Suidpunt: Moet ons wérklik geld skenk aan groot Afrikaanse kultuurorganisasies?

Ek gaan nou baie eerlik wees: ek het nog nooit aan groot kultuurorganisasies geld geskenk nie. Ek vermoed kultuurorganisasies het ‘n ingeboude kodering om met verloop van jare van binne verrot of uitgehol te raak.

Laat ons gou eers kyk na die nut van kultuurorganisasies.

Kom ons skep ‘n denkbeeldige een.

Aanvanklik het jy die taalnood. Werklike nood op kultuurvlak. Die nood kan die gebrek aan skoolboeke of leerboeke wees, ‘n geldgebrek onder diegene wat nie na ‘n Afrikaanse universiteit of college toe kan gaan nie (soos spoorwegwerkers se kinders, byvoorbeeld), die tekort aan vakwoordeboeke, tweetalige woordeboeke, ensiklopedies, m.a.w. die tekort aan opvoedkundige leesstof in Afrikaans.

Een enkele mens kan nie al hierdie probleme oplos nie. Veral nie in die era voor die rekenaar en Internet nie. Maar ‘n sentjie hier en ‘n sentjie daar maak klaar ‘n paar Rand. Of pennies word Ponde, watter tydperk in Suid-Afrika jy sou verkies. Hierdie geld word opgepot, verdien groot rente in die bank, sodat meer arbeid verrig kan word. Alles om die doel van die organisasie te bereik, naamlik om die nood nie op anglisistiese wyse “aan te spreek” nie, maar te verlig.

Miskien spring ek nou te vervaard ‘n paar dekades vorentoe, maar geleidelik begin die organisasie (waarskynlik nuwe bestuur) die oorspronklike doel mis te kyk, veral indien die staat sekere funksies begin oorneem het in die 1970’s en 1980’s. Aangesien die nood verlig word (maar die advertensie steeds nie stop oor die groot taalnood nie), is daar meer geld beskikbaar in die trommeltjie. En, waarom nie ons skenkers bietjie beloon nie?

Ek hoef nie verder te skryf wat gebeur in so ‘n organisasie nie. Die leser weet tien teen een reeds: enige organisasie waar geld betrokke is kan ontaard in ‘n onderneming wat genadeloos “winsgedrewe” is. Selfs al verander die regering, al keer die nood terug in die 1990’s. Hoe meer geld inkom, hoe meer geld gaan na die sakke in die topbestuur (indien die organisasie minder filantropies is) of meer werknemers word aangestel (“kyk net hoeveel beteken ons vir die gemeenskap!”). Met die geld word in die toekoms belê: grond word gekoop, geboue skiet hemelwaarts op, eiendom word uitverhuur, winkelsentrums word geopen, belasting word weggewerk (om steeds die indruk te skep van ‘n niewinsgewende organisasie). Glanstydskrifte beland in die lede se posbusse wat spog met die nuutste kultuuraktiwiteite van resitasies, drama, debatte, speletjiesaande, ens. om meer mense van alle kleure en geure te betrek en te verwelkom (“kyk net hoe inklusief is ons!”) en ja, nog (grond)ontwikkelings op die stapeltjie. Pryse word links en regs aan die gewildste skrywers met die meeste boekeverkope uitgedeel (hoewel die uitgewers dit eintlik behoort te doen!).

Ja-nee, daar is beslis lewe in die brouery. Die lesers knip nie ‘n enkele oog nie, maar betaal steeds die ledegeld – “ten minste bevorder ons Afrikaans.” Maar nou raak dit skielik ook geregverdig om die vakansieoord “op te gradeer” – “want die infrastruktuur moet ook ontwikkel, Afrikaans moet with-it wees; ons lede verwag net die beste gehalte”. Niemand vra meer waarom daar ‘n vakansieoord in die eerste plek moet wees nie. Dit het eenvoudig tradisie geword. Soveel bemaakte testamentgeldjies gly met die waterwurm na benede…

