Karel Combrinck: Skuld en skuldgevoelens

Marine Le Pen

In Frankryk is vir dae lank reeds ‘n polemiek aan die gang oor stellings wat Marine Le Pen onlangs tydens ‘n televisie-onderhoud sou gemaak het. Soos dit met polemieke in Frankryk gaan, is hierdie een ook meesal histeries.

Gedurende die onderhoud het die joernalis aan Marine Le Pen gevra of Frankryk verantwoordelik gehou moet word vir die deportasie van Jode gedurende die laaste WO. ‘n Mens sou wel kon vra wat dit nou eintlik te make het met die Franse presidentsverkiesing van 2017, behalwe natuurlik om Marine Le Pen te probeer swartsmeer. Nietemin, sy antwoord toe dat die Vichy-regering wat die uitvloeisel was van die besetting van Frankryk deur dié wat die deportasiebevele gegee het, nie die Franse volk verteenwoordig het nie, maar dat die ware Franse regering saam met generaal De Gaulle in Londen was. Daar bestaan trouens ‘n Franse wet (van 1944) wat die Vichy-regering onwettig verklaar het.

Die Franse hoofstroommedia stel nou hierdie antwoord van Marine Le Pen voor as ‘n soort regverdiging van die deportasie van Franse Jode gedurende die oorlog!

Die vanselfsprekende vraag is natuurlik: Watter antwoord moes Marine Le Pen dan gegee het? Moes sy gesê het die Franse volk is verantwoordelik vir die deportasie van Jode deur ‘n regering wat op hulle afgedwing is en wat onwettig was? So nie, wat sou sy dan moes sê?

Hierop het die massamedia geen antwoord nie, maar in stede daarvan kom hulle met die slenter dat Marine Le Pen se opmerking “in die lig van die Front National se reputasie” en van Marine se pa se loopbaan onder verdenking is.

Die slotsom is dus: Die Franse volk is skuldig aan die deportasie van Jode en wat meer is, hulle moet skuldig voel daaroor. En dit is natuurlik die kern van die saak: Hulle moet skuldig voel en enigiemand wat ontken dat die Franse rede het om skuldig te voel, is noodwendig anti-Semities en selfs ‘n “Holocaust-ontkenner”.

Nog ‘n vraag wat hieruit voorspruit is dus: waarom moet die Franse, Duitsers, ens. knaend daaraan herinner word dat hulle skuldig is en skuldig moet voel ? Die rede is dat hoe meer ‘n land of volk skuldig voel, hoe meer kan hulle gemanipuleer en afgepers word. Daarvan het ons in Suid-Afrika tog ook dure ondervinding.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.