Dan Roodt: Apple, PayPal en die res van die Goolag moet geboikot word

Dr. Dan Roodt. Foto: Sanna Hill, Nya Tider.

Die situasie wat hom tans in die VSA afspeel, hou ook vir ons verreikende gevolge in. Soos enige nugter mens reeds besef het, lui die huidige alliansie tussen polities korrekte globale maatskappye en maatskaplikegeregtigheidskrygers (MGK’s) ‘n nuwe tydvak van sensuur en sentrale beheer in, die tyd van die “Goolag”. Laasgenoemde woordspel met Google se naam is gemunt of ten minste beroemd gemaak deur die programmeerder James Damore wat dit gewaag het om ‘n memorandum te skryf waarin hy portuurbeoordeelde feite oor die verskillende loopbaanbelangstellings en gedragspatrone van die geslagte aangehaal het. In vandag se hiper- polities korrekte omgewing was die suggestie dat die geslagte mag verskil, genoeg om Damore afgedank te kry.

James Damore, die IT-ingenieur wat afgedank is omdat hy wou aantoon dat mans en vrouens nie noodwendig dieselfde loopbaankeuses maak nie.

Dit het doodmaklik vir MGK’s of linkse aktiviste geword om gewoon klagtes by globale internetreuse soos Google, Facebook, Twitter, Instagram, PayPal, ens., aanhangig te maak teen organisasies of individue aan die dissidente regterkant van die spektrum wie se rekeninge dan eenvoudig opgeskort of gesluit word sonder enige bohaai in die vorm van appèlprosedures of feitelike ondersoeke. Ná alles is Amerikaners veronderstel om ‘n wye mate van spraakvryheid te geniet, ten minste in teorie, danksy die Eerste Wysiging aan die Amerikaanse Grondwet, sonder dat die wet deur sodanige spraak oortree word.

Oor die laaste paar dae het tegnologiemaatskappye egter op altregse webblaaie toegeslaan en hulle van die internet verwyder. ‘n Hele paar huishoudelike name in Amerika en in Suid-Afrika, waaronder Apple wat die wêreld se waardevolste maatskappy na sy markkapitalisering is, het hul eens met Links verklaar in die huidige “kultuuroorlog” wat tans in die VSA en die meeste Westerse lande woed. Geen van die topvyf globale tegnologiereuse (Apple, Alphabet/Google, Microsoft, Amazon en Facebook), kan van regse politieke voorkeure verdink word nie. Google en Facebook ondersteun sensuur en die onderdrukking van pro-blanke, pro-manlike en sogenaamde “sisgender”-standpunte, terwyl Amazon die Washington Post besit en Bill Gates verkies om sy enorme rykdom in Afrika uit te gee.

Dog die HUB van Apple, Tim Cook, het ‘n nuwe hoogtepunt, of eerder laagtepunt, bereik toe hy selfs die matige intellektuele debat oor die probleme van multikulturalisme as kriminele “haatspraak” gestigmatiseer het en besluit het om self as mega-maatskappy by politieke spraak in te meng.

Apple se produkte verkeer gewoonlik op die lys van GWWH (“goed waarvan witmense hou”) en, soos Mercedes of BMW, is die hoofmarkte vir sy produkte in die ontwikkelde, hoë-inkomstewêreld te vinde. Hoewel Cook “nie sy opgewondenheid oor Indië kan beteuel nie”, soos hy verlede jaar verklaar het, beskik Apple slegs oor drie persent markaandeel in daardie hoogs bevolkte Suid-Asiese land.

Ironies genoeg besit vele altregse ondersteuners iPhones. Persoonlik gebruik ek ook een maar slegs omdat ek ‘n gebruikte model verniet gekry het en omdat ek as deel van ‘n spesiale pakket onbeperkte oproepe in Suid-Afrika teen R149 per maand kan maak. Andersins sou ek tevrede gewees het met enige ou nie-Apple-foon, waaronder ‘n paar puik Sjinese fone soos Xiaomi wat veel beter waarde vir geld en hoër spesifikasies as die jongste iPhone bied. Om nie te vergeet van Apple se aartsmededinger, die Suid-Koreaanse Samsung nie, wat meer slimfone as enige ander maatskappy verkoop.

Die punt is: soos met die Spurboikot, kan ons almal sonder iPhones, MacBooks of enige van Apple se ander veel geadverteerde produkte klaarkom. Daar moet ten minste 100 miljoen Europeërs of Europese Amerikaners wees, indien nie 200 of 300 miljoen nie, wat dalk bekommerd mag raak oor die koms van ‘n hoe-tegnologies Goolag wat die hele planeet in ‘n weergawe van George Orwell se 1984 mag verander waarin niemand dit waag om denkmisdaad (thoughtcrime) of spraakmisdaad (speechcrime) te pleeg nie. Dis nog ‘n ironie: Apple het aanvanklik verwysings na 1984 in sy advertensies gebruik met die loodsing van sy MacIntosh-rekenaar in die middeltagtigerjare teen “Grootbroer” IBM. Hoe is die rolle nie omgekeer nie! In Orwelliaanse terme, het Apple so pas aangemeld om die grootste globale lid van die Denkpolisie (Thought Police) te word.

