit gewelddadig is” (96). “Die wêreld bestaan uit verskillende rasse” (97). Sy ontken dus nie, soos die samestellers, die werklikheid van rasse nie. Haar ondervinding plaaslik het nie “al die aaklige dinge bevestig … wat ek oor apartheid gehoor het” nie (98). Hier is dus ‘n geval van ‘n swarte wat in die buiteland gebore is en wat die plaaslike blankes nie slegsê nie.

Die vyfde verteller is Sandile Ngobeni, wat in Soweto gebore is en ‘n ingeskrewe doktorale student in teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) is. Hy is ‘n politieke aktivis en ‘n EFF-lid. Hy woon in Pretoria en is die skakelbeampte van die Kommissie vir Geslagsgelykheid. Volgens Ngobeni wil die studente hê dat die US moet verander, maar dat die universiteit se reaksie is om die studente te intimideer. “Dit is uiters naïef om te dink dat hierdie universiteit op lang termyn as ‘n eksklusiewe wit universiteit sal oorleef … Die US is en was altyd vir wit bevoorregting gereserveer. As swart studente het ons altyd soos buitelanders in ons eie land gevoel en die US behandel ons soos buitestanders” (101-102). Die US pas glo “die kruuste vorm van regstellende aksie toe … ten gunste van die Afrikaanssprekende bevolking. Wat ons hier sien, is die fortifikasie van die laermentaliteit … Die verstokte konserwatiewes is nou in beheer” (103).

Wat aan die US plaasvind, is dat swart studente “in die rekenaarlaboratoriums slaap” en in daardie “badkamers moet regkom” (102). “Wat die US dwingend benodig, is transformasie en kragdadige leierskap … Die begin van die transformasie moet die ontbinding van die universiteitsraad wees … Die US behoort die baken van hoop in die land te wees” (104). Hoewel Hermann Giliomee nie by die naam genoem word nie, word hy van “rassisme” beskuldig (105), blykbaar omdat hy vir die behoud van Afrikaans as voertaal in die bres tree. Watter doel dien Afrikaans aan die US? “Om die universiteit as ‘n leliewit instelling te behou” (106). As dit is hoe Ngobeni met die werklikheid omgaan, het ek maar min moed dat hy ooit sy doktorale proefskrif suksesvol sal voltooi.

Die sesde verteller is Leslie van Rooi, ‘n teoloog verbonde aan die US. Hy dink dat “geskeidenheid”/apartheid “abnormaal is” (107). Dit het die slagoffers “diep seer en kwaad gelaat” (110); “ongelooflik seer” (113). Daar is ‘n “beheptheid met ras” (113). Die blankes se optrede was “neerhalend en rassisties … Daarom moet hulle skuld bely en regstel … Ons het ‘n diep verdeelde geskiedenis, gebou op die fondamente van sterk rassistiese oortuigings en bevestig met ‘n opvoeding, lewensverstaan en christelike sous wat ons nog meer in die rat van veroordeelde en veroordelende verskillendheid laat vasval het” (111). “Ons kontak met ‘die ander’ is gewoon net te min … Daardie gevoel van geskeidenheid wyl ons eintlik één is” (115). Ons moet “eenvoudig meer moeite doen om vriende te maak met mense wat anders as ons is” (116). Dit is “noodsaaklik dat ons mekaar as gelykes moet behandel en beleef” (116). “Ons was weinig ‘n gelyke land” (118). Ons het “in ons lewe geen ander werklikheid beleef anders as ‘n erg verdeelde en rassistiese realiteit nie” (118). “Ons geskiedenis is sleg en donker” (118). Wie is hierdie slegte mense? Die blankes.

Die sewende verteller is Shahieda Abrahams, ‘n sielkundige en omroeper van Kaapstad. Sy sal die gespreksleier wees by die bekendstelling van die boek op 14 September in Stellenbosch (LitNet 22 Augustus). Wat maak haar in hierdie konteks so gesog? Sy is ‘n Moslemvrou en “My dogter is met ‘n wit Afrikaanssprekende jongman getroud” (122). Hy het ‘n “Christelike Afrikaneragtergrond” (123). “Sekere lede van albei families was bekommerd dat die kultuurverskille onoorkombaar sou wees en tot onmin in die huwelik sou kon lei. Mense praat nie graag oor verskille wat moontlik uit die samesyn van mense van verskillende rasse en gelowe kan spruit nie. ‘n Mens het in ons geval die gevoel gekry dat familielede gewonder het oor byvoorbeeld hoe hul kleinkinders gaan lyk en die taal wat hulle gaan praat” (124). “Baie keer verlang ‘n mens dat die jonger geslag nie onder die invloed van die ouer geslag rassiste moet deurloop nie” (126). As iemand skepties oor so ‘n huwelik is, hoef dit myns insiens nie op rassisme te dui nie. Om ‘n sukses van ‘n huwelik binne dieselfde kultuurverband te maak, is moeilik genoeg. Om in twee opsigte (ras en godsdiens) oor die tou te trap, kan problematies wees.

