Leon Lemmer: Karel Schoeman as Nederlander wat Afrikaans skryf

Karel Schoeman

Karel Schoeman (26.10.1939-1.05.2017) se dood het heelwat publisiteit gekry en daar is toe ook oor sy literêre nalatenskap besin. Omdat hy by voorkeur in Afrikaans gepubliseer het, was daar oningeligtes wat hom ‘n Afrikaner genoem het. Ek bespreek sy twee jongste boeke deur veral op sy siening van Afrikaans en Afrikanerskap te fokus. Ek bied dus geen omvattende bespreking van hierdie boeke nie. Die oudsportredakteur, Gert van der Westhuizen, wat dink dat sportkwotas die beste uitvinding sedert die ontdekking van moedersmelk is, roem daarop dat hy hierdie twee boeke in ‘n sportbelaaide naweek kafgedraf het (Netwerk24, 25 Julie). Hy het dalk die talle aanhalings in bv Duits en Frans oorgeslaan. Dit is onwaarskynlik dat hy diepsinnig met die twee tekste omgegaan het.

Afskeid van Europa

In die herfs van 2011 en 2013 het Schoeman sy laaste besoeke aan Europa gebring. Hy doen verslag hieroor in Afskeid van Europa: Aantekeninge (Pretoria: Protea Boekhuis, 2017, 267p, R250). “Ek kan ervaring net hanteer … as ek dit in woorde kan uitdruk. Ek kon hierdie beplande besoek aan Europa nie anders sien nie as in die vorm van ‘n boek” (p 68). “Watter sin het die beleefde uiteindelik as dit nie tot kuns omgewerk kan word nie” (57). Schoeman hou as ‘t ware notule met die oog op “die instandhouding van die herinnering” (100). “Ek wil getuienis aflê tot die laaste” (118).

In Europa vind hy “dit moeilik om enige kerk, kafee of boekwinkel onbesoek te laat” (144). Daar word dikwels na verkleurde, vallende en dooie blare verwys, “de herfst van de eenzame” (151); ook na nie-Europeërs wat hulle veral sedert die Tweede Wêreldoorlog op groot skaal in Europa tuisgemaak het. “Dit is buitelandse bedelaars, indringers by die feesmaal, donker skadu’s in die sonskyn, swygende, verwytende swart gestaltes” (159). Aan die einde van sy voorwoord word Simone de Beauvoir (1908-1986) soos volg aangehaal: “Beskawing is wat oorbly wanneer alles verder vergete is” (10). Hierdie aanhaling kan deesdae kwalik met gemak op Suid-Afrika van toepassing gemaak word. Daar is selfs wydverspreide kommer oor die toekoms van die Europese beskawing en selfs van alle blankes.

Schoeman het jare lank in Europa gewoon en sy oriëntasie is sterk Europees. Naas Suid-Afrikaanse burgerskap was hy ook ‘n Nederlandse burger (42). Oor Nederland skryf hy: “Ek ken die land te goed om dit deur vreemde oë te kan betrag” (29). “Die verlede leef nog voort in harte en in geeste, soos ek in die nuwe en sogenaamd vernieude Suid-Afrika daagliks nog op talle gebiede ervaar … Ou vooroordele, griewe, wrok en onverdraagsaamheid word steeds gekoester, oorgedra, oorgeërf en bestendig” (45). Die oorverligte Van der Westhuizen gebruik hierdie aanhaling as ‘n stok om nie-verloopte Afrikaners mee by te kom. Ook by Schoeman is daar anti-Afrikanersentiment, bv: “Dit was eers toe ek op my oudag begin terugblik op my laaste besoeke aan Wene, op my ervaring van die stad en die implikasies daarvan, en oor die onderwerp begin lees, dat ek besef het hoe armlik die onversetlike Afrikanergemeenskap waarin ek self grootgeword het in vergelyking was” (180). Daarmee vind hy aansluiting by Van der Westhuizen.

“Die val van die Muur in Duitsland en die einde van die apartheidsbewind in Suid-Afrika is seker die twee grootste wonderwerke wat ek in my eie leeftyd mog meemaak; dog opnuut moet ek oorweeg dat nuwe wette en grondwette slegs ‘n ruimte kan skep waarin dit moontlik is vir verandering om plaas te vind, en hoogstens uiterlike konformisme kan afdwing. In baie harte en geeste leef die verlede nog en woeker verder, en ek vermoed dat dit in die oënskynlik herenigde Duitsland nie minder die geval is as in die reënboognasie van Suid-Afrikaanse propaganda nie” (108). Oor getuienis skryf Schoeman: “Dit is ‘n belangrike begrip wanneer mens met die middele tot jou beskikking, jou lewe, woorde of geskrifte, protes teen onreg wil aanteken: getúig” (118).

