Suide van Johanneburg, Brits, Kaapstad gebuk onder onluste

Deel op

Geweld oor gebrekkige dienslewering en behuising het weer opgevlam in Ennerdale in die suide van Johannesburg. Volgens berigte word voertuie met klippe bestook.

Gewelddadige oproer kom sedert verlede week in Eldoradopark, Freedom Park, Kliptown, Lenasia, Ennerdale en Finetown voor. Verskeie winkels is geplunder. Die polisie het meer as 50 mense in hegtenis geneem op aanklagte van openbare geweld.

Niemand is nog in hegtenis geneem nadat ‘n bus gistermiddag by Bapong naby Brits in Noordwes aan die brand gesteek is nie. Die polisie sê die brandstigting het tydens ‘n betoging oor werksgeleenthede by die Lonmin-myn plaasgevind.

‘n Polisiewoordvoerder, Mpeile Talane, sê niemand is in die voorval beseer nie. Die ondersoek duur voort.

In Kaapstad, het die Kaapstadse metroraad gesê geweld en intimidasie sal hom nie laat afsien van ‘n diensleweringsprojek wat vir inwoners van Tamboplein in Gugulethu op die Kaapse Vlakte bestem is nie.

Inwoners van ‘n ander gebied het vroeër die strate ingevaar en buitebande aan die brand gesteek uit protes teen die opgradering van Tamboplein. Hulle wil hê die grond moet vir ontspanningsdoeleindes gebruik word.

‘n Burgemeesterskomiteelid, Siyabula Mamkeli, sê hulle sal nie geïntimideer word om die projek te skrap nie.

Mamkeli sê die polisie is by die situasie betrek omdat die inwoners misdadig optree. Hy het dit benadruk dat hulle nie kan toegee aan ongrondwetlike eise nie.

In Durban, gaan die ANC met massa-optrede begin omdat die party in KwaZulu-Natal meen die howe maak inbreuk op die skeiding van magte.

Die ANC se provinsiale sekretaris, Super Zuma, sê hulle sal die strate van Durban invaar en betoog teen de regbank.

Hy sê opposisiepartye misbruik die regbank en sekere instellings praat asof hulle die land regeer. Zuma voer aan dat die kiesers reeds in 2014 hulle keuse gemaak het toe hulle vir die ANC en President Jacob Zuma gestem het.

Hy sê die ANC wil nie hê die howe moet die swart stem in die land ondermyn nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.