Oor die verlede skryf Abrahams: “Ons is deur die apartheidsregering gedwing om van Rondebosch na die Kaapse Vlakte te trek. Ek het deur baie traumatiese ondervindinge gedurende die apartheidsjare gegaan. Dit was ‘n baie hartseer tyd” (120). “Die onregverdigheid en hartseer van apartheid het my geleer om nooit onregverdig teenoor mense op te tree nie, om mense nooit te onderskat nie en om mense nooit volgens die kleur van hulle vel of volgens hulle geloof te beoordeel en te verstoot nie. My Moslemwees stel my in staat om ‘n oopheid te hê om kennis rakende ander godsdienste te soek” (121). “In my familie en in my gemeenskap sukkel mense nog steeds om dié wat anders as hulle is te aanvaar” (122).

“‘n Hoofrede waarom rassisme so bly voortleef is die jare van rassistiese ondervindinge en die gevoelens wat daarmee gepaard gegaan het. Sekere mense het baie trauma gedurende die apartheidsjare deurgemaak en vind dit nog steeds moeilik om dit te verwerk en te vergewe. Daar is nog baie woede en seer gevoelens sowel as arrogante houdings wat onder baie Suid-Afrikaners voortleef. Alhoewel die tyd aangeloop het, het die siel van heelwat mense nog nie herstel nie. Daar is verskillende soorte pyn waarmee Suid-Afrikaners nog sukkel. Die pyn is nie net verbonde aan die ondervindinge van apartheid nie, maar ook aan die verandering wat deur die nuwe bedeling meegebring is” (126). Met ander woorde, daar is ‘n diversiteit van pyn. “Suid-Afrika het nie net van ‘n aaklige na ‘n wonderlike situasie verander nie. Met die nuwe bedeling het daar nuwe uitdagings gekom en Suid-Afrikaners sukkel nog steeds om hierby aan te pas … Baie bruin mense dink hulle is die vergete mense, hulle het in die ou bedeling gesukkel en nou word hulle weer in die nuwe bedeling oor die hoof gesien. Baie wit mense voel dat dit sinloos vir hulle kinders is om verder te studeer, want hulle sal in elk geval nie werk in Suid-Afrika kry nie” (127). “Eers wanneer mense verkies om ‘soort by soort’ te wil hou sonder om rassisties te wees, sonder om te dink hulle is beter as ander, sonder om ander te onderdruk, verdien hulle om gerespekteer te word” (130).

Die agste verteller is Jean Oosthuizen, ‘n joernalis wat hom graag oor veral godsdienstige sake uitlaat en dikwels ‘n lansie vir homoseksuele breek (bv sy opmerking oor “mense van ander seksuele oriëntasies” – 141). Hy verwys na “die ‘terroris’ Mandela” (134). Die aanhalingstekens openbaar sy politieke gesindheid. Daarvolgens moet sekere historiese feite oor Mandela liefs verswyg word, maar nie oor blankes nie. “Ons Afrikaners … [moet] die lieg in onsself … blus” (140). “Veral wit Suid-Afrikaners [sal] nog baie moet leer van ander mense se wonde en letsels” (139). Hy verwys na “die pyn, leed en vernedering wat swart Suid-Afrikaners onder apartheid moes verduur” (136). Soms is daar tekens van insig by Oosthuizen: “Rassisme dui nie noodwendig op die haat van een ras teenoor ‘n ander nie” (140) en “Veral middeljarige wit Afrikaanse mans [moontlik eerder: die meerderheid blankes] … voel uitverkoop en verraai deur die vorige regime en onwelkom in die nuwe Suid-Afrika omdat hul kundigheid nie na waarde geskat word nie” [eintlik: omdat daar blatant rassisties teen blankes gediskrimineer word] (140).

Braaivleisvure is glo die teelaarde vir “rassistiese taal, stereotipering en vooroordele” (142; ook 145). “Ja, die Grondwet verseker vryheid van spraak, maar dit beskerm Suid-Afrikaners ook teen haatspraak, aanhitsing tot geweld, rassisme en seksisme” (144-145). Myns insiens is haatspraak deur blankes in die praktyk strafbaar maar swartes word in hierdie opsig nie eintlik aan bande gelê nie. Verder, dit is darem gewetenloos van die ANC om hom aan te matig om voorskrifte oor “aanhitsing tot geweld” uit te reik.

Die negende verteller is Jan Grobbelaar, ‘n NG-predikant op De Doorns. In sy jeug was hy ‘n behoudende Afrikaner maar sy dosent in sendingwetenskap op Stellenbosch, die ANC-aktivis Nico Smith, het sy studente verplig om besoeke aan plakkerskampe mee te maak, wat veroorsaak het dat Grobbelaar ‘n U-draai in die politiek gemaak het. “Kruispad was my Damaskus-ervaring” (152). “Tydens my diensplig is ek geïndoktrineer met die mite van die rooi gevaar en dat die ‘ander’ ons vyande was. Hulle was ‘n bedreiging vir ons voortbestaan as wit mense in ons eie land waarvoor ons al met so baie sweet en bloed betaal het” (149). Die “mite” het werklikheid geword met ‘n ANC-regering wat talle kommunistiese kenmerke openbaar. Die voortbestaan van blankes word inderdaad deur die “ander” bedreig. Dit is nou daardie “ander” wat beweer dat hulle met “baie sweet en bloed” hulle land teruggeneem het.

