Swartes brand geskiedkundige Bloemfonteinstadsaal af

Die geskiedkundige stadsaal van Bloemfontein, wat as ‘n nasionale gedenkwaardigheid in Suid-Afrika geklassifiseer is, is gisteraand deur ongeveer ‘n duisend stakende munisipale werkers afgebrand. Die werkers behoort aan die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) en eis ‘n salarisverhoging van R2500 per maand.

Tot tien nuwe vullisverwyderingvragmotors van die munisipaliteit is gister gekaap en gebruik om amok te maak.

Laat gisteraand het die polisie gepoog om die werkers deur middel van skokgranate, water en rubberkoeëls te stuit, dog nie voordat die gebou aan die brand gesteek is nie.

Verbygaande motoriste is ook deur die onlusmakers onder die klippe gesteek. Blykbaar moes die nabygeleë Volksbladgebou ontruim word omdat brandalarms afgegaan het.

Die munisipale bestuurder, Tankiso Mea, het die skade kom besigtig maar wou nie kommentaar lewer nie.  Volgens hom sal hy en die burgemeester vandag ‘n verklaring uitreik waarin die gebeure onder die loep sal kom.

Die stadsaal van Bloemfontein is oorspronklik in 1883 opgerig toe die gebou deur die bekende Vrystaatse argitek van Duitse afkoms, Richard Wocke, ontwerp is. Hierdie gebou is egter in 1934 gesloop en deur die huidige gebou vervang.

 

Die munisipale werkers probeer die uitvoerende burgemeester van Bloemfontein, Olly Mlamleli, afpers om aan hulle ‘n verhoging van R2500 per maand toe te staan. Toe sy weier om so ‘n ooreenkoms te onderteken, het chaos losgebars.

Van die werkers het ook gesê: “Ons kan haar nie vertrou nie. Olly het k** gemaak en sy moet f**of. Olly moet voetsek.”

Daar word ook van oorlog gepraat. Volgens die werkers word hulle deur die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty (SAKP) en Sanco ondersteun.

‘n Woordvoerder van Samwu het gesê: “Olly het haar hond, Patrick Monyakoane, ‘n lid van die burgemeesterskomitee, wat blykbaar R900 000 per jaar met net ‘n laerskoolkwalifikasie verdien, op ons losgelaat. Ons gaan al ons honde op haar loslaat. Dinge gaan nooit weer normaal wees nie. Die oorlog het begin.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.