Gustav Venter: Dan Roodt — Sestig!

As ek vir jou sê dat Dan Roodt op 26 Mei 1957 gebore is – en hy is – en jy tel op wat opgetel moet word en trek af wat afgetrek moet word, sal jy by een uitslag uitkom: Die man word vandag, 26 Mei 2017, sestig jaar oud. Dit is goed. Dit is ʼn goeie ding. Ons almal, veral die Afrikaners, ook dié wat dit nie besef of dit nie wil glo nie, het vir Dan Roodt op 60 nodig. Die Groot Vyfdosyn is ʼn goeie ouderdom vir Dan. Dit is ʼn ouderdom van die kragtige samevloeiing van ervaring, kennis, bedrewenheid, idees en die uitvoering van planne se stappe. Die man se nuuskierigheid is so ongebreideld soos altyd, sy vermoë om patrone in verskuiwings en formasies te sien nog net so betroubaar en sy intellektuele energie nog net so onblusbaar soos altyd.

Nou nie dat almal hom vandag gaan bederf, soos Karin sekerlik gaan maak, of so hartlik gelukwens soos sy kinders Octavia, Tristan en Alexander, of sterkte toewens soos sy stewige vriendekring, of ondersteuning aanbied soos sy groeiende falanks volgelinge nie. Daar is ʼn lang sleepsel mense wat in ʼn ry staan om hom al die ellende van die hel toe te wens, en dit is ook ʼn goeie teken, want een skaal waarin ʼn man se waarde geweeg word is die aard van die vyande wat hy gemaak het en daagliks byvoeg. So tree aan, lib en linksis en Marxis en volkshater en Empaaierpierewaaier en globalis en integriteitslose joernalis… Die man is sestig en hy is op dreef.

Nou hoekom word hy so deeglik en luidkeels verpes? Want die selfgewaande intellektueel kan sy intellektuele meerdere vergewe, die grapjas kan die meer spitsvondige aanvaar en die satirikus kan wegkwyn voor die skerper skalpel en dan weer uitdy, maar ai, in ʼn wêreld waar soveel mense so gereeld en so vreeslik verkeerd is, sal die een wat konsekwent reg is, nie vergewe word nie.

En dis die ding met Dan Roodt — hy is altyd reg, en hy is gemiddeld so vyftien jaar voor enige iemand anders reg. (As jy wil weet wat Max du Preez in 2032 sou skryf, lees Dan se rubriek van verlede week.) Dan was reg oor die verval van die Nasionale Party. Dan was reg oor die eers-kruipende en toe skielike oorname van die Kommuniste in Suid-Afrika. Dan was reg oor die aanslag op Afrikaans. Dan was reg oor die kultuuroorlog. Dan was reg oor die verval van Suid-Afrika tot Derdewêreldland. Dan was reg oor die onaanpasbaarheid van rasse. Dan was reg.

Ek lag dan nou as ek mense sien dinkskrum oor die ligging en aard van ʼn Volkstaat. As jy Dan Roodt al die jare gelees het, is dit nou vir jou so, so… 2002. Toé het hy skriftelik gedagte-eksperimente daaroor gehad: Koop ʼn eiland langs die kus van Australië; bekom ʼn stuk van Botswana; gaan die dorre hinterland in… As jy wil weet wat nie gaan werk nie en hoekom nie, lees Dan Roodt. Maar as jy dan nou weer wil weet wát gaan werk, moenie ophou lees nie.

Dan Roodt op sestig — ons moet dit merk! En ons gaan. Ek is reeds besig om boonstelaaiskrywers, almal vriende, of ten minste krytgenote, van Dan, te werf om elkeen ʼn opstel oor hom te skryf. Ons sal dit gereeld op Praag plaas so met die verloop van die volgende paar maande. So teen September dan, is die plan, om hierdie stukke in ʼn bondel te boekstaaf onder die voorlopige titel van “Roodt in swart op wit.”

So — laat klap die vonkelwynproppe, bring ʼn gloeikool teen die sigaar se punt, druk die partjiepunthoed reg: Veels geluk Dan! Ons sien uit na wat volg, doodseker dat jy reg is om aan te hou reg wees.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • Veels geluk dr. Dan. Wat ‘n pad! Om te dink jy kon ook al gekies het om jou goed te pak, of om bloot met die stroom te beweeg in joiner-weelde, liberale niksseggendheid, towerfluitspel, buikspraak of in ‘n akademiese vakuum. Jou erflating sal waardevol wees saam met die wie volhard vir reg en geregtigheid.

  • Ciska

    Soos my Ma altyd sê: seënwense en alles wat mooi is op jou pad voorentoe! Baie geluk met die groot dag!

  • Ferdi Van Staden

    Baie geluk Dok. Dan. Ek kan nie sulke gevleuelde woorde uiter nie, maar my wens is Seen en vreugde vir jou nuwe lewensjaar. Mag dit voorspoedig wees, en mag jy Krag en Genade ontvang van ons Skepper. Geniet die dag, vol bederf en vreugde.

  • leonlemmer

    Hartlik geluk aan Dan Roodt met sy verjaardag en baie geluk aan Gustav Venter met sy briljante skrywe.

  • Rifrug

    Baie geluk, Dr. Dan!

  • Dankie, Gustav, vir dié opbeurende maar hopeloos te vleiende stuk woordkuns uit jou pen. Al gaan ek heel dag lank bloos, het ek dit baie geniet!

  • Vicky

    Dan is al 60. Waar is die volgende generasie wat die strydbyl by hom gaan oorneem?

    • sussie se vissie

      Kevin….perhaps ?

  • coendemilander

    Dr Dan, my hartlike gelukwense met die bereiking van hierdie mylpaal in jou lewe. Ek bid jou Gods rykste seën op die pad vorentoe en hoop dat jy nog lank met krag en goeie gesondheid vir die Afrikaner volk gespaar sal bly. Geniet die dag.

  • Right to Reason

    Dankie vir u bydra. n Afrikaner Ysland is n briljante idee!

  • Cousin Vinnie

    Baie geluk Dan Roodt, geniet die dag en mag daar nog baie wees maar mag die omstandighede beter raak in hierdie vrot nes wat hulle SA noem!! 🎂

  • sussie se vissie

    Dok Dan,
    My gelukwense aan u dra ek op ( veral met verwysing na die laaste strofe ) as ek steel by Van Wyk Louw as hy sê:
    “neem die vir jou;
    maar ek wat gaan/
    waar hoër, kouer paaie lê/
    wil weinig troos en geen gebed/
    en min, maar suiwer woorde hê”.

    In lsg lê u krag. In woord en profetiese begrip.
    Merk selfs die hoendertjies van Beeld besoek die bieghokkie….for the chickens are coming home to roost.

  • Suidpunt

    Van harte geluk, Dr. Roodt. En dankie vir ‘n roman soos “Moltrein”. En dankie vir die waarheid.

  • Suidpunt

    Nog iemand wie se boodskap geautoblok was. Terloops, baie dankie vir daardie boekwinkel in Pretoria wat u my aangeraai het. Ek is hoogs in my skik met die diens – dit is die poorte na Duitsland.