Dan Roodt: Engels moet weg – ‘n antwoord op #AfrikaansMustFall

Noudat Zuma veronderstel is om “te val”, vergeet ons maklik dat Afrikaans nie so lank gelede nie sy ondergang op die kampusse van die Universiteite van Pretoria en die Vrystaat, beleef het. ‘n Horde jong swartes en Engelse joernaliste en Oudbroederbondhensoppers het daaroor gejuig. Om nie van die kommunistiese minister van sogenaamde “hoër onderwys” — en lae standaarde — Bonginkosi Emmanuel “Die Lem” Nzimande te vergeet nie.

Die Pretoriase prokureurs van Afriforum het op hul tipiese Pretoriase-prokureur-manier die dringende en nie-so-dringende hofsake rondom Tuks en Kovsies se taalbeleide verloor. Nou sit ons maar in sak en as, en voel dankbaar dat ons toegelaat word om op ‘n paar laer- en hoërskole ons kinders nog in Afrikaans te (mag) onderrig. Tot verdere kennisgewing.

U weet en ek weet dat die hele, tweehonderdjaar oue Boere- en Afrikaanshaatbeweging nie by die lesingsale van Pretoria, Bloemfontein, Stellenbosch of selfs Potchefstroom gaan stuit nie. #AfrikaansMustFallForever sou ‘n meer gepaste benaming wees.

Die ding wat my bekommer, is dat daar tot nog toe geen antwoord op hierdie slagspreuk was nie. Iewers het ek al geskryf: “Die taaloorlog is verklaar.” Die skote het geklap en die eerste paar veldslae, wat ons almal loshande verloor het, is verby. En steeds is daar geen antwoord nie! Hoe op aarde is dit moontlik?

Dominique Venner

Onlangs het ek op versoek van ‘n Spanjaard ‘n kort opstel oor die Franse historikus, Dominique Venner, geskryf. Leon Lemmer het reeds taamlik uitvoerig oor Venner hier op Praag berig, dus behoort hy reeds halfpad bekend te wees. Maar iewers in sy 1962-manifes wat hy in die gevangenis geskryf het, Ter wille van ‘n positiewe kritiek, spreek Venner vir my iets aan wat geweldig belangrik is, en dit is: die behoefte aan ‘n doktrine. Van links, en in ons land vanaf Engelse kant, bestaan daar ‘n keiharde doktrine wat onder meer lui dat Engels die heersende taal moet wees. Verder mag ‘n mens nie die swartman se stellings — behalwe as hy nou Zuma is — te veel bevraagteken nie. As ‘n donkerhuidige persoon dus opstaan en sê, “Afrikaans must fall”, dan is dit so en enige teenargument sal op sy beste as ongevraagd en op sy slegste as rassisties, fascisties, nazisties, ens. gesien word.

In Bok van Blerk se De la Rey-liedjie word daar gesing:

Want my vrou en my kind
Lê in ‘n kamp en vergaan
En die Kakies se murg loop oor
‘n Nasie wat weer op sal staan

Behalwe dat die nasie tans nie meer opstaan, of wíl opstaan nie. Miskien sal die volk nog reageer as hulle môre rugby van die TV afhaal, maar vir Afrikaans en Afrikanerskap sal hulle nie eens ‘n brief aan die koerant skryf nie. Nie dat die koerant — as dit Beeld of Die Burger is — die brief sal publiseer nie. Want kritiek op die huidige bedeling is mos taboe.

Terwyl die Engelse joernaliste, redakteurs en akademici luidkeels en selfversekerd die meerderwaardigheid van Engels, asook die noodsaak van eentaligheid, verkondig, mor die Afrikaner-elite onderlangs oor vae begrippe soos “meertaligheid”. Daardie prulorganisasie — of is dit bloot ‘n webblad? — die Afrikaanse Taalraad, roem hom daarop dat hy “eenheid in diversiteit” wil bevorder. Darem wil die “Taalraad… (as) inklusiewe organisasie… alle mense saamsnoer rondom Afrikaans”.

Let wel: “alle mense”. Die gedagte kom onwillekeurig by ‘n mens op: Maar kan “alle mense” nie soveel beter rondom Engels, wat reeds die staatstaal, hoftaal, reklametaal, universiteitstaal en binnekort ook skooltaal is, “saamgesnoer” word nie? As “saamsnoer” jou hoofdoelwit is, waarom dan nog sukkel met Afrikaans, wat reeds “geval” het en grotendeels reeds uitgerangeer is? Het die swart, Engelse en Indiërstudente van Tukkies nie reeds geëis dat Afrikaans “afgeskaf” moet word, waarna dit inderdaad en summier afgeskaf is nie?

