Leon Lemmer: Suriname, met toepassings op Nederland en Suid-Afrika

Suriname, soos voorgestel deur John Gabriel Stedman in 'n tekening

Dit is algemeen bekend dat die Kaap aanvanklik ‘n besitting van die Vereenigde Oostindische Compagnie (VOC) en later ‘n Hollandse kolonie was, voordat die Britte in 1806 daarop beslag gelê het. Diegene wat die geskiedenis van die VOC-era ken, weet ook dat die VOC en die Hollanders ‘n koloniale ryk in die Ooste gehad het, veral wat deesdae Indonesië genoem word. In 1945/1949 het die Indonesiese argipel onafhanklik van Nederland geword.

Naas die Kaap en Oos-Indiese eilande het Nederland ook Wes-Indiese eilande as kolonies gehad, sommige waarvan steeds as deel van Nederland geadministreer word. Op die vasteland van Suid-Amerika was daar Hollandse pogings om ‘n vastrapplek te kry op wat deesdae Brasilië genoem word. Hulle is egter na meer as twee dekades in 1654 deur die Portugese uitgedryf. Die enigste gebied op daardie kontinent wat lank ‘n Nederlandse kolonie was, word tans Suriname genoem.

Aan die noordkus van Suid-Amerika, tussen Venezuela en Brasilië, was daar drie kolonies, die Guianas genoem. Van wes na oos was daar Brits-Guiana (tans Guyana– geografies die grootste van die Guianas en ook met die grootste bevolking), Nederlands-Guiana (tans Suriname) en Frans-Guiana (sedert 1643/1817 steeds Franse gebied en geografies die kleinste Guiana met ook die kleinste bevolking). Veralgemenend kan van die drie Guianas gesê word dat die klimaat tropies, die kusgebied moerasagtig en die binneland bergagtige woudgebied is.

In Guyana was daar voorheen vier Hollandse gebiede, Essequibo (1616, voor dit Pomeroon, 1581), Berbice (1627) en Demerara (1752). In 1796 het Brittanje beheer van hierdie gebiede oorgeneem om dieselfde rede as wat in 1795 vir die oorname van die Kaap aangevoer is: Prins Willem van Oranje het na Engeland gevlug en die Britte gevra om Hollandse oorsese gebiede teen moontlike Franse aanvalle te beskerm. In 1814 het Holland Britse gesag erken oor wat nou Guyana genoem word. In 1831 het die Britte die eens Hollandse gebiede in ‘n enkele kolonie, Brits-Guiana, gekonsolideer. Guyana het in 1966 onafhanklik geword met Engels as die amptelike taal.

Die Engelse was sedert 1630 in Suriname, maar Hollanders het reeds in 1613 in hierdie gebied aangekom. In 1667 het Holland, na die tweede Anglo-Hollandse Oorlog (1664-1667), met die Verdrag van Breda, Nieuw Amsterdam (Manhattan-eiland en omstreke), tans New York, vir Suriname geruil. In 1674 is die bepalings van hierdie ooreenkoms bevestig. In 1975 het Suriname polities onafhanklik van Nederland geword. Ekonomies was en is Suriname egter deurgaans parasities ten koste van Nederlandse belastingbetalers. Dit geld in groot mate al die oorblywende Nederlandse Karibiese gebiede. Sy Wes-Indiese eilande en Suriname was vir Nederland as koloniale moondheid nooit so lonend soos die Oos-Indiese eilande nie. Die koloniale gebiede wat deesdae kies om deel van Nederland te bly, doen dit primêr omdat dit vir hulle finansieel voordelig is.

In die Wes-Indiese eilande en omstreke, insluitende Suriname, is slawe uit Afrika destyds ingevoer, bv om op die suikerplantasies te werk. Slawerny is in 1863 in Suriname afgeskaf. Daar was ‘n oorgangstydperk van ‘n dekade. Al die slawe was dus teen 1873 vry. Veral na die Tweede Wêreldoorlog is aktiewe pogings aangewend om skuldgevoelens oor die destydse slawerny by die blanke Nederlanders te wek. Dit het ‘n aktivistiese bedryf geword waarin vergoeding vir nie-wit Surinamers van hedendaagse Nederlandse belastingbetalers geëis word. Hierdie sagmaakproses word met verwyte oor sowel historiese as fiktiewe onmenslike behandeling en immorele dade oorlaai. ‘n Gevolg is dat om “menslikheidsredes” allerhande toegewings deur die Nederlandse regering gemaak is.

