Marine Le Pen en Macron deur na 2de rondte

Marine Le Pen bring haar stem in 'n klein Franse dorpie uit (regs).
Deel op

Marine Le Pen, leidster van die Front National en Emmanuel Marcon, die eertydse bankier sonder ‘n party, het gisteraand as die wenners na vore getree in die hoogs mededingende eerste rondte van die Franse presidentsverkiesing.

Die finale stemtotale van die ministerie van binnelandse sake too dat Macron bo-aan geëiendig het met 23,75 persent, terwyl Le Pen ‘n kortkop agter hom was met 21,53 persent.

In die tweede rondte van die geveg met Macron, sal Le Pen weereens fokus op die hoofelement van haar veldtog: globalisme teenoor nasionalisme. Die globaliste kan egter op die verlinkses reken om geweld by te dra. Die uitslag van gister se verkiesing het betogings in Parys ontketen waartydens etlike honderde jeugdiges op die Place de la Bastille onluste gepleeg het tydens ‘n “anti-fascistiese betoging”.

Die onluspolisie het kort ná die aankondiging dat Le Pen tot die finale rondte deurgedring het met linksgesindes gebots. Toe die polisie die betogers nader, is hulle met bottels en klappers gegooi, het ‘n joernalis van AFP berig. Drie mense is volgens die polisie in hegtenis geneem.
Ook in Nantes is ‘n “anti-fascistiese betoging” laataand Sondag gehou.

In haar oorwinningstoespraak in Hénin Beaumont het Len Pen aan die Franse gesê  om te vergeet van die partypolitiek wat verkiesings in die verlede gekenmerk het. “Die groot uitdaging is globalisering,” het Le Pen aan haar ondersteuners gesê. “Ek is die kandidaat uit die volk.”

Florian Philippot het kiesers herinner aan die ideologiese stryd met Macron wat tydens ‘n televisie-onderhoud met die France2-kanaal gaan plaasvind. “Ons het daarin geslaag om die idee van patriotisme op alle vlakke te vestig,” het Philippot gesê. “Dit gaan eintlik oor die konflik tussen privaat belange en die belange van die nasie.”

Op LCI het Philippot op Maandag 24 April verklaar: “Onder die kiesers van François Fillon gaan daar vele wees wat nie gaan aanvaar dat hulle vir die persoon moet stem wat gister (Sondag) nog ‘Emmanuel Hollande’ genoem is nie, aangesien dit die bynaam is wat die Republikeine op hom geplak het.”

François Fillon, die sentrum-regse kandidaat van die Republikeine wat voorgegee het om ook teen immigrasie te wees, het derde geëindig. Hy het gesê dat hy vir die linkse Emmanuel Macron gaan stem om Marine Le Pen te verhoed om in die tweede rondte van die verkiesing te wen. “Om buite stemming te bly is nie in my gene nie, veral wanneer ‘n ekstremistiese party naby aan die mag is,” het Fillon verklaar nadat hy sy neerlaag aanvaar het. “Ekstremisme kan slegs onheil en verdeeldheid oor Frankryk bring.”

Die kandidaat van die regerende Sosialistiese Party, Benoît Hamon, het in die vyfde plek geëindig. Hy het ‘n vyandige veldtog teen Macron gevoer, maar al die verguising het Sondag ná sy verpletterende neerlaag tot ‘n einde gekom. “Daar is ‘n duidelike onderskeid tussen ‘n politieke mededinger en ‘n vyand van die republiek,” het Hamon sonder ironie gesê en daarmee ‘n beroep op alle Sosialiste gedoen om vir Macron te stem, terwyl hy byvoeg: “Dit is nou doodernstig.”

Geert Wilders, leier van die Nederlandse Partij voor de vrijheid, wat tweede gekom het in die Nederlandse verkiesings in Maart, het sy gelukwense aan Marine oorgedra. “‘n Dag om te vier vir alle patriotte in Europa,” het hy getwiet. Matteo Salvini, leier van die Italiaanse Noordelike Liga, het op Twitter gesê: “Die mense tel hul koppe op. Sterkte Marine, dis tyd om uit Brussel se hok te breek!”
Nigel Farage, die voormalige Ukip-leier, is nie deur Macron en sy pro-EU-standpunt beïndruk nie. “Macron praat met die EU-vlag agter hom. Spreek boekdele,” het hy getwiet. “Macron se toespraak was leë onsin. Behalwe dat hy die status quo ondersteun, sê hy niks nie.”
Maar die leiers van die twee grootste politieke groepe in die Europese Parlement wat ook die EU ondersteun, Manfred Weber en Gianni Pitella, het Franse kiesers gemaan om nie op 7 Mei die Front National te ondersteun nie.
Die woordvoerder van die Angela Merkel, die Duitse kanselier, ondersteun insgelyks vir Macron en het om “alles van die beste vir die volgende twee weke” toegewens. Steffen Seibert het in ‘n twiet verklaar: “Dis goed dat Emmanuel Macron so suksesvol was met sy standpunt ten gunste van ‘n sterk EU en sosialemarkekonomie,” het Sigmar Gabriel, die Duitse minister van buitelandse sake bygevoeg en voorspel dat die 39-jarige Macron die volgende president van Frankryk gaan word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.