Suidpunt: Vyftien besware rondom die ongelóóflike klug van verpligte Afrikataalklasse

Nie so lank gelede nie (22 September 2015 en 11 Julie 2017) hoor ek ‘n gesprek oor RSG op Praat Saam omtrent die infasering van ‘n Afrikataal in die grondslagfase in Anno Domini 2018, veral in die Wes-Kaap wat al dekades so te sê net Engels en Afrikaans as taalkeuse aanbied (met Duits en Latyn as opsionele byvakke in die voormalige Kaapprovinsie).

Van die probleme wat toe uitgewys word, is (potgooi, 22 September 2015):

– In 2000 het die loodsprojek gevou.
– Beskikbaarheid van bekwame onderwysers (op taalkundige vlak), want die Afrikataaldepartemente aan universiteite het in die verlede toegemaak. Sedert 1994 was daar geen belangstelling nie.
– Geen tot weinig leermateriaal en hulpmiddele. Selfs die materiaal wat ontwikkel is vir tweedetaalonderrig, kon nooit die proses loop om goedgekeur en op katalogusse te kom nie: provinsiale en nasionale regering wys elkeen vingers na mekaar.
– Finansies is ‘n probleem.
– Dit gaan klaar swaar om leerlinge sover te kry om Wiskunde te doen, laat staan nog ‘n Afrikataal.
– Dis reeds twintig jaar te laat.
– Die onderwysstelsel is nie buigsaam genoeg vir die implementering van hierdie nuwe stelsel nie.
– Moedertaalonderrig word nog steeds nie op elke vlak in elke vak deurgevoer nie. (En Wiskunde en wetenskap is steeds goor.)
– Hoe wil jy nog ‘n tweedetaal aanbied as geletterdheid in jou moedertaal reeds so vrot is?
– Verplasing van ouers met kinders na verskillende provinsies gaan ‘n groot agterstand hê vir die leerling in Graad 5+, a.g.v. die verskillende afgedwonge Afrikatale van die betrokke streke. Dis vyf jaar wat die leerling dan agterstallig is.* [*HIERDIE UITERS BELANGRIKE VRAAG IS NIE OPGEVOLG NIE!]

Vir al hierdie probleme het Michael le Cordeur ‘n kitsoplossing: ons moet handevat.

Op die potgooi van 11 deser word die gesprek toe voortgesit (slegs nuwe probleme word gelys):

– Dit is nie meer ‘n beleid nie, maar afgegradeer na ‘n strategie. (Want dit is nie meer haalbaar nie? Vae woorde, vae woorde!)
– Daar is twee stelsels: ‘n kommunikasietaal (derdetaal) vs. vak (keusetaal, tweedetaal). Om hierdie verskille nou by aan te pas gaan verdere hoofbrekens voor sorg.
– Daar word net heeltyd ondeurdag deur die staat eksperimenteer, alles moet gou deurgevoer word en in die proses word die kinders se toekoms opgemors.
– As een taal bo ‘n ander verhef word, is die ander moerig daaroor.
– Puntetoekennings word geweldig aangepas op skool, dis glad nie te sê die standaard is hoog nie.
– Die onderwysdepartement verwag die lesse moet deur onderwysers dan in Engels voorgelê word, omdat hulle skynbaar net Engels kan verstaan.
– Daar is gespesialiseerde onderwysers wat lankal afgelê is (oorbodig beskou word) wat nou plek soek.
– [Die potgooi word toe onderbreek deur ‘n advertensieveldtog deur ‘n inbeller (Karien) werksaam by die ATKV. Dit handel glo oor die veeltalige projekte in Soweto].

Die onderwerp vier sy tiende verjaarsdag sover my geheue terugstrek na 2007/2008. Terwyl ek as hoërskoolleerling nog tien jaar gelede doodbenoud gevrees het die nuwe skoliere sal my een voor wees wat taal betref, aangesien ek slegs Engels en Afrikaans op daardie stadium kon lees en skryf, het ek tot nuwe insigte gekom. Trouens, ek is heeltemal houtperddoodgerus. In hierdie brief stook en distilleer ek hierdie uiteenlopende warboel argumente in die koperketel tot een gram suiwer, dodelike rasionaliteit.

