Geweerskote is afgevuur op die N1 in Midrand by die Mall of Africa, naby die Allandale-afrit. Nie net geweerskote het geklap nie, maar taxi’s word geskut en pendelaars word erg ontwrig weens protesoptrede deur taxibestuurders in Gauteng.
Groot verkeersontwrigtings kom regoor die provinsie voor. Meer as tien taxi’s is geskut omdat hulle die N1 hoofweg versper het.
Sommige pendelaars, veral in Pretoria, is met geweld uit busse gedwing. Taxi’s ry op plekke ook baie stadig om motoriste te frustreer.
PRAAG het met ‘n motoris in Fourways gepraat wat sê motors waag dit nie naby die taxi-versperrings nie weens die intimidasie.
Die Gautengse polisie probeer om die situasie onder beheer te kry. Mense is ook aangeraai om hul ritte uit te stel totdat die situasie onder beheer is.
Ontwrigtings kom voor op die N1 en M1 hoofweë tussen Johannesburg en Pretoria te midde van duisende taxi-pendelaars wat vandag staak.
Die Suid-Afrikaanse Taxi-raad het bevestig dat sy lede ‘n protesoptog na die kantore van die Suid-Afrikaanse taxi-finansieringsdiens in Midrand, noord van Johannesburg gaan hou.
Hulle betoog teen hoër finansieringskoste vir minibusse. Die taxi-eienaars en -bestuurders het toestemming vir die protesoptrede. SANTACO sê hulle sal ook motorvervaardigers, banke, versekerings- en brandstofmaatskappye teiken.