My logika het nog nie sover ontwikkel om in te sien hoe byvoorbeeld Afrikaanse vakansieoorde of feeste Afrikaans in murg en been kan red nie. Al wat ek sien is werkskepping vir nie-taal-en-kultuurverwante sake, oftewel ‘n baie oppervlakkige benadering. ‘n Mens pak mos die bul by die horings, jy wag nie soos ‘n blommetjie dag en nag “in die hoop dat” ‘n skoenlapper eendag op jou kom land nie. Ek bedoel, toe Nehemia se ouens die mure van Jerusalem begin herbou en uitbou het, het hulle beslis nie dryf-dryf op ‘n pienk opblaasmatrassie (lilo) dit gedoen nie. Ook nie by retoriek vasgesteek nie. Op dieselfde wyse kan jy nie Afrikaans dryf-dryf of praat-praat ontwikkel en uitbou nie.

As ons teruggaan na die oorspronklike doel, die oorspronklike taalnood, dan vra jy immers die volgende hoofvrae:

  1. Waarmee sukkel Afrikaanse leerlinge op skool en Afrikaanse studente op universiteit? Wat jaar in en jaar uit oor en oor ‘n probleem is, waar jy slegs een Wiki-artikel hoef te begin wat vir ewig al die ellende en vrae kan stopsit? En altyd toeganklik kan wees? Goed, hierdie artikel X is klaar, wat is volgende vir artikel Y?
  2. Watter uitgebreide woordelyste en voorbeeldelyste verlang die leerlinge moet gratis beskikbaar en maklik toeganklik wees in Afrikaans? (Byvoorbeeld intensiewe vorme, homonieme, homofone, sinonieme, antonieme, paronieme, pleonasmes…). Is hierdie lyste volledig?
  3. Watter ander inligting moet die leerlinge en studente op hul vingerpunte gratis beskikbaar hê in Afrikaans?
  4. Watter vakwoordeboeke kort ons of moet dadelik hersien word?
  5. Watter ou tweetalige woordeboeke (buiten Engels) moet binnekort hersien word?
  6. Is daar enige taalskole beskikbaar vir buitelandse of binnelandse studente wat in Afrikaans belang sou stel? Wat ‘n geldige A1 tot C2-sertifikaat deur middel van ‘n streng keuringsproses kan uitreik? Is daar ‘n volledige taalboek beskikbaar wat elke donker hoekie en gaatjie van die Afrikaanse taal dek? Is dit reeds 10 000 bladsye lank? Is dit vryelik op die internet beskikbaar? Beleef hy sy 7de uitgawe? Word die taalveranderings aangetoon in ‘n voetnota?
  7. Watter goeie, ou werke (ensiklopedies, geskiedenisboeke, dagboeke in die Kaapse openbare argief, resepteboeke, opstelle, geneeskundeboeke, akademiese werke) waarvan die kopiereg verval het (indien die outeur 50 jaar reeds oorlede is), kan ons solank op die internet oplaai (soos Archive.org, Project Gutenberg, Wikisource, selfs dbnl.org) sodat die publiek ten minste ‘n bietjie hulself kan help en bemagtig?
  8. Hoe kan ons beter en nugter lesers kweek (lees: mense aanmoedig om byvoorbeeld by Goodreads of selfs Amazon.com of PRAAG knap resensies te lewer / krities en logies oor literêre werke na te dink?) sodat die Afrikaanse leserspubliek oor die algemeen kan verbeter?
  9. Hoe kan ons meer druk uitoefen om Afrikaanse onderskrifte in die rolprentbedryf te kry vir swaar horendes? Verder — spelling is slegs gewoonte: hoe meer mens woorde sien en skryf, hoe meer sal jy op die korrekte wyse natuurlik skryf. Dit het alles te make met blootstelling. Kan ons miskien solank met Afrikaanse onderskrifte begin eksperimenteer by Youtubevideo’s?
  10. Ons weet vertalers word swak betaal. Watter buitelandse boeke kan ons aanbeveel en die vertaler mildelik daarvoor vergoed?
  11. Hoe kan ons meer druk op tegnologiemaatskappye plaas om “tol” op wasmasjiene aan te bring naas “spin”, soos dit wel in die verlede was? Hoe kan ons ‘n vasberade kanniedood soos Dr. H.J. Terblanche bystaan (daar word beweer hy het doelbewus padpredikante wat slegs in Engels was verontagsaam – sodat Afrikaans aangebring kon word).
  12. Hoe kan ons ‘n volledige chronologiese lys van vertalings in en uit Afrikaans opstel?
  13. Hoe kan ons Afrikaans as wetenskapstaal bevorder in vaktydskrifte?
  14. Is daar enige ander Afrikaanse medium wat hersiening of bywerking nodig het?

