Brief: Het Afrikaans ‘n kat se kans op oorlewing?

Ek wil die soeklig laat val op persone en instansies wat veronderstel is om hulle vir die bevordering en oorlewing van Afrikaans te beywer maar skromelik versuim om dit te doen.

Op 13 November is ‘n brief van my onder die opskrif, “Waarom die Afrikaanse Taalraad nie ‘n Afrikaanse taalraad is nie,” op Praag (Menings/Briewe) gepubliseer. Dit was nadat Conrad Steenkamp, die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad (ATR), my op 1 November op LitNet uitgedaag het om my kritiek op die ATR op skrif te stel. Ek het daardie brief op 8 November en weer op die 10de na LitNet gestuur, maar dit is nie gepubliseer nie; vandaar die publikasie daarvan op Praag op die 13de. Die nie-publikasie van my standpunt op LitNet het aan Steenkamp die agterdeur gebied om glad nie op my verdoemende ATR-kritiek te reageer nie. Daar is ook geen aanduiding dat die ATR my besware in ag geneem en sedertdien verander het deur hom beter vir die bevordering van Afrikaans te posisioneer en toe te rus nie.

LitNet wat soos die ATR seker veronderstel is om Afrikaans te bevorder, het ook nie hervorm nie. Op 23 Mei het Andries Visagie ‘n artikel onder die opskrif, “‘n Visie vir Afrikaans,” op LitNet gepubliseer. ‘n Engelse weergawe met die opskrif, “A vision for Afrikaans,” is op 1 Junie op dieselfde webwerf gepubliseer. Dit impliseer seker dat LitNet hou van wat Visagie geskryf het of dat daar geen wesenlike beswaar daarteen is nie.

Visagie is ‘n Afrikaansdosent aan die Universiteit Stellenbosch (US). Sy doktorale proefskrif handel oor manlike subjektiwiteit in die Afrikaanse prosa van 1980 tot 2000. Sy navorsing is gerig op gender en seksualiteit. Hierdie inligting word op LitNet verskaf. Visagie het bv Helena Gunter se bundel, Op ‘n plaas in Afrika (2007), bespreek; veral die “gekwelde seksualiteit” daarin (12.03.2008). Gunter se taalgebruik is volgens Visagie “verfrissend” en dan verskaf hy voorbeelde van haar vermenging van Afrikaans en Engels. Hy het ook Dot Serfontein se boek, Vrypas (2009), bespreek en dink dat Afrikanerkultuur in hierdie eeu nie agteruit hoef te staan vir dié in die vorige eeu nie (13.08.2009). Antjie Krog se skryfwerk vind klaarblyklik meer guns in sy oë as dié van haar ma, Dot Serfontein. Dit lyk asof Visagie sorg dat hy ‘n polities byderwetse indruk wek. Dalk spreek dit eerder van ‘n voorliefde vir randeiers. Hy het bv vroeër vanjaar (11-12 April) die leiding met ‘n simposium oor honde in die Suider-Afrikaanse literatuur (dus nie net in Afrikaans nie) geneem eerder as om oor ‘n meer aktuele saak soos Afrikaans aan die US te besin.

Ek het op 24 Mei kommentaar op Visagie se visie gelewer. Oor die wenslikheid om my reaksie te publiseer, het LitNet klaarblyklik ernstige bedenkinge gehad. Ek het later druk uitgeoefen deur te noem dat dit ingeligte, billike kommentaar is. My 24 Mei-kommentaar is toe op 30 Mei onveranderd gepubliseer. Daarna het ek beswaar gemaak dat min lesers weens die vertraging my kommentaar sou lees, maar daardie reaksie van my is nie gepubliseer nie. Ek en seker baie ander LitNet-lesers neem daagliks op weeksdae kennis van die jongste kommentaar. Kommentaar wat soos myne dae lank vertraag word, kom egter nie só onder die aandag van sulke lesers nie omdat dit verskyn asof dit op die oorspronklike datum gepubliseer is. My afleiding is dat LitNet verkies dat so min moontlik lesers kennis neem van wat ek oor die Visagie-visie geskryf het. Byvoorbeeld, weens die vertraging het my kommentaar nie in die weeklikse LitNet-nuusbrief verskyn nie. In die volgende drie paragrawe haal ek my gewraakte kommentaar volledig aan.