Saamsnoer, bedesnoer, ons monde is gesnoer. En gesnoer sal ons bly, want iewers het ‘n brommende broeder (sien Karel Combrinck se Ommer as ‘n brommer – die storie van Leon Wessels) besluit dat alles goed en mooi is, en teëspraak sal nie geduld word nie. Ook nie deur die post-broederbond, Afriforum nie, want hulle duld geen rassisme nie. Trouens, Afriforum het niks teen Engels nie — al hul hofsake word reeds in Engels gevoer — hulle gru net van “rassistiese Afrikaners” soos ek wat hulle nie by die heersende ideologie van antiblanke rassisme neerlê nie. (Sien AfriForum condemns ‘racist’ Dan Roodt.)

“Afrikaans must fall…” Overgezet synde: Afrikaans moet weg. Is dit nie ‘n pragtige doktrine nie? En dit word elke dag, bietjie vir bietjie, voltrek. Daarteenoor murmureer, om nou ‘n ietwat bybelse werkwoord te gebruik, ‘n paar oud- of nieu-broeders. Hulle is, let wel, nie anti-Engels nie, want vele se bloedjies bevind hulle reeds op Engelse skole, maar hulle is tog so bekommerd dat hulle hier ‘n geleentheid gaan verpas om “mense saam te snoer” of te “bemagtig”, laasgenoemde synde ‘n direkte vertaling van aan van die regime se sleutelbegrippe, “empowerment”, soos vervat in die fameuse “black economic empowerment”, oftewel BEE.

Terloops en ter toeligting, die woord “murmureer” beteken volgens die HAT: “kla, mor, ontevrede mompel”. Hulle mompel ontevrede.

Vanuit die Franse gevangenis waarin hy agttien maande deurgebring het vir sy aandeel in die ondergrondse opstand teen die De Gaulle-regering weens dié se verraad teenoor die Franse Algeryne, het Dominique Venner geskryf:

“Hoe kan jy ‘n opponent teëgaan wat gewapen is met ‘n getoetste dialektiek asook langdurige ervering, en wat sterk georganiseer is — sonder ‘n ideologie, sonder ‘n metode?”

Net so kan ‘n mens vra: “Hoe kan ‘n mens die magtige verengelsingsideologie in dié land wat saam met die Tweede Britse Besetting van 1806 gekom het, teëgaan sonder ‘n ewe sterk antitese of teenargument?”

MTW Arnheim

Toe ek destyds by Wits gestudeer het, was daar ‘n professor van klassieke tale genaamd M.T.W. Arnheim. Omdat hy elke dag ‘n toga gedra het, het die linkse, marxistiese studente hom neerhalend die bynaam “Batman” gegee. Arnheim het ook ‘n politieke boek met die titel South Africa after Vorster geskryf. Daarin maak hy so min of meer ‘n argument, gegrond op die geskiedenis, veral die klassieke, uit dat Suid-Afrika hom in ‘n óf-óf-situasie bevind: óf wit oorheersing, óf swart oorheersing. Hy kon ook gesê het: Suid-Afrika sal óf Engels óf Afrikaans wees.

Trouens, iewers in die boek wat ek ‘n klompie jare gelede te lese had, vermeld hy dat die Afrikaner in 1979 polities oorheers het, maar nie kultureel nie… Dit het hy tereg as ‘n fatale swakheid gesien. Die vorige Afrikaner-elite — of die huidige, want op ‘n manier is dit dieselfde ongekunstelde, dom mentaliteit wat geld, al het die figure so effens verander — het nooit hul politieke mag in kulturele mag kon omskakel nie.

Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy sien en hoor;
In ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor.

Só lui die beroemde woorde van C.P. Hoogenhout uit die laat negentiende eeu. Hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde. Vandag, twee eeue later, bevind ons ons in presies dieselfde situasie.