Ten eerste stel ek voor ons lesers gaan bietjie inkopies doen. Haal gerus ‘n pakkie kitspap van die rak af en aanskou die doos in diepte. Buiten Bokomo wat nog probeer om alle Suid-Afrikaanse tale te akkommodeer (Afrikaans ingesluit), sal jy opmerk die meeste maatskappye druk in swart ink die inhoud in Engels, Frans, Portugees en Arabies op die pakkie. Dus, die elitetale van Afrika. Die aansienlikes. Dit bly nie alleen by kitspap nie: pizzas, hoender, kassies vrugte, sakke hondekos, braaie, elektroniese toerusting, selfs sekere geneesmiddels het eksklusief hierdie tale op. Hierdie produkte is waarskynlik bestem vir die Afrikalande, miskien Brasilië en heel waarskynlik die Midde-Ooste. As die maatskappye (geld praat altyd die hardste!) hierdie vier tale dan belangrik vind, waarom moet ek dus ‘n plaaslike Afrikataal aanleer?

Ten tweede. Reeds volgens die Staatskoerant van 2 September 1992, No. 14250, bl.18, word gestel omtrent ‘n matrieksertifikaat:

“Behoudens die bepalings van paragraaf 11 (2), reik die Komitee van Hoofde ‘n vrystellingsertifikaat uit aan iemand wat in die eksamen van die eksaminerende liggame vermeld in Aanhangsel I geslaag het:

Met dien verstande dat- (b) so iemand by die vier of vyf vakke ten minste een vak ingesluit het, gekies uit elk van die onderstaande groepe:” [Groep I tot III]

Hiervan was Engels in ‘n aparte groep ingedeel, naamlik “Groep I”. “Groep II” het Afrikaans, Duits, Frans, Grieks, *Hebreeus*, Italiaans, Latyn, Nederlands, ens. ingesluit. Engels was daarmee ‘n VERPLIGTE matriektaalvak INGEVOLGE DIE WET in Suid-Afrika onder die laaste blanke regering. Gevolglik volg mense die pad van die minste weerstand: my moedertaal en Engels. Ek kan glad nie sê hoe lank hierdie wet uitgeoefen is en wat Kader Asmal alles aangevang het nie. Naledi Pandor het in haar tydperk (dis nou in my hoërskooljare 2004-2008) hierdie reël moontlik laat verslap: nou kon jy Zoeloe en Xhosa neem; Tswana en Afrikaans; of Engels en Afrikaans, ens. Die ou wet was dus oorbodig. Feitlik enige twee landstale kon jy dus nou neem en op die oog af is heelwat vryheid nou gegun. Maar eintlik ook nie. Hoekom nie? Want die meerderheid sou tog van nature Engels (die internasionale taal) kies, plus, reg geraai, hul moedertaal. Was daar byvoorbeeld ‘n internasionale taal soos Frans, glo ek sou ‘n handjievol Afrikaners tog Afrikaans en Frans geneem het, ten koste van Engels. (In Duitsland is daar byvoorbeeld Russies, Latyn, Frans, Italiaans, ens. om van te kies naas jou moedertaal, hoewel Engels al hoe meer ‘n gewilde tweedetaal word. ‘n Wêreld sonder Engels is dus nie heeltemal so ondenkbaar soos wat voorgegee word nie.).
Selfs in Joodse privaatskole in die Kaap word Engels (moedertaal) en Afrikaans Tweede Taal hoofsaaklik geneem, aangesien *Hebreeus* in geen bevoorregte posisie nou meer is soos gedurende Apartheid nie, en ook geen amptelike landstaal in Suid-Afrika is nie.

Ten derde het ek in die verlede die Zoeloeweergawe van News24.com ( http://isizulu.news24.com/ ) besoek. As jy drie, vier of meer as vyf kommentaarplasings sou vind by die meestal uit-Engels-vertaalde-berigte, kon jy jou gelukkig ag. Die Engelse weergawe is die plek waar almal wou wees. Gaan dan asseblief na “Le Figaro” se webwerf en geniet die honderde uiteenlopende gesonde en goed beredeneerde kommentaar op die blad. Wil Zoeloes in Zoeloe bedien word? Wil Franse in Frans bedien word? Watter keuse oefen dit op my tweedetaalkeuse uit? So ook, volgens Franke se navorsing in 2008 onder Duitsers in Natal, getiteld ““We call it Springbok-German!”: Language Contact in the German Communities in South Africa”, wil Zoeloes eerder Engels met vreemdes, soos blankes, praat. Nou waarom dan die moeite doen?