“Vir my was die verstommendste aspek van die US-taalstryd seker die skynbare onbetrokkenheid van die Afrikaansdosente. Ek herinner my ‘n enkele brief in Die Burger waarin Visagie vir Afrikaans in die bres getree het en toe was dit eintlik reeds te laat. Onlangs het die departementshoof tydens ‘n openbare byeenkoms eerder voorbrand vir meertaligheid (dus ook vir Engels) as vir Afrikaans gemaak. Ek vra my af: Waarom bevorder Afrikaansdosente en ander Afrikaanssprekendes ander tale terwyl nie-Afrikaanssprekendes (feitlik) nooit die saak van Afrikaans bepleit nie? ‘n Hoogleraar in Afrikaans het jare lank (tydens die rektorskap van Chris Brink en Russel Botman en tot in Wim de Villiers se termyn) uit die Taalsentrum en talle taalkomitees vertel hoe fantasties goed taal aan die US bestuur word, gevolglik was dit glo onnodig om oor Afrikaans bekommerd te wees. Pieter Kapp het gesaghebbend oor hierdie gebeure in sy boek, Maties en Afrikaans (Pretoria: Protea Boekhuis, 2013), geskryf. Het daar al ooit ‘n teregwysing hieroor uit die Departement Afrikaans opgeklink? Was die rol wat die dosente in hierdie departement in die US-taalstryd gespeel het enigsins vergelykbaar met die positiewe invloed wat daar van ‘n enkele persoon, die historikus Hermann Giliomee, uitgegaan het? Wanneer die rektor in sy intreerede sê “Stellenbosch is nie ‘n Afrikaanse universiteit nie” en hierdie stelling in daaropvolgende toesprake herhaal en dit kort daarna letterlik die waarheid probeer maak, het daar telkens luide beswaar uit die US se Departement Afrikaans opgeklink of was daar dawerende stilte? Almal wat erns met Afrikaans maak, kan volgens Visagie ‘n bydrae lewer. Het die US se Departement Afrikaans rede om trots op sy bydrae tot die US-taalstryd te wees of behoort daar veel eerder verootmoediging en skaamte te wees?

“Visagie se rede word gekenmerk deur politieke byderwetsheid. Hy prys die pro-Afrikaanse rol van instansies soos die ATKV, ATR, VVA en SBA. Hulle almal gee myns insiens voorkeur aan Afrikaansvariëteite, meertaligheid en ‘n politieke ideaal, versoening, bo die heil van Standaardafrikaans. Soos hulle wil Visagie van Afrikaans ‘n versoeningstaal maak. Soos hierdie instansies vind hy Kaaps opwindend en as iets wat bevorder moet word. Soos die genoemde vier instansies rep hy polities byderwets nie ‘n woord oor taalsuiwerheid nie. Terselfdertyd verskaf hy egter (en tereg) hierdie riglyn: “Streef daarna om op alle gebiede gehalte in Afrikaans na te streef;” ook “uitnemendheid” en “‘n nuwe vasberadenheid om kwaliteit in Afrikaans te lewer.” Hy bepleit ook groter erkenning van variëteite soos Kaaps in Standaardafrikaans. Ek het nie beswaar as die drie Kaapswoorde wat hy as voorbeelde noem as Standaardafrikaans erken word nie [kwaailappies, dala (redeneer of doen) en haraam (verbode)]. Maar dit kan gerus onomwonde gestel word dat Kaaps in soverre dit met onnodige Engelse woorde besoedel is, absoluut onaanvaarbaar is; dat Kaaps in daardie opsig nie aan Visagie se gehalteriglyn voldoen nie; dat Kaaps ‘n wesenlike bedreiging inhou vir die voortbestaan van Afrikaans as ‘n taal wat duidelik van Engels onderskeibaar is. Visagie noem ook die SA Akademie en die FAK. Hierdie twee instansies het myns insiens ‘n meer sinvolle benadering tot Afrikaans as die vier waarna ek hier bo verwys het.