Op ‘n tragiese manier verbly dit my dat die taalsituasie tans so glashelder geraak het. Verby is die illusies van twee- en meertaligheid. Feitlik alles is nou Engels en die laaste bietjie Afrikaans wat oorbly, op skool, in die kerk en in ons huise, ook dít sal moet wyk. Want die vyandelike doktrine, dié van Engelse oorheersing en “Afrikaans must fall” is onverbiddelik, manicheaans, swart-en-wit. Tot dusver het Afrikaans in ‘n grys gebied oorleef, in die burokratiese of opvoedkundige “reste van apartheid”, maar ook hieraan is ‘n einde gemaak.

Daarom het ons ‘n nuwe idee, ‘n nuwe slagspreuk nodig. En bied die swartman, en agter hom die Engelsman wat hom so slu en vaardig soos deur die eeue manipuleer, nie aan ons daardie idee op ‘n skinkbord aan nie? Want sekerlik kan ons ook, in die aangesig van “Afrikaans must fall” uitroep: Engels moet weg! Waarom nie? Was ons nie eerste hier, lank voor die Engelsman hierheen gekom het nie? Is ons wortels nie dieper as hulle s’n nie? Het ons nie die land tot vandag toe meer wydversprei as hulle beset, daar waar hulle verkies het om knus in die groot en ryk stede van Johannesburg, Kaapstad en Durban nes te maak nie?

‘n Mens kan enigiets argumenteer, veral in dié land. Daar gaan nie ‘n dag verby nie dat Andile Mngxitama of een of ander swart nasionalis redeneer dat die blankes nie in Suid-Afrika hoort nie of die swartman se grond “gesteel het”. Maar Engels, die grootste blanke taal ter wêreld, hoort in die land! Trouens, hoe meer belaglik of teenstrydig die argument, hoe groter sy aantrekkingskrag in die media, in die akademie en elders.

As iemand wat as kind feitlik volkome Afrikaans grootgeword het en Engels as ‘n soort eienaardigheid op die horison ervaar het en later ook salig Engelsloos in Frankryk gewoon het, voel ek geen behoefte aan Engels nie. Suid-Afrika, soos ‘n magdom lande ter wêreld, kan sonder Engels klaarkom. Selfs in Nederland of Skandinawië waar die meeste mense seker óók Engels magtig is en dit vir kommunikasie met die buiteland besig, word Engels nie as openbare taal gebruik nie. Suid-Afrika sou soveel mooier wees indien Engels as openbare taal kon wegkwyn; wat nog te sê die magdom ekonomiese voordele wat dit vir die land sou inhou indien ons oplaas soewerein sou kon wees en nie meer bloot ‘n flou afskynsel van Moeder Brittanje nie.

Nou kan ek reeds hoor hoe ‘n koor van murmurerende broeders en kripvreters opklink en uitroep: Maar wat van die swartman? Wat van Zuma? En al sy kollegas, gewese en huidige eggenotes, opvolgers, kollegas en konkurrente? Sou hulle dit ooit aanvaar dat Afrikaans die heilige Engels van sy troon in hierdie flou, polities korrekte Engeland afstoot? Die blote noem van Afrikaanse klasse op universiteit en dan slegs vir dié wat dit uitdruklik versoek, veroorsaak reeds ongekende histerie, opstand en brandstigting. Is die gedagte van ‘n herontwaakte Afrikaans wat hom op soortgelyke wyse as Engels laat geld nie genoeg om die land in ‘n burgeroorlog te laat verval nie?

Ons verkeer van aangesig tog aansigte met ‘n spul Engelse marxiste en hul agterryers. Ons Engelse bevolking is by verre die linksste ter wêreld, en dit sluit New York, Londen, San Francisco, Toronto en ‘n paar ander ultraliberale stede in. Hulle ken hul Marx, Engels en Lenin soos die naïewe Afrikaner sy Bybel ken, of nie meer ken nie. Lees weer die Venner-aanhaling hier bo: ons benodig ‘n doktrine, ‘n ideologie. ‘n Taal snoer mense helaas nie saam nie. Vra maar vir die wit en die rooi Russe van weleer. Of die Noord- en Suid-Koreane vandag. Die totale Afrikaanssprekende bevolking van dié land was nog nooit in die geskiedenis so verdeeld soos juis nou nie. Trouens, ‘n burgeroorlog onder Afrikaners soos in die vroeë 1860’s in die Transvaal is nie vergesog nie. Die ideologies gedrewe, polities korrekte media het soveel onderlinge haat en nyd gesaai dat dit buurman teen buurman en broer teen broer geword het. Daar bestaan diegene wat by die bestel baat en diegene wat daaronder ly. Net so is daar hulle wat Engels-alles-Engels as fait accompli aanvaar en hulle wat dit probeer beveg. Nes die “Franskiljons” van Vlaandere, was die grootste teenstanders van ‘n waarlik Afrikaanse taalbeweging deur die geskiedenis nog altyd ander Afrikaners… Dit was Afrikaners wat Jonathan Jansen by Kovsies aangestel het, asook Cheryl de la Rey by Tuks. Afrikaners skryf vir ander Afrikaners in die departement van justisie e-posse om hulle aan te sê om slegs Engels in die howe te gebruik.