“In die negentiende eeu was huwelike tussen Hollandssprekende vroue en Engelssprekende mans, dikwels Skotte, sover ek weet nie ongebruiklik in Suid-Afrika nie. Ná die Boereoorlog het dit miskien om politieke redes verminder; en onthou ek nie uit die vyftigerjare ‘n vlaag paniek ten opsigte van Portugese immigrante nie, en tydskrifartikels met opskrifte soos ‘My dogter wil trou met ‘n Portugees’? Miskien was dit dus omtrent die middel van die twintigste eeu dat die agteruitgang op hierdie gebied plaasgevind het, danksy die toenemende rigiditeit van die blanke samelewing gedurende die apartheidsbewind met sy opgesweepte krete oor die ‘Afrikanervolk’, die ‘volkstradisie’, die ‘volkseie’ en die ‘volksvreemde'” (180-181).

“In ‘n situasie soortgelyk aan dié in ‘n meertalige en meerkulturele Europese en veral Sentraal-Europese opset sou my neiging om my by die Nederlandse of algemeen-Europese kultuur aan te sluit, en my onwlligheid of onvermoë om my met die politiek of godsdiens van die Afrikaanssprekende en toenemend ook met sy kultuur te identifiseer vanselfsprekend gewees het. Dit sou as ‘n kwessie van keuse of van omstandighede beskou gewees het en nouliks aandag getrek het; dog in Suid-Afrika en onder Afrikaners, moes ek vasstel, het dit algemene onbegrip, irritasie en by geleentheid vyandigheid opgeroep, en kon dit slegs hanteer word deur dit toe te skryf aan ‘n opsetlike poging aan mý kant om ‘ánders’ te wees. Waarskynlik is dit as ‘volksvreemd’ beskou, en selfs ‘volksvyandig'” (181).

“As gevolg van eksterne boikotte en kritiek, interne sensuur, onsekerheid, angs en vrees het die isolasie van die Afrikaner al hoe meer volstrek geraak, en die selfingenomenheid binne daardie klein, afgeslote wêreldjie al hoe intenser, ‘n ontwikkeling waarby die Afrikaanse kultuur en Afrikaanstalige letterkunde geensins gebaat het nie. Die kragdadige wyse waarop die kunsmatige skeidings in die Suid-Afrikaanse samelewing onlangs deurbreek is, en die feit dat Afrikaanssprekendes na alle dele van die aardryk versprei begin raak, het vermoedelik gehelp om die isolasie te beëindig” (181). “Sélf kan ek egter net dankbaar wees vir die jeug en agtergrond wat ek mog geniet” (182). Sekerlik ook ‘n geval van selfingenomenheid.

Schoeman verwys na twee soorte Jode: “Jode wat hulle skaam omdat hulle Jode is” en “dié wat daarop trots is en bang is dat mense sal dink dat hulle hul skaam” (193). By Afrikaners kan dieselfde twee soorte onderskei word. Sonder dat ek ooit skuldig gevoel of verskoning gevra het, kry ek dit moeiteloos en sonder ‘n plaende gewete reg om heeltemal skaamteloos ‘n Afrikaner te wees; maar met die bewustheid dat Afrikaners, soos enige ander etniese of kultuurgroep, nie volmaak is nie.

Dit is baie duidelik dat Schoeman hartstogtelik graag wil hê dat die tradisionele Europa behoue moet bly; dat Europa in hierdie opsig wal teen die “mondialisering van die onverskilligheid” moet gooi (111). Hy kon by blanke Europeërs ‘n “groter bewustheid van eie identiteit … vasstel, van die eie verlede en die eie prestasies, en ‘n neiging tot selfbevestiging in ‘n wêreld waar grense vervaag en afstande besig is om uitgewis te word; sonder chauvinisme, maar met ‘n groeiende gevoel van selfwaardering, as ‘t ware as verklaring teenoor die buitewêreld: hier is óns, dit is óns, dit is óns s’n. Of is dit eerder juis onder druk, dwang of bedreiging van hierdie uitwendige faktore dat hierdie verskynsel ontwikkel, in ‘n soort selfbehoud?” (89). My standpunt is dat ons as blankes ín Afrika maar nie ván Afrika is nie. Ons as Afrikaners en wesenlik as Europeërs moet ons veel meer geredelik en militant teen bv Afrikanisering verset en soos die Europeërs sê: Hier is óns, dit is óns, dit is óns s’n.

