Motor wat in huis vasjaag dood bejaarde vrou

Deel op

Die polisie op Postmasburg in die Noord-Kaap ondersoek ‘n klag van strafbare manslag nadat ‘n bejaarde vrou Woensdagaand in haar huis dood is toe ‘n motor teen ‘n buitemuur van haar huis vasgery het.

Polisiewoordvoerder, Sergio Kock, sê Martha Johanna Geldenhuys is op die toneel dood verklaar. Hy sê die bestuurder van die motor het vermoedelik in die straat buite die huis beheer daaroor verloor.

Die motor het eers ‘n boom getref, waarna dit deur die heining van die erf is en teen ‘n buitemuur van die sitkamer, waarin Geldenhuys was, vasgery het. Kock sê vensterrame en ander puin van die muur het vermoedelik op haar geval. ‘n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van Geldenhuys se dood te bepaal.

Netcare 911 se woordvoerder, Chris Botha, het vroeër gesê ‘n roomkleurige ouer model Mercedes-Benz het na bewering nie by ‘n T-aansluiting gestop nie.

Volgens hom het paramedici omstreeks 18:45 hulp verleen nadat hulle na ‘n huis in Tuinstraat ontbied is. Die motor het vermoedelik deur ‘n heining van die erf gery en Geldenhuys, wat volgens hulle op haar voorstoep was, getref, het Botha gesê.

Met hul aankoms op die toneel het paramedici Geldenhuys ondersoek, maar die vrou wat vermoedelik in haar sewentigs was, het reeds aan haar beserings beswyk. Dit het vir hulle voorgekom of die motor eers vir Geldenhuys getref het en toe teen ‘n muur van die huis vasgery het.

Geldenhuys se erg getraumatiseerde man was in hul huis, het Botha gesê. Hy is nie in die voorval beseer nie.

Volgens Botha het die motorbestuurder ligte beserings opgedoen, maar is nie na ‘n hospitaal gebring nie. Daar was glo twee ander insittendes in die motor, maar hulle het na bewering weggehardloop.

Bron: OFM Nuus

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.