“Daar is ‘n lakmoestoets wat ons gerus in hierdie konteks kan toepas, deur Engels met Afrikaans te vergelyk. Word geradbraakte Engels aangemoedig of word korrekte Engels nagestreef? Waarom geld laasgenoemde nie deurgaans vir Afrikaans nie? Word die bestaan van Engelsvariëteite voortdurend beklemtoon en bevorder of word daar eerder in Standaardengels berus? Waarom dan nie eerder ‘n enkele evolueerende Standaardafrikaans ondersteun wat die doeltreffendste skans teen verswelging deur Engels bied nie? Waarom word daar grootliks sonder beswaar doelbewus met Afrikaans gemors maar nie met Engels nie? Myns insiens enersyds om Afrikaanssprekende blankes te tart. Andersyds doen sommige Afrikaanssprekende blankes lustig hieraan mee omdat hulle hulle selfrespek verloor het. Daar is in werklikheid baie dinge waarop Afrikaanssprekende blankes trots kan wees en Standaardafrikaans is ongetwyfeld een hiervan. Visagie noem dat skoolkinders nie die vrymoedigheid het om Kaaps te praat nie en daarom voorkeur aan Engels gee. Die oplossing is nie om Kaaps in sy geradbraakte vorm holus-bolus in Standaardafrikaans te inkorporeer nie maar om Kaaps van onnodige Engels te suiwer, dus dat tussen Standaardafrikaans en Standaardengels gekies moet word.”

Oor baie jare het ek LitNet ervaar as ‘n instansie wat langtand byt aan wat ek skryf. Om die moontlikheid van publikasie te bevorder, het ek doelbewus twee name uit my kommentaar gelaat. Die departementshoof waarna ek hier bo verwys, is Rufus Gouws. Hy is sedert 1980 aan die US verbonde maar geniet die twyfelagtige onderskeiding dat sy naam glad nie in Kapp se boek oor die US-taalstryd genoem word nie. Dus dat hy hom in daardie konteks nie positief of negatief oor Afrikaans uitgelaat het nie. Dit bevestig sy onaktiwiteit in ‘n taalstryd wat van deurslaggewende belang vir Afrikaans is.

Leon de Stadler is die hoogleraar in Afrikaans wat hoof van die US se Taalsentrum was en jare lank in taalkomitees gedien het en ‘n groot rol in die afskaling van Afrikaans en die huidige dominansie van Engels as onderrigmedium gespeel het. In 2002 het De Stadler “die versekering gegee dat Afrikaans die uitgangspunt van die US is, maar dat dit nie diversiteit en meertaligheid uitsluit nie” (Kapp, p 79). In ‘n berig in Die Burger (28.09.2002) het De Stadler “die versekering gegee … dat die Konsepplan US tot die bevordering van akademiese Afrikaans verbind. Afrikaans sal die primêre taal voorgraads wees en Engels nagraads” (86). Kapp verwys soos volg na ‘n berig in Die Burger (14.11.2002): “Die Rektor [Chris Brink] was die spreker [op ‘n vergadering van die US-Konvokasie] en daar is algemeen verwag dat hy sy Taalvisie van Junie sou stel. As voorspel het Leon de Stadler opdrag gehad om in ‘n personderhoud wat daardie oggend gepubliseer is, voorbrand te maak vir die US as ‘n Afrikaanse universiteit wat meertaligheid bevorder sonder om die kritiese vrae te hanteer” (88), bv “Waarom word Afrikaans nie ook die verstektaal op nagraadse vlak nie?” (87). In sy toespraak het Brink die versekering gegee “dat die US nie op ‘n glybaan na verengelsing is nie en dat hy altyd sy verbintenis met Afrikaans sal behou” (88). Dit toon hoe De Stadler hartlik met Brink se ondermyning van Afrikaans saamgewerk het.