Grobbelaar het dit wys geag om sy vertelling soos volg af te sluit: “‘n Paar maande terug het ek besluit om op die kis in ons sitkamer die paar boeke wat ek oor Nelson Mandela het, uit te stal. Hoekom? Ek stap elke dag vele kere daar verby. Elke keer kyk ek in Nelson Mandela se gesig vas. Dit laat my onthou. Dit inspireer my. Dit gee my hoop. Mag almal wat in ons sitkamer kom dit raaksien. Onthou. Geïnspireer word. En hoop skep vir die toekoms” (162). Is dit gepas dat ‘n predikant sy amp ten behoewe van politiek misbruik? ‘n Moontlike antwoord is: Ja, mense soos Desmond Tutu en Allan Boesak doen dit en die son van politieke byderwetsheid en geregtigheid bly helder op hulle skyn. Wat onthou Grobbelaar? Hy het heel moontlik ‘n selektiewe geheue. Is bv David James Smith se boek, Young Mandela (London: Weidenfeld & Nicolson, 2010, 340p) deel van sy Mandela-versameling?

Die tiende verteller is Karlien van Wyk, wat ‘n NG-dominee in die Welgemoed-gemeente in Bellville is. Sy is die dogter van Jan Grobbelaar. Haar vertelling dien as regverdiging van haar pa se politieke verligtheid. Sy val weg met hierdie sin: “Die laaste paar maande het ek met meer as een gesin kontak gehad wat ‘n kind van ‘n ander ras aangeneem het” (154). Dan volg die onvermydelike: “Ons is almal mense met dieselfde behoeftes en ons is almal wonderlik deur God geskep” (155). Daarna volg darem hierdie kwalifisering: dat “ander kulture en rasse vir my wel anders is” (155). “Verskillende rasse verkies dikwels om apart van mekaar te leef” (160). Maar dan trap sy weer in ‘n gat met die opmerking dat “ongemaklikheid” oor mense se andersheid ‘n “vorm van rassisme” is (155). Die soort teologiese opleiding wat deesdae op Stellenbosch aangebied word en daarby by voorkeur in Engels, het haar op dieselfde politieke pad as haar pa aangehelp, bv ‘n “healing of memories”-kamp. “Ek was geskok om te hoor van die seer wat my medeklasmaats ervaar het” (159). “Ek het die Belydenis van Belhar onderteken” (160).

Die elfde verteller is Esther von Waltsleben, ‘n vryskut-aktrise en regisseur, wat in haar “Drama Studio” ook drama-afrigting aanbied. “Mense is mense” (165). “Ek glo dat alle mense gelyk is. Om mense van ‘n ander kultuur of kleur as minderwaardig, heidens of barbaars te sien, is onkundig. Dit frustreer my dat mense steeds dink dat iets so toevallig soos waar jy gebore is en watter kleur jou vel is, jou status bepaal” (164). “Die arrogansie van die Afrikaner wat dink hy is beter as ander het al keer op keer soos ‘n visgraat in my keel vasgesteek … Hoe durf jy dink net omdat ek dieselfde kleur vel as jy het, voel ek soos jy? Wat ‘n arrogante en eiegeregtige aanname om te maak” (166). “Rassiste groepeer mense en maak die aanname dat ‘hulle almal so is’ eerder as om mense as individue te erken of ‘n kans te gun” (170). “In plaas van kleurblind wees, moet ons kleur raaksien en die diversiteit van al die pragtige mense van ons land erken” (171).

Weens onvrugbaarheid het sy en haar man besluit om ‘n kind aan te neem. Dit blyk toe “as ons ‘n wit babatjie wil aanneem, ons tot ag jaar gaan wag. As ons oop is vir ‘n swart babatjie, kan ons binne drie maande ouers wees” (167). Soos sy sê: “Mense is mense,” dus behoort bloot ‘n verskil in velkleur mos nie ‘n probleem te wees nie. Genetiese faktore, dus oorerwing (buiten velkleur), word in hierdie geledere geïgnoreer. Alles wat goed is kan mos aangeleer word. Tog het haar man hierdie klein genetiese verskilletjie nie sonder meer aanvaar nie: “Hier sien ek hoe hy worstel” (167). Maar sy polities verligte vrou het hom gehelp om hierdie probleempie te oorkom. Daar was “in daardie tyd toe skielik ook ‘n geleentheid … om ‘n wit babatjie aan te neem” (167). Toe was haar man “die een wat sonder enige twyfel nee gesê het” (167). “Die skaapmentaliteit van die mens tesame met ‘n ingebore vrees vir die onbekende het niks gedoen om die rassevure te blus nie … dit is tyd om stil te bly en te luister” (170). Danksy bv die aanneming van ‘n swart babatjie kan hierdie egpaar nou daarop aanspraak maak dat hulle “medemenslike mense [is] wat die Afrikakonsep van ubuntu nastreef” (172).