Schoeman was sy lewe lank eerder ‘n Nederlander as ‘n Afrikaanssprekende blanke; Afrikaner sal ek hom nie noem nie en hy sou self ook glad nie daartoe geneë gewees het nie. “Dit toenemend Nederlandse woorde is wat spontaan by my opkom wanneer ek Afrikaans praat of skryf” (90). “Die taal waarin ek hierdie aantekeninge opskryf, die enigste taal wat ek kán skryf [Afrikaans], is my tweede taal, en ek meen dat dit reg en goed is so, en het dit altyd slegs as voordeel ervaar” (91). “Ek is in Suid-Afrika gebore in ‘n gesin van Nederlandse herkoms en met Nederlands as my eerste taal, alhoewel Afrikaans en Engels ook op daaglikse basis gebruik is, en nog gedurende my kinderjare het passiewe kennis van Duits bygekom. Toe ek op hoërskool begin skryf, was dit op vanselfsprekende wyse eers in Nederlands en later Engels, en ek was op universiteit voordat ek effens verras ontdek dat die enigste taal waarin ek kán skryf Afrikaans is, my tweede taal” (180).

Wat Schoeman tydens sy laaste besoeke aan Europa gedoen het, noem hy “flaneren,” dus “rondslenteren” (98); afgelei van “flânerie” wat “toekyk” of “gadeslaan” beteken (98). “Flaneer” is “doelloos rondslenter” (100) maar by Schoeman dien dit ‘n doel: die dokumentering, dus konkretisering in woorde, van wat hy ervaar. “Nooit sedert my vroeë kinderjare, dink ek, het ek so suiwer in die oomblik geleef en so suiwer die huidige oomblik beleef soos met hierdie besoek toe ek soos ek gemeen het vir die laaste keer kyk en luister, en dit genoeg was en meer as genoeg om net te kyk en te luister en te beleef, sonder begeerte om dit wat beleef word aan die hand van herinnering of verwagting af te skaal of in die perspektief van vooraf of agterna te wil plaas. Genoeg, ten slotte, om net te wéés, om hiér te wees” (43). “Om daar te wéés … om die plek te sién, te erváár” (235).

Hierdie ingesteldheid van Schoeman word ontologies-eksistensialisties soos volg deur die filosoof, Simon Critchley (gebore in 1960), verwoord: “Wonder in the face of being, in the face of the very fact that there is being” (42). In hierdie konteks skryf Schoeman: “Die lewe is daar om beleef te word, ervaar te word. Die lewe is daar om aanvaar te word, en aanvaarding is die sin van die lewe, as mens dan ‘n sin moet soek” (103); of soos die eksistensialiste sou sê: Ons weet nie wat die sin van die lewe is nie. Elke mens behoort dus self sin aan sy lewe te gee. Dan word hierdie stelling van JC Bloem (1887-1966) bewaarheid: “Dat het een daaglijks wonder is, te leven” (246).

By Schoeman is daar ook nog ‘n ander soort flanering: “‘n ronddwaal in leesstof … ‘Flaneer op papier’ of ‘literêre flânerie'” (135). Dit is wat Schoeman feitlik sy hele lewe lank gedoen het. Byvoorbeeld, terwyl hy as bibliotekaris in die Suid-Afrikaanse Biblioteek in Kaapstad gewerk het, het hy veral in daardie biblioteek se historiese versamelings geflaneer. Piet Westra was toe die hoof van hierdie biblioteek. Hy het aan my genoem dat hy altyd ‘n stapel publiseerbare navorsingsbydraes van Schoeman gehad het. Met elke uitgawe van Die Kwartaalblad het Westra probeer om ‘n bietjie daarvan af te werk, maar daar het deurlopend nuwe bydraes op die hopie bygekom.

Schoeman vestig die aandag op ‘n wesenlike verskil tussen Europa en die nuwe Suid-Afrika: “Wié sou in ‘n hedendaagse Suid-Afrikaanse stad in veiligheid kán flaneer?” (100). “Die Europese stad bied die besoeker, soos gesê, die moontlikheid van flaneer, wat in Suid-Afrika ondoenlik is” (208). Schoeman het hom “opnuut oor die afstand, in alle betekennise van die woord, tussen Europa en Afrika verwonder” (234; ook 247). Myns insiens is daar so baie wat ons as blankes/Afrikaners deesdae moet ontbeer. Daar is so baie van ons weggeneem. Maar dan moet ons alewig aanhoor dat dit ons is wat die inheemses besteel het.

