Brief: Van Tonder, jy het #Spur opgedonder

Politieke korrektheid het ‘n prys. ‘n Duur, rand-en-sent prys. As jy ‘n maatskappy is met ‘n elitistiese bestuur, wat uit ‘n PK-hoogte op jou eie klandisie neersien, is bankrotskap en miljarde se geldelike verliese jou voorland.

Só het die Amerikaanse winkelgroep, Target, agtergekom, nádat hy ‘n ernstige aanval van PK-itis beleef het. Koorsig van die politieke korrektheid, het Target besluit om sy winkels se toilette voortaan oop te stel vir diegene wat hul verbeel dat hulle eintlik met die verkeerde geslagsorgane gebore is. Sulke hallusinasies, soos die hoor van stemme in jou kop en om jou te verbeel jy is iets wat jy nie is nie, is uiteraard ook ‘n kenmerk van geestesongesteldhede soos skisofrenie.

Enige man wat volhou hy is ‘n sogenaamde “vrou vasgekeer in ‘n manlike liggaam”, kon dus by die damestoilette van ‘n Target-winkel instap en na hartelus na dogtertjies en hul ma’s staar. Target het hom egter lelik misreken met sy klandisie, en ‘n grootskeepse boikot het gevolg. Die gewone man op straat, wat nie deur die PK-virus besmet is nie, het in opstand gekom. Target se aandeelprys het gevolglik met 30% gedaal, en sy verkope met 6%, wat verliese van miljarde dollar verteenwoordig.

Nog ‘n individu wat vrot is van die PK-griep, is Pierre van Tonder, die hoofuitvoerendebeampte van Spur. In ‘n insident vroeër vanjaar het ‘n swart bullebak ‘n blanke dogtertjie in ‘n Spur se speelarea aangerand. Die dogtertjie was helfte van die bullebak se ouderdom en helfte van sy grootte. Daar was merke op die dogtertjie se gesig agv dié barbaarse aanranding. Die pa van die dogtertjie het die ma van die bullebak gaan konfronteer, sy het op hom gevloek en die man het glo ‘n dreigende houding ingeneem, maar, anders as die bullebak, nie fisies aan die vrou geraak nie.

Spur het egter geen tyd verspil om soos ‘n trop buffels by ‘n breekwarewinkel in te storm nie. Met PK-vaandels wapperend in die wind, het die Spur se bestuur die pa summier verban uit alle Spur-restourante. Die vloekende ploert van ‘n ma van die bullebak, daarenteen, is nederig om verskoning gevra. Wie weet — miskien het sy selfs lewenslange gratis etes by die Spur gekry, sodat haar bullebaktelg in die toekoms ook na hartelus ander blanke kinders kan beseer in die speelarea.

Waarom is albei nie verban nie, sou enige rasionele waarnemer vra? Dis eenvoudig: Want die ma is swart, die pa is wit, en die Spur bestaan uit politiek korrekte fanatici. Dit gaan uit en uit oor ras, en die Spur het homself as ‘n anti-blanke, rassistiese maatskappy bewys. In die PK-wêreld is wit per definisie verkeerd, en swart per definisie reg.

Die onafwendbare gebeur toe. Derduisende blankes het die Spur spontaan begin boikot. Omset in sommige restourante het met tot die helfte gedaal. Sommiges moes selfs hul deure sluit. Nietemin het Van Tonder bloot net aangedonder. Toe hy deur die waas van sy PK-koors begin sien dat hy nou ernstige twak aangejaag het, het hy net meer verbete en histeriese politiek korrekte sothede begin kwytraak, soos dat diegene wat die Spur boikot, sogenaamde regses en rassiste was. Hulle is glo diegene wat woon in areas deurtrek met KP-stemmers, een en almal, terwyl die KP al vir dekades lank nie meer bestaan nie.

(Maar natuurlik. Hoe dan anders? Enige blanke wat hom nie gedienstig neerbuig voor die PK-afgod nie, is mos noodwendig ‘n rassis en ‘n regse. Ongelooflik hoe Van Tonder en sy maatskappy hul kernklandisie so kan minag.)

Van Tonder het ook toe die simpatiekaart probeer speel. Dis arme Afrikaner-konsessiehouers wat ly onder die boikot van die regses, het Van Tonder toe beweer. Dit mag in enkele gevalle weliswaar so wees, maar moet Afrikaners dan maar net aanhou om hul geld te bestee by ‘n maatskappy wat ons so aktief minag? Moet die massa die enkele konsessiehouers se belange bó hul eie stel?

Ek stel terloops voor dat sodanige konsessiehouers begin met ‘n regsgeding teen Spur se hoofkantoor, of dat hulle hul konsessies prysgee en ‘n restourant onder ‘n ander handelsnaam heropen. Spur het myns insiens kontrakbreuk gepleeg deur moedswillig die konsessie se handelsnaam in oneer te bring, en deur sy konsessiehouers se teikenmark moedswillig te vervreem.

Toe dinge vir Van Tonder nog warmer raak, het hy selfs begin beweer dat dit ‘n politieke party — Front Nasionaal — was wat die veldtog met politieke oogmerke geloods het. Helaas vir Van Tonder was FN se veldtog slegs een van vele, en is die boikot veel meer wydverspreid onder doodgewone blankes, ook Engelssprekende blankes, soos my buurman.
Hier is my voorspelling: Daar is drie groepe wat hulself gelukkig sal ag as hulle Kersfees 2017 lewend sien. Een is kalkoene. Die tweede is heelwat Spur-restourante. Die derde is Van Tonder en sy trawante in Spur se topbestuur.

Van Tonder, jy het opgedonder.

— Jared van Niekerk, per e-pos

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.