Die Suid-Afrikaanse rand het vanoggend verder verswak tot R13,10 per dollar nadat dit Maandag twee persent van sy waarde verloor het in reaksie op ‘n verklaring deur die openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, wat gesê het dat die Reserwebank nie meer die waarde van die geldeenheid in ag moet neem as dit kom by die “beskerming van die maatskaplike status van Suid-Afrikaanse burgers nie”.
Standard & Poor het gister gewaarsku dat indien die Reserwebank se onafhanklikheid aangetas sou word, sou die land se kredietgradering nog verder verlaag word. Wat skuld in buitelandse geldeenhede betref, verkeer Suid-Afrika reeds op sogenaamde “rommelstatus”-vlak.
Die vrystelling van die Mynbou-handves wat swart eienaarskap van myne van ‘n verpligte 25 persent tot 30 persent verhoog, speel ook ‘n rol by die negatiewe sentiment wat daar tans oor die rand bestaan.
Dit wil voorkom asof daar steeds kapitaal uit die land vloei, want die tekort op die lopende rekening het in die eerste kwartaal toegneem van 1,7% tot 2,1% van die BNP. Die tekort op die lopende rekening in die eerste kwartaal het toegeneem tot R92 miljard, ‘n syfer wat gister vrygestel is. Markontleders het verwag dat die syfer tussen R79 miljard en R85 miljard sou wees.
Daar word egter verwag dat die swak verbruikersvraag in die SA ekonomie die geldeenheid in die komende maande mag ondersteun, soos wat minder goedere ingevoer word.
Verskeie ANC-politici het oor die afgelope dae weereens die slagspreuk “radikale ekonomiese transformasie” herhaal, waaronder nasionalisering van bates verstaan moet word. President Jacob Zuma het ook op Jeugdag gesê dat die jeug “radikaal en revolusionêr” moet dink.