Ten vierde, dink jouself die volgende scenario in. Sakeman Khumalo het pas by D.F. Malan (CPT) aangeland en kom agter van sy bagasie het op Jan Smuts (JNB) agterweë gebly. Dit is nie sy skuld nie, maar wel die plaaslike lugredery s’n. Ook maar goed hy het sy goue Rolex by die huis in Sandton gelos. Khumalo is kniediep in die moeilikheid (die angssweet drup langs sy slape en skouerblaaie af), want môre het hy ‘n belangrike voorlegging hier in die Kaap wat wag en van die dokumente het hy in sy sleepkoffer tussen die klere verpak. Wanneer hy inderhaas ‘n personeellid genaamd Bettina nader, skets hy blitsvinnig sy krisissituasie. Minder as ‘n minuut later kry hy die slaperige antwoord: “Akskies meneer, I don’t speak foreign, but do you speak English?” Bettie het slegs ‘n paar woorde Xhosa op skool in die Wes-Kaap geleer. Zoeloe sou nou heel goed te pas kon kom. Maar die staat weet mos van beter.

Ten vyfde loop die plaaslike boekwinkels nou nie juis van plaaslike Afrikatale oor nie. Dit skep ‘n geweldige probleem indien Suidpunt nog van plan was om Zoeloe aan te leer (na aanleiding van die vierde beswaar). Want Suidpunt het ‘n rasende honger na NUTTIGE inligting. Worldcat.org wys die meerderheid inligting waarna hy soek is beslis nie in ‘n Afrikataal nie. Diderot se brief aan Koningin Katharina II (die Grote) waarin hy die voorgestelde leerplan vir Rusland uiteensit kan vandag nog gelees word (in tydlose, formele Frans) by Wikisource. Middeleeuse manuskripte in bevrore Latyn en solder-Duits is openlik en gratis te kry op die web. Suidpunt hou daarvan om kronologies inligting onder mekaar te stip om die wendinge, verkeerde en regte besluite, asook verspeelde kanse te isoleer, met oranje potlood te omkring, te begryp en die saak af te handel. Daarteenoor is die vertaalde boeke (vernaamlik uit Engels) in Zoeloe verblydend, hoewel nie juis eweredig oor die land versprei nie. Steeds beter as Xhosa, waar daar so te sê niks aangaan nie. Radiodienste in die Wes-Kaap is natuurlik nie juis in Zoeloe beskikbaar nie. SABC 1 is maar die enkele luister- en kykgenot.

Ten sesde twyfel ek sterk of die Ontvanger van Inkomste en ander staatsdienste die openbaar oornag in 11 amptelike tale gaan begin bedien. So ook die howe. So ook ons universiteite. DIT WAS IMMERS TWEETALIG! So nou leer ‘n leerling dag en nag ‘n Afrikataal, om mee te wat? Om eendag vir die staat te gaan werk wat buitendien deur en deur Engels is? Sine qua non? Dis mos belaglik!

Ten sewende wonder ek of die Onderwysdepartement mens bonuspunte toeken vir moeilike suigklanke (die tongklap) en toontaal wat bemeester moet word tydens mondeling. Xhosa het beslis meer suigklanke as Zoeloe. Ook wonder mens hoe al die dialekte bemeester gaan word. Soos ek dit verstaan (in my onkunde) is daar in KwaZulu-Natal ‘n ander dialek wat op elke tweede heuwel gepraat word. Die brugkinders in Johannesburg praat ‘n ander dialek as die straatkinders in Soweto, wat almal verskil van die Standaardzoeloe wat op skool geleer word. Stel jou voor jy vra die koerantverkopertjie by die robot in verhewe Koningszoeloe die dagblad… Of op die sypaadjie: “Ek sou graag ‘n gebraaide mielie wil nuttig…” (!)

Ten agtste het ons ‘n probleem met die Afrikaans-Afrikataalwoordeboeke uit die Apartheidsera. ‘n Taal waarvan sy sprekers nie oor woordeboeke beskik nie, of dikwels nie almal eenvormig redelik hoog opgelei is nie (veral nie in daardie moedertaal wat styl, woordkeuse en sinsboufoute betref nie), het die neiging om blitssnel te verander. 27 jaar het verbygegaan waarvan so te sê slegs die tweetalige Xhosawoordeboeke ‘n matige ontwikkeling getoon het. Ons weet egter vertaling en taalaanleer handel rondom idees wat aangeleer en oorgedra word, nie oor-en-weer woordsoekery nie. Hierdie leksikografiese probleem is nou nog nie opgelos nie.