Ek onthou hoe ons in my jeug saans ongesteurd die winkelvensters in die middestad van Kaapstad of aan Voortrekkerweg van Goodwood tot Bellville gaan kyk het. Deesdae verseker bv bedelaars en misdadigers dat jy so ‘n projek nie sal aanpak nie; nie eens sal oorweeg nie. Ons omstandighede in Afrika werk beperkend in op blankes se ervarings- en ontwikkelingsmoontlikhede; dus op hulle lewenskwaliteit, maar niemand vra vir blankes om verskoning daaroor nie. Behalwe in die saligheid van jou eie tuiste (“ons almal was met tere gevoelens aan ons liewe woning geheg” – 134) is dit seker nog net in die ongerepte natuur wat ‘n mens die werklikheid vry van die nuwe Suid-Afrika kan ervaar; maar ook daar moet jy op jou pasoppens wees. Vir baie Suid-Afrikaanse blankes bestaan die “uitgaanslewe” (196) van weleer veral saans nie meer nie.

In hierdie konteks is daar aanhalings wat ek kan gebruik/misbruik. As Afrikaners soek ons vastigheid: “Van trapklip na trapklip moet mens deur die lewe spring” (105). In Suid-Afrika het die donker in 1994 op die blankes toegesak maar “ons staan en verheug oor die enkele ligstrepe op die vloer” (203). Die nuwe Suid-Afrika is ‘n vreemde werklikheid. Wat ons daagliks eerstehands ervaar, is “the physical destruction of the cultural stratum from which I come” (224). “Die werklikheid is so erg dat dit nie beskryf kan word nie” (224).

Schoeman sluit sy boek soos volg af: “Onlangs nog het ‘n Suid-Afrikaanse korrespondent wat vir ‘n vakansie Europa toe is spontaan vir my geskryf, ‘Dis lekker om terug te wees tussen my eie mense’ en het ek besef dat daar vir mý nie so ‘n gevoel bestaan nie. Ek is verlangend om weer in my eie huis te kom en in my eie bed te slaap, maar anders is daar niks nie: dit maak nie bly, dit maak nie seer nie. Die land is bekend, maar nie meer geliefd nie, die ruimte waarin my lewe hom vir sewentig jaar met onderbrekings afgespeel het, het onvermydelik bloot hierdeur vertroud geraak soos geen ander plek dit ooit kan wees nie, maar niks meer nie … Suid-Afrika, sy dit Unie of Republiek, was vir my egter nog altyd ‘n onwesenlike agglomeraat van vroeëre staatkundige entiteite en volksgroepe wat nooit die geleentheid of begeerte gehad het om werklik eenheid te probeer ontwikkel nie, en waarskynlik ook nie tot so iets in staat is nie” (247).

Om hierdie rede kan daar myns insiens (potensieel) ‘n Afrikanernasie bestaan maar nie ‘n Suid-Afrikaanse nasie nie. “Ewe min was Suid-Afrikanerskap vir my iets meer as ‘n begrip wat mens invul wanneer jou nasionaliteit in ‘n vorm verlang word … Ek kan in Amsterdam kom of Berlyn, ek kan by ‘n straat in Wene af stap waar ek nooit eerder was nie, en daar onmiddellik tuis voel op ‘n manier waarop ek dit in Suid-Afrika nie buite die mure van my eie huis is nie, en miskien ook nooit werklik wás nie” (248).

Slot van die dag

Schoeman se ander boek sou aanvanklik “Die einde van die dag” geheet het (247) maar die teks is gepubliseer onder die titel, Slot van die dag: Gedagtes (Pretoria: Protea Boekhuis, 2017, 184p, R250). Die titel is ontleen aan Uys Krige (1910-1987) se gedig “Tram-ode” (p 6). In die woorde van Boerneef (IW van der Merwe, 1897-1967) was dit in Schoeman se lewe ‘n geval van “die najaar is nou op sy herfsste” (p 5). In ‘n diepe persoonlike verband het Schoeman hom in sy laaste jare al hoe meer van Afrikaans gedistansieer, bv “begin Afrikaans vir my al hoe meer vreemd raak … dat mens met die ouderdom makliker in die taal van jou jeug verval” (7). “Vir my is dit asof mens (ek?) jou vlotter en vinniger in Nederlands kan uitdruk, en meer genuanseerd” (8).

