Ekonomiese krisis!

ImageDit is net ses kort maande sedert ʼn subprimaverbandskrisis in twee regeringsondersteunde Amerikaanse huisleningsmaatskappye die Amerikaanse ekonomie gekelder het. Van die optimistiese vooruitsigte vir die Amerikaanse ekonomie aan die begin van 2008 is daar in 2009 niks oor nie. Maar dit is net een jaar gelede dat die New Yorkse en Londense aandelebeurse historiese hoogtepunte bereik het. Toe het selfs die mees pessimistiese vooruitskattings net ʼn korreksie in dié beurse voorspel. Oor die algemeen het Amerikaners nie geglo dat ʼn huisleningskrisis hulle ekonomie sou kelder nie, en hulle het 2008 optimisties verwelkom: Ekonomiese groei, meer rykdom, beter maatskaplike omstandighede en die onvermydelikheid van Amerikaanse oorheersing was die natuurlikste toestand ter wêreld.

Een jaar gelede is waarskuwings wat hier en daar geuiter is oor die algemeen geïgnoreer. Bush se “Surge in Iraq” was besig om resultate te lewer. Barack Obama en Hillary Clinton was besig om vir die Demokratiese Party se kroon mee te ding, en Amerikaners sou binne maande begin uitsien na verlossing onder President Obama.

Daar was die netelige probleem van die ruolieprys, wat in Januarie 2008 na meer as $100 per vat gestyg het, en wat skynbaar hardnekkig gaan aanhou styg tot bykans $150 per vat. Blaam hiervoor is vrylik toegewys:  Dis die spekuleerders, of dis oliemaatskappye soos Exxon-Mobil wat die mark nie genoegsaam voorsien nie, of dit is geheimsinnige internasionale agente in Saoedi-Arabië wat besig is om die mark te destabiliseer, of groen politici het saamgesweer om te verhoed daar vir ruolie geboor word. 

 
Verduidelikings het gestrek vanaf die rasionele tot beskuldigings van sameswerings, en radikale teoretici het hulle waansinnige teorieë oor ruolie met oortuiging oorvertel. Maar terwyl die hoë olieprys dit duurder gemaak het om Amerikaanse vierwielvoertuie vol te maak, was niemand juis bekommerd nie. Pensioene en ander beleggings was kwansuis veilig in bekwame hande.  Bear Sterns en Meryl Lynch se uitstekende beleggingskemas waarin die pensioenfondse belê was, of Madoff se slim Ponzi-skemas, was veilig en aan die groei; Amerikaners het aanvaar dat hulle hulle oudag  skatryk in Florida gaan geniet – met son, seilbote en warm sand, en ʼn Martini in die hand.  Onbesorg kon hulle van een mooi droom van brandertjies op die strand tot ʼn ander met mooi beelde van rykdom en sekuriteit insluimer.

Dit was natuurlik te goed om alles waar te wees. Uiteindelik het die mooi drome in nagmerries verander, en Amerikaners het in Augustus en September 2008 skielik met sweet op die voorkop wakkergeskrik en besef dat die geluide op die buitedeur nie reëndruppels is nie, maar dat ʼn ondier se kloue diep groewe in die hout krap. Vrees en afsku is aan die uitbreek, met onrus nou in sig.

Daar was reeds enkele jare terug tekens dat alles nie pluis met Amerikaanse finansies is nie.  Die Bush-administrasie het reeds in 2001 geluide gemaak dat hoërisikoverbande sommige banke aan onaanvaarbare risiko’s blootstel. Die waarskuwings is in 2003 en in 2005 herhaal, maar die Amerikaanse Kongres het versuim om op te tree. Uiteindelik het die krisis die banke ingehaal – in ʼn klassieke illustrasie dat mens nie iets uit niks kan kry nie, selfs in die finansiële wêreld: Soos bloed kan rykdom, geld en ʼn groeiende ekonomie nie uit ʼn klip getap word nie, maar is onderhewig aan dieselfde Newtoniaanse gravitasiewette wat klippe aarde toe laat val.

Uiteindelik was dit die stygende ruolieprys (wat Amerikaanse verbruikers se kontant opgeslurp het), in kombinasie met die toksiese hoërisiko huislenings, wat ʼn finansiële storm ontketen het tot so 'n mate dat dit in sommige oorde as ʼn Tweede Depressie beskryf word. Faktore wat verder bydra tot die gemors is die geweldige vloei van kapitaal vanaf die VSA na die Midde-Ooste en Sjina om vir ruolie en verbruikersartikels te betaal. Dié kapitaal moet teruggeleen word van Sjina om Amerikaanse banke solvent te hou, en deel van die Amerikaanse nagmerrie wentel rondom Sjina wat eendag daardie lenings gaan inroep.  

ʼn Neweproduk van die ekonomiese insinking is ʼn sterk afname in aanvraag na petroleumprodukte, met die gevolg dat die ruolieprys afgedruk is tot onder $40 per vat. Die afname is net tydelik en is uitsluitlik die resultaat van die ekonomiese krisis. Waarom is dit so?

