Motors: Sweedse swier

Die Volvo S90 van voor

Suid-Afrika se motorkopers is werklik kieskeurig wanneer dit by rygoed kom. Daarby moet ons ook byvoeg dat plaaslike kopers aan baie erge lojaliteitsindroom ly wanneer dit by vervaardigers kom. Dié wat ‘n gewone, betroubare elkedagrydingetjie wil aanskaf, koop niks anders as ‘n VW Polo Vivo nie, want sien VW is mos groot en bekend met ‘n handelaarsnetwerk wat landswyd strek. Die middelslagkoper kan nooit by die Toyota Corolla verbykyk nie, die bakkiemanne dink dat ‘n Ford Ranger die enigste bakkie is wat kers kan vashou by die Hilux! Dan kry ‘n mens die PMS-sindroom waar daar net drie vervaardigers bestaan, dit is óf ‘n Audi óf ‘n BMW óf ‘n Mercedes. (PMS staan eintlik vir Pietersburg, Moreletapark en Stellenbosch).

In elk van hierdie segmente is daar werklik baie goeie alternatiewe motors. In die intreevlak dink ons aan die Renault Sandero of Ford Figo, die middelslagsegment is die Hyundai Elantra of VW Jetta net so goed indien nie beter as die Corolla nie en wat bakkies aanbetref, kan die Nissan Navara en Isuzu KB alles net so goed doen soos n Ranger of Hilux. Wanneer dit by die PMS-sindroomkopers kom, is daar ook heelwat ander vervaardigers wat motors bou wat werklik ‘n alternatief tot die drie Duitsers is. Ons dink aan Lexus, Infinity, maar meer spesifiek aan Volvo.
Volvo is al byna ‘n honderd jaar lank een van die mees onderskatte en sekerlik een van die wêreld se veiligste en innoverendste vervaardigers. Ons dink maar slegs aan ‘n paar voorbeelde waar Volvo sekere tegnologieë aan die wêreld bekendgestel het, soos byvoorbeeld:

  • 1944: gelamineerde voorruit
    Die Volvo PV444 word die wêreld se eerste motor met ‘n gelamineerde voorruit.
  • 1959: Driepuntveiligheidsgordel
    Volvo is die eerste ter wêreld om hierdie belangrike veiligheidsfunksie aan te pas, wat die standaard op Amazons en PV544’s in die Skandinawiese markte raak.
  • 1964: Agterste kinderstoeltjie
    Die ruimtevaarder-geïnspireerde, agterstevoor- prototipe kinderstoeltjie in die PV544 wat in 1967 in produksie kom.
  • 1976: Kinderkussing
    Gordelposisioneringskussing vir kinders.
  • 1976: Lambda Sond
    ‘n Drierigting- katalitiese omskakelaar en Lambda-sensors word togerus op die Amerikaanse Volvo-mark, wat gevaarlike uitlate met tot 90 persent verminder.
  • 1979: groothoekspieël
    Die wyehoektruspieël vir die bestuurder gee ‘n baie beter beeld van wat agter die motor is.
  • 1990: Geïntegreerde kinderkussing
    Die opvoubare kussing maak sy debuut in die agterste middelsitbank van die Volvo 960.
  • 1990: Sentrale agtertraagheidskatrolveiligheidsgordel
    ‘n Traagheidskatrolsitplekgordel vir die agterste sitplek word standaard.
  • 1991: SIPS
    Die Volvo 850 se geïntegreerde SIPS-kantbotsingsbeveiligingstelsel verminder die penetrasie in die passasierskompartement by ongelukke.
  • 1991: Outomatiese veiligheidsgordelaanpassing
    Outomatiese hoogte-aanpassing vir veiligheidsgordels maak ‘n debuut in die Volvo 850.
  • 1998: Opblaasgordyn
    ‘n Dakgordelbare gordynlugsak help om die koppe in die S80 te beskerm.
  • 1998: Omgewingsprodukverklaring
    Die Volvo S80 is die eerste motor wat ooit ‘n omgewingsprodukverklaring ontvang.
  • 1999: agterste sitplek vir ISOFIX
    Die wêreld se eerste oplossing vir die gestandaardiseerde, motorgeïntegreerde ISOFIX-passtelsel bied ‘n veilige en maklike manier om ‘n kinderstoel reg te installeer.
  • 2001: Volvo On Call
    Volvo On Call word die wêreld se eerste volledig geïntegreerde en fabrieksgeïnstalleerde SOS-stelsel.
  • 2002: Boorstaal
    Supersterk boorstaal word eerste gebruik, debuut in die XC90.
  • 2003: IDIS
    Intelligente Driver Information System vertraag telefoonoproepe en nie-kritiese inligting wanneer dit nodig is.
  • 2003: Volvo Ambient Air Cleaner
    VAAC filter skadelike dampe en neutraliseer ander motors se uitlaatgasse.
  • 2004: BLIS
    Volvo se Blind Spot-Inligtingstelsel monitor die bestuurder se spieëlblinde plek.
  • 2004: Opblaasgordyn vir afslaankapmotors
    Om die uitdaging van die opblaasbare gordyne in afslaankapmotors te oorkom, is ‘n wêreldwye nuutjie.
  • 2005: Driver Alert
    Die innoverende stelsel om die bestuurder te laat oplet voordat hy of sy aan die slaap raak.
  • 2007: Geïntegreerde tweestadiumkinderkussing
    Die geïntegreerde kinderkussing het gordelvoorspanners en twee sitplekhoogtes, wat dit aanpasbaar maak vir groeiende kinders.
  • 2011: Inpropdieselhibried
    Volvo se V60 Plug-in Hybrid is die wêreld se eerste dieselinpropmotor.
  • 2012: Voetgangerlugsak
    Voetgangerlugsaktegnologie maak ‘n debuut in die Volvo V40.
  • 2013: i-Art
    Drive-E-diesels bevat terugvoer van elke brandstofinspuiter.
  • 2013: Fietsryeridentifiseerder met volle remvermoë
    Ontdek en rem outomaties vir fietsryers.
  • 2014: Opblaasbare kinderstoel
    Agtertoewysende kinderstoeltjies met ingeboude lugsakke

Die nuwegenarasie-Volvo’s is weer aan die voorpunt van tegnologiese en spesifiek veiligheids tegnologie. Ons kon twee van Volvo se nuwegenerasiemotors bietjie onder hande neem. Albei die motors is toegerus met outorem by kruisings, ‘n Volvo-eerste ter wêreld. Dit is in 2014 as deel van ons City Safety-stelsel in die nuwe XC90 bekendgestel. Stel jou voor jy moet die verkeer in die teenoorgestelde baan kruis by ‘n T-aansluiting: as jy nie die aankomende motor sien nie, sal die stelsel die remme vir jou toepas, wat help om die erns van ‘n botsing te verminder.

Die Volvo V40 Cross Country

Volvo V40 Cross Country

Die V40 CC is eintlik, afgesien van die gewone V40, die intreemodel in die Volvo-reeks. Cross Country in hierdie geval beteken dat die motor effens hoër op sy bande staan as die gewone V40 – 12mm hoër om presies te wees. Dit klink werklik nie na veel nie,maar maak net die verskil wanneer daar oor ‘n randsteen of ‘n hoë spoedhobbel of dan ‘n klip op ‘n grondpad gery word. Die V40 Cross Country is n primakruisluikrugvoertuig wat vierkantig met motors soos die Mercedes GLA en Subaru XV meeding. Audi se Q3 asook BMW se X1 is ‘n aks groter en word dan ook as sportnuts voertuie geklasifiseer en die Mini Countryman kan dalk ook hier oorweeg word, maar hy is kleiner en ook ‘n sportnuts en nie ‘n luikrug nie.