De Stadler het sy samewerking ook verleen aan Russel Botman en Wim de Villiers se veldtogte teen Afrikaans ter bevordering van Engels. Dit is algemeen bekend dat die US-Konvokasie met Kapp as voorsitter sterk pro-Afrikaans gesind was. Dit is klaarblyklik om hierdie rede dat De Stadler, wat in ‘n leidende hoedanigheid by die afskaling van Afrikaans betrokke was, kontak met die Konvokasie vermy het. Oor die gebeure in 2007, toe Botman die rektor was, skryf Kapp: “De Stadler het vir die eerste keer onderneem dat die Taalhersieningsgroep met die Konvokasie in gesprek sal tree – die eerste en enigste gesprek het op 8 Februarie plaasgevind” (156). Kapp sê van die ANC-aktivis Botman: “Botman het gekonsentreer op die niewit ervaring van Afrikaans as onderdrukkerstaal” (156). Met so ‘n mens het De Stadler myns insiens gemene saak ten koste van Afrikaans gemaak. “In ‘n poging om steun vir die voorgestelde beleid te wen, het Botman op 16 Oktober 2007 ‘n ‘raadplegingsessie’ met die vyf statutêre liggame belê waarin hy en Leon de Stadler van die Taalsentrum probeer verduidelik het dat die beleid nie veel verskil van die 2002-beleid nie, behalwe vir die desentralisasie na fakulteite” (160). Desentralisasie was presies waarteen die Konvokasiebestuur dit gehad het. Die Konvokasie het “nog deurgaans daarop aangedring dat die beleid eerlik en konsekwent moet wees en geen ruimte moet laat om deur dosente en Bestuurslede gemanipuleer te word nie” (160).

In 2009 het De Stadler “selfs die openhartige en eerlike debat [oor Afrikaans aan die US] as ‘n gevaar vir Afrikaans beskryf en gespog dat die US se taalbeleid ‘die leiding neem onder Suid-Afrikaanse universiteite’ want dit is ‘n ‘unieke, innoverende taalbeplaningsprogram'” (180). “Christo van der Rheede wil dan, soos Leon de Stadler, ‘n onderskeid maak tussen taal en mense. Hy veg vir mense, nie vir ‘n taal nie” (Kapp, p 185; Rapport 7.02.2010). Sedertdien het die mense (“the people”) aan die US gewen en Afrikaans het die taalstryd verloor. Is dit moontlik vir enige egte Afrikaner en veral vir ‘n Afrikaansdosent om hiermee vir lief te neem?

In 2010 was daar die Vredenheim-beraad oor die US se taalbeleid. “Proff Magda Fourie [toe ‘n viserektor wat haarself daarna gediskwaliseer en die pos ontruim het] en Leon de Stadler se optredes namens die US-rektor [Botman] was nie oortuigend nie” (201). De Stadler het “dit veral gehad teen wat genoem word taalgesentreerde onderrig, omdat onderrig binne ‘n sosiale, politieke, godsdienstige, demografiese, opvoedkundige en kulturele omgewing ontwikkel moet word … Vir hom was Stellenbosch se swak diversiteitsprofiel ‘n bepalende faktor” (220); dus weer eens De Stadler se beklemtoning van “die mense” eerder as Afrikaans. De Stadler “erken dat die minderheidstaal in die proses kan seerkry, maar die US volg ‘n goed bestuurde model wat sal verseker dat probleme billik hanteer word” (220). Van een ding kan De Stadler nie beskuldig word nie: dat hy partydig vir Afrikaans was. Myns insiens het hy oor baie jare die posisie van Afrikaans aan die US deurlopend ondermyn. Daarin was hy ‘n lojale ondersteuner van die drie anti-Afrikaanse rektore wat die US in onlangse jare agtereenvolgens aangestel het: Chris Brink, Russel Botman en Wim de Villiers.

Hoe kry ‘n Afrikaansdosent dit reg om met ‘n anti-Afrikaanse erflating saam te leef? My reaksie van 24 Mei (wat ek hierbo aangehaal het) het geen reaksie van Visagie ontlok nie. Op 8 Junie het ek die saak op LitNet, onder die Engelse weergawe van Visagie se teks, soos volg aangepor: “Oor twee verdere sake sou ek graag inligting wou ontvang. Wat het die Departement Afrikaans aan die US alles in 2015 gedoen ter herdenking van die dood van Jan Marais ‘n eeu tevore? Wat beoog hierdie departement om te doen ter bevordering van Afrikaans en die nagedagtenis van Jan Marais wanneer die US volgende jaar sy eeufees vier?” Nogeens geen reaksie uit die US se Departement Afrikaans nie. Sover bekend het daardie departement in 2015 niks (noemenswaardig) in hierdie verband gedoen nie. ‘n Mens kan redeneer dit is water wat reeds onder die brug gevloei het. Maar 2018 lê nog voor en daar is in hierdie opsig insgelyks blykbaar geen aktiwiteit deur die Afrikaansdosente in die vooruitsig nie. ‘n Oud-dosent van daardie departement, die digteres Lina Spies, was en is steeds bereid om saam met Hermann Giliomee vir Afrikaans aan die US te stry. Maar die huidige dosente verkies blykbaar almal om in hierdie opsig in onaktiwiteit uit te munt.

