Brief: Kan Afrikaners saamwerk?

Die spreekwoord, “Want soos hy in sy siel bereken is, so is hy,“ beskryf nie net die omvang van ‘n man se volle wese nie, maar is so uitvoerig as om uit te strek tot elke bepaling en besonderheid van sy lewe. ‘n Man is letterlik wat hy dink, sy karakter is die totale som van al sy gedagtes.
Soos wat die plant groei, en nie kan onstaan sonder die saad nie, so groei elke daad van ‘n man uit die verborge saad van gedagtes, en kan nie daarsonder voortspruit nie. Dit geld sowel vir die dade wat “spontaan” en “onbedag” genoem word as dié wat met voorbedagtheid uitgevoer word. – James Allen, As a Man Thinketh

Afrikaners kan nie saamstaan nie, Afrikaners is lui, Afrikaners is afvallig, Afrikaners moet gestraf word.

Bogenoemde is stellings wat mens dikwels hoor van ons ouer geslagte. Trouens, mens hoor dit veel meer vanaf die ouer geslagte as van die jonges. Dit laat my dink dat sulke uitsprake “meme” is wat versprei is tydens ons oueres se vormingsjare, en dat hulle nou eenmaal daardie gedagtes nie kan ontgroei nie.

Hierdie probleem is redelik eenvoudig, dus gaan my brief gaan hierdie keer mooi kort wees.

Laat die leser hom verbeel dat daar ‘n bus vol rugbyspelers op pad is na ‘n groot wedstryd, en onderweg daarheen ry die bus per ongeluk deur ‘n lelike slaggat. Een band is stukkend en die busbestuurder vra die naaste passasier om hulp:

Bestuurder: “Passasier, kan jy en ‘n paar van jou kamerade gou kom help om die stukkende band te vervang?”

Passasier: “Meneer, nie ek óf my kamerade kan u kom help nie, want, u sien, ons elkeen het ‘n verskillende ideologie as dit kom by bande ruil, en boonop stem meeste van ons nie saam met die roete wat gekies is om ons by die wedstryd te bring nie, daarom is dit vir ons onmoontlik om u nou met u versoek te help. Miskien as ons ‘n demokratiese verkiesing hou…”

Die les is: ‘n mens se wil, jou gedagtegang, bepaal of mens wil saamwerk of nie.

Meeste van ons mense het al deelgeneem aan ‘n spansport, veral in hulle jeug. Daar is baie mense wat beginsels wat hulle uit hul gekose sport geleer het, toepas op sowel hulle privaat as hulle beroepslewens as volwassenes. Beginsels soos: goeie sportmanskap, die belange van die span bo dié van die individuele speler, oefening en voorbereiding om doeltreffend te kan presteer, ens. Tog sal dit meeste van hulle tussen die oë slaan as ek nou sê dat daardie beginsels net so geldig is vir hulle volksbestaan, en dat dit doelbewus so toegepas moet word.

Selfs die vergelyking met spansport is vir my oppervlakkig. ‘n Mens kan soveel spanne ruil as wat mens wil en net soveel deel wees van die eerste span as van die laaste. Dit is nie die geval met ‘n volk nie.

Nou sal enkele verskoppelinge seker nog steeds vir my in die kommentaar laat weet oor hoekom saamhorigheid onmoontlik is, of dat Afrikaners hardnekkig is en nie wil luister nie, of dat ons stryd onoorwinbaar is, ens.  Dit is reg so, elkeen het sy stokperdjie.

Vir dié lesers wat ernstig is oor die toekoms en hul volk se plek daarin, moet daar in hierdie verband geen dubbelsinnigheid wees nie. Hulle moet verstaan wat gedoen moet word, en dat samewerking tussen ons mense daarvoor nodig is.

Dit is jou plig.

— Pierre Fouché

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.