 
Die gevolge van die ekonomiese storm is, om die minste te sê, skrikwekkend. Amerikaanse Motormaatskappye se verkope het gedaal met meer as 40% van jaar-tot-jaar tot Februarie 2009. Selfs Toyota se verkope is met ongeveer 40% af, en gerugte doen die rondte dat Sjinese motorvervaardigers Amerikaanse motorhandelsmerke gaan koop en produksie Sjina toe gaan verskuif. Die Amerikaanse ekonomie is ook besig om miljoene werksgeleenthede te verloor en is nou in volle resessie. Pogings om skokterapie toe te pas om die insinking om te keer is in volle swang, en is ʼn demonstrasie dat sommige mense steeds glo dat mens iets uit niks kan kry.  Die Bush- en Obama-administrasies het triljoene dollars begroot om banke te red, toksiese verbande te koop, en om kapitaal te verskaf om die ekonomie weer met finansiële stimulasie aan die gang te kry. Dit is egter soos om geld in ʼn swart maalkolk te stort. Behalwe om dit te sien verdwyn, het dit omtrent geen ander resultaat as om die groeiende Amerikaanse skuld van ongeveer elf triljoen dollar nog verder op te stoot nie.
Internasionaal is daar gevaartekens vir die VSA. Die land moet kapitaal dringend  van Sjina leen, en Hillary Clinton het reeds geluide gemaak om die Sjinese te oortuig dat beleggings in Amerikaanse staatseffekte gesond is. ʼn Verlies aan vertroue in die VSA se vermoëns om lenings terug te betaal kan die Amerikaanse ekonomie in ʼn doodspiraaldepressie laat beland – of geld moet gedruk word (dit veroorsaak ʼn inflasie-spiraal), of deflasie gaan dit onmoontlik maak om reeds bestaande skuld te vereffen. Nodige en drastiese inkortings in die regeringsbegroting sal Amerikaners van hulle regering se uitgawes moet speen – wat sal lei tot verlore werksgeleenthede en maatskaplike onrus. Tans het die New Yorkse beurs reeds 50% van sy waarde verloor (oor ses maande), en daar is nóg tekens dat dit verder kan daal.  In vergelyking het beurse tydens die Depressie vanaf 1929 met ten minste 80% oor etlike jare gedaal. Dié keer kan dit geëwenaar word.

Amerikaners is oor die algemeen ontnugter en ontsenu.  In ʼn interne memo aan sy werknemers skryf mediabaron Rupert Murdoch "We are in the midst of a phase of history in which nations will be redefined and their futures fundamentally altered” terwyl die finansier en biljoenêr (en linksgesinde) George Soros in Februarie by Columbia Universiteit sê dat “the world financial system has effectively disintegrated… there is yet no prospect of a near-term resolution to the crisis…the turbulence is actually more severe than during the Great Depression, …[comparing the current situation to the demise of the Soviet Union]…We witnessed the collapse of the financial system…There's no sign that we are anywhere near a bottom."

Die gevolge van die finansiële vloedgolf is besig om uit te kring. Dat lande hervorm gaan word (soos Murdoch voorspel) in die proses, begin nou meer duidelik blyk. Die Engelse polisie is besig om voor te berei vir ʼn somer van misnoeë, stakings en onrus, terwyl feitlik elke ander Europese land ernstige finansiële probleme in die gesig staar. Onrus, stakings en selfs geweld is onvermydelik, en die naarstiglike begrotings om likwiditeit in die Westerse ekonomieë te pomp sal heel waarskynlik misluk.

Hoe lank sal dit duur?  Optimiste praat van ʼn oplewing in 2010, maar ʼn langer en dieper resessie of ʼn depressie, tot 2012, is meer waarskynlik.  Die afname in die beurse het die ekonomie ten minste vir ʼn dekade teruggesit, en die verlore rykdom, deels gebou op sand en lugkastele, sal moeilik gerekonstrueer of herwin word.

Dit bring my weereens by die prys van energie in die vorm van ruolie. Ekonome vergeet dikwels dat ekonomiese aktiwiteite, net soos elke ander fisiese aktiwiteit onder God se son, aangedryf word deur ʼn vloei van energie vanaf ʼn lae entropie toestand om dan uiteindelik geabsorbeer word in ʼn hittesink met hoë entropie. Dit is die wette van termodinamika, en die opmerking dat mens nie iets uit niks kan kry nie, is vierkantig hierop gebaseer. Deskundiges in olieontginning praat reeds dekades, en ten minste sedert die 1960's, oor hierdie feit, terwyl ekonome dit hardnekkig ignoreer, en dikwels meer konsentreer op die sielkundige aspekte van ekonomiese groei, eerder as om die vloei van energie deur die ekonomie (van ontginning tot by ʼn hittesink) in ag te neem.

