Ooggetuies betwis polisieweergawe van moontlike terreuraanval in Amsterdam

Deel op

Die Nederlandse polisie sluit terrorisme uit by die voorval waarin agt mense beseer is toe ‘n motor buite ‘n Amsterdamse stasie in hulle vasgery het. Maar ooggetuies verskaf ‘n ander weergawe as die amptelike polisieverklaring van wat gebeur het en beskryf die voorval as “vreesaanjaend”.

Agt mense is beseer nadat ‘n swart Peugeot deur voetgangers buite die sentraalstasie in Amsterdam geploeg het. Ses mense is hospitaal toe geneem, waarvan twee in ‘n ernstige toestand verkeer. Twee ander slagoffers is op die toneel behandel.

Volgens die Nederlandse koerant, Het Parool, het die polisie met die bestuurder gepraat en gevra om sy lisensie te sien, wat hy wel getoon het. Die man het daarna weggetrek, verskeie mense raakgekry en in ‘n lae muurtjie naas die moltreiningang vasgery.

Die Amsterdamse polisie het die bestuurder in hegtenis geneem, maar meen daar is “geen aanduiding hoegenaam” dat die motorongeluk ‘n ekstremistiese aanval was nie. Die motor het by die moltreiningang tot stilstand gekom, ná die botsing.

“Die verdagte is ondervra, en dit wil voorkom asof dit nie doelbewus was nie. Maar ons doen verdere ondersoek,” het die Amsterdamse polisie op hul Twitter-rekening gesê.

Volgens die amptelike verklaring, is ‘n 45-jarige Amsterdamse man deur die polisie voorgekeer weens ‘n oortreding, waarna hy in ‘n muur vasgery het. Polisiebronne het aan die Britse koerant The Telegraph gesê dat die bestuurder “siek geword” het en “nie bedoel het” om die motor te laat bots nie. Die motor beskik volgens berigte oor ‘n gekraakte voorruit.

Die bestuurder het iewers op die tremspoor geparkeer, en is deur die polisiebeamptes versoek om sy voertuig te verskuif. Hy het toe weggery en “ongesteld begin voel weens lae bloedsuikervlakke”, waarna hy agt mense beseer het.

Ooggetuies vertel ‘n ander verhaal. Verskeie getuies het aan die Nederlandse nuuskanaal AT5 gesê dat die motor teen hoë spoed vanuit ‘n ander rigting aangekom het, waarmee die polisieverklaring bevraagteken word.

‘n Getuie, wat na trem 26 oorgestap het op die oomblik toe die voorval plaasgevind het, is verbaas oor die polisie se weergawe dat die man ongesteld geraak het.

“Ek het die motor op die tremspoor sien staan en gedink, wel, as daar ‘n aanval sou plaasvind, is dit nou. Die bestuurder is deur twee beamptes genader. Ek het na hulle gekyk en aangestap. Ek was omtrent ‘n honderd treë weg toe motor vinnig wegry. Dit het vir my gelyk asof die man doelbewus vir die polisie wegry, maar niemand gaan vir ons die waarheid vertel nie.

Die motor het die tremspoor na Damrak gevolg en uiteindelik met ‘n muur by die ingang van die moltrein gebots. “Hy het die draai (in die pad) gevolg.”

‘n Tweede getuie, wat besig was om die rigting van die Stationsplein te stap ten tye van die voorval, het ook ‘n ander weergawe van die gebeure. “Ek was aan die westekant en het so pas deur die fietstonnel na trem 5 geloop,” het die man aan AT5 gesê.

“Ek was besig om met ‘n vriend te gesels toe hy my naam skree. ‘Hardloop, hardloop,’ het hy gesê. Ek het na regs gekyk en ‘n swart Peugeot teen hoë spoed na my toe sien aankom.” Die twee mans het opsy gespring en gesien hoe die motor tot stilstand kom omdat daar trems in die pad was.

“Die twee beamptes het toe na die man toe gegaan en sy bestuurderslisensie gevra. Een van die beamptes het aan sy kollegas beduie dat hulle nader moet kom. Die ander beampte het toe die bestuurslisensie van die man teruggegee en gelyk asof hy was dat hy ‘verder moet ry’.”

 

Volgens die getuies, wat minder as tien meter van die motor af was, het die bestuurder ‘n geïrriteerde indruk gemaak. “Hy het die bestuurderslisensie min of meer uit die beampte se hand gegryp. Toe, met ‘n telefoon in sy hand, het hy die motor aangeskakel en op volle spoed in die skare ingery. Ons het letterlik gesien hoe mense deur die lug vlieg.”

Die motor het versnel terwyl dit vorentoe beweeg, het die getuie gesê.

“Daar was paniek, jy kon mense hoor skree. Ek het self oortuig geraak dat dit buite die kwessie was dat die man ongesteld kon geraak het. Ek het dit oral in die media gelees en dis baie frustrerend. Na my mening het hy bloot twee pogings aangewend! Die polisie moes raakgesien het dat iets nie pluis is nie. Dit was nie bloot ‘n ongeluk nie.”

Die stasie en die omringende area is afgekordon, het die Nederlandse spoorwegmaatskappy, die NS, gesê. Tremdienste wat by die stasie se hoofingang eindig, is herlei.

Die Nederlandse polisie wou nie die naam van die bestuurder bekendmaak nie, wat suggereer dat hulle nie die publiek op nog ‘n moontlike Islamitiese aanval wou attent maak nie.

Die voorval het plaasgevind, presies ‘n week ná die terreuraanval by London Bridge wat agt mense laat omkom het, met dosyne wat gewond is. Nederland was sedert op ‘n hoë vlak van waaksaamheid ná die reeks aanvalle in ander Europese stede oor die afgelope maande.

‘n Nederlandse burger is laat Vrydag in hegtenis geneem nadat hy betrap is terwyl hy besig was om ‘n video te neem van een van die land se grootste stadions, het die polisie gesê.

Die 29-jarige Amsterdammer is buite die Philips-stadion in die suide van Eindhoven in hegtenis geneem waar die Nederlandse popsanger Guus Meeuwis opgetree het. Hy kon geen verduideliking bied oor waarom hy besig was om ten tye van die konsert die infrakstruktuur te verfilm nie, het NDTV berig.

Die verdagte is geradikaliseer, glo die polisie, en het hom Saterdagaand ‘n tweede keer in hegtenis geneem. Meeuwis het met die beplande konsert voortgegaan.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.