Jan Marais het met sy skenking die stigting van die US moontlik gemaak. Hy het die uiters redelike voorwaarde gestel dat Hollands/Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels aan daardie inrigting mag beklee nie. Dit is hierdie voorwaarde wat deesdae goedsmoeds geïgnoreer word sonder om die elementêre integriteit te hê om dit ruiterlik te erken en ‘n poging aan te wend om hierdie doelbewuste versuim moreel te regverdig. Die etiekkolos Anton van Niekerk, wat oor allerhande sake gesaghebbende etiese uitsprake probeer lewer, is oor hierdie kardinale saak tjoepstil terwyl hy myns insiens skuldig is aan ‘n reuse aandeel in die verengelsing van die US.

Willie Esterhuyse, ‘n Thabo Mbeki-agterryer, het sy net selfs wyer gespan toe hy in 1995 heftig beswaar teen die bestaan van vyf Afrikaanse universiteite gemaak het (Kapp, p 63). Ek wag steeds dat Esterhuyse sy tevredenheid uitspreek oor wat hy bereik het. Ek sou veral graag wou weet hoe die twee filosowe, Anton van Niekerk en Willie Esterhuyse, die skade wat hulle Afrikaans en die Afrikanerdom aangedoen het met hulle gewetes versoen. Of soek ek gewetes waar daar net gewetenloosheid is?

Deesdae word dikwels beweer dat daar nog net een universiteitskampus is (dus nie ‘n universiteit in sy geheel nie) wat oorwegend Afrikaans is en dit is die Potchefstroom-kampus van die Noordwes Universiteit. Maar dit val op dat poste op daardie kampus al hoe meer slegs in Engels in Afrikaanse koerante geadverteer word. Die waarheid is dat daar in die ganse wêreld nie meer ‘n enkele universiteit oor is wat oorwegend Afrikaans is nie. Is dit ‘n nalatenskap waarmee ‘n mens soos Willie Esterhuyse (gemaklik) kan saamleef?

Tydens die herdenking in 2015 van Jan Marais se afsterwe ‘n eeu tevore was nie net die US se Departement Afrikaans onaktief nie maar die US in sy geheel; klaarblyklik veral weens die rektor, Wim de Villiers, se afkeer van Afrikaans as onderrigmedium. Teen die einde van die Woordfees in 2015 het Ton Vosloo oor die middaguur ‘n lesing oor Jan Marais gelewer maar grootliks uit die oogpunt van die stigting van Nasionale Pers; dus nie soseer oor die US nie. Die direksie van Het Jan Marais Nationale Fonds (HJMNF) het ‘n kranslegging by Marais se graf gereël asook ‘n huldigingsbyeenkoms in Marais se eertydse Coetzenburg-woning. Op die US-kampus was daar geen (amptelike) byeenkoms of kranslegging by die Marais-standbeeld op die Marais-plein nie. Selfs hierdie plein word eerder die Rooiplein genoem.

Dit is heeltemal moontlik dat die US dit volgende jaar gaan beWIMpel dat daar amptelik weer oor Jan Marais geswyg word. Daar is immers geen manier hoe die huidige verengelsingsbeleid met Marais se stigtingsvoorwaarde versoen kan word nie. HJMNF-trustees sal seker maar weer die leiding ter huldiging van Marais moet neem. Waarvoor ek HJMNF verkwalik is dat ter wille van multikulturaliteit toegelaat is dat ‘n trustee in die direksie dien wat glad nie Jan Marais se wense eerbiedig nie. Michael le Cordeur het hom openlik ten gunste van Wim de Villiers se verengelsingsbeleid uitgespreek. Dit is voor die hand liggend dat geen mens ‘n HJMNF-trustee kan wees en terselfdertyd verkondig dat Engels maar prominenter as Afrikaans aan die US mag wees nie. HJMNF-trustees is dit aan Jan Marais se nagedagtenis verskuldig om voor 2018 permanent van Le Cordeur as trustee ontslae te raak.