Die twaalfde verteller is Jan-Hendrik Opperman, ‘n onderwyser op Stellenbosch en die eggenoot van Von Waltsleben. Apartheid se “onsigbare muur … is oor die jare deur ‘n stelselmatige en sistemiese indoktrinasie opgerig” (165). “Daar gaan altyd verskille tussen mense wees” (171), maar dan vervolg hy met ooreenkomste: “Almal wil veilig wees, kos hê, liefde gee en ontvang” (171). In vergelyking met sy vrou het hy min te sê en hy formuleer sy standpunt sonder venyn. Dalk het hy geleer om “stil te bly.” Hy is ongetwyfeld die minder verligte element in die huis. ‘n Mens kan maar net hoop namate die baba groter word, hy die uitdagings sal kan hanteer.

Die dertiende verteller is Wouter Wessels, ‘n lid van die Vrystaatse provinsiale wetgewer en onderleier van die VF Plus in daardie provinsie. Hy karakteriseer ons onverkwiklike situasie soos volg: “Die staatskas ervaar enorme druk en staatskuld neem drasties toe. Hierdie tekort beteken dat die regering al hoe minder geld het om in maatskaplike behoeftes van die al hoe meer verarmde bevolking te voldoen en dat daar nie geld is om in infrastruktuurontwikkeling te belê nie. Belasting en tariewe verhoog buitensporig in ‘n poging van die regering om sy inkomste te verhoog. Dit skep ‘n bose kringloop waardeur die middelklas verarm, besighede gesluit en werkloosheid toeneem” (174). Hierdie situasie skep die moontlikheid van ‘n revolusie deur die gepeupel. Dit kan nie ingevolge “sondebokpolitiek” (175) goedsmoeds aan apartheid en dus die blankes toegedig word nie. Die ondoeltreffende, korrupte ANC-regering moet myns insiens die hoofverantwoordelik aanvaar vir die ellende waarin die land verval het.

Wessels verwys tereg na Jacob Zuma se leuen waarvolgens die blankes die grond in Suid-Afrika gesteel het (176) en Julius Malema se rassistiese opmerking: “We are not calling for the slaughtering of whites, at least nor for now” (177). Daar is baie ander leuens, bv: “Die ‘lieg’ dat Afrikaans ‘n rassistiese taal is. Die ‘lieg’ dat wittes alles wat hulle het, gesteel het en nie verdien nie, … Die ‘lieg’ dat regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging tot voordeel van almal is en dit regverdigbaar is om teen bruines, wittes en Indiërs op grond van ras te diskrimineer” (177), ens. Wessels het dit teen “kosmetiese nasiebou” en “kunsmatige nasietrots,” asook dat “almal slegs Suid-Afrikaners” is en almal maar na ‘n enkele taal, naamlik Engels, kan oorskakel (178). Volgens hom is dit verkeerd om van alle blankes te verwag dat hulle om verskoning moet vra “vir die foute van die verlede” (178). “Ons verskille ten opsigte van onder andere kultuur, taal en godsdiens moenie geïgnoreer word nie, maar eerder bestuur word” (179). “Die enigste manier om werklik toekomsgerig te wees, is om rasgebaseerde wetgewing en kwotas uit te faseer en die klem op meriete en gelykheid te plaas” (180). Maar meriete impliseer juis ongelykheid.

Die veertiende verteller is Pieter van Niekerk, die medesamesteller van die boek. Hy word ‘n “voetsoolteoloog” en ‘n “kampvegter vir die menswaardigheid van die geringstes in die samelewing” genoem (181). Hy veg dus selektief – nie om menswaardigheid vir almal nie. Sy verligtheid blyk uit die feit dat hy ‘n ANC-leier as “comrade” aangespreek het, wat aanstoot aan lede van ‘n NG kerkraad gegee het (185). As sendeling wou hy nie as “meneer” of “eerwaarde” aangespreek wees nie, maar as “doktor” (186), wat myns insiens afkeuringswaardig is.

Die vyftiende verteller is Desmond Tutu. By die samestellers is die waardering vir Tutu so (ongekwalifiseerd) groot dat Tutu nie eens ‘n oorspronlike bydrae tot die boek gelewer het nie. ‘n Fragment is hergepubliseer uit een van sy boeke. Tutu vertel van die moeite wat hy gedoen het om sy kinders vry van die “breinspoeling” van Bantoe-onderwys te hou deur hulle in Swaziland te laat skoolgaan (187). Hy beweer dat hy by ‘n restaurant op die Suid-Afrikaanse platteland na ‘n venster beduie is waar hy kon sê wat hy wou koop. “Tot vandag toe onthou ek hoe seer ek gemaak is” (189).