Die Karibiese eilande wat deesdae verkies om deel van Nederland te bly, toon onteenseglik dat kolonialisme (soms) eerder voordelig as nadelig vir gekoloniseerdes kan wees. Maar daar is ‘n ander groot voordeel wat tot die uiterste toe misbruik word: nie-wittes uit hierdie gebiede vestig hulle in baie gevalle oorgraag in Nederland. In die geval van Surinamers is hulle brood aan albei kante gebotter: Die land is polities (eerder as ekonomies) onafhanklik maar met amptelike onafhanklikheid in 1975 het 40 000 Surinamers na Nederland gestroom asof dit ‘n toevlugsoord was waarop die inkommers vanselfsprekend geregtig was, met baie ander Surinamers wat sedertdien dieselfde gedoen het. As die koloniale juk so erg was as wat graag voorgegee word, sou alle nie-wit Surinamers onafhanklikheid verwelkom, daar aangebly en die land na hulle wense getransformeer het. Pleks daarvan het Nederland as die koloniale moondheid hierdie weerslag van kolonialisme ten minste amptelik gedwee aanvaar, al was die blanke Nederlandse publiek oor hierdie verwikkeling heelwat minder inskiklik. Daar is immers reeds sedert 1945 ‘n toevloei van inkommers uit veral Indonesië.

Nederlands is Suriname se amptelike taal, maar Sranan Tongo (Taki Taki) is die algemene spreektaal, ‘n kreoolse mengeltaal van Engels, Nederlands, Portugees en swart Afrikatale. Sranan word as ‘n Engelse kreooltaal geklassifiseer. Dit lyk asof dit iets soortgelyk aan Fanagalo met ‘n beperkte woordeskat en eenvoudige vormleer is. Opvallend is dat al die Nederlandse kreooltale wat in die koloniale era ontstaan het, in onbruik verval en verdwyn het (Wikipedia). Desnieteenstaande is daar oorverligte polities byderwetses in Suid-Afrika wat Afrikaans tot ‘n kreooltaal verklaar; selfs ook in minstens een publikasie van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument. Daar is ook Surinaams-Nederlands waarvoor groter amptelike erkenning verlang word.

Die punt is dat daar in Suriname nie sprake is van ‘n volwaardige taal (of dialek) wat soos Afrikaans uit en naas Nederlands ontwikkel is nie.* Die rede hiervoor is ongetwyfeld (onder meer) omdat die blanke bevolking van Suriname deurgaans te klein was. Terselfdertyd dien dit as bevestiging dat Afrikaans nie sonder uitsonderlike blanke ywer sy beslag sou gekry het nie; dus dat Afrikaans nie tot ‘n selfstandige taal uitgebou sou kon word op grond van Khoi en Kaaps soos sommige taalkundiges ons deesdae probeer wysmaak nie. Kaaps is nie die anker van Afrikaans nie; ook nie die aangewese weg vir die behoud van Afrikaans nie. Kaaps verseker veel eerder die nie-bestaan van Afrikaans as ‘n volwaardige taal naas Engels tensy Kaaps daadwerklik en doelbewus van Afrikaans losgemaak word.

[* Gloria Wekker kom met ‘n bewering wat ek kwalik kan glo: “The enslaved in Suriname were not allowed to speak Dutch, but developed their own languages and cultures” (White innocence, Durham: Duke University Press, 2016, 240p; Amazon Kindle $15.38, 988). Waarom is die slawe aan die Kaap toegelaat om Hollands te praat terwyl dit in ‘n ander Nederlandse kolonie, Suriname, verbode was? Dit kom voor asof Wekker met ‘n valse bewering uitdrukking aan haar anti-koloniale en anti-blanke sentiment gee.]