Ten negende het ek ‘n bietjie speurwerk gaan doen by ‘n paar ouer Transvalers op die Afrikaanse Wikipedia (almal ouer as 45 jaar). Ek het vir hulle spesifiek gevra of die Sotho- of Tswanaklasse van destyds (voor die rasionalisering van skoolvakke in 1992) hulle enigsins gehelp het om vir ‘n gebraaide mielie op die sypaadjie te vra om te koop. Die antwoord was elke keer nee. Hoekom? Want taal leer jy nie eintlik in die klaskamer of agter die lessenaar nie. Grammatika en geykte uitdrukkings (soos vir briewe) leer jy wel in woordeboeke en stylgidse en die klaskamer. Die woordeskat kry jy uit televisieprogramme, boeke en films. Die eintlike praatwerk, luisterwerk en skryfwerk ontwikkel eerstehands met MOEDERtaalsprekers in lewende lywe. Jy leer sodoende om op jou voete te dink, met genoeg druk. Dit was een van die grootste probleme met die Duitse klasse gedurende die 1970’s en vroeër in Suid-Afrika: die leerlinge is rypgedruk hoe om ‘n uiters ingewikkelde brief in Goethestyl (hoogs verouderd!) te skrywe, maar kon skaars vir iemand gelukwens met sy verjaarsdag. Hoekom? Want aan wie kon geskryf word? Met wie kon gedurende vakansies gepraat en geoefen word? Die enigste taal wat mens op jou eentjie in jou stowwe ou kamertjie kan leer, is natuurlik die afgestorwe tale: Latyn, Goties, Sanskrit en Oudgrieks. Dieselfde ou probleme wat ek by Wikipedia ( https://af.wikipedia.org/wiki/Duits_as_vreemde_taal#Suid-Afrika ) opgesom het, kan net weer herhaal word by die Afrikataalklasse.

Ten tiende is daar in Europa onweer aan die broei, wat lankal in Suid-Afrika met blou blitse en haelskade ‘n spoor van verwoesting saai. “Kulturele geletterdheid” – oftewel, die verskoning om taallesse en grammatika-oefeninge af te water. Die staatsverslag wat my nekhare laat regop staan is die Nederlandse “Het geheim van de blauwe broer”. Dit handel kortliks oor vertalings wat letterlik uit die Grieks en Latyn in die Nederlands vertaal word. Latyn en Grieks gebruik nou eenmaal uitdrukkings wat wildvreemd van die moderne wêreld s’n verskil. Hierdie woordgebruik verskil natuurlik in elke oorspronklike teks (en daar is duisende!). Pleks daarvan om langs elke versreël ‘n ordentlike verklarende voetnota te plaas (soos die Universiteit van Stellenbosch se “Tria Saecula”-reeks uit die 1980’s deur Smuts, Bruwer, Van Stekelenburg en Claassens), en die onderwyser by elke gedig en prosavers ORDENTLIK die agtergrond behandel, moet nou meer aandag aan “die antieke kultuur in die breë” afgestaan word. En Koning Alexander het die Tweede Kamer se besluit op meganiese wyse bekragtig.
Reeds in die 1970’s is daardie sakie by die Universiteit van Potchefstroom lankal uitsorteer wat Duits betref: as jy taal wil leer, is die hooffokus taal en letterkunde. En basta. As jy kultuur wil leer, leer jy kultuur (of gaan doen self naslaanwerk in die biblioteek in jou vrye tyd). Dink nou bietjie hoeveel tyd gaan nou afgestaan word om vir ‘n Westerse stedeling (dit sluit die Afrosaksers in) die Afrikakultuur te verduidelik, soos inisiasierituele (wat ‘n kultuurskok vir die Engelssprekende Afrosaksers!). Hierdie gebruike verskil van stam tot stam, dialek van dialek. Jy gaan van ‘n klomp gebruike leer, maar steeds nie ‘n woord kan praat nie. Erken dit nou maar – dit is waarop “tweede taal” en veral “derde taal” deesdae gewoonlik afstuur.

