Susan Combrinck praat met die jong lesers van praag.co.za oor taalgebruik, skryf en lees

ImageDie toestand van taalgebruik en die swak stand van sake ten opsigte van lees in ons skole is vir my baie kommerwekkend. Hoekom dit so is, kan ek nie verstaan nie. Taal vorm immers die basis van alle leer.

Wanneer oor die onderwys gepraat word, kom geletterdheid elke keer ter sprake en die eerste stap in die geletterdheidsontwikkeling is die aanleer van ‘n taal en daarmee saam die korrekte gebruik van die taal wanneer geskryf en gepraat word. Taal is die medium waardeur mense hulleself verstaanbaar maak en waarmee hulle kommunikeer. Die mens speel verskeie rolle: deur te luister wanneer iemand anders praat, die sprekers wanneer ander luister, die lesers wanneer iemand anders skryf en die skrywers wanneer ander lees wat geskryf is. Ons woorde en sinne vorm deel van ons alledaagse interaksie met mense.

Al bestaan daar vandag die kommerwekkende houding dat daar nie meer omgegee en nie gemerk word teen taalfoute en spelfoute nie, wil ek vir julle vra hoe julle gaan leer om ‘n taal behoorlik te kan praat, skryf en lees? Veral jul moedertaal, Afrikaans. Hierdie houding van foute wat oorgesien word en die vraestelle wat gemerk word sonder dat die inhoud heeltemal korrek is – met slegs een of twee feite wat aandui dat julle weet waaroor die vraag handel, veroorsaak dat daar ‘n onreg aan julle gedoen word. Deur dit te aanvaar doen julle julself ook ‘n onreg aan – wat beteken dit? Gedurende julle skooljare kan julle dalk wegkom daarmee om die minimum te lees en om in die gewoonte te kom om nie korrek te skryf nie omdat foute oorgesien word. Die probleem gaan kom wanneer julle uit die skool is, want nie alle firmas wil mense in diens neem wat nie kan lees, skryf en ordentlik praat nie en dan gaan julle bitter spyt wees. Daar is die uitdrukking: “Spyt kom altyd te laat”.

Wie van julle weet hoe om ‘n biblioteek te gebruik? Wanneer julle meer wil weet rondom dít wat julle in die skool leer, kan julle boeke by die biblioteek oor die onderwerp uitneem. Wat van sommer net ’n storieboek of tydskrif uitneem om te lees? Ek kon self nie sonder die biblioteek nie en het die skoolvakansies omgelees – ek is seker daarvan dat julle ouers sal onthou van die reisende biblioteke. Ek kan nie my lewe sonder boeke voorstel nie.

Ek het die voorreg gehad om ‘n meisie van Graad 7 te help om te lees asook om die woordeboek te gebruik. Dit was hartseer om te sien hoe sy sukkel om ‘n eenvoudige ding soos ‘n verjaardagkaartjie te skryf. Soos wat ons gevorder het, was dit heerlik om te sien hoe sy die woordeboek begin gebruik en nuwe woorde geleer het.Toe sy die eerste storie gelees en dit verstaan het, was dit vir ons albei ‘n blye dag. Sy kon haar in die hoofkarakter van die storie inleef en die karakter se emosie ervaar.

Deur te lees gaan ‘n ander wêreld vir julle oop – dit beteken nie dat julle net van ander lande leer nie, maar julle kan leer van mense en diere en julle kan kennis opdoen aangaande die bou van modelle of hoe sekere stokperdjies beoefen word. Lees speel ’n baie belangrike rol in die alledaagse lewe – dink maar daaraan wat sou gebeur as julle nie ’n spyskaart of die instruksie by die opslaan van die boekrak kon lees nie? Wanneer julle nie behoorlik kan lees nie, gaan julle ook swak doen in al jul vakke en sal bv. in wiskunde nie die aanwysings verstaan om ‘n probleem op te los nie. Wat van toetse en eksamens? Julle sal ook nie die aanwysings wat in toetse en die eksamen gegee word, verstaan nie. Dit is dan baie maklik om te sê dat julle ‘n leerprobleem het, maar eintlik is dit ‘n leesprobleem wat onstaan het deurdat daar so min gelees word. Deesdae word baie op rekenaars gewerk, maar wat ’n verassing: Julle moet nog steeds kan lees, anders help die rekenaar wat daar staan niks nie!!

By die UGO wat julle volg, word baie klem geplaas op die integrasie tussen die leerareas en die feit dat die leerareas nie geskei moet word nie. Dit is ook goed so, maar weet julle wat? Dit is ook gedoen toe julle ouers skoolgegaan het. Ek hoor al die vraag: “Hoe?” Julle pa's kon in die houtwerkklas en julle ma’s kon in die huishoudkundeklas verskeie tipes inligting wat hulle geleer het, toepas. Net so kon ek die taal wat ek in die taalklas aangeleer het, gebruik om die resep te lees en te verstaan; ek kon die wiskunde wat ek in die wiskundeklas geleer het, aanwend om te bepaal hoeveel van bepaalde bestandele gebruik moes word (bv. 250ml melk) en ek kon die vorms waarvan ek in die wiskundeklas geleer het gebruik om die verskil te sien tussen 'n ronde en 'n vierkantige bak en ek kon die proses van probleemoplossing gebruik om te bepaal hoe ek die korrekte hoeveelheid botter van die blok moes afsny. Ek kon in die Aardrykskundeklas die kaart lees, ek kon die afstande tussen plekke uitwerk en ek kon die verskil sien tussen die soorte wolke waarvan ek geleer het.

Al die vakke het met mekaar verband gehou, al het die vakke ander name gehad as wat die leerareas en vakke nou het. Ek kan nie dink aan een vak waar ek nie oor die vermoë moes beskik om te lees nie en die feit dat baie van ons ons klasmaats kon help met bv. wiskunde beteken dat ons met ander leerlinge kon kommunikeer.

Ek daag julle uit! Begin lees – nie net julle skoolwerk nie – en verryk julle lewens.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.