Vier vas wat ontruimde huise in Knysna besteel

Deel op

Vier verdagtes is in hegtenis geneem op Knysna vir die beweerde besit van gesteelde goedere wat behoort aan inwoners wat hul huise moes ontruim het weens die brande.

‘n Woordvoerder van die polisie, Chris Spies, sê hulle het vermoed dat eiendom gesteel is by huise wat die vorige dag deur die nooddienste ontruim is.

Die verdagtes is in die besit van goedere ter waarde van R80 000 gevind. Hulle sal aanstaande week in die hof verskyn.

‘n Rooikop-brandslaner, die 24 jarige Bradley Richards word deur kollegas beskryf as toegewyd en altyd gereed om te gaan help brand slaan wanneer nodig.

Richards is oorlede nadat hy deur vlamme oorval is, terwyl hy en nog ‘n spanmaat besig was om brande te bestry in die Harkervillebos in die Plettenbergbaai omgewing, Woensdagoggend.

Die brande, oor ‘n groot gebied, het reeds groot skade aan eiendom en skole aangerig en duisende mense moes hul huise verlaat. Knysna is tot ‘n rampgebied verklaar.

Duisende inwoners van Knysna het vir ‘n tweede agtereenvolgende nag in skole en sale in die dorp deurgebring vir hul eie veiligheid. Nagenoeg eenhonderd huise, ‘n kerk en ‘n skoolkoshuis is in die brande vernietig.

Brandbestryders en lede van die weermag was deur die nag steeds besig om die brande te blus wat deur ‘n sterk wind aangeblaas word.

‘n Woordvoerder van die organisasie Working on Fire, Linton Rensburg, sê die brande woed oor ‘n groot gebied, wat pogings bemoeilik om dit onder beheer te kry. Rensburg sê verskeie groepe werk egter saam om die brande te blus.

Nog ‘n brandbestryder het ernstige brandwonde opgedoen in die verwoestende brandende in Knysna. Dit bring die dodetal in die gebied op vyf te staan.

Die brande is meestal onder beheer langs die Tuinroete tot by Nelson Mandelabaai waar vier brande steeds woed, maar onder beheer is.

Brandbestryders en weermagsoldate het deurnag in Knysna die vlamme onder beheer probeer bring waar vyftig hutte ook in die slag gebly het.

Veertig brandbestryders sal vandag vanaf die O R Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg vertrek na die Suid-Kaap om te help met brandbestryding in Knysna.

‘n Johannesburgse sakeman, Diederichs Stopforth het die span brandbestryders byeengekry. Hulp het intussen ingestroom en vliegkaartjies is gekoop om die brandbestryders met hul toerusting in die Suid-Kaap te kry.

Groot sakeondernemings het ook hulp beloof met vervoer, kos, komberse en tweerigtingradios.

Vier brande woed steeds in die Nelson Mandelabaai-metrogebied in die Oos-Kaap, maar brandbestryders is op die toneel by Colleen Glen, Bushbuck Ridge, Sardiniabaai en Elandsrivier. Die wind is glo besig om te bedaar.

Die polisie van Walmer ondersoek intussen ‘n saak van brandstigting ná ‘n verklaring van ‘n ooggetuie wat na bewering gesien het dat verdagtes petrol in die veld by Sardaniabaai uitgegooi het.

Die Bitou-munisipaliteit by Plettenbergbaai huisves 48 mense in gemeenskapsale nadat hulle daarheen geneem is weens brande en rook in die gebied.

‘n Woordvoerder, Howard Swartz, sê die een brand het gedurende die nag naby Airportweg opgevlam, maar is nou onder beheer. Onderbrekings in watervoorsiening in sommige gebiede is ook reeds herstel.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.