Die ATKV is van huis uit en ook ingevolge sy naam veronderstel om Afrikaans en Afrikanerkultuur te bevorder. Onlangs het Japie Gouws, die uittredende uitvoerende hoof van die ATKV gesê: “Ons moenie veg vir Afrikaans nie” (Die Burger, By, 25 Mei, p 2). Die polities byderwetse Gerhard van Huyssteen, ‘n Afrikaansdosent op Potchefstroom en die voorsitter van die SA Akademie se Taalkommisie (hy dien op daardie kommissie – nie in dit nie) – ‘n hondeliefhebber soos Visagie en met selferkende “eienaardighede” – het in sy Beeld-rubriek dit onomwonde gestel dat hy, soos Japie Gouws, nie bereid is om vir Afrikaans te veg nie. Dit is blykbaar in orde as ‘n mens danksy Afrikaans jou brood verdien, maar moet tog nie verwag dat so iemand sy politieke byderwetsheid moet versaak om vir Afrikaans te veg nie. Verknogtheid aan linkse politiek is vir sulke mense belangriker as die heil van Afrikaans. ‘n Ander Afrikaansdosent op Potchefstroom, Wannie Carstens, het as raadslid darem vir Afrikaans aan die US geveg, maar hy het self sy hande agter sy rug vasgebind met sy vooropstelling van meertaligheid, Afrikaansvariëteite, geradbraakte “Afrikaans” in die vorm van Kaaps en politieke versoening. By kernsake soos taalsuiwerheid en onderrig in Afrikaans as die onvervreembare reg van blankes kom hy nie uit nie. Paternalisties pleit hy vir onderrig in Afrikaans vir bruin mense.

Die punt waarby ek wou uitkom, is: As die nat hout (bv dosente wat loopbaangewys, ampshalwe, om den brode met Afrikaans te make het) nie genoeg vir Afrikaans omgee sodat hulle bereid is om daarvoor te veg nie, watter hoop is daar dat die droë hout (diegene wat nie so direk met Afrikaans gemoeid is nie) ten behoewe van Afrikaans gaan vlamvat? Is dit nie hoogswaarskynlik dat Afrikaans weens politieke byderwetsheid en doodgewone slapgattigheid onder sal gaan nie? Dit is sekerlik nie te laat om sonder omhaal van woorde teen hierdie elemente te velde te trek nie.

— Johannes Comestor

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Vicky

    Antwoord: Nee

    • Johann Schutte

      Antwoord: Ja

      Daar’s die evidensiele ewewig nou herstel.
      Sien op na jou volgende sinnelose mompeling.

      • Rifrug

        Dankie vir die ewewig herstelling. Ek stem met jou saam dat Afrikaans beslis ‘n kans op oorlewing het. Die ATKV en ATR is net gekaap deur Kaaps …

        • Karel Combrinck

          Wat is nie gekaap nie?

          • Rifrug

            Praag

  • Vicky

    Hoe kan n taal bestaan as die mense wie daai taal praat nie oor eie land beskik nie?

    • sussie se vissie

      Maklik.
      Jy sit in Oostenryk….en roggel Austrikaans. ( ghum-ghum style )
      PS.
      Vra jou GROOT liefde.

      • Baas

        Tsk tsk, Berty boy.

        Gee Roodt jou nog steeds die IPs van die mense wat op Praag kommentaar lewer?

        Stoute klein agterbakse kaboutertjies.

        praag.co.za/?p=24576

        (Sien kommentare onder BertO /Uhuru Guru)

  • Suidpunt

    Baie dankie, dit vul my eie brief van Sondag geweldig baie aan.