Wat swart aktiviste en hulle wit meelopers se retoriese propaganda teen blankes voed, is stories, sowel waar as fiktief, oor wat tydens slawerny gebeur het. Die motief is om blankes van lank gelede sleg voor te stel en dit dan deur assosiasie op hedendaagse blankes van toepassing te maak. Daar is talle boeke beskikbaar oor wat in die tyd van slawerny in bv die suidelike state van Amerika gebeur het. Dit is as propaganda in die stryd om swart burgerregte tot die uiterste misbruik en word steeds ingespan om skuldgevoelens by blankes te wek ten einde buitensporige bevoordeling as kompensasie vir beweerde benadeling af te dwing. Dieselfde spel word plaaslik gespeel met dikwels oordrewe wanvoorstellings van wat tydens apartheid gebeur het.

Omdat slawerny tot die 19de eeu in die Karibiese gebied voorgekom het, is daar leesstof daaroor wat ten bate van swart bevoordeling misbruik word. Thomas Thistlewood (1721-1786) se naam word tot vervelens toe opgehaal. Hy was ‘n Engelsman wat in 1750 na Jamaika gegaan het, ‘n slawe-eienaar geword en 33 jaar lank met ‘n swart slavin, Phibbah, soos man en vrou saamgeleef het. Hulle het ‘n seun, John, gehad. Thistlewood het Phibbah vrygekoop en sy het self ‘n slawe-eienaar geword. Twee beskikbare boeke, gebaseer op Thistlewood se dagboek, is Douglas Hall, In miserable slavery: Thomas Thistlewood in Jamaica, 1750-1786 (University of West Indies Press, 2012, 419p; Amazon Kindle $11,39) en Trevor Burnard, Mastery, tyranny, and desire: Thomas Thistlewood and his slaves in the Anglo-Jamaican world (University of North Carolina Press, 2009, 334p; Amazon Kindle $19,38). Ek het nog nie hierdie twee boeke gelees nie.

In hierdie rubriek konsentreer ek op Suriname omdat ek toepassings op hedendaagse Nederland en Suid-Afrika wil maak. Met die oog hierop het ek ‘n boek gelees wat handel oor ‘n persoon soortgelyk aan Thistlewood, naamlik Landeg White se Studying to be singular: John Gabriel Stedman, 1744-1797 (2012, 268p; Amazon Kindle $11,39). Stedman het ‘n Skotse pa en Hollandse ma gehad. Hy was as ‘n soldaat in Holland gestasioneer en het in 1772 as ‘n vrywilliger na Suriname gegaan om ‘n slawe-opstand te onderdruk. Soos sy tydgenoot Thistlewood het Stedman dagboek gehou, maar later self ‘n boek oor sy ondervindings en waarnemings gepubliseer. Anders as Thistlewood was Stedman, afgesien van die dienste van ‘n lyfbediende, Quaco, nie ‘n slawe-eienaar nie, maar soos Thistlewood het Stedman met ‘n slavin, Joanna, soos man en vrou geleef. Ook hulle het ‘n seun met die naam John gehad. Maar Stedman se verblyf in die Karibiese streek was baie korter, van 2 Februarie 1773 tot 1 April 1777, toe die soldate na Nederland teruggekeer het.

Teen die einde van sy lewe is Stedman se boek gepubliseer: Narrative of a five year’s expedition, against the revolted negroes of Surinam in Guiana, on the Wild Coast of South America, from the year 1772 to 1777 (London: J Johnson & J Edwards, 1796, 2 quarto volumes, 80 engravings). Die gravure is reproduksies van Stedman se tekeninge. Veral William Blake (1757-1827), die latere bekende Engelse digter, se 16 uitstekende gravures het bekendheid verwerf. “The pictures in question were engraved by William Blake and the originals have disappeared. No one can be sure how much was Stedman’s and how much Blake’s contribution to their unquestionable power and authority” (Kindle 1664). “Blake was to become iconic in the campaign to abolish slavery” (1220). “The slave pictures passed into the iconography of the abolition debate. They were, and are, known to tens of thousands of people who know nothing about their connection with Stedman, and they are still deployed as standard illustrations to Caribbean and even African histories” (1659).