Kyk, ek wil nou nie die Afrikaanse megakultuurorganisasies in die gesig vat nie, maar met die hedendaagse ekonomiese resessie kan ek my geld baie beter bestee. Die speeltyd is verby. Die rasionaliste soek resultate.

Wat ek in Afrikaans dus wil hê of lees, probeer ek self verwesenlik – anders gaan jy jare wag voor iets gebeur. AS JY IETS GEDOEN WIL KRY, EN WIL SEKER MAAK DIT GEBEUR WEL, DOEN DIT SELF. Bogenoemde 14 hoofvrae is maar van die enkele behoeftes in Afrikaans waaraan ek kon dink. Elkeen van ons het ander taalbehoeftes. Die drie kodewoorde bly egter meestal dieselfde: “toeganklik”, “deeglik” en “gratis”.

Juis daarom stel ek voor ons energie en aandag (met natuurlik ons veiligheid in die werklike lewe ook ingereken) word na die Internet kanaliseer, met aflaaibare rugsteunkopieë indien ‘n nasionale infrastruktuurramp ons tref. So het Wikipedia byvoorbeeld Kiwix.org waar bykans die meeste tale se weergawes afgelaai kan word, insluitend Afrikaans. Jy berg die lêer op ‘n los hardeskyf en vergeet daarvan in die bedkassie tot jy dit die dag nodig kry. Al jou arbeid gaan dus nie verlore nie.

Jy kan steeds jou R1 000,00 tot R10 000,00 jaargeld betaal en steeds in die lang reënerige tou wag op ‘n plekkie in die eksklusiewe presidentsuite (met jillende dronk bure oorkant); of jy kan ‘n horingou 500-bladsyboek waarvan jy hou teen R5,00 in die openbare biblioteek gaan koop, deurlees, deurwerk en self aan die werk spring.

Dit is veral interessant hoeveel mense jou belangstellings deel. Die geesdrif is eweneens aansteeklik. En jy voel elke sent werd wat jy op jou filantropiese self bestee het. Selfs al sou jy nie al jou drome of behoeftes in Afrikaans kon bewaarheid nie, is jy nie soos die res wat vir iets of iemand morrend kwaad is nie. Jy voel nie ingedoen nie. Jy het immers jou beste probeer om Afrikaans uit te bou.

Moenie geld aan ‘n organisasie skenk om bome te plant nie, plant jou eie. Dan weet jy vir seker iets word werklik gedoen en jou geld op niks anders wanbestee nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Suidpunt

    Baie dankie PRAAG! Voordat Rifrug my voorspring, die volgende errata:

    “voorbeeldlyse” moet eintlik “voorbeeldlyste” wees;
    “swakhorendes” moet “swaar horendes” wees;

    “rasioneles” kan ook “rasionaliste” wees;
    “bure langsaan” mag verkeerdelik as pleonasme beskou word – “bure oorkant” bewys die teendeel.

    Ek vra nederig om verskoning.

    • Ons het dit so aangebring, dankie.

    • Rifrug

      ” …universiteit of college …” – Suidpunt dit is ‘kollege’ in Afrikaans. 😉

  • leonlemmer

    Bostaande skrywe is deur baie en goeie dinkwerk voorafgegaan. Ek het nog nooit so ‘n akkurate beskrywing van die inklusiewe, getransformeerde ATKV gelees nie. Watter hoop is daar dat bv die ATKV iets omtrent hierdie voorstelle sal doen? Sy moontlike positiewe aktiwiteite word lamgele deur ‘n kultuurhoof wat ‘n ANC-aktivis is en Standaardafrikaans en Afrikaners nie goed gesind is nie (om dit sag te stel)

    • Johan Wilkens Botha

      Wat is u gevoel jeens ‘n ander Afrikaner (Afrikaanse?) kultuurorganisasie, naamlik die FAK?