Enjin

Ons toets motor was die V40 Cross Country in D4 Inscription-gewaad. Die Inscription-gedeelte is slegs die afwerkingsnaam. Alle Volvo-motors is in drie afwerkings beskikbaar: Momentum, Inscription en R-Design, met die Inscription wat die luukser afwering is en die R-Design wat die meer sportiewe afwerking is. Alle Volvo’s is beskikbaar met ‘n diesel-, petrol- of hibriede inpropelektriese-enjin. Alhoewel Volvo in Swede aangekondig het dat hulle nie verder enige dieselenjins gaan ontwikkel nie, sal die huidige dieselenjins nog vir ‘n geruime tyd diens doen in plaaslike Volvo’s. In dieselgewaad is daar ook drie opsies waar die D3 die minste enjinkrag 110Kw en 320 NM se wringkrag lewer, die D4 soos in ons toetsmotor die middelkraglewering met 140 Kw en 400 Nm se wringkrag en die D5 (wat nie in die plaaslik V40 CC beskikbaar is nie) wat 165 Kw en 470 NM se wringkrag lewer. Vergelyk die D4-enjin wat ‘n verplasing van 2 liter met ‘n turboaanjaer het met die GLA se 2.1-liter 4-silinderdieselenjin se 100Kw en 300 Nm wringkrag en die Volvo staan kop en skouers bo die Merc uit.

Ongelukkig is Subaru se XV slegs in petrolgewaad plaaslik beskikbaar en kan ons nie ‘n direkte vergelyking wat kraglewering aanbetref maak nie. Wat brandstofverbruik betref, is die syfers tussen die Volvo en die Merc ook byna identies met die Volvo wat 4,3 l/100km verbruik teenoor die GLA se 4,4l/100km. Uitlaatgasse word aangegee as 112g/km vir die Volvo en 115g/km vir die Merc. Die groot verskil hier is dat die V40 CC ‘n groter brandstoftenk het van 62 l teenoor die GLA se 50 l. Daardie 12 l verskil beteken in hierdie geval dat jy van Pietersburg tot in Laingsburg met die Volvo sal kan ry voor jy moet diesel ingooi – 1456 km – terwyl jy met die GLA van Pietersburg af al in Drie Susters – 1176 km – sal moet ingooi.

Op die pad

Die Volvo V40 Cross Country voel baie stewig aanmekaargesit met ‘n ferm dog versekerde rygevoel. Die pedaalreaksie asook die stuurgevoel laat die Volvo baie meer sportief voel as wat die motor werklik is. Rondomsig in die Volvo is ook baie goed met slegs die agterste driekwart wat vir ‘n korter bestuurder dalk ‘n blindekol sal veroorsaak as gevolg van die hoë flanke.

Binneruim

Beenruimte in die V40

Elke Volvo waarin ons nog gery het, spreek van algehele minimalistiese gehalte. Daar is net genoeg knoppies en skakelaars om alles optimaal te kan beheer, die watervalmiddelkonsole met die bêreplekkie agter die konsole is uniek aan Volvo. Goed wat ons wel gepla het van die binneruim, is die feit dat die middelste kleurskerm bietjie klein is en dat die kontrole vir die skerm ver verwyderd daarvan is. Teenoor die GLA lyk die V40 CC se instrumentepaneel heelwat ouer. Die agterdeure van die Volvo maak ook nie wyd genoeg oop nie en veral as jy dalk ‘n kinderstoeltjie sou wou installeer, gaan dit ‘n gesukkel afgee. Kopruimte vir agterste passasiers is ook beperk en veral langer mense gaan sukkel om gemaklik agter in die motor te sit. Die agterste sitbank is boonop so ontwerp dat die passasiers agter nie in die voorste kopstutte vaskyk nie maar eerder tussen die twee voorste sitplekke deur. Volgens Volvo verminder dit die karsiek gevoel wat veroorsaak word deur beweging sonder dat jy kan sien waarheen jy beweeg. Die bakwerk is smaller as dié van die GLA (1783mm teenoor 1804mm). Dit klink na baie min maar maak ‘n reuseverskil wanneer jy in die motor sit. Wat die laairuim aanbetref, voel ons dat die Volvo te min begasieruimte bied vir dié tipe motor. Daar is 335 liter se pakplek beskikbaar wat vergroot kan word na 1032 liter wanneer die agterste sitplekke plat gevou word,maar weereens teenoor die GLA wat 481 liter bied met die sitplekke in plek is dit te min. Die laaidrempel van die V40 is ook baie hoog en swaar items gaan baie moeilik oor die drempel gelig word. Daar is glad nie enige 12v-sokke in die begasieruim nie wat eintlik snaaks is vir dié tipe leefstylmotor. Nog ‘n probleem met die laairuim is dat as die sitplekke plat gevou word, is daar ‘n trap tussen die bagasievloer en die platgevoude sitplekke. Sou ‘n mens dan egter ‘n groot item wil inskuif gaan dit ‘n probleem veroorsaak met die item wat in die trap vasgeskuif gaan word.