In Afdeling 3 stel die samestellers “remedies” vir rassisme voor. Die goue reël is: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen” (Matt 7:12) (196). In hierdie verband verkies die samestellers om “veral ons wit mense” aan te spreek (196). Ons mag nie “meerderwaardig en paternalisties” optree nie, want “niemand is beter as ‘n ander nie” (197). In sekere opsigte is laasgenoemde sinsnede myns insiens dikwels nie waar nie. Party mense is geestelik, bv intellektueel, beter toegerus as ander; dus slimmer. Ander mense is dalk ligaamlik beter, bv kan beter hardloop. Afrikaanssprekendes word aangemoedig om ‘n “inheemse Afrikataal” aan te leer (198), maar daar word nie voorspraak vir die aanleer van Afrikaans gedoen nie. Dit is in ooreenstemming met die nieu-US-gewoonte. Die samestellers voel ook positief daaroor om aandele vir plaaswerkers in boerderye te gee (200). “Ryk en arm leerders” moet “gelyke geleenthede kry” (201) en hulle beveel aan dat “ekstra klasse gratis aan die leerders wat sukkel” gegee word (200). Daar kan gesprekke oor bv “dekolonisasie, wit bevoorregting en swart bewustheid op kampusse” gehou word (202). Divine Robertson van die US se Fakulteit Teologie het tot hierdie gevolgtrekking gekom: “dat dit letterlik net ons velkleur is wat verskil” (203-204).

Die samestellers sluit die boek af deur na die volgende mening van Willem de Klerk te verwys: “Ondanks alles het hy steeds geglo dat daar eendag ‘n breë Suid-Afrikanisme sal wees waar kleur nie die bepalende faktor is nie” (205). Die blanke lesers word hier heel moontlik doelbewus in die duister gehou oor wat hierdie Suid-Afrikanisme behels. Volgens Willem de Klerk is verwestering “nie meer die bestemming van die swart mense nie; ‘n oorwegend Afrikakultuur is die bestemming van die wit mense!* By die nasionale kongres van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kultuurgeskiedenis op Wellington, in Julie 1994, sê hy (sy beklemtoning): ‘Vroeër het ons die Afrikakultuur probeer verwesters. Ons uitgangspunt was Eurosentrisme. Nou is ons in die proses waar Afrosentrisme voorop gaan staan. My stelling is dus dat die skep van ‘n nuwe kultuur vir Suid-Afrika, afrikanisering van ons kultuur beteken. Vroeër was die Westerse kultuur die model, met so ‘n paar teksture van Afrika bygevoeg. Nou moet dit ‘n Afrikakultuur word met Westerse tradisies daarin saamgevoeg … ‘n Europees-getinte Afrosentriese kultuur ‘” (Attie van Niekerk, Anderkant die reënboog, Kaapstad: Tafelberg, 1996, p 3-4). Kortom, Afrikanerkultuur en -identiteit is (grootliks) in sy swernoot. Willem sê nie of hy in sy noppies is met wat sy broer, FW de Klerk, vermag het nie, maar daar is destyds algemeen aanvaar dat Willem selfs meer verlig as FW was. [* Dinge word omgedop. Dit laat my dink aan die stelling dat die blanke regering nie tuislande vir die swartes moes geskep het nie maar eerder een vir die blankes of Afrikaners.]

Kortom, ek dink ons kan Pieter van Niekerk en Chris Jones nie daarvan beskuldig dat hulle die verskynsel van rassisme objektief en ewewigtig aanbied nie; dalk selfs nie eens eerbaar nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Antonie Geyser

    ek dink nie die ‘kleur’ verskil is die eenvoudige antwoord hoekom verskillende volke moeilik saamleef nie, daar is baie ander verskille; wat ons daagliks sien en ervaar; ek dink nie daar is n ‘haat’ teenoor n sekere ‘benadeelde’ volk nie; daar is n duidelike ‘nie-LIKE’, ‘avoidance’, ‘nie-meng’, ‘nie wil-saamwees’, ‘nie wil-saambly’, ‘nie wil praat of redeneer’ besef/’attitude’ onder talle mense; maar nou word ‘ons’ gehaat omdat ons wil assosiasieer en wil saamleef met ons eie mense met eenheid in denke, taalgebruik en hoe daar gepraat word, waardes, religie, ens. Daar is so baie verskille, een daarvan is hoe klein kinders gekorrigeer of betugtig word: gesien in n groot winkel groep hoe sekere ouers hul kinders liggies (met die hand) aanraak om hulle ‘soet’ te hou; maar die donkere deel van die (gedwonge)samelewing? hul kinders geensins tugtig of ‘monitor’ nie. Dat kinders ander kere met ‘geweld’ gevat word om tradisionele inisiasie skole by te woon, mens wonder wat leer hul daar?. net om wit-gekalk daar rond te loop en op n keer fiets ryers geweldadig aan te val.-ons is dieselfde: 2 voete, 2 hande; alles anders is nie dieselfde nie

    • Suidpunt

      Die einste mense wat veg vir menseregte en vryheid is ironies genoeg dieselfde mense wat toevallig gekant is teen “Vryheid van assosiasie”. Die hele “ons is almal mense” = sekulêre HUMANISME.

  • Suidpunt

    My magtig, meneer Lemmer. Het u nie in die verlede geskryf oor die postmoderne, “storievertellery” en “gevoelens” wat as feite voorgehou word nie? Hier is nou ‘n eersteklas klassieke voorbeeld. En let net op hoe nie opwaarts gekyk word nie, maar benedewaarts. Tussen die modder rondgeploeter. Arme Martie Martelgat.