  • Moontlik sou mens verder wou uitbrei as net kultuur sover dit die doel, nut en funksionele waarde van (Afrikaanse) organisasies aanbetref. Kerkgenootskappe het ook hierdie klubsoortige geneightheid wat geld maak en as mens na die samelewing daar buite kyk kry jy nie die lidmaatskapkloutjie by die Volkstoestandoortjie nie. Met die kerke en die Christene gaan dit soos met die Volk en organisasies. Wedywerend en van bitter min nut behalwe om te verdeel, geld in te vorder, amptenary te betaal en lede te hipnotiseer. Die verlamming binne organisasies is epidemies, en bitter min vrugte word teweeg gebring. Buite verander niks, – dinge, inteendeel, versleg daagliks. Laas toe ek getel het was daar meer as 1 000 Afrikaner organisasies en groepe, en op ‘n stadium was daar gepraat van meer as ‘n paar duisend kerkgenootskappe en geloofsinstansies. My grootste kommer is oor instansies waar lae IK ‘n voorvereiste is vir lidmaatskap in ruil vir obskure ede, seremonies, status en geld, maar dan is die totale sinergie van die groepe skynbaar minder as die IK van die individue, – tot blywende etiese skade aan die samelewing se norme en waardes. My beskeie bede is dat ons Afrikaner organisasies sal besin oor bestaansdoel en funksionering in hierdie tye en baie meer tasbare resultate in medewerking met ander organisasies en instansies vir die totale voordeel van ons eie mense sal teweegbring.

    • Betzie van Rensburg

      “My grootste kommer is oor instansies waar lae IK ‘n voorvereiste is vir
      lidmaatskap in ruil vir obskure ede, seremonies, status en geld, maar
      dan is die totale sinergie van die groepe skynbaar minder as die IK van
      die individue, – tot blywende etiese skade aan die samelewing se norme
      en waardes.” Beter kan dit nie gestel word nie. Skokkend dat ‘n doelgerigte, verantwoordelike jong blanke man die anderdag vir my vra wat is dit dan met baie blanke Afrikanermans dat hulle dom, en/of skelm is.

      Oor baie blanke Afrikanervroue kan daar net soveel gewonder word.

      • Betzie, begin vanjaar het ek in in sekere Afrikaner geledere aangedui dat ek vanjaar voorts sonder van die Afrikaner se heilige koeie en leungeeste sou wou probeer help om beter “volks” vordering te maak. Organisasies met of sonder geheime oes onder ons konings, priesters en profete met die leuns van Mat 4:8-10, waaraan ons in bygeloof mag verleen het oor die eeue, terwyl die Kerk dit toelaat en selfs goedkeur. Nig Betzie, ons Afrikaner bindinge, gemors en bannelingskap is baie groter as wat ons bereid is om toe te gee, voer ek in die kleine aan. Daardie “oneerlike” gees beleef ek feitlik by elke Afrikaner vergadering … maar ons gaan die Volk red … ?

        • Johanw

          Ons het ‘n punt bereik dat ons eers die Volk moet red van die wat die Volk wil red!

          • Nig Betzie, daar is moontlik verskeie redes waarom mense “gesigloos” op sosiale media beweeg, maar jy maak na mening ‘n geldige opmerking. Ek self adverteer eintlik nog ‘n vrot kol in Afrika nl. die DR Kongo. (As jy bietjie rondkrap op Twitter @Jonnycongo en elders soek oor Johnnycongo sal jy meer vind 🙂 Johanw, harde woorde, maar profeties insiggewend.

        • Betzie van Rensburg

          Die vlak van ontmagtiging waar ons volk funksioneer, is duidelik op selfs hierdie webwerf waar die meeste kommentaarleweraars anoniem en gesigloos beweeg, soos spoke op ‘n maskerbal. Aan die gesigloos aspek was ek self lank deel.

          Die wolf vang onder die skape. Die herderleier wat moet voortou neem, is gesigloosafwesig. Nou begin die skape mekaar maar byt.

