SA se rol in BRICS sink weens gebrek aan navorsing

Indien ‘n mens die verklaring van die Streekverteenwoordiger vir Asië en die Stille Oseaan-gebiede van die FAO
ná afloop van die 7de vergadering van die Ministers van landbou van die BRICS-lande op 16 Junie in Nanjing, China, verlede week saamlees met die jongste ekonomiese vooruitskatting van die OECD, dan dink ‘n mens onwillekeurig aan die Aspoestertjie-sprokie.

Die FAO maak groot gewag van die rol wat die vyf BRICS-lande kan speel in die globale heropbou van die ekonomie vanweë die omvang van die vyf lande se bydraes tot die wêreld. Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika huisves gesamentlik meer as 40% van die wêreld se bevolking en is vir meer as 20% van globale GBP verantwoordelik. Meer as een derde van die wêreld se graan word deur dié vyf geproduseer en Rusland het in 2015 die wêreld se grootste koring-uitvoerder geword. Daar kan dus verwag word dat die BRICS-lande ‘n betekenisvolle en leidende rol kan speel om honger en armoede te verlig, soos vervat in die Millennium-doelwitte vir 2030.

Die jongste vooruitskatting van die OECD dui op matige positiewe, beduidend ongelyke globale ekonomiese groei, maar dat die verwagte voordele nie genoeg mense outomaties kan bevoordeel nie.

Wat verblydend is, is die betekenisvolle sterk groei wat in van die BRICS-lande verwag word – van meer as 7% in Indië en China se net meer as 6.5% (al sal die groeikoers na verwagting verder maar gering daal). Vir Brasilië verwag die OECD ‘n positiewe groeikoers van 1.6% vanjaar, terwyl Suid-Afrika die bus verpas met afwaarts aangepaste groeiverwagtinge. Die vraag na uitvoer uit die BRICS-lande kan kop optel met die Euro-ekonomie wat meer as 2% kan groei, terwyl Amerika ook kan uitsien na die voordele van positiewe ekonomiese groei. Wat egter van fundamentele belang is, is dat verwagte groei ander drywers gaan hê, met duidelike waarskuwings aan die regering om nie selfvoldaan agteroor te sit nie.

Ekonomiese groei sal hoofsaaklik tegnologies gedrewe wees met kwalitatiewe verbetering in die gehalte van die kapitaal wat aangewend gaan word. Dit sal die nodige produktiwiteit ‘n hupstoot gee met gevolglike uitsetspronge, wat nou so nodig is. Waardekettings gaan verdiepende integrasie ervaar, met selfs ‘n verlies aan werkgeleenthede, maar verbeterde opbrengste op die nuwe kapitaal wat belê moet word. In ontwikkelende lande kwel die onvermoë om te kan bestee en hoe dié verwagte surplus witmielie-oes in Suid-Afrika dus weggeëet kan word.

Die FAO maak gewag van die goeie status van landbounavorsing in die BRICS-lande, maar in April 2017 se ASTI verslag deur Nienke Beintema en Gert-Jan Stads: “A Comprehensive Overview of Investments and Human Resource Capacity in African Agricultural Research”, is die ontoereikende besteding op navorsing opvallend. Dit is ten spyte van die ondernemings van lande suid van die Sahara om jaarliks 10% van hul landboubegrotings op navorsing te spandeer – die Comprehensive Africa Agriculture Development Programme (CAADP) – ten einde 6% sektorale groei te bewerkstellig. Suid-Afrika is ‘n navorsing-arm land en bepaald nie in dieselfde liga as die ander BRICS-vennote nie. Indien Suid-Afrika gemeet sou word aan die maatstawwe vervat in die POLITICAL ECONOMY OF UNDERINVESTMENT IN AGRICULTURAL RESEARCH van Beintema en Stads, slaag ons die toets met onderskeiding. Navorsingbesteding in landbou deur die staat is betekenisvol minder as die toename in landbou se GBP – die landbounavorsing-intensiteitverhouding daal konstant. Dit is rondom 1%.

Terug by die sprokie en die prins se soeke na die eienares van die skoen is die immer gelukkige einde, maar met minder mooi toepasbaarheid al hier. Indien die oorwig van staatsbesteding bly fokus op veranderde grondgebruik soos versnelde grondhervorming waar produktiewe eenhede vir herverdeling onttrek word, die blote in-bedryf-stel van onbenutte plase in staatsbesit, en vele ander inisiatiewe, sal verbeterde tegniese doeltreffendheid as die belangrikste dryfveer vir groei in landbouproduksie en markontwikkeling as die prins, bloot verbyry en aspoestertjie sal bly vloere skrop.

Bron: Dr Kobus Laubscher, OFM Nuus

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Snel

    Ek wonder net hoe pas SA in met die landbou en hul GMO’s ?

  • Rooikop

    Gebrek aan navorsing? Eerder ‘n gebrek aan ‘n lewensvatbare ekonomie.

    • Dis moontlik maar net sagter en polities korrek gestel. Dit bly jammer dat SA en Afrika tog op terreine van tersaaklike prestasie uitsak, met toenemend-betreurenswaardige gevolge op die totale sosio-ekonomiese situasie.