Dit is hierdie teks en illustrasies wat in verskeie weergawes ook in Duits, Frans, Italiaans, Nederlands en Sweeds gepubliseer is. Hulle is destyds deur aktiviste gebruik om steun te werf vir veldtogte om die vrystelling van die slawe te bewerkstellig. Deesdae word Stedman se boek steeds ingespan in anti-koloniale retoriek om skuldgevoelens by blankes oor slawerny te wek ten einde bevoordeling vir nie-wittes te verkry. Stedman se mulatto/baster vrou/bywyf, Joanna, word in hierdie proses tot ‘n ikoniese figuur verhef (101). Joanna was een van vyf kinders wat haar ma, Ceri, ‘n swart slavin, by ‘n blanke, Kruythoff, gehad het (1848). Stedman, daarenteen, word in propaganda soms as die skurk in die verhaal voorgestel, as ‘n uitbuiter van swartes, al het hy Joanna probeer vrykoop; al wou hy haar saam met hom na Holland neem (sy het verkies om by haar familie te bly); al het Stedman na Joanna se dood hulle seun, John, vrygekoop en hom binne sestien maande na Holland laat kom; al het hy John in Holland en van 1784 af in Engeland toegewyd versorg; en al het Stedman sy lyfbediende, die slaaf Quaco, vrygekoop.

Die ironie is dat hoewel Stedman se teks en die illustrasies in sy boek deur abolisioniste gebruik en misbruik is, hy nie ‘n voorstander van die afskaffing van slawerny was nie. “He didn’t like this talk about abolition … He preferred reform” (1984). Stedman skryf in die voorwoord wat hy in 1796 by sy teks byvoeg het: “It must be observed that liberty, when suddenly granted to illiterate and unprincipled men, must be to all parties dangerous, if not pernicious” (3085, 3184). “Stedman was deeply disturbed by the 1795 maroon [run-away slave] revolt in Jamaica and the 1796 Carib rebellion in St Vincent” (3111). Hierdie opstande is deur die Franse Revolusie (1789) geïnspireer. Desnieteenstaande het die kombinasie van teks en illustrasies veral hierdie gevolg gehad: “making his book throughout Europe for five decades one of the most powerful advocates of the cause he repudiated” (1984).

Stedman was glad nie tevrede met die 1796-uitgawe van sy boek nie. Stedman se teks is voor publikasie in opdrag van die uitgewer deur William Thomson herskryf, onder meer omdat Stedman se spelling en gebruik van leestekens en hoofletters veel te wense oorgelaat het en hy dikwels van sy onderwerp afgedwaal het. By Stedman was daar “an inexhaustible willingness to be sidetracked. He was interested in everything … When those interests were reinforced by his deep love for Joanna, he quickly lost all sense of difference, and was ready to listen to anyone” (693).

“Stedman regarded himself as far more of an artist than a writer” (2600). Hollands was sy moedertaal en beter as sy Engels. Die boek was boonop “his first extended piece of writing” (699). “What Thomson did was to cut away Stedman’s decorations, allowing the bare story to speak for itself” (143). “The main victim of the 1796 Narrative is Joanna. Most of the tapestry of allusion and quotation woven around her in [the] 1790 [manuscript] is simply cut away by Thomson” (3137). “Overwhelmingly, and without anywhere criticizing Joanna, Thomson disapproves of Stedman’s dealings with her” (3158), moontlik omdat hy ‘n Presbiteriaanse predikant was. Waarin Thomson geslaag het, was “shifting Joanna away from the Narrative’s centre to its fringe” (3158).

Bykans twee eeue na eerste publikasie in 1796 is ‘n betroubare weergawe van Stedman se teks, geredigeer deur Richard en Sally Price, met ‘n inleiding en notas, gepubliseer: Narrative of a five years expedition against the revolted negroes of Surinam: Transcribed for the first time from the original 1790 manuscript (Baltimore: Johns Hopkins University Press, 1988). Dit is belangrik om tussen die gepubliseerde 1790- en 1796-teks te onderskei. Die nie-betroubare weergawe van 1796 is die een wat invloedryk was. White skryf: “My preference, too, is for the 1790 ‘Narrative’, now revealed in all its richness. But it was the 1796 Narrative that made history” (148).

