Die Johannesburgse Metropolisiepolisie het motoriste gewaarsku om die omgewing naby die Diepsloot-lokasie te vermy aangesien oproeriges vanoggend brande gestig, asook motoriste onder die klippe gesteek het. Verkeer op die N14-deurpad en die R511, asook Summitweg is daardeur ontwrig.
‘n Verklaring deur Wayne Minnaar, hoof van die Johannesburgse Verkeersafdeling, lui soos volg:
“Die R511 tussen Sandton en Centurion word hierdeur geraak. Die pad moet geheel en al vermy word en die N14 van Krugersdorp af word ook geraak. Meer beamptes is na die toneel gestuur om verkeer te rig. Motoriste kan vanoggend van die N1 as ‘n alternatief gebruik maak.”
Polisie het van traanrook gebruik gemaak om onlusmakers uiteen te dryf. ‘n Twitter-gebruiker, Rachel Mojapelo, het die volgende selfoonvideo aanlyn geplaas.
Blykbaar wil inwoners van Diepsloot gratis water en elektrisiteit ontvang, en word die onluste dus deur die hoofstroommedia (HSM) as ‘n “diensleweringsbetoging” beskryf.