    Ag nou ja, laat ek nou maar skrywe.

    Liewe dagboek, vandag het mnr. Lemmer ‘n boek behandel deur Lux Verbi. Eintlik boikot ek Christelike boeke al lankal, met uitsondering van die Bybel, maar dit hoef niemand te weet nie. “Want hoe kan ‘n mens ooit met presiese sekerheid weet wat God se begeertes is? En wat van daardie jota-en-tittel-vermaning?” vra ek myself af. Die samestellers het klaarblyklik alle mense op die sypaadjie voorgekeer wat ook nou nie juis bekend is vir hul talente nie en ook nie tegnokrate is nie, so hulle inspireer my nie. Inteendeel, hulle sê nie die wondere wat God al beteken het nie, maar kla soos die Israeliete post-Rooi See. En dit vir ‘n Christelike boek, nè? Wat my ook nou laat wonder: waarom het God daardie einste moang@tte sommer nog 40 jaar laat loop? Om hulle nog méér te laat kla, en dan al klaend in die stof te laat omkap. Liewe dagboek, nou het ek gewonder. As iemand dus meer in sy lewe verrig het as enigeen van die skrywers – gedenk maar ou Edison en Nikola Tesla – is hierdie manne dan nie mense nie, maar die werklike Godskinders?

    • Hans Onrust

      Maar het kenmerk van de ‘don’t judge’ marxistische naasten verachtende ‘christenen’ is juist……. https://www.youtube.com/watch?v=4OT_NLtq3p0

    • Ou Transvaal

      Dink hieraan ; INEPTOKRASIE : die sisteem van regering of voogdyskap deur die mees onbevoegde in intelligensie en skeppingsvermoe , terwyl die meerderheid geen of min bevoegd is omhulself te onderhou en daarom vergoed moet word met die eiendom en verdienste en vervreemde welstand van die krimpende minderheid .
      Die uiteinde daarvan is verdomming en sekere armoede .

  • Hans Onrust

    “Voorheen was slawerny kenmerkend van baie volke.”

    Het kan niet genoeg benadrukt : De vijf grootste slavenhandelaren en eigenaren en transporteurs in bijv. de Nederlandse kolonie Suriname (zie bv. ‘Joden savanne’) waren Joden die vanuit Marokko, via Portugal en Spanje naar Nederland/Vlaanderen kwamen met koffers vol ervaring. Trokken later naar het Westen van de VS om het aldaar in 6e versnelling te zetten. Het behoeft geen betoog dat ook in moslim gebieden al honderden jaren voor de TA slavernij, Joden in de top waren vertegenwoordigd.

    Wijlen dr. Tony Martin wist er tamelijk veel over te vinden.

    Joden op dit punt weglaten is hetzelfde als hen niet noemen als het om de ‘Russische Revolutie’ gaat en Alexander Solzhenitsyn niet de twee delen van ‘200 jaar samen’ heeft geschreven.

  • Ou Transvaal

    Met al die resepies en geskrifies gaan hierdie kruiper brigade geen verskil bewerkstellig nie …die opgestelde valsheid GAAN val .
    Die feit is dat hulle hulself so met hierdie verrotte stelsel identifiseer dat hulle deur dieselfde stelsel vernietig gaan word …die vraag is of hulle derde en vierde geslag die skande van hul kruipende voorsate gaan oorleef binne die geheue van skandalige optrede ??

  • Rooikop

    Dankie Leon om ons die pyn te spaar om hierdie drek op papier te lees. Eerstens – diegene wat se opinies in die boek vertel word – wie maak hulle nou die moeite werd om na te luister? Hoeveel van hulle is verwant aan die teologie? Wat hulle ook al verkondig stem ek gladnie mee saam nie – hulle gebruik die Nuwe Testament maar vergeet liefs van die Ou Testament.

    Kom ek begin my lysie:

    1. “No one is born hating another person because of the colour of his skin, or his background, or his religion. People must learn to hate” – NONSENS. Dit kom uit die mens self om te haat. ‘n Ouer leer nooit vir sy kinders om hom as ouer te haat nie. Hoeveel keer skree ‘n tiener nie vir ouers dat hy/sy hulle haat nie? Hoe het Kain dan vir Abel doodgeslaan as hy hom nie gehaat het nie? Wie sou hom dit “geleer” het? Die spul neem aan mense is “goed” en word dan sleg beinvloed. Die mens is sleg punt. Die mense word hoogstens beinvloed om “beter” te wees – “goed” is nie haalbaar vir ‘n mens in sy eie krag nie.

    2. “Racism goes beyond prejudice. It is backed up by power. Racism is the power to enforce one’s prejudices … It victimizes entire racial or ethnic groups for the purpose of maintaining the benefits and privileges of another group”
    – Word wakker en sien dat DIT juis is wat tans van Swart op Wit in ZA gebeur.