Waarom dan nie maar Apple, PayPal, Google en ander teg-maatskappye boikot nie? Oënskynlik het hulle ‘n nuwe vorm van ontwerpersowjetisme omhels, waar ‘n pragtige uiterlike en demokratiese clichés ‘n sinistere geneigdheid tot totalitêre beheer en die onderdrukking van afwykende menings verdoesel. Dit sou tragies wees indien die spraakvryheid en alternatiewe media wat deur die internet losgelaat is deur enkele “arbitrêre besluite” deur tegnologie-amptenare onderdruk mag word, om nou ‘n frase te gebruik wat vandeesweek deur die HUB van Cloudflare gebesig is toe hy gesê het: “Ek het vanoggend in ‘n slegte bui wakker geword en het besluit om hulle (die Daily Stormer-webblad) van die internet af te skop. Dit was ‘n besluit wat ek kon neem omdat ek die HUB van ‘n groot internetinfrastruktuurmaatskappy is.”

Dit spreek vanself dat ‘n blad soos Andrew Anglin se Daily Stormer met sy positiewe toespelings op nazisme hoogs omstrede is, maar gegewe die linkse kultus van revolusionêre geweld wat dekades lank al toegelaat word om te gedy, waarmee Ché Guevara en lede van die Italiaanse Rooi Brigade-terroristegroep as hoofstroomhelde voorgestel word, behoort daar tog effens “ruimte” aan die regterkant ook te wees, vir mense om ideologiese eksperimente of stilistiese oortredings te pleeg… nie waar nie? As student het ek ‘n nagraadse verhandeling oor die teorie van “oortreding” in die Franse erotiese letterkunde geskryf, en dis ‘n gegewe dat die internet ook pornografie in elke huis ingebring het. Dus, waarom nie ook politieke pornografie, tussen instemmende volwassenes, verdra nie? Ná alles word niemand gedwing om Andrew Anglin te lees, of Milo Yiannopoulos of Richard Spencer of enige van die meer gewaagde stemme wat die afgelope paar jaar met Altregs verbind word nie.

Maar daar is twee probleme wat ons nou in die gesig staar, danksy die totalitarisme van Groot Tegnologie: betalings en huisvesting. Albei kan myns insiens taamlik maklik opgelos word, en kan tot opwindende nuwe sake-ondernemings lei soos wat pro-Westerse groepe regoor die wêreld besef dat die PK maatskappye, banke en betaalstelsels nie langer ons ondersteuning verdien nie.

Hier in Suid-Afrika is ons dalk steeds vryer, want aangesien die rand nie altyd as ‘n geldeenheid deur PayPal en ander globale stelsels aanvaar word nie, bestaan daar plaaslike oplossings en alternatiewe betaalstelsels. Ook ondervind die privaat sektor in ons land ander probleme met ons regering en sou dus onwillig wees om nuwe politieke kwessies te ontketen deur dienste te weier aan blankes wat ietwat regs van die politieke sentrum verkeer. Dus as ‘n korttermynmaatreël, is dit selfs moontlik om Amerikaanse of Europese betalings op die web of met kredietkaarte via Suid-Afrika te kanaliseer terwyl nuwe betaalstelsels ontwikkel word.

Wat die huisvesting van webblaaie betref, lyk al die groot maatskappye verdag en sou dit daarom riskant te wees om steeds hul dienste te gebruik. Maar weereens, kan enige kragtige rekenaar wat vir so R15 000 of so uit onderdele gebou kan word, tesame met ‘n vinnige internetkoppeling, en met gratis programmatuur soos Linux en Apache, opgestel word as ‘n webbediener wat miljoene bladsyonttrekkings sou kon hanteer. Ideaal behoort daar ‘n nuwe huisvestingsmaatskappy met ‘n wolk rekenaars in verskeie Westerse lande met geheime liggings opgerig te word sodat vyandige regerings of Groot Teg ons nie meer kan stilmaak nie. Uiteindelik sou alle reg(s)denkende mense van so ‘n diens gebruik maak omdat spraakvryheid en betroubaarheid die grondbeginsels daarvan sou uitmaak.

Sogenaamde “torrent”-dienste soos die berugte The Pirate Bay waarmee gratis musiek en films afgelaai kan word, het reeds opspraakwekkende hofsake en regeringsklopjagte oorleef, sonder om gesluit te word. Hulle metodes behoort bestudeer te word; nie omdat ons enigiets onwettigs wil aanvang nie, maar as jy jou bediener vir regerings en Hollywood-ateljees kan wegsteek, kan dit sekerlik minder toeganklik vir linkse MGK’s ook gemaak word.

Dit klink na ‘n gemeenplaas deur een van daardie ellendige “sakeskole” waar mense soos Willie Esterhuyse vegeteer, maar kom ons “maak van teëspoed ‘n geleentheid”!

En sit maar daardie iPhones weg. As Apple die handelsmerk vir onwettige immigrante en die AntiFa wil wees, grawe die maatskappy sy eie ondergang.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.