Kom ons leer vir eers ‘n les of twee by ons vyande, die Engelssprekende marxiste in ons land. Eers die teorie, dan die praktyk. Ná die idee volg die daad.

Op die oog af lyk dit onmoontlik om Engels op dié gevorderde stadium van fanatiese verengelsing ‘n knou toe te dien, wat nog te sê op sy plek te sit of af te skaf, wat die ideaal sou wees. Vreemder dinge het egter al in die geskiedenis gebeur. Vir die meeste ander bevolkings in die land verteenwoordig Engels ‘n magstaal, ‘n handelstaal en — anders as ons — heg hulle geen besondere emosionele of kulturele waarde daaraan nie. Ek verstout my om te sê dat, indien die magstaal na Afrikaans sou verander, hulle net so begerig sou wees om hul in Afrikaans uit te druk of die voordele van Afrikaans as opvoedkundige of openbare medium te besing.

Ek herinner my dat ek op ‘n stadium ‘n groepie Engelse akademici in die vroeë 1980’s vir mekaar hoor sê het dat die amptenare van Bophutatswana graag Afrikaans met Afrikaners en selfs met mekaar gepraat het omdat hul selfregerende tuisland van ‘n Afrikaner-oorheerste Suid-Afrika afhanklik was. Intussen het die wiel gedraai en wil almal Engels wees.

Engels en Engelse politieke korrektheid is eintlik vir negentig persent van ons probleme verantwoordelik. Die oomblik wat ons Engels ‘n knou kan toedien deur byvoorbeeld Engelse instellings te ondermyn — op dieselfde wyse as wat Engelse en hul handlangers Afrikaanse instellings ondermyn het en steeds ondermyn — sal daar vir ons ‘n stukkie blou hemel tussen al die donker wolke oopgaan.

Die Machiavelliaanse Engelsman, die swartman en die Indiër het in Suid-Afrika nie teruggedeins van leuens, propaganda en selfs terreur om hul doelwit van totale oorheersing te verwesenlik nie. Dalk verhoed Afrikanerordentlikheid ons om dieselfde magsinstrumente aan te wend, en in elk geval wil ons nie tot dieselfde vlak as Joe Slovo, Abubaker Ismail, Hein Grosskopf en die res daal nie.

Sonder om ons aan die naakte terreur van die Suid-Afrikaanse Engelsman en sy gekleurde agterryers skuldig te maak, glo ek egter dat ons skeppende vermoëns en onverskrokkenheid ons tog in staat sal stel om metodes en strategieë te bedink waarmee ons die taalvyand ‘n meer as gevoelige skop op die maermerrie kan gee.

Een besondere voordeel waaroor ons reeds beskik, is dat die oorheersing van Engels, asook die grootheidswaan van die Engels-(swart-)man veroorsaak dat hy hom glad nie steur aan enigiets wat in Afrikaans geskryf word nie. Afrikaans bestaan nie meer nie. Daar word geen ag geslaan op enige brief, versoek of kommunikasie wat in ons taal aan die staat of ander instansies gestuur word nie, wat nog te sê ‘n artikel op die internet of ‘n boek in Afrikaans. Gevolglik geniet ons ongekende spraak- en denkvryheid om tussen mekaar te redeneer sonder dat ons hoegenaamd deur die apparatsjieks van die regime gesteur word.

Engels moet weg. Laat ons voortaan net daaraan dink en hoe dit verwesenlik kan word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.
  • profplumber

    Hoor hoor!

