Karel Combrinck: Weste voer VN ‘n woestynpil

Indien daar nog twyfel was oor die sinisme, valse vroomheid en korrupsie van Westerse demokrasieë, dan het die verkiesing van die VN se Kommissie vir Vroueregte in April 2017 dit tot walging toe bewys. Sewe-en-veertig van die 54 lede van die VN se Ekonomiese en Sosiale Raad het naamlik ‘n verteenwoordiger van Saoedi-Arabië tot lid van die Kommissie vir Vroueregte verkies.

Die stemming was geheim maar by wyse van eliminasie is dit duidelik dat minstens 15 Westerse demokrasieë vir die Saoedi-Arabiese kandidaat moes gestem het, waaronder minstens 5 Europese lande. Die Kommissie bestaan uit dertien lede, waarvan een nou ‘n Saoedi-burger is.

Die posisie is natuurlik dat Saoedi-Arabië een van die swakste rekords ter wêreld het vir sover dit vroueregte aanbetref. Steniging en geseling van vroue is amptelike strafvorme in Saoedi-Arabië en kom algemeen voor. Minder belangrik, maar tog insiggewend, is dat vroue in Saoedi-Arabië nie eers ‘n motorvoertuig mag bestuur nie.

Met een uitsondering is geen van die Europese lande wat vir die Saoedi-Arabiër gestem het bereid om dit te erken nie, maar kruip hulle weg agter die geheime stemming. Die uitsondering is België, wie se buitelandse minister, Didier Reynders voor die Belgiese parlement apologie aangeteken het vir die pro-Arabiese stem wat die gevolg was van die patetiese rede dat die Belgiese verteenwoordiger by die VN nagelaat het om vooraf met sy regering oorleg te pleeg.

Die ware redes vir die vriendskapsgebaar teenoor Saoedi-Arabië is natuurlik eerstens oliebelange en voorts die feit dat Westerse lande wapens ten bedrae van miljarde dollar aan Saoedi-Arabië verkoop, wapens wat hulle onder meer gebruik om die bevolking van Jemen te onderdruk. Die Westersgesteunde Saoedi-Arabiese oorlog in Jemen is daarop gemik om die regering daar teen rebelle te verdedig, m.a.w. presies die teenoorgestelde situasie as dié in Sirië, waar die Westerse lande die rebelle téén die regering steun.

Waarmee ons hier te make het, is die volslae morele dekadensie van wat ons as die ” Westerse Beskawing” beskryf en waar daar net een waarde oor is — die $-teken.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.