Suna Venter van RSG se liggaam in haar woonstel gevind

Suna Venter. Foto: Twitter.

Die bekende radiojoernalis en lid van die RSG-Monitorspan, Suna Venter, se ligaam is vanoggend in haar woonstel in Fairland, Johannesburg gevind, volgens ‘n persverklaring wat deur haar familie uitgereik is.

Venter was voorheen ernstig siek na ‘n besoek aan Sirië in 2012. Sy was ook een van die groep van agt joernaliste van die SAUK wat afgedank is omdat hulle nie die vorige hoof van die SAUK, Hlaudi Motsoeneng, se voorskrifte oor berigte aangaande gewelddadige betogings wou nakom nie. Sy en haar kollegas is egter deur die Arbeidshof in ‘n opspraakwekkende hofsaak heraangestel.

Luidens die verklaring deur haar familie is sy onlangs gediagnoseer met “streskardiomiopatie”, wat blykbaar deur lang tydperke van ongewone spanning veroorsaak word.

Suna Venter het in die onlangse verlede doodsdreigemente per sms ontvang. Sy is ook met ‘n windbuks in die gesig geskiet toe sy by ‘n kitskosrestaurant in Linden, Johannesburg, uitgestap het, waarna sy ‘n operasie moes ondergaan om die windbukskoeëls uit haar gesig te verwyder.

“Daar is verskeie kere by haar woonstel ingebreek, die remkabels van haar motor is gesny en haar motor se bande stukkend gekerf. Daar is op haar geskiet en sy is ontvoer en aan ‘n boom in Melvillekoppies vasgemaak terwyl die gras rondom haar aan die brand gesteek is,” lui die verklaring deur haar gesin verder.

Oor die afgelope jaar is sy ook drie keer aangerand.

Suna Venter was die dogter van dr. Phillip Venter, predikant van die NG Gemeente Fairland. Sy word verder oorleef deur haar moeder Christa, broer Wilhelm en suster Tessa.

Ná haar besoek en Sirië, was Suna Venter betrokke by die Moslem-liefdadigheidsorganisasie “Gift of the Givers” en het vervolgens Libië, die Gasastrook, Egipte en Sirië besoek.

Haar kollega Futa Krige sê: “Sy het soveel omgegee oor die situasie in Sirië dat sy net nadat die oorlog begin het, verlof by RSG geneem het om vanuit die oorlogsone verslag te doen.

“Sy was tot en met haar dood besorg oor die welsyn van die kinders wat sy tydens dié besoeke teëgekom het.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.