Afrikaans word vir Schoeman al hoe meer onaanvaarbaar omdat hy Afrikaners en Afrikaans skynbaar met die agterlikheid van Afrika assosieer. Hy skryf dat die fout dalk by hom lê “wat die Afrikaanse letterkunde steeds volgens Westerse standaarde probeer beoordeel het … Moet mens nie maar die feit aanvaar dat Afrikaans ondanks sy herkoms ‘n Afrika-taal is nie, en sy letterkunde ‘n letterkunde van Afrika of Suider-Afrika …?” (107). Dit is die soort resultaat wat Afrikaanse taalkundiges behaal met hulle aandrang dat Afrikaans eerder ‘n Afrikataal as wesenlik ‘n taal van Europese oorsprong is.

Maar: “Ek sou nie in Nederlands oor Suid-Afrika kan skryf soos ek veral in my fiksie gedoen het nie; dit het ek meer as vyftig jaar gelede reeds proefondervindelik vasgestel. Maar oor myself miskien wel” (8). “Waar ek nou op my oudag nadink oor my moedertaal [Nederlands], noudat ek dit nooit meer hoor of praat nie, besef ek dat dit meer as ooit ‘n soort geheimtaal of persoonlike kode geword het, iets vir myself alleen, wat verweef is met my herinnerings, maar ondeelbaar met en ontoeganklik vir enigiemand anders, iets baie persoonlik wat vir my in die omstandighede as ‘t ware geborgenheid bied” (8-9). “Wanneer ek ‘n seldsame e-pos in Nederlands skryf of ontvang, ‘n Nederlandse boek lees sonder dat ek daaroor moet nadink of bewustelik na ‘n ander taal moet ‘oorskakel’, of op YouTube na Nederlands luister, is hierdie vanselfsprekende taal vir my soos ‘n kosbare sjibbolet, of soos die olyftakkie wat Noag se duif teruggebring het na die ark. Êrens is daar land” (9-10). Nederland is Schoeman se hartsland en Nederlands is sy hartstaal.

Waarom was Schoeman ‘n skrywer? “In laaste instansie soek ek net iets om te doen wat ten minste sinvol lýk … Skryf as terapie, as gewoontevormende of verslawende werksaamheid, as kompulsie” (11). “Om ‘n boek te skryf is nie, volgens my, genoeg om sin aan die lewe te gee nie, maar dit kan sin of ‘n skyn daarvan aan ‘n individuele bestaan verleen, of in elk geval ‘n voorlopige doel verskaf. Blindelings gaan jy dus aan, dankbaar, al is dit nie besonder geesdriftig nie, met die oë op die onmiddellike doel gevestig, en stel geen ongemaklike vrae oor dit waarmee jy besig is nie. So ploeter ek nog altyd in die wêreld van die VOC [Vereenighde Oostindische Compagnie] en Nederlandse kolonialisme aan die Kaap, omdat dit vertroud is en ek die situasie en die bronne ken en die werk dus geen onvervulbare eise aan my stel nie. Die sin van my lewe. Al daardie geskiedenisboeke wat ek oor die jare geskryf het sodat mense nie sal vergeet nie, nie kán, nie mág vergeet nie: ek het so pas getel en vasgestel dat daar 18 van hulle hier op my rakke staan, en dis maar net die werk van die laaste jare, want ek besit nie ál my boeke nie. Wie is daardeur geraak, wie het daaruit geleer? Wie lees dit? Wie wil herinner of gewaarsku word, wie wil leer? Beter miskien om maar te vergeet. Makliker om te vergeet” (96-97).

“Skryf en lees was altyd dit waarmee ek my besig gehou het, maar lees doen ek moeiliker, want tensy die onderwerp van die boek my werklik interesseer, vind ek dat my aandag maklik afdwaal en ek verveeld raak. Ten beste werk dit nog wanneer ek die waan kan volhou dat die leeswerk in feite navorsing is vir ‘n beplande boek waarvoor ek aantekeninge en fotokopieë maak en lêers saamstel, alhoewel ek weet dat die boek na alle waarskynlikheid nooit geskryf sal word nie” (13).