Instrumentepaneel van die V40

Gevolgtrekking

Die Volvo V40 Cross Country is beslis ‘n prima motor, maar teen R521 800 is die Cross Country sowat R31 000 duurder as die gewone V40 en bied hy nie veel meer as laasgenoemde nie. Daar is ‘n paar kosmetiese plastiekstroke en dakrelings ekstra en 12mm in grondvryhoogte. Hy is wel R12 000 goedkoper as die Mercedes GLA maar in gewone V40-gewaad sal jy sowat R43 000 bespaar teenoor ‘n GLA. Anders as in die geval van die GLA, bied die Cross Country nie soveel meer as die gewone V40 nie. Die punt is dat die Volvo V40 Cross Country ‘n goeie alternatief tot die drie Duitsers bied maar nog ‘n beter prima motor in sy gewone V40-gewaad verteenwoordig.

Volvo V40 Cross Country D4 Inscription

Prys 3 uit 5
Voorkoms buite 5 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 3 uit 5
Agter die stuur 5 uit 5
Enjin en ratkas 5 uit 5
Op die pad 5 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 36 uit 40

Volvo S90

Die tweede Volvo waaroor ons kan berig, is die splinternuwe Volvo S90. Die S90 is die tweede lid van die 90-familie. Die XC90 is verlede jaar plaaslik bekend gestel en nou het Volvo sy aanspraak op die primasedanmark ook bekend gemaak met die S90. Die V90 wat ‘n stasiewaweergawe van die S90 is, is ook plaaslik beskikbaar.
Die S90 ding mee teen motors soos die Audi A6, BMW 5-Reeks en Mercedes E-klas, asook Jaguar se XF en Lexus se GS. Al hierdie motors is ernstige broodwinners in hul onderskeie modelreekse. Die S90 bied alles wat die XC90 bied — net in ‘n sedanweergawe.

Bakwerk

Die S90 is ‘n groot motor met ‘n lengte van ‘n aks onder die 5m. Die motor vertoon lank, breed en laag. Hierdie Volvo is by die 1,9m breed en sy dak is slegs 1,44m van die grond af. Met ‘n asafstand van 2,94 meter bied die S90 ruimte. Van voor is die Volvo onmiskenbaar stylvol met sy hameragtige dagryligte, die sykante wat laag na agter strek waar die groot vierkantige agterligte met oorhange bo en onder die motor nog laer laat vertoon. Die voor- en sykante is werklik mooi, maar die agterkant sal maar ‘n besprekingspunt bly. Óf jy is mal daaroor óf dit is werklik lelik vir jou. Besluit maar self.

Binneruim

Instrumentepaneel van die S90

Maak die deur oop en die S90 bewys onmiddellik hoekom hy beslis as ‘n prima alternatief tot enige iets anders in hierdie segment beskou moet word. Materiale is werklik uit die boonste rakke en die ergonomiese gevoel asook die instrumentuitleg en bruikbaarheid van alles in die motor is absoluut puik. Op tipiese Volvomanier is daar net genoeg knoppies en skakelaars om alles optimaal te kan beheer. Die groot negeduimdrukskerm in die middel van die instrumentepaneel lyk soos ‘n groot tablet en werk ook soos die nuutste tablette op die mark. Dit is baie gebruikersvriendelik, vinnig en maklik. Dit is ook ‘n raakskerm. Daar is soveel ruimte in die motor dat die deurbakkies groot genoeg is om ‘n 2-literwaterbottel met gemak te kan akkommodeer. Kop- en beenruimte agter in die S90 is puik. Die bagasieruim is 500 liter en die agterste sitplek kan plat vou om die reeds enorme ruimte te vergroot. Anders as in die V40, is die laaidrempel heelwat laer en om groot tasse of items hierin te laai is werklik baie makliker.

