Zuma oorleef felle media-aanslag en NUK-mosie

Deel op

President Jacob Zuma het, in weerwil van felle kritiek vanuit die hoofstroommedia wat ‘n konstante veldtog teen hom voer, gemaklik ‘n mosie van wantroue teen hom van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) oorleef. Die rand het voor die naweek sterk veld gewen, net om gister te verswak toe dit blyk dat allerlei gerugte dat Zuma ballingskap in Doebai oorweeg, ongegrond blyk te gewees het.

Die mosie van wantroue in Zuma is blykbaar heel naweek lank gedebatteer en daar is eers laat Sondagaand tot stemming oorgegaan, waartydens Zuma ‘n klinkende oorwinning behaal het.

In sy toespraak aan die NUK was Zuma taamlik nukkerig en het gesê dat hy nie langer openbare kritiek vanuit sy eie party op hom sal duld nie. Volgens aangehaalde bronne sou Zuma in sy toespraak gesê het:

“Moet my nie te ver dryf nie. Ek het stilgebly want ek wil nie die ANC skade aandoen nie, maar hou aan om my in die media aan te val en u sal sien.”

Zuma het ook teen die ANC in die Gauteng-provinsie uitgevaar en aan hulle gesê dat hy “weet dat julle nie van my hou nie, maar die mense (in Gauteng) hou van my”. Daar is reeds jare lange gerugte dat die ANC in Gauteng, die land se rykste provinsie, poog om Zuma te ondermyn of te ontsetel. Die ANC in Gauteng staan onder leiding van Paul Mashatile, wat blykbaar Zuma se aartsvyand in die party is. Hy het ook die Gauteng-ANC gekritiseer omdat hulle nie tydens die munisipale verkiesings in 2016 T-hemde met sy naam op wou versprei nie.

Die mosie van wantroue in Zuma is deur Joel Netshitenzhe ter tafel gelei, maar blykbaar was daar minder stemme teen Zuma as in November toe die voormalige minister van toerisme, Derek Hanekom, ‘n soortgelyke mosie teen Zuma voorgestel het.

Nie minder as 70 mense het vir of teen die mosie gepraat nie, met die meeste wat vir Zuma ondersteun het.

Volgens sommige ontleders word daar verwag dat die druk teen Zuma gaan veroorsaak dat hy sy standpunte na links gaan verskuif ten einde EFF-ondersteuners by te kry. Hy wil blykbaar ook gebruik maak van die EFF se aanbod om hul 6% stemme in die parlement te gebruik vir ‘n tweederdemeerderheid om die grondwet te verander sover dit eiendomsreg betref. Dan sal die ANC Afrikanerboere se plase sonder vergoeding mag onteien, iets waarvoor die EFF reeds jare lank agiteer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.