Ten elfde gaan hierdie taalaanleer deur vreemdelinge steeds nie die tekortkominge van tegniese begrippe en ander taalleemtes in die Afrikatale help nie. Aangesien die sprekers van Afrikatale hul eie tale nie kan red nie, word seker nou wag gemaak op redding elders. Le Cordeur praat in die potgooie immers van verantwoordelikheid teenoor ons landgenote(?). Nou die dag skryf ek aan ‘n Duits-/Franssprekende hoe ek sukkel om die regte Middeleeuse begrip in Afrikaans te kies. Moet ek nou die Latynse “judicium castri”, die Middelnederlandse “borchdinc” of die Duitse “Burgding” gebruik? Dit was eeue gelede ‘n regsitting wat in kastele gehou is. “Burgding” het gewen, omdat die woord die naaste aan moderne Afrikaans lyk. Wat die Afrikataal betref: sal meer leenwoorde soos hierdie uit Engels of Afrikaans eenvoudig oorgeneem moet word? Moet sprekers van kleiner Afrikatale nie eerder eers by magtiger Afrikatale soos Swahili gaan aanklop nie, soos Afrikaans en Nederlands nou nog by Engels en Duits gaan woorde leen nie? Dalk dink ek net te logies.

Ten twaalfde wonder ek eerlikwaar watter taalvoorbeelde geleer gaan word in die staatskole. In “Zoeloe vir Beginners” deur G.J. Griesel (1982, derde druk 1993) kry mens voorbeelde wat vandag absoluut polities inkorrek sou wees, aangesien die imperatief (gebiedende wyse) en ander taalgebruik in hierdie taalleerboekie uitsluitlik met tuinwerk en huiswerk verband hou:

Yimba umgodi (ngehalavu)! – Grawe ‘n gat (met ‘n graaf)!
Khipha ukhula! – Haal uit die onkruid!
Chelela izimbali! – Gooi die blomme nat!
Sika utshani! – Sny die gras!
Musa ukuayina ihembe lami! – Moenie my hemp stryk nie!
Uphi umshanelo? – Waar is die besem?

Nogal jammer, want die deurklokkie het in baie buurte nie ophou lui vir los werkies nie. Werk is steeds skaars. Aangesien die Afrikaners deesdae hul eie huiswerk en tuinwerk doen (en SASSA-geld die gonswoord in die media is), is vrae rondom liasseer- en afrolwerk eerder gepas teenoor hul kollegas, soos “Aphi amaphepha?” – “Waar is die papiere/koerante?”

Ten dertiende is daar soos by Afrikaans steeds géén standaardbewys soos wat mens by Europese tale kry nie; dit wil sê van A1 tot C2-sertifikate. Party mense leer sinsnedes Frans en Spaans net om by die lughawe vinnig ‘n roomys te koop, ander wil elke fyn nuanse tot op akademiese vlak ken. Hoe wil jy almal akkommodeer? En wie bepaal hoe sulke akademiese Zoeloe lyk, wie skryf die reëls voor vir akademiese Sotho, en presies waar kry mens ‘n ordentlike handboek in Xhosa? Is “tweedetaal Zoeloe” goed genoeg vir universiteit? Presies wat is “hoëvlak Setswana”? En steeds kan niemand my antwoord waar taalpraktisyns hulle opleiding vandaan kry nie.

Ten veertiende: ek is vas oortuig ons word al hoe meer van die buitewêreld afgesonder deur onverdunde en deurgedrukte Afrikanisering. Ek het self beleef hoe Spaans, Italiaans, Russies, Moderne Hebreeus en Duits aan Suid-Afrikaanse universiteite een na die ander toegeklap word. Uit prospektusse en vaktydskrifartikels kon ek self sien hoe ‘n universiteit soos Potch sedert 1980 begin verslap het: Duits en Frans en Latyn was skielik nie meer nodig om ‘n proefskrif te skryf nie. Alles ter wille van “Nasiebou” en “Samehorigheid” en “die vrede te bewaar”? Dit tel absoluut niks as daar geen gesonde veelsydige BUITELANDSE “kruisbestuiwing” en betrekkinge is om geld, kundigheid en kennis beskikbaar te stel om werk te kan verskaf nie.

Laastens, saam met baie luisteraars van RSG: Hoe gaan dit Afrikaans bevorder? AFRIKAANS EERSTE! Want beslis nie alle swart skole in byvoorbeeld die Wes-Kaap bied Afrikaans aan nie ( http://wcedemis.pgwc.gov.za/wced/findaschool.html ). Ek kan glad nie sien hoe hierdie strategie vir Afrikaans enige voordele inhou nie, aangesien, sover my kennis strek, Afrikaans nie as “voorheen benadeelde Afrikataal” gereken word nie. Of het die Departement nou skielik wel van plan verander?

Maar die vraag bly, steeds: WAAROM?

