‘1984’ bly bo-aan die blitsverkoperlyste

Deel op

George Orwell se distopiese roman, 1984, bly gewild, moontlik omdat die wêreld beweeg in die rigting van ‘n totalitêre staat met onophoudelike propaganda en sielkundige manipulasie, nes hy voorsien het.

Alvorens Orwell 1984 geskryf het, het hy tydens die Tweede Wêreldoorlog vir die Britse regering as ‘n propagandis gewerk.

Hy het aanvanklik die roman 1980 genoem, en daarna 1982, voordat hy op 1984 besluit het. Die boek is in 1948 geskryf, wat sommige laat glo dat hy bloot die laaste twee syfers van die jaartal omgeruil het. ‘n Ander titel wat hy oorweeg het, was glo The last man in Europe.

Orwell het vele elemente in sy boek aan Japannese propaganda ontleen. Die “Denkpolisie” in die boek is gegrond op die Japannese geheime polisie tydens die oorlogsjare wat mense goedsmoeds vir “onpatriotiese gedagtes” in hegtenis geneem het. Hul amptelike naam was Kempeitai, wat besig was met ‘n “denkoorlog”.

Terwyl Orwell besig was om die boek te skryf, is hy met tuberkulose gediagnoseer. Hy het sewe maande nadat 1984 gepubliseer is aan dié siekte gesterf.

Ondanks die feit dat Orwell se roman ‘n historiese blitsverkoper verteenwoordig, figureer dit steeds onder die wêreld se toptien van boeke wat die meeste verbied word. Dit skets die toekoms van ‘n samelewing sonder vrye wil, privaatheid en waarheid. Dit was ook ‘n bedekte aanval op Josef Stalin en die Sowjetheerser se berugte “middernagsuiwerings”. Daarom is 1984 ook dan in 1950 deur die Sowjetunie verbied, aangesien Stalin begryp het dat dit ‘n satire op sy leierskap was.

Terwyl vele mense die boek as “anti-kommunisties” sien, hou sommige vol dat dit “pro-kommunisties” is. Die ironie is dat ‘n boek wat waarsku teen totalitarisme dikwels gesensureer word deur… totalitariste.

In 2002 is Orwell se boek Animal Farm op skool in die Verenigde Arabiese Emirate verbied, omdat dit sekere dele bevat wat teen Islamitiese waardes indruis, waaronder die voorkoms van ‘n mensagtige, pratende vark.

Orwell is self deur die Britse regering dopgehou terwyl hy sy roman oor regeringsmonitering geskryf het. Die Britse regering was bekommerd dat Orwell oor “sosialistiese menings” beskik het nadat hy The road to Wigan Pier, ‘n ware verhaal oor armoede en die toestand van die laer klas in Engeland, gepubliseer het.

Hoewel Suid-Afrika oor die afgelope paar dekades gebuk gaan onder ‘n intense propagandastryd en die land tans insgelyks neig in die rigting van ‘n totalitêre distopie, is 1984 nog nooit in Afrikaans vertaal nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.