“Vroeër het die woorde in mý ervaring as ‘t ware vanself gekom, vanself uitgetuimel, al was die proses desondanks nooit moeiteloos, nooit pynloos nie. Deesdae wil hulle nie meer altyd kom nie, maar moet hulle as ‘t ware geháál word, en wil hulle nie meer reg lê nie, sodat daar eindeloos aan hulle rondgeskuif en andersins getorring moet word. En nie net dit nie, maar dikwels is dit ook nie eens meer die régte woorde nie, en moet dié doelbewus gesóék word, nie noodwendig met welslae nie … ek moet maar troos put uit die wete dat ek eens wél kon skrywe, die geknakte suile en verstrooide marmerblokke van die bouwerke van weleer omring my nog op my oudag” (13).

“Ek lees dus min, maar mis dit nie, nog minder die skryfwerk en navorsing van weleer … ten slotte het ek ook reeds genoeg geskryf, en te veel” (14). “Daar is niks meer om te begeer, geen opstaan, eet, werk, beplan meer nodig nie … [maar] Die Lewe op sigself blý ‘n wonder” (15). “Zingeving helpt je gezond oud worden” (29) maar Schoeman is verby daardie stadium: “Ek glo nie dat die lewe sin het nie” (145). “Verby is verby, en dit is nie my gewoonte om na my vroeëre boeke te kyk nie, veral nie die romans, wat teenswoordig soos die werk van ‘n vreemdeling oorkom” (32). Hy verskaf hierdie terugflits: “Betreklik gou het ek my … bevry van die begeerte om ‘n Skrywer te wees of deel van die kloustrofobiese Afrikaanse Letterkunde uit te maak” (50).

Schoeman het sy latere jare aan die skryf van nie-fiksie gewy, gegrond op veral historiese navorsing. Hierin het die era van die Hollandse bewind aan die Kaap ‘n groot rol gespeel. “Die VOC, Nederland en die Kaap in die sewentiende en agtiende eeu is vanweë die oorvloedige dokumentasie ‘n bykans onuitputlike tema, en alhoewel ek self nie meer my eerste geesdrif en belangstelling besit nie, was dit tot onlangs nog ‘n ontdekkingstog vol opwinding om dit nader te ondersoek” (44). Hy verkies om homself eerder as ‘n Nederlander te beskou en hy distansieer hom openlik van Afrikaners. Sy isolasie is vererger deur sy homoseksualiteit en sy lidmaatskap van die Rooms-Katolieke Kerk. Hy besit “geen Afrikaanstalige Bybelvertaling” nie (17).

Vir die Britse koloniale bewind plaaslik en elders, trouens vir die hele Engelssprekende wêreld, was daar by Schoeman skynbaar ook min aangetrokkenheid. Hy het bv ‘n tyd lank in Skotland gewoon maar hy wou “hierna nooit weer boeke oor Skotland … lees of selfs na foto’s van die land … kyk nie, en nou nog, veertig jaar later, skaars bereid voel om daaroor te skryf” (115). “Ek het van Suid-Afrika afskeid geneem om my vir die laaste jare by wyse van spreke in Boerneef se kroskerm terug te trek” (92). “My eie voorkeure en neigings is nou eenmaal antisosiaal van aard” (87).

Schoeman bly “hunkerend soos altyd na Europa” (21). Hy verwys na sy “haas kompulsiewe besoeke aan Europa” (47). Vir hom bly die afstand tussen Europa en Afrika letterlik en figuurlik groot. Hy verwys na “die verveelde jong swart studente … wat ‘n eie werklikheid bewoon waarvan blankes, en veral bejaarde blankes, klaarblyklik geen deel uitmaak nie” (20). Schoeman het in sy laaste jare in ‘n aftree-oord gewoon. Die geëlektrifiseerde heining “wat as veiligheidsmaatreël bedoel is” lyk vir hom “eerder soos ‘n angstige poging om die werklikhede van die Nuwe Suid-Afrika op ‘n afstand te hou” (23). Later laat hy hom meer realisties uit: “Daar kom ‘n keerpunt wanneer sekerheid belangriker is as elegansie” (25). Dit is vir hom “asof die fondamente van die ganse lánd en die lewe hier vrees geword het … Hierdie land, sou ek sinies wil byvoeg, waar die donker slegs deur die gloed van brandende universiteitsgeboue verlig word” (24). Die Suid-Afrikaanse werklikheid het myns insiens sedert 1990/94 radikaal verander eerder as verbeter, bv: “In Bloemfontein … het ek … agtereenvolgens gewerk in wat destyds die Verwoerdgebou en die CR Swartgebou geheet het, tans Oliver Tambo House en die Fidel Castro-gebou onderskeidelik” (103).

