Waarskuwings oor Manchester-terroris geïgnoreer weens Britse ‘verdraagsaamheid’ jeens Islam

Sou die Manchester-selfmoordbommer Salman Abedi aan Maandag se tragiese moorde deelgeneem het, soos die Wall Street Journal opgemerk het, indien hy nie deel was van die Amerikaanse optrede om die Libiese regering omver te werp, wat geëindig het in die verstekoorlog in Sirië wat op sy beurt bedoel is om president Assad omver te werp ter wille van ‘n Katariese gaspyplyn nie?

‘n Moslemgemeenskapswerker, wat die Manchester-bomsteller geken het, het gesê dat lede van die publiek hom reeds vyf jaar gelede by die polisie gaan aangee het nadat hy teenoor ‘n tiener erken het dat van mening was dat “selfmoordbomme toelaatbaar is”.

Die werker wie se naam nie bekend is nie, het aan die BBC gesê dat twee mense wat Abedi tydens sy tyd op hoërskool geken het, afsonderlike oproepe aan ‘n antiterreuroproepsentrum gemaak het.

Amerikaanse verdedigingsamptenare het aan Fox News verklaar dat Salman Abedi drie weke voor die Manchester-bom in Libië deurgebring het, en en net enkele dae voor die Ariana Grande-konsert na Engeland teruggekeer het, toe hy sy aanval op die konsertgangers geloods het.

Abedi se voormalige klasmaat, wat anoniem wou bly, sê hy was “kort-kort gedurende die jaar afwesig — maar ek weet nie of hy landuit was, of net nie vir skool opgedaag het nie, want hy was met die verkeerde mense deurmekaar”.

Hamid El-Sayed het aan die BBC gesê dat Abedi se akademiese wanprestasie aan kulturele faktore toegeskryf kon word. “Dit was vir hom moeilik om by die Europese lewenswyse aan te pas,” het Sayed gesê, wat vir die VN navorsing oor “radikale Islam” gedoen het en tans aan die Universiteit van Manchester verbonde is.

Tydens ‘n onderhoud met Sky News het ‘n blanke konsertganger beskryf hoe sy ‘n agterdogwekkende Arabiese vrou in die gehoor aan die veiligheidsdiens uitgewys het, maar beantwoord is met: “Hoe sou u voel indien u deur iemand verdink word?” Die veiligheidsbeamptes het niks gedoen omtrent die senuagtige Arabiese vrou wat heel aand oor haar skouer gekyk het na die plek waar die bom uiteindelik sou afgaan nie.

‘n Voormalige buurman van die selfmoordbomsteller glo dat hy al geruime tyd lid van ‘n terreurgroep moes gewees het. Antone Jones, wat naby die aanvaller in die Fallowfield-buurt van die stad gewoon het, het beskryf hoe hy gesien het dat hy die ISIS-vlag van sy huis se dak af drapeer.

Nog ‘n buurman, van Gorton, het vertel dat sy houding hom oorreed het dat hy ‘n lid van ISIS was.

Intussen is die persoon wat die bom gemaak het waarmee die Manchester-arena opgeblaas is, steeds op vrye voet en kan enige oomblik wéér toeslaan. Inligtingsdienste glo dat Abedi wat die spykerbom in die ingangsportaal van die konsertarena laat afgaan het, ‘n “muil” was en dat die toestel deur ‘n deskundige gemaak is, berig ‘n Manchesterse dagblad.

Die bom verteenwoordig ‘n groot tegniese verbetering op die kru maar dodelike aanvalle deur middel van voertuie te Westminster vanjaar, asook die gruweldade in Nice en Berlyn in 2016 waartydens vragmotors gebruik is. Die spykerbom is met boute en moere gelaai sodat die maksimum beserings in ‘n beperkte ruimte veroorsaak kon word.

Daar is vrese dat wie ook al vir die Manchester-arena-bom verantwoordelik was, weereens ‘n soortgelyke aanval sou kon uitvoer. Dinsdagaand het die Britse eerste minister, Theresa May, die VK-terreurbedreigingsvlak van ernstig tot dié van ‘n krisis verhoog.