    3. “Die sesde verteller is Leslie van Rooi, ‘n teoloog verbonde aan die US. Hy dink dat “geskeidenheid”/apartheid “abnormaal is” (107). Dit het die slagoffers “diep seer en kwaad gelaat” (110); “ongelooflik seer” (113).” – Tog is dit wat in die hele Ou Testament verkondig word. Dit is waaroor geloof gaan – mense wat afgesonder is vir God. Die skeiding tussen God se mense en die ander. Ja die woord moet aan die nie-gelowiges verkondig word maar dit beteken nie meng met hulle nie.

    4. “Die onderwerp van die derde hoofstuk is “‘n waardegedrewe samelewing” (54). Uit my perspektief het ek gedink aan toewyding, deursettingsvermoë, meriete/verdienste, harde werk, persoonlike verantwoordelikheid, voorkeur aan verpligtinge bo regte, eerder eie inspanning as parasitering, ens. Die samestellers het ‘n heeltemal ander en daarby ‘n politiek-gedrewe invalshoek. Die waardes wat hulle koester is: “nierassigheid, vrede, geregtigheid, waarheid maar boweal hoop” (56). Later word die volgende gelys: “medemenslikheid, integriteit, menswaardigheid, versoening en respek” (67)” – Waardes is relatief. Verskillende kulture het verskille – kyk maar na tafel maniere tussen westerlinge en oosterlinge.

    5. “Op my eiland van wit bevoorregting het ek salig onbewus van die onreg in ons land grootgeword” (73)” – Hoekom skaam wees vir jou herkoms? Hoekom skaam wees vir ouers en grootouers wat na behore na jou omgesien het? Hierdie dui vir my op ‘n geestesversteuring.

    6.“Die grootste probleem ten opsigte van rassisme is dat wit mense dink alle swart mense is sleg” (92).”Mense het nog nie vorentoe beweeg nie” (91).” SNERT – almal weet daar is goeies en slegtes onder elke volk – sleg in beter in elke mens. Hoeveel van diegene wat hierdie glo sal praat van minder gegoedes as “zef” of “tappit”? Hulle sal liewer vir die arm swartes gee as om ‘n vinger te verroer om hulle eie volksgenote by te staan.

    7.” “Veral wit Suid-Afrikaners [sal] nog baie moet leer van ander mense se wonde en letsels” (139). Hy verwys na “die pyn, leed en vernedering wat swart Suid-Afrikaners onder apartheid moes verduur” (136)” – Hierdie klomp sotte het vergeet van die oorlog waarby die hooghelige britse ryk ‘n groot persentasie van die vroue en kinders uit ons volk uitgemoor het vir goud en diamante. Nou wil hulle begin praat van pyn, leed en vernedering???? Hierdie oorgawe is maar net weer ‘n voortsetting daarvan waar ons volk deur die westerse wêreld aan die ANC oorgelewer is om uitgemoor te word in ruil vir hulle goed en diamante.

    • Ou Transvaal

      KOLSKOOT!!! Hulle wat vrede vrede verkondig ………

      • Rooikop

        Jy het die regte verwysing daar.

    • sussie se vissie

      In verwysing na ‘remedies’ ( Afd 3 ) is daar slegs EEN punt wat sin maak, te wete; –
      ‘Alles wat julle wil hê die mense aan julle (wil) doen, moet julle aan hulle OOK doen’.
      Ummm.
      Ok.
      Met ketels warm water, druppende kerswaks en gloeiende strykysters gaan ek voorts my lendene omgord.
      My en my belhamel bende se teikenmark: Flapkoppe van 60-jr en ouer.

  • Karel Combrinck

    Nog ‘n skerp skrywe Leon.
    Vir baie jare reeds word die Christelike doktrine van draai-die-ander-wang en naasteliefde as politieke wapen teen ons aangewend. Dit het met die Britse sendelinge aan die Kaap drie honderd jaar gelede reeds begin. Die Christelike etiek van medemenslikheid het egter nooit so ver gestrek as die Britse beleid van geskroeide aarde en konsentrasiekampe nie. Die storie lui dat ‘n mens leer om te haat. Miskien is dit waar, maar ongelukkig word die haatdraendheid net voor die deur van die witmens en by name die Afrikaner gelê. As dit so is dat ‘n mens leer om te haat, dan is dit ook so dat jy deur omstandighede daartoe gedwing word. En so gaan die bose kringloop voort: haat lei tot haat, lei tot haat. Die witmense in Suid-Afrika sou selfs na die De Klerk oorgawe in 1994 ‘n waardevolle en konstruktiewe minderheidsbydrae kon maak tot “saamleef ” in die land en dit was miskien ook die naïewe bedoeling, Maar hulle is nie toegelaat om dit te doen nie uit weerwraak vir “onreg” van die verlede. Om mense met verdienste te weerhou van bv studie- en arbeidsgeleentheide en om hulle stelselmartig op plase en elders uit te moor, is sekerlik die beste manier om haat in hulle harte te kweek. Dit sal ‘n groot gees verg om hierdie kringloop te verbreek en van so’n groot gees is daar geen teken nie.