Besoeke aan Nederland het hom opnuut laat besef dat hy tydens apartheid kultureel skade gely het, omdat “ek so lank nie voeling gehad het met wat in die wêreld gebeur nie” (39). “In Suid-Afrika het Kultuur destyds nog van Londen gekom. Vandag kom dit van die VSA” (101). “In 1976 sou ek ewe goed na Nederland kon teruggekeer het, in plaas van na Suid-Afrika, juis besig om hom gewelddadig van die ou apartheidstaat, waar ek nie tuis gevoel het nie, in ‘n nuwe nasie te omskep, waar ek ewe min tuis sou voel” (95). “Hier sit ek dus in die aftakelende en ongeliefde land waar ek gebore is, in droogte en hitte, en hiér sal ek hopelik ook sterwe. Dit is goed so; bowenal die sterwe” (96).

“Ek eindig my lewe dus tussen die restante in ‘n ou Afrikaanse wêreld wat vir my persoonlik volkome vreemd is, in ‘n aftreeoord waar die inwoners byna uitsluitlik Afrikaans, en die menings, houdings, verhoudings en bestuurstyl ewe goed tradisioneel is. Sedert die tagtigerjare het hier min verander; en dit, my tydgenote, is trouens die generasie wat tot onlangs nog met volle oortuiging die apartheidsbewind in stand gehou het” (103). “Klein Apartheidsoord sou ek die enklave agter die geëlektrifiseerde heining waar ek my eie lewe slyt, soms met dieselfde wrangheid wil doop wanneer ek sekere uitsprake hoor, sekere houdings of instellings waarneem wat hier nog altyd gangbaar is, ondanks al die Skriflesing en gebed, die Bybelstudie, die ornamentele kruise teen die mure” (104). Ek vra my af: Waarom het Schoeman hom dan nie eerder gevestig in ‘n kudde waar hy meer tuis sou voel nie? Hy was blykbaar nêrens werklik tuis nie, behalwe miskien toe hy saam met sy ma gewoon het.

“Wat my hinder van die blanke wêreld wat ek in die loop van my beperkte kom en gaan rondom my waarneem, sy dit in aftreeoord of stad of op die platteland, is egter nie die feit dat ‘n ouer generasie beperkte bereidwilligheid tot verandering toon nie, want oor die algemene onaanpasbaarheid van ouer mense het ek reeds geskryf” (104). Dan kom ons by die ander teksgedeelte wat guns in Gert van der Westhuizen se oë gevind het: “Wat my verontrus, is wat vir my eerder lyk soos die onwil van ‘n beduidende deel van die blanke bevolking op breër vlak om aan te pas of die huidige werklikheid te aanvaar, en ‘n wydverspreide houding, vandag nog steeds, van wat ek slegs met die Engelse woord resentment kan aandui” (104).

Volgens Pharos se omvattende Engels-Afrikaanse woordeboek (2005, p 1302), beteken “resentment” onder meer: gegriefdheid, gekrenktheid, gebelgdheid, wrewel, teensin, weersin en afkeer. “Resentment” lyk vir my na ‘n bruikbare opsomming van hoe Afrikaners oor die nuwe Suid-Afrika voel en selfs behoort te voel. Hierdie weersin, ens, word nie deur Van der Westhuizen gedeel nie, vandaar sy lofsang vir bv sportkwotas. Maar Schoeman het, anders as Van der Westhuizen, ‘n gesonde afkeer van die nuwe Suid-Afrika gehad, soos hy hier bo uitdruklik erken het. Van ‘n toegewyde aanhanger van Europese beskawing kan ‘n mens kwalik entoesiasme vir die nuwe Suid-Afrika verwag. Waarom dan verontrus oor Afrikaners se houding wees? – hoewel ek moet toegee: daar kan graadverskille in houding wees.

Maar Schoeman probeer voorts om in sy verligte rat te bly en sy verkrampte rat te vergeet. Hy voel “die morele verpligting om my terugblikkend en opsommend nogmaals uitdruklik te distansieer van die hele verderflike apartheidsbeleid waaronder ek grootgeword het en waarby ek as blanke so dikwels self mog baat, dikwels ten koste van andere. En nie minder nie van die argaïese restante daarvan wat ek nog altyd van tyd tot tyd in my daaglikse omgewing aangetref het en steeds aantref. Ek wil my lewe nie in ‘n gees van verbittering eindig nie, dog dit is moeilik om sonder verbittering dít te sien en te hoor wat ek so gereeld te sien en te hore kry” (104-105).

