Inligting oor die verslae wat na verwagting vandag deur die Openbare Beskermer (OB), Busisiwe Mkhwebane, bekend gemaak gaan word, is klaarblyklik nie volledig nie.
Haar woordvoerder, Cleopatra Mosene, het by navraag bevestig dat verskeie verslae vandag deur die kantoor vrygestel gaan word, maar wou nie verdere inligting bekend maak nie.
Die OB het gedurende haar besoek aan die Noord-Kaap verlede maand aangedui dat verskeie ondersoeke in die Vrystaat reeds afgehandel is en dat van die verslae nog vandeesmaand vrygestel kan word.
Mkhwebane het onder meer die omstrede multimiljoenrandse Vrede-suiwelprojek asook die Vrystaatse webtuiste-skandaal in die provinsie ondersoek. Van die verslae sou reeds in April bekend gemaak word, maar uitstel is glo gevra.
Intussen het die opposisie ‘n beroep op Mkhwebane gedoen om vandag die geleentheid te gebruik om verskeie verslae wat die betrokkenheid van die Gupta-familie insluit, ook openbaar te maak.