Abedi is blykbaar nie die enigste lid van sy familie wat ekstreme menings huldig nie, in weerwil daarvan dat hy lid van die “pro-Westerse” magte in Libië was. Libiese amptenare het die selfmoordbomsteller se vader en twee broers in hegtenis geneem en het dít as ‘n komplot vir ‘n nuwe aanval onthul.

Hasjim Ramadan Abedi het gebieg dat beide hy en sy broer deel was van die Islamitiese Staat-groepering en dat Hasjim van die besonderhede rondom die aanval bewus was. Hasjim Abedi, wat in 1997 gebore is, is Woensdagaand in Tripoli in hegtenis geneem, het ‘n regeringsamptenaar gister aan Reuter gesê.

Die vader van die bomsteller is Woensdag in Tripoli gearresteer, het ‘n Libiese veiligheidswoordvoerder teenoor Associated Press bevestig. Die vader, Ramadan Abedi, het gesê dat nog ‘n broer van die bomsteller, Ismail, Dinsdag in hegtenis geneem is.

Vroeër het Abdel-Basit Haroen, ‘n voormalige veiligheidsbeampte in Libië, aan Associated Press gesê dat hy Ramadan Abedi persoonlik ken en dat die ouer Abedi ‘n lid van die Libiese Islamitiese Gevegsgroep is. Tydens die geallieerde inval in 2011, het lede van dié groep beweer dat hulle ‘n sleutelrol gespeel het om kolonel Moeammar Ghaddafi se bewind omver te werp. Dié mag het hom met die Nasionale Oorgangsraad in Libië vereenselwig.

Die moeder is in ‘n artikel in die Londense Guardian as ‘n “baie aangename vrou” beskryf wat ‘n vriend se dogter geleer het om die Koran te lees.

Die vader het in 1993 uit Tripoli ontsnap nadat Ghaddafi se veiligheidsowerheid ‘n lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik het, waarna hy om politieke asiel in Brittanje aansoek gedoen het. Die ouer Abedi het eers Londen toe geëmigreer voordat hy hom in die Whalley Range-buurt suid van Manchester gevestig het, waar hulle vir ten minste ‘n dekade lank gewoon het.

Manchester se polisiehoof, Ian Hopkins, het Woensdag aan verslaggewers gesê dat dit duidelik is dat “dit ‘n netwerk is wat ons ondersoek” toe hy die jongste nuus oor hul ondersoek na die bomaanval verstrek het.

Ná die Westminster-terreuraanval van Maart 2017, het YouGov ‘n meningspeiling onderneem waarin bevind is dat nege uit tien Britse burgers dink dat verdere terreuraanvalle waarskynlik is. Tot 70 persent van Britse burgers het gemeen dat die terreurbedreiging vererger het.

Statistiek toon dat 90 persent van Britte verwag dat meer terreuraanvalle teen hul land gepleeg gaan word. In die YouGov-peiling is bevind dat die meeste Britte ook glo dat hul regering hul taak om die terreurbedreiging te bekamp “taamlik doeltreffend” uitvoer, maar dit mag verander.

Terreuraanvalle in Europa is tans ‘n byna daaglikse gebeurtenis, en Europeërs word gekondisioneer om dié feit te aanvaar, want danksy hoofstroompropaganda troef “verdraagsaamheid” wel veiligheid.

By ‘n nagwaak in Birmingham is ‘n 39-jarige man in hegtenis geneem met twee wapens, ‘n byl en ‘n lang stok. Ongeveer ‘n duisend roubeklaers op Victoriaplein is aangesê om die perseel onmiddellik te verlaat.

“Die man het ‘n sak gedra, en as ‘n voorsorgmaatreël is Victoriaplein waar die nagwaak gehou is, ongeveer 15 minute lank ontruim. ‘n Klein byltjie tesame met ‘n lang stok is gevind,” het die polisie gesê.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.