Hierdie paniekerige inwerkingstelling van Afrikatale sien ek met die eerste rede teen die lig van die Sensus 2011, toe daar ‘n daling van Afrikataalsprekers teenoor Afrikaans en Engels gestaan het. Volgens Statistiek Suid-Afrika se bevinding is Afrikaans en veral Engels as hoëfunksietale uitgesonder, waarvolgens heelwat swartes, bruines en blankes hul moedertaal sommer heeltemal afgeleer het om hul sosiale mobiliteit sodoende te verhoog. ‘Toekoms in eie taal: ‘n Risiko-ontleding van die Afrikaanse taalgemeenskap en vertrekpunte vir ’n taalstrategie’ (Jacobs, Langner & Steyn, Pretoria: FAK, 2013, 14p) kyk ook na die Afrikaanse taalgemeenskap se groei, wat alle rasse insluit. Nou wie so dom is om jou eie taal in te boet pleks van nog een of twee by te leer, gaan my verstand heeltemal te bowe. In Nederland moes jy voor 1968 sommer ses akademiese en buurlandstale leer: Frans, Duits, Latyn en Grieks, Engels, en Nederlands. Die kindertjies het gebars ja, maar dit het hul goed gedoen. En tog… Fries was in die meeste skole nie op die lys nie. Vandag nog nie. Net soos Wallies en Iers ook nie by elke skool in Londen is nie.

Die tweede rede is die wanpersepsie dat die ander Afrikatale in die verlede benadeel is en nou daarvoor moet vergoed word. O, nee, hierdie redenasie hou geen steek. Dit is louter twak. Elke tuisland kon sy eie taal na die beste van sy vermoë handhaaf, beslis uit skuldgevoel vol geld gepomp deur die Republiek van Suid-Afrika wat gedurig die muishond van die wêreld gemaak is. Hierdie tuislandregerings het egter uit pure “vermaak” juis Engels deurgevoer as tuislandstaal. En nou hou almal weer die bedelbak.

Die derde rede word elke keer opgehaal tydens 16 Junie met die Soweto-opstande. Ook hier het J.C. Steyn in sy boek “Tuiste in eie taal” (1981:288-300; 344-371) die saak volledig behandel. Daar was lankal ‘n golf opruiery reeds vanaf 1974 aan die gang wat momentum begin kry het, tesame met toenemende intimidasie selfs op skoolkinders. As jy ‘n hond wil slaan, soek jy maklik ‘n stok. 3 skoolvakke in Afrikaans in slegs die Noord-Transvaal in swart skole. Terwyl jy voor jou siel weet die Republiek van Suid-Afrika was buitendien streng tweetalig. Dis so goed ek trek Quebec toe en weier om Frans te leer. Genoeg rede tot gewelddadige opstand? Onsin.

Nee, hierdie aanval op Afrikaans strek veel langer terug. “Die Franse taal is in die kolonie nie “onderdruk” en “uitgeroei” nie, al is dié bewering ook dikwels gemaak deur mense wat ‘n regverdiging gesoek het vir die onderdrukking van Hollands vanaf kort na die tweede Engelse besetting in die Kaap.”, skryf Scholtz (1939, lees verder). Klink hierdie mite bekend? Die verengelsingsbeleid was daarom geregverdig deur die geskiedenis doelbewus te verdraai. Net soos hierdie Afrikaniseringsbeleid tans. Ek wil asseblief eers hierdie Franse mite weerlê, voordat ek afsluit.

Die waarheid kry ek in een boek uit Jan Rabie se boekeversameling wat ek hierdie jaar in Hermanus gekoop het (hy en Marjorie het vroeër ‘n klipgooi daarvandaan in Onrus gebly). Die boek is getiteld “Afrikaans uit die vroeë tyd” deur Prof. J. du P. Scholtz. Scholtz staan 9 bladsye af waar hy die saak uiteensit vanaf bl. 226 tot 234, geskryf vir “Die Burger” op 7 September 1939. Die artikel is getiteld: “Verdwyning van die Franse Taal in Suid-Afrika”.