Daar is ‘n verdere komplikasie. Stedman het tydens sy verblyf in Suriname ‘n dagboek in verskeie vorme gehou en dit daarna aangevul met outobiografiese besonderhede oor sy lewe voor en na sy verblyf in Suriname. Die Suriname-dagboek het nie volledig behoue gebly nie. Maar ‘n vergelyking tussen die oorgelewerde dele van die dagboek en die 1790-manuskrip toon groot verskille. Wat hier gebeur het is dat Stedman na verloop van meer as ‘n dekade eers in die lente van 1788 met skryfwerk aan sy boek, gebaseer op sy dagboek, begin het. Hy was nostalgies oor die verlede, het gebeure aangedik en inligting bygevoeg wat soms sy dagboek teenspreek. White meen dit “could seem close to falsification” (1357).

Stedman was sedert 1782 met ‘n emosioneel-onstabiele Hollandse vrou, Adriana, getroud, by wie hy uiteindelik vyf kinders gehad het. Van 1784 af het hulle in Engeland gewoon. Stedman “was disillusioned with England” (335), ná sy aanvanklike “Fielding-derived fantasy of English country life” (360); ‘n verwysing na die Engelse romanskrywer, Henry Fielding (1707-1754). Stedman het verplig gevoel om Holland te verlaat en na Tiverton, Devonshire, in Engeland uit te wyk nadat sy brigade in 1782 ontbind is. Een van die gevolge van sy nuwe situasie was dat hy sy verhouding met die slavin Joanna in die manuskrip van sy boek verromantiseer het. “In writing the Joanna-centred sections of the ‘Narrative’, Stedman had his Journal at his elbow and the first point to be made is that he is not primarily concerned with the ‘facts'” (1828). “Between the diary entries made in Suriname during the mid-1770s and the completion of his ‘Narrative’ on 1 September 1790, he devised idioms for the presentation of himself, Joanna and the rebel maroons [run-away slaves] of Suriname, based largely on his reading in eighteenth century literature” (138).

Joanna is op 6 November 1782 weens vergiftiging in Suriname oorlede, nege maande nadat Stedman op 2 Februarie 1782 met Adriana getrou het. Stedman was besonder geheg aan sy en Joanna se kind, Johnny, maar Adriana “took her frustrations out on Johnny” (321; ook 404). Vir Adriana Johnny “was an interloper … she increasingly cast herself as wicked step-mother” (326). “Stedman’s pride in Johnny is one of the most attractive features of his Tiverton Journal. He was the living reminder of those days he had lain with Joanna in their small house on the outskits of Paramaribo” (449), die hoofstad van Suriname. Johnny het in 1792 as 17-jarige op sy vyfde vaart as Britse matroos by Jamaika verdrink.

Stedman het teen die einde van 1772 uit Holland na Surimane vertrek, van die eiland Texel af (534), soos Jan van Riebeeck meer as ‘n eeu vroeër. “By the time Stedman arrived early in 1773 … Jewish families were the longest established group of white colonists in Suriname, and the only ones to have preserved a separate racial and religious identity” (578). Hierdie Jode was voorheen in die Hollandse nedersetting in Brasilië, het in 1654 uitgewyk na wat tans Frans Guiana is en hulle in die 1660’s by die Engelse in Suriname aangesluit.

Slawe het dikwels gedros en hulle in die Guiana-woude gevestig en strooptogte op die plase uitgevoer, soms met behulp van slawe werksaam op die plase. As hulle gevang word, was hulle verweer dat hulle deur die marone ontvoer is. Hulle is marone/”maroons” genoem, afgelei van die Spaanse woord “cimarrón” (“cima” beteken bergtop) om aan te dui dat hulle wild of ongetem is (588). In Stedman se tyd was daar na beraming vyf of ses duisend marone. Ander slawe is ingevoer om die drosters te vervang. Onlangs ingevoerde slawe is soutwaterslawe genoem (603).