“‘Waarom haten de Afrikaners de zwarten toch zo?’ het my moeder in later jare meermale retories uitgeroep. Dit was hier in dieselfde Bloemfontein, omstreeks 1980, in ‘n bestel wat lankal reeds ondergegaan het; maar ondanks die dramatiese veranderings in wetgewing moet mens jou dikwels afvra hoeveel daar intussen in die harte van individuele mense verander het. Wantroue, wrok, vrees – en ja, háát is na mý gevoel ook nie te sterk om dit uit te druk nie” (105). “Wrok” en “haat” is egter twee van die betekenisse van “resentment” wat ek hier bo doelbewus weggelaat het omdat ek hulle in hierdie konteks as meesal oordrewe beskou. Dink bv aan diegene wat ‘n gesonde standpunt oor immigrasie huldig. Hulle verlang dat slegs mense wat ‘n bate vir die land sal wees hulle hier mag vestig. Maar dan word hulle goedsmoeds van haat teen inkommers beskuldig.

Maar Schoeman kom nogeens in oordrewe trant terug na dieselfde tema. “Dit is die mees duiselingwekkende ervaring van alle wat nog vir my oorgebly het, die seldsame kere wanneer dit nog voorkom, in getemperde vorm. Verontwaardiging oor onreg, wat ek in hierdie nuwe Suid-Afrikaanse werklikheid nog gereeld teëkom, soos outoritêre optrede of bestuur byvoorbeeld, waar dit nog voorkom as oorblyfsel van ‘n uitgediende verlede; maar in hierdie konteks gaan dit gewoonlik nog altyd om veronregting van swart deur wit, en wel deur blanke Christene, die onbillike loon, die uitbuiting, die onbedagsaamheid, die sorgeloosheid, die onverantwoordelikheid; alles op klein, alledaagse, huislike skaal; maar om daardie rede nie minder onregverdig nie. Of die ingewortelde vooroordele: swart mense steel, hul tasse moet deursoek word; swart mense moenie bederf word of te veel betaal word nie. Nog altyd” (174-175). Schoeman wend egter geen poging aan om ewewigtigheidshalwe ‘n inventaris op te stel van onaanvaarbare gedrag by swartes nie. Sy kritiek is ook nie teen plaaslike blankes in die algemeen gerig nie maar spesifiek teen Afrikaners.

“In die konteks van die samehorigheid wat die Afrikaners in elk geval tot baie onlangs nog gekenmerk het, is dit skynbaar moeilik vir lede van die literêre establishment om te glo dat ek my wérklik en eerlik nie as ‘een van ons’ beskou nie, en dit trouens ook nie wil wees nie, en die feit dat ek doelgerig vir my ‘n eie ruimte afgebaken en die integriteit daarvan bewaar het, kan die maklikste as affektasie of aanstellery afgemaak word, ‘n doelbewuste poging om ánders te wees en interessant te lyk. Ek is oud, onaanpasbaar, onvergenoeg, nie meer in voeling, nie meer ontvanklik nie, en ek wil dit trouens ook nie wees nie. Ek het boeke geskryf in Afrikaans, niks meer nie, en ek voel my by die Afrikaanse letterkunde en sy voortbrengsels minder betrokke as by bepaalde landskappe waarvoor ek geneentheid voel” (53). Later verwys hy weer na sy geneentheid. “Dit is asof Suid-Afrika in alles, feitlik alles weerklink, hierdie land waar ek nie tuis voel en waarvoor ek geen geneentheid voel nie, veral nóú nie meer nie, maar waarmee ek tog onontkombaar verbonde bly” (169).

Afrikaners ly glo aan “kulturele kondisionering” (127) wat vir Schoeman onaanvaarbaar, moontlik selfs afstootlik, is. Afrikaners se waardestel is “miskien meer geskik … vir ‘n landelike samelewing in die negentiende eeu as ‘n moderne staat in die 21ste eeu” (128). Met ander woorde, synde in Afrika is Afrikaners agterlik. Alles in ag genome lyk dit vir my asof dit ‘n redelike vertolking van Schoeman se standpunt is. Later skryf hy “dat hierdie mense [Afrikaners] en ek net in die mees létterlike sin dieselfde taal praat” (166).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.