1) Die Franse wou ten eerste apart bly van die Hollanders. Die Hugenote was veral in Drakenstein saamgekoek, want hulle wou ook nie uitmekaar woon nie. Die latere spyt om nie Nederlands te ken of meer leergeleenthede daartoe te hê nie was hul eie skuld. Dit was egter van die begin af onvermydelik om in die oorgrote meerderheid bevolking Nederlands- en Duitssprekendes op te los, veral in ag genome dat baie Hugenote reeds voor hul aankoms Nederlands geken het.
2) Die V.O.C. wou aanvanklik skoolmeesters onder die Franse instuur om die kinders in Hollands te laat skoolgaan. In die praktyk het daar niks van gekom nie (in potlood onderstreep deur Jan Rabie). Ons praat nou van die jaar 1691 en verder. Vergeleke met Stellenbosch wat met sy stigting eers tot 1700 moes wag vir ‘n Hollandse voorleser, kan mens moeilik praat van hardhandige behandeling van die Franse wat betref die voorsiening van ‘n Franssprekende dominee.
3) Selfs met ds. Pierre Simond wat terugkeer na Europa in 1702, het W.A. van der Stel die Here XVII gevra om ‘n predikant te stuur wat “die beijde in de duijtsche [d.w.s. Hollands] en France Taalen is ervaaren”. Herhaaldelik sou die Here XVII met elke versoek aanvanklik teëstribbel, maar dan tog die versoek toestaan. In die versoekskrif van die Drakensteinse kerkraad praat ons hier van 116 mense waarvan slegs 25 Hollands goed genoeg ken om die preke te verstaan. Of die getal doelbewus deur die Hugenote oordryf is, is onbekend.
4) In Drakenstein het dominee Paul Roux nog altyd voortgegaan om Franse dienste te hou. Op 8 Mei 1718 het die kerkraad nog gereël dat die Franse dienste elke Sondag net na die Hollandse een gehou moes word “al waar het ook voor een of twee menschen.” Op 7 Februarie 1723 was daar nog 25 of 26 Franse bejaardes oor wat Nederlands nie kon verstaan nie. Reeds op 10 Desember 1709 het die Politieke Raad die kerkraad van Drakenstein opgedra om voortaan geen stukke aan die regering meer in Frans te stuur nie, sodat die Franse taal na die dood van Paul Roux geen amptelike erkenning meer sal geniet nie. Niemand het beswaar daarteen gemaak nie.
5) “Teen 1725 was die Franse taal reeds op sterwe na dood. Die Franse sterrekundige De la Caille, wat in 1751 aan die Kaap was, vertel ons dat die oorspronklike vlugtelinge hul taal geleer het aan hul kinders, maar dié nie weer aan hul kinders nie, sodat hy niemand onder die veertig aangetref het wat nog Frans kon praat nie. Die Franssprekendes het hom verseker dat daar oor twintig jaar niemand sou wees wat nog Frans ken nie.” Die voorspelling is verkeerd bewys: “Toe die natuurondersoeker Le Vaillant in 1783 Franschhoek besoek, tref hy daar net een ou man aan wat nog Frans kon praat.”

Die vierde rede kan uit al bogenoemde redes saamgebind en saamgesnoer word. Die Departement van Onderwys het duidelik iemand in sy visier.

Dit is seker nie verkeerd om ‘n Afrikataal te wil leer uit suiwer belangstelling nie, maar…

gegewe die politiek wat daarmee gepaardgaan,

ten koste van ONS Europese tale aan ONS universiteite (wat ‘n eng, kleinsielige, bekrompe, kleinsteedse, verstandelik vertraagde, kleinlike, insulêre, krenterige, parogiale, kleinburgerlike, verstarde, bevooroordeelde, kleingeestige, verkrampte, benepe, bekveldse, takhaarse, hinterlandse en ingeteelde geweld word die begrip “universeel” nie aangedoen nie!),

ONS kosbare Europese erfenis in Grieks en Latyn wat veel meer te bied het as ‘n stuk afgekookte Pan-Afrika-Nasionalisme,

ONS TAAL wat benadeel en verketter word,

…gaan ek met leedvermaak op hierdie houtbankie kyk hoe dié raserige sirkusbus verbyjaag en met trompetgeskal om die volgende hoek wéér verongeluk. Ek sal selfs die bus se petrolgeld betaal om die “spectacle grandiose” te aanskou. Dis so vermaaklik! Nog ‘n keer! Nog ‘n keer!