In 1760 en 1762 het die Hollandse owerheid naïewe ooreenkomste met twee maroongroepe gesluit waarvolgens hulle as vry en onafhanklike entiteite erken is. “Both groups agreed to halt their raids in return for an annual payment of supplies, including ammunition … Both groups agreed to hand over further runaways” (638). “Slaves continued abandoning the plantations for the forest, partly fleeing ill treatment, partly encouraged by the independence achieved by the existing maroons” (643). “Stedman had come to believe that the peace bought for the colony by the peace treaties of 1760 and 1762 had been achieved at too high a price. They had created, on Suriname’s very borders, flourishing communities who would always pose a threat, if only by the example they posed to the plantation slaves” (1192).

Boni was een van die leiers van die marone. “Boni’s name – along with lieutenants Baron and Jolycoeur – … passed into modern Suriname history as the archetypal resistance hero” (648). “It was Stedman’s Narrative that made Boni a prototype of the just rebel and guerrilla fighter” (652), al het hy gemoor en gesteel. Hierdie gebeure herinner aan FW de Klerk wat ten spyte van die goeie raad wat hy tot die teendeel ontvang het, besluit het om onvoorwaardelik met terroriste te onderhandel. Dit herinner ook aan die helde en ikone wat voor, tydens en na die De Klerk-onderhandelings gefabriseer is.

“Boni “was a second generation maroon, a so-called ‘bush-Creole’, born in the forest c 1730, probably of an Amerindian father and African mother. It sounds the right ancestry for someone afterwards taken up as a proto-nationalist – born in freedom, and descended from the two groups most exploited by the slave colony” (658). Boni “intended pursuing a policy of amalgamating all the separate maroon groups … to make them more effective as a fighting force” (663). Stedman “present a deeply sympathetic account of the ‘rebel Negroes'” (668). Hy “eventually came to admire” Boni (688).

Wat ‘n mens in White se boek lees, herinner dikwels aan ons geskiedenis. Daar was bv die projek om ‘n 94 kilometer lange halfsirkelroete in die woud te vestig en dit gereeld te patroleer ten einde die nedersetting teen aanvalle te beveilig. Soos in die geval van bv Koevoet of die Kaapse Korps of die vroeëre Britse pandoere is die Hollandse soldate deur ‘n “Neeger Vrijcorps or Black Rangers” bygestaan. “These were a contigent of 300 slaves who, in July 1772, were offered their freedom in return for military service” (705). Hierdie swartes het die plaaslike omstandighede geken. Hulle “turned out to be far more effective as forest fighters than any European troops” (710; ook 994). Wanneer die blanke troepe die woud ingevaar het op soek na marone “they … marched, European style, to the roll of drums; it is hardly surprising they saw nothing of the enemy” (947).

Die troepe wat na Suriname gestuur is, “was made up of several nationalities – Swiss, German, French, Dutch and, of course, the Scotsmen of the Scots Brigade” (973), waarvan Stedman lid was. Holland het op daardie stadium nie oor ‘n nasionale weermag beskik nie. In die linkse aktivistiese literatuur word voorgegee dat die slavinne onweerstaanbaar mooi vir hierdie blanke soldate was. In werklikheid was dit feitlik al vroue wat beskikbaar was en dié van gemengde afkoms, die mulatto’s, is deur die blanke soldate bo die swartes verkies. “In a colony of 3 000 whites and slaves, the arrival of 500 young European men with 400 to follow was the event of the century. No one knows exactly how many widows or unmarried heiresses were in Paramaribo at the time, but they descended on the young officers in swarms” (720). Stedman “was in a buyer’s market” (734).

Die situasie was dus eintlik heel anders as wat dit deesdae graag in linkse geledere voorgestel word. Die blanke soldate het die slavinne in ‘n sin in sommige gevalle eerder bevoordeel as benadeel. Op 1 Maart 1773 skryf Stedman in sy dagboek: “Receive a cordial and two fine oranges from a mullato girl” (725). In sy Narrative word dit aangedik tot “a basket of oranges” (1828). “Interestingly, it was Joanna herself [who] took the initiative in approaching him: we learn later it was she [who] sent the cordial and oranges” (734; ook 1027). Sy was 15 jaar oud (1032). Stedman het met Joanna se ma en die res van haar famlie ooreengekom dat “Joanna was to be cook, nurse, laundry woman and concubine” (734). Sy “belonged to an extended family with connections even among the rebel maroons” (913).