  • sussie se vissie

    ‘Afrikaans bestaan nie meer nie….geen ag geslaan nie….gevolglik ken ons ongekende spraak en denk-vryheid…sonder dat ons…..gesteur word’.
    Jaaaaaa dok. Kug kug.
    Die Hein Grosskopf’s van ons samelewing is steeds daarop uit op hul missie vir Afrikaner verguising. Agent Hein steeds aktief…durf ek u mee te deel.
    Kodenaam Wim de Villiers.
    Andersins sal ek nie al te maklik op my louere rus in ‘gevrywaarde kommunikasie’ met my mede Afrikaner broers nie.
    ‘Times are tough’…en die Piet de Wet’s in ons midde staan op loer.
    Ywerig om te vertaal en voor te lê aan ogies wat moet kennis neem.

    • Ons leef in ‘n feitlik volkome kommunistiese samelewing en daarom wil ek nie sê dat ons nie as “vyande van die staat” deur die geheime polisie dopgehou word nie. Maar anders as Engels wat ook as polities korrekte taal gepolisieer word en waarin jy niks mag sê wat afwyk van die heersende diskoers/ideologie nie, geld dieselfde sensuur en dwangbuis nie in Afrikaans nie. In Afrikaans mag jy maar ‘n ketter wees, ook omdat ons as “afgeskaf, oorwin en onbenullig” gesien word.

      • Charles

        Dankie Dr.

  • Rooikop

    Ek probeer Afrikaans bevorder sover ek kan. In die alledaagse lewe bv in ‘n restaurant is die grootte van die fooitjie direk afhanklik van die taal waarin ek bedien word. Waar ek deur die motorhandelaar gekontak word oor die diens wat ek ontvang het, is die punte wat ek toeken afhanklik van die taal waarin ek bedien is. (die werktuigkundige praat nog Afrikaans maar moet tog net nie versoek dat ontvangs dieselfde doen nie!)
    Partykeer voel dit of ek teen donderweer skree maar tog is daar die klein satisfaksie om Afrikaans te kan besig en op my klein maniertjie te kan probeer bevorder.Al is ek net ‘n doring in die vlees van die teenstanders is dit ook goed.

    • Mooi so, Rooikop! Veral in Pretoria kan ‘n mens nog oral Afrikaans praat en verstaan word; in Johannesburg raak dit moeiliker. Ons ekonomie word egter deur groot, genoteerde maatskappye oorheers en hulle het reeds slegs-Engels as beleid aanvaar. Die geveg moet daarheen verskuif.

      • Rooikop

        Ek sien dit ook – ek is tans op kontrak in JHB. Ek het toe iets nodig by ‘n gewone hardeware winkel en buiten dat ‘n ordentlike hardeware (of eintlik die beter woord ysterwarewinkel) so skaars soos hoendertande is naby die ou RAU, praat almal engels. Verder is daar weinig blankes en swartes maar verskriklik baie mense van afkomste wat ek nie eers herken nie – miskien indiërs maar ook nie. Verder verbaas die hoeveelheid moskees my – van Midrand af, is daar etlike van die en dan lyk dit of daar in Emmarantia omgewing ook een is langs Barry Hertzog rylaan.

        Tog praat ek met mense Afrikaans in besighede en kom dan gou agter hoeveel Afrikaners daar regtig is maar hulle het ook maar moed opgegee en praat meestal engels in die werksplek. Maar so ook die volk. Hulle praat nie meer hulle eie inheemse tale met mekaar nie maar daardie gekrokte weergawe van ingels wat hulle besig (ek het baie binnepret hieroor want ek weet hulle sal engels na ingels verander en daarmee saam dit ook breek soos alles anders)

        Wat ek ook sien is dat ettikette op produkte al minder Afrikaans bevat (veral daardie winkel woolworths – ek wens my vrou wil ophou om hulle te ondersteun) en hierdie gaan nog lank vat om om te draai of te herstel. Hier is een van die plekke waar ek reken die geveg moet begin teen die groot maatskappye.

        Ek sou hulle graag wou dwing om AL 11 landstale op die ettikette aan te bring en natuurlik Afrikaans ook – nie dat ek ‘n veer voel vir die ander tale nie, net dat dit die regte ding sal wees om te doen in ‘n land soos die.

        • Betzie van Rensburg

          Die inheemse swart tale het darem nie dieselfde vlak van ontwikkeling op bv. akademiese
          terrein bereik nie. Daar is vakterme in Afrikaans geskep. Proefskrifte daarin geskryf. Prosa, gedigte. Akademiese boeke en handleidings. Noem maar op. Mens mag tog trots wees op meriete ?