    “Dit is blykbaar in orde as ‘n mens danksy Afrikaans jou brood verdien, maar moet tog nie verwag dat so iemand sy politieke byderwetsheid moet versaak om vir Afrikaans te veg nie.”

    En DIT, liewe lesers, is waar die doodgewone outjies soos ons, en dié akademici, se paaie skei. Die enigste ding waaroor hulle omgee is hul eie naam en aansien. NIE NUT OF DIENS AAN ANDERE NIE. GEEN CARITAS NIE. En wil mens jou met hierdie individue identifiseer? Die aanhaling is die grootste “sine qui non” (dit volg nie) wat ‘n werklikheid is. Dit is ‘n denkfout wat deur akademici met oorgawe uitgeleef word. Nie alleen laat hierdie dosente ‘n spoor van verwoesting agter hulle na nie, nie alleen verbrand hulle brûe wat hul voorgangers gebou het nie, hulle neem die brood uit die mond van die jongelinge wat hul opvolgers kon wees. Dit is die akademiese verskroeide aarde. Moenie ‘n voorbladartikel by Wikipedia in Afrikaans uit hulle toetsborde verwag nie – want sulke werwe het nie genoeg prestige na hulle sin nie. Inteendeel, moet géén wonderwerk uit hul hand verwag nie.

    • Hans Onrust

      Dus gewoon een omgekochte bende volks- en cultuur verraders en politiek correcte quasi wetenschappers waar ook de door linkse volksvijandigheid overgenomen uni’s in West Europa van uitpuilen.

      sine qua non ? (kunnen de juristen onder ons beamen) ‘zonder welke niet’.
      Mogelijk dat men inderdaad beter af is zonder hen en hun politiek correcte kosthuizen.
      Maar of zij de doodsteek aan Afrikaans kunnen uitdelen valt te betwijfelen.

  • Johanw

    Goed geskryf Johannes Comestor maar.. Afrikaans se oorlewing by US is nie vir Jan Alleman van soveel belang nie. Jan alleman verkrag Afrikaans deur ‘n onaardige mengeltaal deurspek met Engelse woorde en frases. Dit vind mens oral.. by Afrikaanse radiouitsendings en toenemend en oorweldigend in die algemene handel en wandel. Dit is waar die eintlike probleem lê met betrekking tot die voortbestaan van Afrikaans. Die US se taalbeleid is natuurlik van groot belang, so ook die taalbeleid van al die ander (voorheen Afrikaanse universiteite) akademiese instellings. Die vraag is hoe herstel ons Afrikaans onder die algemene Afrikaner en selfs net die Afrikaanssprekende (gekwalifiseerde uitdrukking)? Dit bring mens by die jou vraag ” Het Afrikaans ‘n kans op oorlewing”. Dan is die antwoord nee! Behalwe as die binne ‘n volkstaat kan herstel en taalwaardes daar bepaal en uitgeleef word!

    • Karel Combrinck

      Om by jou aan te sluit Johan, die Afrikaner het in 1994 doelbewus en skaamteloos gekapituleer. As ‘n volk eenmaal kapituleer, is dit baie moeilik, indien nie onmoonlik nie, om aspekte van sy vroeëre volksbestaan te reserveer. Dink maar weer aan Koning Lear. Die Afrikaanse taal was deel van ons voormalige Afrikanersoewereiniteit. Ek dink beide die soewereiniteit en die taal is nou daarmee heen;

      • Johanw

        Stem saam met die kapitulasie. Die interessantheid van soewereiniteit is dat dit as basis kan dien vir die verklaring van ‘n volkstaat vir volke wat ontneem is van hul vorige soewereiniteit. Alles vegbare punte om jou verklaring vir selfregering te regverdig. Maar o wee, die slim Afrikanerorganisasies stel nie navorsingseenhede saam om die sake te ondersoek nie.

    • Johann Schutte

      Alle tale verander radikaal oor tyd. Die variant van Engels in tiende eeu en die 20ste eeu is wedersyds onverstaanbaar:

      ‘Cnut cyning gret his arcebiscopas and his leod-biscopas and Þurcyl eorl and ealle his eorlas and ealne his þeodscype, twelfhynde and twyhynde, gehadode and læwede, on Englalande freondlice.’