  • Vicky

    Enige organisasie is tandloos as die stam wat daardie organisasie bedryf nie sy eie land regeer nie.

  • JDTAKL

    Die hoof oorsaak vir die ideologiese korruptering van sulke organisasies is dat hulle veilige hawe bied vir beroepslui wie se hoof doelwit selfbevordering is.

  • Skisofreen

    Sarah Goldblatt en haar medewerkers het Afrikaans geskep as ‘n tydelike projek. Dit was nooit bedoel om vir ewig te bestaan nie. Langenhoven het dit tog duidelik gemaak in sy vroeëre uitsprake.

    • Johan Wilkens Botha

      Verduidelik hierdie asseblief meer breedvoerig. As student het Langenhoven wel nie ‘n toekoms vir Afrikaans in Suid-Afrika gesien teen die wêreldtaal Engels nie – dit beteken egter nie dat dit is hoe hy dit wóú hê nie. Sy anti-Hollandse sentiment is ook maklik gesien as ‘n anti-Afrikaanse een, wat dit juis nié was nie. Later, toe hy vurige kampvegter vir Afrikaans word, het hy sy uitlating van indertyd berou. “My gees bly aan die ontwikkel,” het hy gesê. “Daar is mense wie s’n stilstaan.” En waar Sarah Goldblatt, sy letterkundige testatrise na sy dood, in die ganse Afrikaanse “taalbeweging” inpas, weet ek ook nie. Dat sy wel die sg. “Langenhoven-industrie” gedryf het, is so.

      • Suidpunt

        En in sy outobiografie het hy ook ruim erkenning gegee aan sy Hollandse leermeesters. Hy het ook erken dat diegene wat Hollands goed ken se Afrikaans na sy mening die beste is.

  • Ou Transvaal

    My respek Suidland ….die prof-klub gaan nie van die een hou nie ….
    KOLSKOOT!!!!

  • Fork

    Ek weier om vir enige Afrikaanse “kultuur organisies” geld te skenk. Ons het nou al gesien dat met die geval van die ATKV staan hulle glad nie op vir die Afrikaners nie. Hulle is net soos baie van die ander plekke wat hulle beleid ens verander soos die politieke situasie is.

    • Kalium_Chloraat

      Het jy geweet dat Joel 1 van die ATKV praat? Hy skryf daar van die Afknyper, Trekspringkaan, Kaalvreter en Voetganger.

  • Kalium_Chloraat

    Nee. Die s.g. Afrikaanse kultuurorganisasies dien nie Afrikaner kultuur nie, maar die Afrikaanse establishment se kultuur – ‘n kultuur wat my laat dink aan di e kultuur wat op ou kos groei. Hulle is juis ons vyande.

  • Johan Wilkens Botha

    Ek weet die (meta) Solidariteit-beweging kan kwalik deurgaan as ‘n kultuurorganisasie, maar hulle sal hulle daarop roem dat hulle aan die skrywer se beginsel van “AS JY IETS GEDOEN WIL KRY, EN WIL SEKER MAAK DIT GEBEUR WEL, DOEN DIT SELF” voldoen. Flip Buys is lief vir (sy eie) slagspreuke rondgooi. “Selfdoen is beter as niksdoen” is een van hulle. Maar is íéts doen noodwendig beter as niks doen nie? Is dit ‘n brandende behoefte (Buys gebruik gereeld Van Wyk Louw se nuutskepping “broodsaak”) om in ‘n Pretoriase woonbuurt slaggate toe te maak? Kan daardie geld nie eerder aan meer noodsaklike kwessies bestee word nie? Die behoeftes in die artikel is almal geldig. Maar armoede verligting? Werkskepping onder ons eie mense? Kan jy nie maar effe links draai met jou SUV wanneer jy jou dogtertjie met die Engelse naam skool toe neem, sodat ‘n Afrikanertannie in ‘n wit plakkerskamp vanaand effe warmer (of minder honger) kan gaan slaap nie?

