SMS lei tot grootskaalse onrus suid van Johannesburg

Deel op

Geweld het uitgebreek tydens ‘n diensleweringbetoging in Eldoradopark, suid van Johannesburg. Byna al die toegangsweë is gesluit.

Motoriste is gevra om die N12 en die Goue Hoofweg te vermy uit vrees dat hulle veiligheid nie gewaarborg kan word nie. Volgens berigte is brande vroegoggend in strate gestig om dit te versper.

Onbevestigde berigte lui dat inwoners oor swak dienslewering ontevrede is.

“Daar is geen manier om uit Eldoradopark uit te kom nie, daar is vure, die paaie is sedert baie vroegoggend, sedert 4:00 afgesper. Al die snelweë is geblokkeer en inwoners neem die strate oor. Ons het gisteraand ‘n SMS gekry wat gesê het alle paaie sal geblokkeer word weens swak dienslewering in die omgewing en dit is eintlik waar,” sê ‘n inwoner.

Dit is nie duidelik wie die SMS uitgestuur het aan al die inwoners nie. Inwoners eis glo dat huise toegewys word aan hulle.

Verskeie snelweë is geraak en verkeer word na alternatiewe roetes gelei, aangesien inwoners rommel en brandende bande gebruik het om paaie af te sper. Maar die onluste het totale verkeerschaos in Johannesburg veroorsaak.

Die afrit wat lei tot die N12 en die N1 oprit, oorkant Vryheidspark, is heeltemal gesluit.

Die Goue Hoofweg is ook geraak. Sommige motoriste en vragmotorbestuurders maak u-draaie op die paaie om alternatiewe roetes te probeer vind.

‘n Rookwolk van brandende voorwerpe kan van verskillende rigtings gesien word. ‘n Polisiehelikopter is ook in die lug.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.