Op die pad

Beenruimte in die S90 agter

Agter die stuur is die S90 nog beter as wat hy lyk. Die motor hurk laag en met lugvering en vierwiel aandrywing voeg die S90 soveel stabiliteit tot die rygevoel by dat jy altyd voel jy kan vinniger ry as wat jy moet. Die afwesigheid van padgeraas en windgeraas onderstreep die feit dat Volvo hierdie segment met mening wil aanpak. Die gevoel is absoluut premium. Die rondomsig is stukke beter as in die V40.

Enjin

Al die S90 modelle gebruik dieselfde 2.0-literenjin. Daar is weereens ‘n keuse tussen petrol en diesel, maar almal is 4-silinder-2.0-litereenhede. Ons toetsmotor is die D5 Iscription. Met 173 KW en 480 Nm se wringkrag bied die motor meer as genoeg krag. Ratwisseling is seepglad en gebeur deur die 8-spoed- outomatiese ratkas. Die ratkas is glad nie so sportief soos die 5-reeks of selfs die E-klas nie, maar wat ratskakelings betref, is dit sekerlik een van die bestes. Brandstofverbruik word deur Volvo as 4,8l/100km aangegee, maar ons kon glad nie naby daaraan met ons toetsmotor kom nie en het ‘n 6,1l/100km gehandhaaf. Uitlaatgasse word as 127g/km aangegee. Neem in ag dat hierdie ‘n groot gesinsmotor is met ‘n baie gewillige enjin en dan is die syfer puik.

Gevolgtrekking

Kyk ‘n mens na die prys kan jy vinnig agyerkom dat hierdie ‘n prima motor is wat gemik is op die drie Duitsers. Die pryskaartjie van R830 000 maak ‘n mens se oë water in plaas van jou mond, maar vergeleke met die BMW 520d ( 140KW) teen R823 000 en die Jaguar XF 2.0d (132Kw) teen R845 000, asook die Mercedes E220d (143Kw) teen R823 000 wat almal minder enjinkrag bied, vertoon die S90 goed.

Volvo S90 D5 Inscription AWD

Prys 2 uit 5
Voorkoms buite 4 uit 5
Binneruimgehalte en afwerking 5 uit 5
Ruimte en praktiese toepassing 5 uit 5
Agter die stuur 5 uit 5
Enjin en ratkas 4 uit 5
Op die pad 4 uit 5
Veiligheid 5 uit 5
Totaal 34 uit 40

 

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • TotusTuus

    Ek verstaan nie mooi die boodskap van die onderstebo foto’s nie?

    • Rifrug

      In die vorige berig deur mnr. Olivier was dit ook so … http://praag.co.za/?p=43546

      Die probleem blyk in die Chrome Browser te wees – want in Firefox is als regop.

      • Charles

        Chrome webblaaier 🙂

  • More André,
    baie dankie vir hierdie volledige beskrywing van ‘n uiters puik en veilige ekonomiese voertuig.
    Ek self sal hom egter nooit koop nie, eerstens as gevolg van sy prys, tweedens omdat ons ouer generasie gevind het dat ons baaaie makliker in en uitklim by ‘n volwaardige SNV(SUV), en derdens omdat ek bietjie skepties staan jeens Sweede se houding omtrent SA. Voor ons weet waar ons staan onttrek hulle dalk weer van die SA mark.
    Weereens dankie, en mooiloop vorentoe.

    • Charles

      Dankie Andy. SNV=Sportnutsvoertuig:)

  • Als goed en wel, maar Volvo het die anti Apartheid bregade ondersteun en SA gesanksie, so al is dit ‘n goeie ryding kyk ek mense wat dit ry aan asof hulle Ebola draers is. Hou verby, my gehue is ne so kort nie

    • Charles

      Bakgat!
      🙂