Jy weet, die ou Franse elite het juis die spreekwoord gebruik: “descendre en moderne” (afsak na moderne). Dit was ‘n vreeslike skande om in die 1800’s Wiskunde en Wetenskap te neem ten koste van Latyn. As jy nie Latyn geneem het nie, was jy eenvoudig nie deel van die Franse room nie. Die ander sêding was: “monter en classique” (uitstyg na klassiek), wanneer ‘n begaafde kind van ‘n minder gegoede agtergrond die Latynse rigting ingeslaan het, weg van die moderne vakke af. Selfs vandag nog neem hoofsaaklik kinders uit “gegoede huise” nog Latyn in Frankryk. Dit laat my dus nou wonder: sou hierdie einste stywe en vername Franse hoëlui vandag agter geslote deure praat van “descendre en tribalisme”?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Mattewis Kat

    Ek het nie alles gelees nie want ek het eintlik net een beswaar: Die elektoraat het destyds in protes klippe gegooi en skole afgebrand om nie gratis Afrikaans te leer nie. Ek gaan vir seker dus nie ten duurste betaal om gedwing te word om my kinders se tyd te mors met internasionaal nuttelose tale nie. As hulle kapasiteit het vir nog ‘n taal, sal dit op ‘n relevante een soos Duits wees.

  • leonlemmer

    Suidpunt, my hartlike dank vir ‘n puik, gesaghebbende skrywe. (1) Die probleem is dat ons nuwe heersers “post-truth” is sodat rasionele argumente nie by hulle ingang vind nie. (2) In die nuwe Afrikaanse Woordelys en Spelreels (11de uitgawe, xxxiv, 757p, R450) wat pas deur Pharos gepubliseer is, verskyn die woord “handevat” steeds nie; ek skryf hom ook, soos jy, as een woord. (3) Aan Unisa was daar in die vorige eeu sowat ‘n halfdosyn departemente vir Afrikatale. Hulle het ‘n eie subfakulteit gehad. In die nuwe bedeling mag hulle nie ‘n aparte enklave wees nie en het hulle spoedig tot ‘n enkele departement gekrimp. Maar dit toon dat die “apartheidsregime” die kultuur van etnisiteite erken en bevorder het. (4) Sedert 1994 het verskeie departemente Afrikaans gesluit of is saamgebondel met tale soos Duits en Frans. (5) Die Soweto-opstand van 1976 word graag toegeskryf aan die opdringing van Afrikaans aan skoliere. Van volgende jaar af word ‘n swart Afrikataal egter aan skoliere opgedring; iets wat nog nooit (sover ek weet) vir Afrikaans gegeld het nie; selfs tydens apartheid is skole vir Asiate nie verplig om Afrikaans aan te bied nie. (6) Dalk is daar niks nuuts onder die son nie. Toe Barry Hertzog na die Anglo-Boere-oorlog die minister van onderwys in die Oranje-Vrystaat was, is Hollands en Engels gelykberegtig. Die verwyt was Hertzog “wou Hollands vir die stomme Engelse kind die keel indruk” (MER, My beskeie deel, Kaapstad: Tafelberg1976, p 168). (7) Die verpligte Afrikataal wat deur die ANC-regering aan skoliere opgedring gaan word, moet ‘n “voorheen benadeelde/gemarginaliseerde taal” wees, waarmee Afrikaans doelbewus uitgesluit word. Wat het dit daardie talle Afrikaansvoorvatters in die sak gebring wat alewig van Afrikaans ‘n Afrikataal probeer maak deur sy Nederlandse oorsprong sover moontlik te ontken of te verswyg? (8) Wat met die Hugenote se Frans in Suid-Afrika gebeur het, kan ongelukkig ‘n aanduiding wees van wat vorentoe met Afrikaans gaan gebeur.

  • Ou Transvaal

    Pragtig Suidpunt !! Kolskoot!!
    Dit kom telkens in jou skrywe navore hoe verbygaande van aard die Afrika hakkeltong is …..iets wat ek sterk wil beaam ….die Afrika tale gaan ophou bestaan ; hier in SA!!!

    • Suidpunt

      Wel, dis dieselfde pad wat Koranna, strandloper- en ander Khoisantale nou maar noodwendig volg as mens nie jou taal wil aanpas nie. Daar was hoeveel Duitse sendelinge wat moeite gedoen het om hierdie tale uit te bou, soos Johann H. Schmelen, Hans C. Knudsen, J. Theophilus Hahn, Rust, Vedder en J. George Kroenlein. Almal uit die 1700’s tot 1800’s. Alles tevergeefs.

  • Rooikop

    Kan ons hierdie nou gebruik om ook te begin protester?
    Daar is wel waarde daarin om ‘n afrikataal magtig te wees – jy kan verstaan as die bogger agter jou rug praat en jy kan hom in sy eie taal slegsê. Meer as dit – geen waarde nie.