“The ‘wedding’ of 8 May was the conclusion of these transactions in the presence of Joanna’s relatives. However, it is also abundantly clear from the Journal that Stedman quickly fell in love with her … Despite the many opportunities for sexual adventure in Suriname at all levels of society, he appears to have been faithful to her … Most significant of all, in tracing the development of his feelings, is his deepening sense of responsibility for her” (739). “He was concerned about her future and had no wish to depart leaving her pregnant with a child who would, by the law of the colony, be born into slavery. This refusal to treat her as a sexual commodity develops into a passion to ‘free’ her” (749). “Inter-racial marriages were permitted under Dutch colonial law … But is was not possible to marry a slave, and Stedman’s ‘Surinam’ marriage was the only type of marriage available to him. He seems, initially at least, to have regarded it as binding, with the ultimate intention of ‘freeing’ her and taking her back to Holland when his regiment was withdrawn from Suriname” (1137).

Stedman kon egter nie daarin slaag om met Joanna se slawe-eienaar op ‘n vrystellingsprys ooreen te kom nie. Joanna het die bediende van mev Godefroy geword vir wie sy tot die einde van Godefroy se lewe sou moes werk. “Joanna had found a more congenial owner. The condition was that she would never leave Suriname, at least during Mrs Godefroy’s lifetime … it was years before Stedman came fully to terms with this implication, that she [Joanna] preferred her life in Suriname to the prospect of accompanying him to Holland. It also left Johnny’s fate undecided” (1172).

“With his fellow officers and men, he [Stedman] spoke Dutch and sometimes French. With Quaco, his manservant, and with the oarsmen, he was already speaking Sranan, the Suriname Krio he had begun to learn from his sleeping dictionary, Joanna. But he kept his Journal in English, and in a dialect increasingly distancing himself from his situation” (799). Met ander woorde, sy simpatie het al hoe meer na die kant van die slawe en marone geleun. “It is only … in the final entries of the Suriname diary, that he offers any hint that their [the slaves’ and maroons’] cause may be a just one” (882).

“There can be no doubt that Joanna was the first agent of his change of heart supplemented, once his eyes were opened, by what he loved to term ‘occular demonstration'” (908), met ander woorde, persoonlike, sintuiglike waarneming. Verdere aansporing was toe hy agtergekom het dat Joanna swanger is. “Instantly aware of the momentous implications – that his child, the future Johnny, would be born into slavery – he began, literally overnight, to record examples of cruelty to slaves” (1094). Dit was deel van “his new role as prospective father. He was beginning to change sides” (1104). “The fact is that anti-slavery sentiment barely existed in the third quarter of the eighteenth century” (892). “As for Holland, always Stedman’s first point of reference, revulsion against slavery would not be a significant political force until the 1850s” (897).

Suriname was geen klaslose gemeenskap nie. Daar was nie net ‘n onderskeid tussen blankes en nie-blankes, slawe-eienaars en slawe, asook marone en slawe, nie. “There were divisions in Suriname’s slave population, between shades of colour [black and mulatto], between domestic and plantation slaves, and even between different versions of plantation slavery. Sugar was the most demanding crop of all. Cultivated on a large scale to a strict seasonal timetable, and requiring a regimented work force … Coffee and cotton production were less hectic, and lumber work deep in the forest was, in strictly relative terms, the freest slavery of all” (1042). Gelykheid en eendersheid in gemeenskappe is wensdenkery. Onderskeide en hiërargie is so natuurlik soos water.

Ek het aangetoon hoe historiese gebeure deur propagandiste vir hulle doeleindes skeefgetrek word. Daar is ook insiggewende parallelle tussen die twee eertydse Hollandse kolonies, die Kaap en Suriname. Hierdie rubriek dien as agtergrond vir die volgende een, waarin ek skryf oor ‘n Afro-Surinamer, die lesbiese mulatto Gloria Wekker, wat in haar onverkwiklike aanvalle op hedendaagse blanke Nederlanders in meer as een opsig ‘n skewe siening van die verlede en hede het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.