    • Suidpunt

      Dankie, Johan Wilkens Botha. Ek hou van kritiese vrae. Ek verstaan daar is behoeftes wat belangriker is as taal, soos kos, klere, onderwys, veiligheid – veral diegene wat deur siekte, afdanking ens. daar beland het. Hulle het nie daarvoor gevra of gesoek nie.

      Die punt van my artikel was: baie kultuurorganisasies gee hul uit vir iets wat hulle nie is nie. Nou pleks daarvan om jou geld te mors op wensdromery in Afrikaans wat nie verwesenlik sal word nie, doen dit eerder self.

      Die etiese kwessie wat ons ook nie kan miskyk nie: is al daardie klomp aanstellings geregverdig terwyl jy openlik lede om die bos lei? Heilig die doel die middele? Jy skep die indruk jy doen goeie werk in Afrikaans, terwyl jy eintlik net ganse in die brouery rondjaag. Dis bedrog.

      Taal is nie ‘n kitsoplossing vir armoede nie. Dit weet ek. Dit is ook nie die alfa en omega nie. Beskou dit eerder as ‘n belegging (soos onderwys of unieke vaardighede) wat jou ‘n stappie verder bring as andere wat presies op dieselfde vlak verkeer. Met wie jy moet meeding.

      Terwyl ek skottelgoed afdroog kon ek nie help om te wonder hoeveel van KykNET se mense lees PRAAG nie. Want toe die advertensie vanaand wys hoeveel dinge hulle vir Afrikaans doen, moes ek grinnik (my ouers se DSTV, ek hou my doenig met ander dinge). Half asof iemand my artikel gelees het. Baie oulik, baie gaaf. Maar dit bly slegs doenig in die vermaaklikheidsbedryf. Jy kan hoegenaamd nie Afrikaans met vermaak ontwikkel nie. Dit bly daar doer onder – want vermaak bly brood en spele wat die menigte moet verstaan. Sodra jy Afrikaans na ‘n hoërfunksie druk, ‘n wetenskapstaal, kan jy met ander samelewings in verbinding tree. Gestel jy skryf ‘n Duitse of watter ander woordeboek, leerboeke en maak dit openlik toeganklik. Outomaties kan ander Afrikaanssprekendes die taal vinniger aanleer (nie te sê dit sal die rykes wees nie). Jy kom met die buiteland in aanraking. Jy weet klaar meer as jou ander landgenote. Dan sien jy ‘n leemte in jou eie Afrikawêreld en jy sien ‘n leemte in die DACH-lande. Dan kan jy daardeur werk skep. (Nou moet ons soos handelaars dink). As ons genoeg gehalte lewer, kan Afrika(ners) met hul huidige swak geldeenheid gesien word as goedkoop arbeid deur Europeërs of Asiate of Amerikaners.

      • Johan Wilkens Botha

        Suidpunt. Ek is volkome eens met jou standpunte in die artikel. Ek het meer spesifiek na organisasies soos Solidariteit verwys, wat hul met “gemeenskapsdiens” bemoei wat eintlik sinneloos is. Soos om slaggate toe te maak. Oor “kultuurorganisasies wat hul uit vir iets uitgee wat hulle nie is nie”, slaan jy die spyker op die kop.

        • Suidpunt

          Dankie. Oor gemeenskapsdiens voel ek dieselfde: gemeenskapsdiens is immers ‘n vonnis vir (jeug)misdadigers. Solank jy die staat in sy kwaad sterk, gaan hy nie ophou nie.

          Nog iets. Ek besef die afgelope week hoe skatryk die staat eintlik is. Hy besit berge, dale, nasionale parke met alle diere daarop. Hy besit die lugweë. Hy besit die see. Hy besit die mooiste strande. En alles kan vir ‘n appel en ei verkoop word. Kan jy jou dus voorstel hoe ontstoke ek raak as mense sê: “Wilde diere hoort vry in die natuur”? Kyk maar hoeveel keer kom privaateienaars, soos Enzo die tier se eienaar, onder skoot in die media. Ook privaatreservaateienaars. En dieretuine. Diegene wat sê “hoort vry in die natuur” = “maak alle wilde diere staatsbesit.” Om die staat nog ryker te maak? Die monster nog voller te voer?