Geweld teen buitelanders vlam weer op in Umlazi

Deel op

Die situasie by Umlazi, suid van Durban, het Dinsdagoggend na normaal teruggekeer ná gewelddadige oproer Maandag uitgebreek het teen buitelanders.

Die geweld het tot laatnag geduur toe swart inwoners winkels van buitelanders in die omgewing aangeval en geplunder het.

Hulle is glo woedend oor gerugte dat leerlinge by skole in KwaMashu ontvoer is. Die verkeer het Maandag op die Mangosuthu-hoofweg tot ‘n stilstand gekom. Die pad was met rommel versper.

Niemand is in verband met die geweld in hegtenis geneem nie.

Volgens berigte was daar ook verkeersopeenhopings in en om die Isipingo-gebied. Betogers het bande gebrand en begin klipgooi. Motoriste is aangemoedig om alternatiewe roetes te gebruik.

Die verkeer het tot stilstand gekom op die Mangosuthu-snelweg in Umlazi, ná inwoners die snelweg afgesper het.

Motoriste is ook versoek om weg te bly van Mega City, Price Mshiyeni Hospitaal, Clare Estate, Foremanweglokasie, Constantine-lokasie, Wandsbeckweg, Marriannhill, Holznerweg, Dorfnersingel, Reunionbrug en die Mega City-kruising tot verdere kennisgewing.

In 2015 is mense van die Kongo, Burundi, Rwanda, Ethiopië en Malawi in dieselfde gebied aangeval. Pres. Jacob Zuma het in Februarie vanjaar uitgevaar teen algemene wetteloosheid, asook dreigemente van geweld en intimidasie teen buitelanders.

Hy het die regering se kommer uitgespreek oor huidige dreigemente van geweld en dade van intimidasie en vernietiging van eiendom wat gerig is op nie-landsburgers wat in Suid-Afrika woon.

Inwoners in sommige gemeenskappe blameer nie-landsburgers vir die toenemende misdade, veral dwelmhandel.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.