Die Instituut vir Rasse-Verhoudinge sê daar is meer mense in die land wat maatskaplike toelaes kry, as wat daar mense is wat werk het. Volgens die jongste verslag van die Instituut was daar in 2016 net meer as 15 komma vyf miljoen mense in die formele arbeidsmark, teenoor die sewentien miljoen mense wat toelaes ontvang. ‘n Ontleder by die Instituut, Gerbrandt van Heerden, sê terwyl die ekonomie verlangsaam, sal die regering dit toenemend moeilik vind om die toelaes uit te brei of te verhoog.
Van Heerden het bygevoeg:
“Die syfers is ‘n resep vir maatskaplike en politieke chaos. Met Suid-Afrika wat formeel in ‘n resessie verkeer, gaan die regering dit moeilik vind om die koste van maatskaplike toelaes te bekostig. Soos wat die ekonomie stangeer, en belastinginkomste verlangsaam, sal die vraag na toelaes toeneem. Die regering sal ander bestedingsvelde moet inkort om openbare eise om meer en hoër toelaes toe te staan. Ons voorspel dat dit tot veel hoër vlakke van gewelddadige betogings sal lei.”
Dit sal beteken dat die regering ander besteding sal moet inkort om aan die stygende vraag te voldoen. Hy sê besnoeiings aan dienslewering kan lei tot meer gewelddadige betogings.
Dieselfde verslag toon dat daar in 2001 sowat 12 494 000 mense in diens was en 3 993 133 wat toelaes ontvang het. Teen 2016 het die aantal mense wat toelaes ontvang egter met 328% gestyg terwyl dié met werk slegs 24% toegeneem het.