          • Rooikop

            Ja jy mag – die probleem is dat die groot maatksppye die goed koop maklike uitweg van alles ingels vat – Hulle moet juis hulle kliëntebasis se wense gehoorsaam daarom moet hulle almal bedien in al die tale en natuurlik dan Afrikaans ook.

    • Charles

      Presies Rooikop, presies.
      Dankie, hou so aan, en ek van my kant af!

  • Suidpunt

    Ek herinner my aan ‘n tydperk toe uit die hoogte geskryf is: Ce qui n’est pas clair n’est pas français ; ce qui n’est pas clair est encore anglais, italien, grec ou latin. En kyk in watter toestand verkeer Frankryk vandag. Wêreldtale verander elke paar eeue. Die wiel het gerol. Die teerling is gewerp. Kan Frans werklik nog teenstand teen Engels wêreldwyd bied soos Alliance francaise ons wil laat glo? Ek twyfel – want selfs in Amerika is daar vrees vir die naderkruipende Spaanse Armada. Orals regoor Europa taan die belangstelling in Frans, maar styg die belangstelling in Spaans en Russies. Is Spaans, die taal van die gepeupel, die taal van die Amerikaanse toekoms? As Hollywood eers toegesak word met Spaanse films, sal die Suid-Afrikaanse skottelkanale maar ander bronne moet gaan soek… En watter taal sal ons parlementariërs dan wil praat om “in pas” met die wêreld te wees?

    • Die Engelse het hul misgis met Brexit want binnekort is Engels geen amptelike taal van die EU meer nie. Dan sal Frans en Duits sterker word, ten minste in Europa wat steeds die sentrum van ons beskawing verteenwoordig.

      Sonder Frankryk en die Franse manier om die heersende ideologie uit te daag, sou opstand of verset haas nie meer moontlik gewees het nie. Marine Le Pen mag nooit president word nie, maar die blote feit dat sy die hoofstroompolitiek in Frankryk oorheers, het reeds Frankryk en Europa verander!

      Parys is die enigste stad in Europa wat met Londen in grootte en invloed kan vergelyk, en Londen het reeds ‘n Moslem-burgemeester…

      • Suidpunt

        Touché, docteur. Merci beaucoup!

      • Charles

        Dankie Dan, dankie vir alles!!
        Ons sou heeltemal verlore gewees het sonder jou!
        Lank lewe Afrikaners (soos jy) EN Afrikaans.
        Niemand kan ons onderdruk of ons taal in gevaar stel nie, behalwe onsself.
        Ons is soms…wel…die meeste van die tyd, self ons grootste vyand.
        Dankie tog vir jou, jy is my held!

      • Charles

        Dr, wat dink u van Solidariteit se Soltech Technikon en Akademia Universiteit?
        Is dit prysenswaardig, of net ‘n vrugtelose oefening? Dink u nie dit gaan in die komende jare nog vele waarde toevoeg tot Afrikaanse tersiere onderrig nie, terwyl die “staatsuniversiteite mettertyd al hoe meer in verval gedompel word nie? M.a.w. wanneer ons ons oe oopmaak, sit ons met ‘n uitstekend funksionerende Afrikaanse universiteit met die paralel wanfunksionerende hole (vorige goeie staatsuniversiteite), en met al die goeie Afrikaanse profs wat na Akademia en kie gemigreer het?
        Ek sal graag u opinie betreffende die lewensvatbaarheid van DIE twee privaat Afrikaanse Universiteite wil hoor, asook oor Aros en die Afrikaanse Protestantse Akademie?
        Dink u nie dit is miskien uiters slim taktiek deur Solidariteit nie?(terloops, hulle hele taktiek as “burgerregte” organisasie in die verband)

  • Betzie van Rensburg

    Advokaat Jo Hiemstra het onlangs in n aanbieding gepraat oor die nadelige effek wat die afskaf van Afrikaans by regstudies het. Hoe Romeins Hollandse Reg ( met Latyn en Hollands as voertale ) ontoeganklik is vir diegene wat hom net die Engels soek. Hy het ook klem gelê op die rykdom van briljante hofuitsprake in Afrikaans.

    • Suidpunt

      Mense vergeet baie maklik die Britse “Common Law” is nie dieselfde as die “Gemenereg” van Kontinentaal-Europa nie. Ek het ook “De Instituten van Justinianus” by ‘n plekkie in Mosselbaai gekoop, waar Latyn en die Hollandse vertaling vrylik langs mekaar loop. Ek beskou Hollands lankal nie meer as ‘n vyand van Afrikaans nie, maar eerder ‘n aanvullingsmiddel. Is dit nie snaaks hoe verdomp moeilik dit is om Hollandse boeke in die openbare mark te vind nie? Selfs nie eens by antikwariate nie? Duitse en selfs Franse boeke is véél makliker te kry.