Dit is nie toevallig dat verhoogde kospryse en brandstofpryse die ekonomiese krisis voorafgegaan het nie. Inteendeel, hierdie pryse is ten nouste verbind aan die prys van energie – energie wat in geld verander word gedurende produksie van kos, goedere en dienslewering in die ekonomie. Kapitaal is die vermoë om energie aan te wend of te koop om sekere projekte uit te voer, en ʼn tekort aan kapitaal het noodlottige gevolge vir ekonomiese groei – dit lei tot eksponensiële inkrimping van die ekonomie, maw, dit lei tot ʼn resessie.

Uiteindelik is die ekonomiese krisis veroorsaak deur ʼn sterk verhoging in die aanvraag van energie, terwyl produksie beperk word deur geologiese faktore (in ʼn meerdere mate), en ʼn versuim om kapitaal aan te wend om meer energie te ontgin (in ʼn mindere mate). Die onvermoë om uit bestaande olievelde genoegsaam ruolie te pomp om in die vraag te voorsien het ʼn skerp prysstyging en ʼn gepaardgaande skok deur die Amerikaanse ekonomie gestuur wat banke gedestabiliseer het, en derhalwe die finansiële krisis veroorsaak het. Ten spyte van die afname in aanvraag, is die olieprys histories gesien, steeds redelik hoog, en daar is geen tekens dat dit tot onder $20 per vat kan daal nie, selfs met verdere afnames in aanvraag.

Die goedkoper energie kan dit makliker maak om uit die resessie te kom, en dit sal waarskynlik gebeur. Daar is egter ʼn stok in dié wiel:  ʼn Beter ekonomie sal aanvraag na energie weer verhoog, wat die prys weer sal opstoot omdat produksie steeds ʼn probleem is, en wat dan weer ʼn ekonomiese insinking sal veroorsaak, met verdere verhoging van voedselpryse en in die pryse van ander kommoditeite. Uiteindelik verlaag lewensstandaarde, met die gepaardgaande risiko dat hongersnood kan uitbreek omdat sekere wêrelddele bevolkings dra bo die natuurlike drakrag van die omgewing.   

Die bostaande scenario, wat voorspel dat ʼn voordurende energiekrisis sal uitbreek telkens as die ekonomie sterk groei, is reeds druk bespreek onder geoloë en ander deskundiges, wat verstaan dat die mens se vermoë om hoëkwaliteitenergie goedkoop uit die aarde te pomp nou aan bande gelê gaan word deur die fisiese karakter en geologiese grense van die aarde. Daar is steeds baie energie in die vorm van ruolie, steenkool en gas (en selfs wind- en sonkrag) beskikbaar, maar dit is moeilik of duur om te ontgin, en soos meer kapitaal spandeer en gerangeer moet word om dit te ontgin, so sal lewensstandaarde afneem. Dit is die argument van die Romeklub, wat reeds in die 1970's voorspellings hieroor gemaak het.  Die volgende dekade sal hulle argument reg of verkeerd bewys.

Oor die algemeen sal die bostaande scenario waarskynlik oor dekades afspeel, waarin ekonomiese krisisse met kleiner tussenposes gaan afwissel. Murdoch en Soros se opmerkings wat ek bo aanhaal, wys dat hulle miskien dieselfde scenario voorsien. Wat egter duidelik oor die kort termyn is, is dat die twintigste-eeuse paradigma van ʼn bipolêre of unipolêre wêreld met die VSA as die toonaangewende moondheid vir goed verby is. Die VSA is mank, en wanneer Obama sy troepe aan Irak oor 18 maande onttrek, sal die tydelike winste daar ook uitgeput wees. Met bondgenote soos die Europese moondhede, min geld en beperkte bronne om die avonture in Afghanistan en Irak te befonds, maak hierdie feite ʼn besliste oorwinning in Irak (en in Afghanistan) ʼn feitlik onbegonne taak.

Die krisis in Europa sal tweeledig ontvou – eerstens ekonomies, en dan demografies. Islam gaan die historiese Christelike Europese hegemonie in Europa uitdaag en vernietig. Daar is die moontlikheid van verset en etniese geweld in Engeland en Frankryk, maar uiteindelik sal demografiese werklikhede die oorwinnaar bepaal, net soos dit in Suid-Afrika gebeur het. Met Europa se val sal Europese bevolkings elders, in Noord-Amerika, Suid-Afrika en Australië, waarskynlik onherroeplik verander in ʼn wêreld sonder Europese heerskappy. Ons Afrikaners se noodlot sal dan Europa se noodlot word.

Ons kan treur oor Europa se verlore kultuur soos uitgebeeld in da Vinci, Dante, Bach en Mozart, met diepliggende wortels in Roomse, Lutherse en Calvinistiese Christelike filosofie, en gebaseer op die klassieke kulture van die Midde-Ooste, Griekeland en Rome. Die eienskappe wat Europese kultuur gebaar het, wat wetenskap en tegnologie uitgevind het, en wat haar kultuur wêreldwyd versprei het, is bankrot en in demografiese en kulturele verval. Vandag is dit oorgeneem deur hip-hop, dwelms en ander antichristelike giere.  More sal Islam die kulturele en ekonomiese vakuum vul.

Europa is haar geskiedenis.  Die toekoms is sy nie.

уличные светильники на

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.