‘n Nuwe verslag deur Europol het aan die lig gebring dat linkses meer geneig is tot terreur as hul konserwatiewe opposisie.
Dit weet enige Suid-Afrikaner al sedert die Rivonia-verhoor waar wit kommuniste en huidige “volksheld” Braam Fischer terreur gepleeg het om wittes uit die land te dryf.
Hul Europese eweknieë is min of meer besig met ‘n soortgelyke stryd.
Europol is die wetstoepassingsagentskap van die Europese Unie, met hul hoofkwartier in Den Haag, en getaak om die 28 EU-lidlande te beskerm in hul stryd teen ernstige internasionale misdaad en terrorisme.
Navorsers in die Verenigde State is ook bekommerd oor die opkoms van linkse terreur. “Ek dink ons is in ‘n tyd waar ons nie linkse ekstremisme kan ignoreer nie,” het Oren Segal, direkteur van die Sentrum vir Ekstremisme, gesê.
“As ons anti-fascistiese teenbetogings het – nie dat hulle dieselfde is as wit suprematiste nie – waar geweld by hierdie gebeure kan opduik, sien ons dat mense wat vanself gewelddadig is, daardeur aangetrokke is,” het Segal gesê.
Linkses in Europa het in 2016 ‘n hele 27 keer meer terreuraanvalle as konserwatiewes gepleeg. Die kamtige “gevaar” van konserwatiewes wat ‘n ekstremistiese bedreiging inhou is dus gewone warm lug.
Sowat 142 sulke terreuraanvalle het verlede jaar in Europa plaasgevind. Net een regse terreuraanval is vir die hele jaar aangeteken, terwyl 27 op linkses blameer word, volgens Europol.
Dertien aanvalle is op Islamitiese djihadiste geblameer, terwyl die meerderheid aanvalle, 99, as “separatistiese” aanvalle aangedui is.
Dodelike aanvalle wat tot die dood van onskuldige slagoffers gelei het, was amper uitsluitlik Islamities, met 135 van die 142 sterftes en 374 van die 379 beserings wat plaasgevind het as gevolg van djihadistiese terreur.
Na hierdie week se aanval op Moslemaanbidders naby ‘n moskee in Londen, was linkses vinnig om die ou verhaal van “gevaarlike regses” op te diep.
Brian Levin, ‘n voormalige NYPD-beampte wat nou spesialiseer in teen-ekstremisme, het aan VICE gesê dat die linkses ‘n baie groter bedreiging was toe hy gestuur is om ‘n KKK-byeenkoms verlede jaar te monitor net om te ontdek dat hy een van die Klansmen moes beskerm teen ‘n lid van Antifa.
“Op daardie stadium het ek gesê ons het iets aan die linkerkant wat besig is om te verhard,” het Levin gesê.