      Vertaling:

      ‘Cnut, king, greets his archbishops and his lede'(people’s)’-bishops and Thorkell, earl, and all his earls and all his peopleship, greater (having a 1200 shilling weregild) and lesser (200 shilling weregild), hooded(ordained to priesthood) and lewd(lay), in England friendly.’

      Selfs Shakespeare is argaies en moeilik verstaanbaar.

      Aftrikaans sal voortbestaan in veranderde vorm. Ek vermoed dit gaan `n mengelmoes van Afrikaans en Engels wees. NP van Wyk Louw sal onvermydelik mettergaande verdwyn as toeganklike leesstof.

      Die groter vraag is of die Europese kultuur sal bly voortbestaan.

    • Karel Combrinck

      Stem saam, Johan, maar waar is die Volkstaat?

      • Johanw

        Dit is ook ‘n groot frustrasie. Daar is al heelwat volkstaatkaarte getrek wat sonder sukses verkoop is aan die Afrikanerpubliek. Dit is slegs binne die besondere kliek bekendgestel. Die volkstaat as alternatief begin by die grense van die voormalige Boere Republieke (+-13) en ‘n partisie voorstel deur die Tomlinson kommissie en ‘n reeks voorstelle die afgelope 20 jaar. Die Afrikaner Volksfront in die vroeë 90’s het begin met ‘n beoogde volkstaat gebied sowel as die Volkstaatraad wat in terme van die Interim Grondwet van 1993 gemagtig was om selfbeskikking vir Afrikaners te ondersoek. Dan word die sake van selfbeskikking met groot erns tydens strategiese komitee vergaderings bespreek. Die een organisasie soek vervaard na ‘n mandaat en die ander glo hul het die oplossing. Is eintlik komieklik wat aangaan.

        Die punt is daar is al heelwat werk gedoen om grense te bepaal. Ek het my voorkeure gebaseer op demografiese realisme maar ekonomiese realisme is net so belangrik. Die komitees moet byeenkom en konsolideer en praat met die Afrikaners. Om binne kliekverband te opereer is selfmoord.

  • Hans Onrust

    ‘Zonnewende’
    ‘Die son kom u kant weer op’

    Groet van nabij ‘der Brocken’

    Uit de vroege bronstijd de Hemelschijf van Nebra :

    https://www.youtube.com/watch?v=qkw_BiC9wQE

  • Johann Schutte

    Ek het die eerste keer bewus geword van taalverandering so ongeveer in st 6/7 met Van Bruggen se ‘Ampie’ (wat die gemiddelde st 7 kind vandag waarskynlik nie eers weet bestaan nie). Ek onthou bv my weersin in woorde soos ‘sôre’ (sorg) en ‘smoors’ of ‘smôrens’ (in die oggend). Langenhoven het bv. gebruik gemaak van ‘ekspres’ (met opset).

    Taalgebruik en uitspraak het baie vinnig verander na die politieke deformasie van die vroeë negentigs. Ek hoor tans selde Afrikaans, maar die uitspraak van bv ‘pa’ en ‘ma’ om soos ‘pô’ en ‘mô’ te klink val my altyd op, en irriteer my.

    Ek het onlangs na `n video van Dan en Karin Roodt gekyk, waarin hulle assimilasie van hierdie ‘vreemde’ uitsprake ook duidelik is. M.a.w. selfs Dan is die slagoffer van akoestiese kwaliteitsveranderinge.

    Vir die Hollanders klink Afrikaans blykbaar soos babataal. Vanuit my oogpunt as Afrikaner klink Hollands soms vir my so argaies soos Shakespeare.

    As jy verder terug gaan in Afrikaans se geskiedenis was woorde soos ‘banja’ (baie) blykbaar in algemene gebruik.

    Afrikaans in sy huidige vorm sal m.a.w. nie oorleef nie. Ek hoop meer vir die oorlewing van beskawing as Afrikaans, maar die versnelde tempo waarteen Afrikaans verander word het sonder twyfel die intensie om te vervlak. As jy bv. gaan kyk na Totius se psalm berymings vergeleke met die nuwe liedboek is die vervlakking vir my baie opvallend.