Munisipaliteite verloor oor ou skuld in Grondwethof

Die Grondwethof van Suid-Afrika het vanoggend beslis dat nuwe huiseienaars nie verantwoordelik is vir die historiese skuld van vorige eienaars teenoor munisipaliteite nie. Van die laer howe het voorheen uitsprake gelewer dat munisipaliteite hul uitstaande erfbelastings en ander skuld van die huidige eienaar mag invorder, selfs jare nadat vorige eienaars sulke skuld laat ophoop het.

Verskeie munisipaliteite, waaronder dié van Pretoria, Durban en die Oos-Rand (Ekurhuleni) het aangevoer dat dit wettig is om op ‘n onlangs verkrygde eiendom beslag te lê en dit op te veil om skuld wat hulle toekom, te delg.

Die saak in die Grondwethof is aanhangig gemaak deur verskeie huiseienaars wat dié praktyk wou betwis.

In die verlede kon ‘n eiendom nie na ‘n nuwe koper oorgedra word alvorens ‘n munisipale sertifikaat uitgereik is nie, wat alle skuld oor ‘n tydperk van twee jaar uitwis.

Die nuwe eienaar is egter belas met alle skuld wat jonger as twee jaar was.

Die kruks van die huidige appèl was die interpretasie van die munisipale stelselswet wat deur munisipaliteite gebruik is om te weier om sulke klaringsertifikate uit te reik totdat alle skuld betaal was.

Regter Edwin Cameron het vandag se uitspraak, waaroor die regters eenstemmig was, gelewer. Volgens hom kan dit gelees word as sou munisipale skuld nie die oordrag van eiendom oorleef nie.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.