Drankwinkels leeggesteel, kuikens doodgebrand en motoriste gestenig

Deel op

Plundery deur swart inwoners van Coligny in Noordwes in die dorp het Maandag die hele dag voortgegaan en verskeie drankwinkels en ander winkels is leeggesteel.

‘n Groot groep polisiebeamptes is in die Tlhabologang-township by Coligny ontplooi.

Die lokasiebewoners het gisteroggend winkels begin plunder nadat ‘n 12-jarige seun verlede Donderdag van ‘n sleepwa afgeval en later in die hospitaal oorlede is.

‘n Boer in die omgewing het hom glo daarvan beskuldig dat hy sonneblomme gesteel het, maar dit is nog nie duidelik hoe die kwessies verband hou nie.

Vrydag is ongeveer 38 000 eendagse kuikens doodgebrand toe ‘n vragmotor tydens ‘n oproer in Lichtenburg, Coligny se buurdorp, aan die brand gesteek is.

Sommige van die kuikens is van die vragmotor af gegooi en is toe deur ‘n ander vragmotor doodgery, het Opti Chicks, die maatskappy wat hulle voorsien het, in ‘n verklaring gesê.

Die Dierebeskermingsvereniging het gesê sy plaasdierebeskermingseenheid is op die toneel ontplooi, maar is herroep nadat hy ingelig is dat geen kuikens oorleef het nie.

“Ons beklemtoon dat die lyding wat deur hierdie voëls verduur moes word, skaars verbeel kan word. Dit moes verskriklik en langdurig gewees het. Dit was ook heeltemal onnodig,” het die organisasie Maandag in ‘n verklaring gesê.

Omdat daar glo geen beeldmateriaal beskikbaar is van die oproer waarin die swart daders geïdentifiseer kan word nie, sal ‘n ondersoek na die wreedheid ingewikkeld wees sê die organisasie.

In Limpopo het lokasiebewoners by Muledane buite Thohoyandou nie kuikens nie, maar mense in motors met klippe gegooi. Hulle eis dat verdagtes in ‘n rituele moord in hegtenis geneem word.

Die liggaam van ‘n 23-jarige man is sonder sekere liggaamsdele gevind. ‘n Woordvoerder van die polisie sê hulle het beamptes ontplooi en monitor die toestand.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.