Graderingsagentskap halveer SA se groeivooruitsigte

Deel op

Die graderingsagentskap Fitch het Suid-Afrika se groeivooruitsigte vir 2017 gehalveer tot 0,6 persent weens die land se swak ekonomiese vertoning en voortgesette politieke veldtog teen president Zuma.

Fitch waarsku dat die beoogde verandering aan die wetgewing oor myneienaarskap dui op radikale populisme wat dreig om ekonomiese beleid te oorskadu.

Fitch het ook die Minister van Finansies, Malusi Gigaba, se 14-punt-plan om ekonimiese groei te bevorder gekritiseer, en gesê baie van die voorstelle is ou nuus wat waarskynlik geen verskil sal maak nie.

Die plan om byvoorbeeld ook ‘n Nasionale Gesondheidsversekering in te stel, sal ‘n ramp wees, omdat die regering nie genoeg geld sal hê om dit te befonds nie, sê die Vryemarkstigting.

‘n Enkele verpligte mediese skema word voorgestel, terwyl privaat mediese skemas slegs aanvullende dienste sal lewer. ‘n Woordvoerder sê só ‘n nasionale versekeringsplan sal ‘n reuseskema wees, 25 keer groter as byvoorbeeld Discovery Health, en boonop onder staatsbestuur. Staatsinstansies soos die SAL en die Poskantoor sukkel reeds om kop bo water te hou omdat sulke instellings nie doeltreffend bestuur word nie, sê hy.

Sedert Maart verkeer Suid-Afrika in ‘n resessie te wyte aan voortdurende wanbestuur wat beleggersvertroue verder knou. Fitch het die land se skuld ná President Jacob Zuma se omstrede kabinetskommeling tot rommelstatus afgegradeer en dit in Junie herbevestig.

Intussen toon ‘n opname onder ekonome deur Bloomberg dat slegs drie uit 23 voorspel dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank die repokoers vandag sal verlaag.

Volgens inflasiesyfers wat gister bekendgemaak is, het inflasie in Junie meer as verwag teruggesak tot 5,1 persent vanaf die vorige maand op 5,4 persent. Die beleidskomitee sal later vandag sy besluit bekend maak.

Die meeste ekonome verwag dat die uitleenkoers onveranderd gelaat gaan word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.