  • Ou Transvaal

    Dit word met reelmaat uitgewys dat die soort teologie waarin ons gebreinspoel word ons werklike vyande is om ons in Globalisme te laat verdwyn deur gesindhede wat totaal Volksvreemd en selfmoord gerig is .
    Ek sou graag die gesindheid van die deursnee Predikant wou hoor …die wat afhandlik is van die offergawes van die vertraptes maar soos altyd is dit politieskorrek doodstil .

    • Jacques

      ‘n Predikant wat sy sout werd is sal vir jou mooi vertel dat naasteliefde nie beteken dat jy jou vyand méér as jouself moet lief hê nie. Liefde vir God is hoogste vorm van liefde, dan die liefde tussen man & vrou, tussen ouers & kinders, familie, vriende. Heel onder jou vyand. Jy moet hom liefhê maar nie meer as jouself of jou kind nie. Dis geillustreer deur die vorm van ‘n piramiede, met God heelbo. Dis soos gepreek en gekatkiseer in die Nederduitsch Hervormde Kerk (deur my pa, nou afgetrede predikant).

      • boerseun

        Maak dit sin om hoegenaamd jou vyand lief te he soos hierbo deur jou verwoord? Wel, ek is nie vir die ANC of die oud-NP’s lief nie, hulle bly my vyande tot in lengte van dae!!!

        • Jacques

          Wel dis hoe groot God se liefde is. Hy wil hê dat selfs slegte mense hul tot Hom moet bekeer en die sonde agterlaat. En dis waar ons as christene werk het om te doen. Persoonlik dink ek die politici wat jy daar noem is van die duiwel besete – ek sal hulle beslis minder liefhê as my eie mense, my familie, my volk.

  • Willem

    Ek het in my besit ‘n kopie van die eerste ‘Saam in Afrika’ deur van Niekerk.
    Die boek was ‘n geskenk aan ‘n bejaarde boer deur ‘n familielid wat op daardie stadium ‘n hooggeplaasde was in die destydse NP regering.
    Die skenker se naam en die datum is als voor in die boek geskryf, met ‘n kort boodskappie.
    Die bejaarde boer is binne maande na hierdie datum in sy huis vermoor..

    • Jacques

      Dink dis ‘n goeie idee om daardie boek naby die toilet te hou. Mens kan die bladsye uitskeur, sag frommel en vir toiletpapier gebruik. Moet tog nie dat iemand sy brein besoedel met die inhoud nie.

  • Propaganda speel maar ‘n beduidende rol, en iemand moet dit vir ‘n denkelose leserspubliek sonder onderskeiding skryf en publiseer. Ek kan persoonlik vanuit noue uitreikwerk saam met ‘n Asiatiese kerk in SA getuig dat blanke Afrikaners beslis nie die grootste rassiste is nie! Kom ons gee die Liberales ruim krediet … hulle werk baie harder om die onwerkbare multi-kulturele uitganspunt ter wille van Nuwe Ordes te bevorder as wat die sluimerende konserwatiewes tans nog enigsins effektief daarin slaag om kulturele behoud en kulturele samewerking te bevorder.

  • Anton Schutte

    Mens moet vra, hoekom sal dit in Suid Afrika werk, wanneer dit ooglopend nerens anders in die wereld werk nie.. nee wat, net n sot glo ons kan almal “saamwerk”, kumbaya sing en teel teel verbruin.

  • boerseun

    Ek moes vanmiddag aanhoor hoe ‘n opgevoede middeljarige wit vrou my probeer oortuig van die “sondes” van apartheid, hoe Steve Hofmeyr die volk sou “verdeel” en hoe hy sogenaamd die rede is dat swartes ons meer sal haat. Ongelooflik hoe maklik sommige volksgenote gebreinspoel word en dan veg teen die “eie” in stede van veg teen die vyand. Net soos die blankes in die boek hierbo – verlore vir hul volk! Soms skrik ek as ek sien hoe naief en polities onkundig wittes is. PS: Ek het haar wel reggehelp met ‘n politieke -en geskiedenisles.

    • Johann Schutte

      Hulle is nie naief nie. Hulle het `n helder (en akkurate) berekening gemaak dat oorlewing makliker is as jy die dikterings van die huidige tydsgees gehoorsaam en promoveer. Insigloosheid is `n verskoning wat te vrygewig is. Sy is besig om vir haarself te sorg. Wanneer `n meer konserwatiewe filosofie geld, gaan sy gatomkeer en die nuwe banier opneem.

    • Jacques

      Die breinspoeling deur die establishment is so groot dat geen mens dit kan vermy nie, tensy hy/sy self skouer aan die wiel sit en soek na waarheid. Die nuus, algemene pers en geskiedenis wat ons kinders op skool leer is so deurtrek van leuns. Dit laat my dink aan ‘n puik sinnetjie wat Paul Craig Roberts in die VSA onlangs gesê het: “An institutionalized lie is highly resistant to truth”.

  • Emile Voltaire

    Ek het toentertyd Sáám in Afrika gekoop (nogal) en gelees. Dit is ‘n baie swak stukkie apologie. Ek’t daarvan ontslae geraak. Lees eerder oorle Pieter Pieterse se “Handeklap vir Afrika”. Dit gee ‘n beter blik op die Afrika- realiteit.