Skaal van veediefstal naby Gauteng neem drasties toe

Deel op

‘n Boer van Vredefort in die Vrystaat het ‘n verlies van derduisende rande gely nadat sowat 31 van sy stoet boerbokke Maandagaand op sy plaas gesteel is.

Voorsitter van die Koepel Veediefstal-inligtingsentrum in Noordwes, Sarel van der Wat, sê dié boer, wat verkies om anoniem te bly, het Dinsdagoggend agtergekom dat 50 bokke, insluitend dragtige ooie, uit ‘n kraal weg is waar die bokke saans aangehou word. Van der Wat sê die booswigte het die diere uit die kraal gejaag na ‘n verlate plek waar hulle altesaam 31 bokke vermoedelik op voertuie gelaai het. Hy sê drade op ‘n naburige plaas is geknip om die bokke deur te jaag na die plek waar hulle gelaai is. Die bokke wat uit die kraal gejaag is, maar nie gelaai is nie, is verwilderd in die veld gekry.

Die afstand wat die gesteelde diere, en in dié geval dragtige ooie, van krale na afgeleë plekke aangejaag word, wissel van 1.5km tot 3km. Die gesteelde diere wat nie op voertuie gelaai word nie, word agtergelaat en is baie verwilderd. Eienaars kry nie die diere gevang nie.

Hy sê dit wil voorkom of bakkies moontlik gebruik is om dié gesteelde boerbokke te vervoer. Van der Wat sê ‘n klag van veediefstal is by die polisie op Vredefort aangemeld. Die polisie het nog nie op OFM-nuus se navraag gereageer nie.

Dié voorval kom nadat altesaam 11 Bonsmara-beeste onlangs in die Potchefstroom-distrik nie ver van Parys in die Vrystaat by die R500 tussen dié dorp en Fochville in Gauteng gevrek het nadat hulle wreed met skerp voorwerpe gekap en lewend geslag is.

Hy meen voorvalle van veediefstal in die Potchefstroom-distrik, nader aan Parys en Vredefort, is aan die toeneem.

Sindikate is vermoedelik betrokke en verkoop of slag die gesteelde diere om die vleis te verkwansel. Voorheen is minder diere op ‘n keer gesteel, hoofsaaklik om vir kos geslag te word. Hy meen veediewe soek geld en nie kos nie. Juis daarom word ‘n groot getal diere nou op ‘n keer gesteel.

In die meeste gevalle is boere se hande afgekap om veediefstal te voorkom, maar hy kan dit nie genoeg beklemtoon dat boere hul vee steeds moet brandmerk nie. Kleiner veeboere kan, indien moontlik, ook hul diere veral saans in krale aanhou. “Wagposte” is ook ‘n moontlikheid.

Hy sê mannekrag bly steeds ‘n kopseer veral in die polisie se spesialis-eenhede. Kwessies soos dié sal op ‘n hoë vlak bespreek moet word en oplossings sal spoedig gekry moet word, want “voedselsekerheid” word negatief geraak.

Van der Wat moedig boere steeds aan om ondanks “sekere uitdagings” – vermoedelik swart onvermoë – steeds klagte by die polisie aan te meld. Dít is belangrik vir misdaadstatistiek-doeleindes.

In nog ‘n voorval vandeesweek is 29 dragtige ooie Dinsdagnag uit ‘n kraal op ‘n ander plaas by die R500 tussen Parys en Fochville in Gauteng, in dieselfde distrik waar die Bonsmara-beeste lewend geslag is, gesteel.

Die skape is ook uit ‘n kraal naby aan die boer, wat ook nie sy naam genoem wil hê nie, se plaashuis gejaag. Die skape, waaronder ook dragtige ooie, is na ‘n afgeleë plek aangejaag waar die booswigte die gesteelde diere vermoedelik op ‘n bakkie of selfs twee bakkies gelaai het, sê Van der Wat.

Dié boer het ‘n klag van veediefstal by die Buffelshoek-polisiekantoor aangemeld.

Bron: OFM Nuus

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.