      • Betzie van Rensburg

        Jy is reg oor die beskikbaarheid van Hollandse boeke. Moet darem bely dat ek Daniël Hugo se vertaling van Gerbrand Bakker se boek , Bo is dit stil, intens geniet het.

        Mens moet jouself oefen in n ander taal. Totdat die sinne wat jy lees , saamvloei met intuitiewe begrip.
        Ek sou bv. nie Thomas Mann, destyds as student, in Afrikaans wou lees nie

    • Charles

      Betzie, ons SAL NIE gaan le nie.

      • Betzie van Rensburg

        Mens het binne pret. Soos om in Afrikaans by die kassiere in Dischem te hoor hoe mal die volgende sinne haar maak . ” Next customer, pleeze. Till… number…. six.”

        • Charles

          Hehe, die snaakste is as een van die “konsultante” van hierdie huishoudelike “troll” winkelgroepe jou skakel en jy dadelik Antwoord en voortgaan in Afrikaans. Sommige het al gevra (ongelooflik genoeg, “what language are you speaking?) en hoor, dit IS DIE vinnigste wat jy van hul ontslae raak. Ek het al hengse baie pret op die manier gehad!! Dit is juis na aanleiding van my empiriese ondersoek/navorsingsprojek daaroor; sekerlik die vinnigste om hulle(ja hulle, nie jy nie!!) te kry om die telefoonverbinding te ondrbreek en jou in rus en vrede te laathehe!!

  • Betzie van Rensburg

    In Bloemfontein word o.a. die provinsiale ambulansdiens gebel om n pasiënt in Tafelberglaan te gaan oplaai.
    Swart vrou dring aan om die pleknaam in Engels aan te hoor. Waar sou hulle dan Table Mountain Avenue in Bainsvlei
    opspoor ?.

    • Charles

      Sjoe, belaglik, die klomp goed!!

  • Nick

    Sal hierdie protes nog `n wyle voort duur ? Sover ek weet is dit nie die A.N.C. of die gehate Ingelse invloed wat Afrikaans aan die keel beet het nie. Dis Afrikaners self.

    Dis Afrikaners wie nie Afrikaans wil praat nie.
    Dis Afrikaners wie hul stem uitgebring het ten gunste van `n onderhandelde oorgawe. En soos jy self noem Dan Roodt,
    Dis Afrikaners wie hulself vandag afskaf oral in die akademiese – en besigheids wêreld.

    So, my beskeie mening is dat u, net soos in die verlede met u politieke aspirasies, aan die verkeerde deur hamer. Voordat jy my weer summier deur die DIDQUS val deur laat val, wys tog vir my uit waar die Afrikaner vir homself sorg.

    In die verlede, wanneer hierdie onderlinge vyandigheid en ongetraaktheid tussen Afrikaners uitgewys was – veral hier op PRAAG – was die skrywer behoorlik vervloek. Nou wil dit my voorkom asof jy self ook begin besef dat die Boere hul eie grootste vyand is.

    • Na mening is dit inderdaad uniek dat ‘n groep mense (die blanke Afrikaner) hier aan die Suidpunt van Afrika kom versamel het met ‘n eie taal. Ek stem saam dat die onus op ons rus om dit te handhaaf en te benut. Ek is aktyd baie opgewonde oor die Liberalis, Kommunis, Jood en Engelsman se oordonderende reg tot “standpunt”. Maar het die (Boere) Afrikaner nie ook reg tot ‘n standpunt nie? As ons aanhou terugstaan en neerbuig of uitverkoop ter wille van “erkenning” van en deur ander, gaan ons beslis nie anderkant uitkom nie! Ja, die “evolusie” van die lewe verplaas, assimileer of verswelg stamme, volke, tale en nasies … omdat die minderhede self toelaat dat hulle verswelg of uitgemoor word. Watter erfporsie (kutureel, polities, akademies, taal, grondgebied, geestesgesondheid, uitvoerbare bestaansreg) laat ons aan ons kinders na?

  • Nick

    Dan Rood, is jy eintlik `n humeurige ou ? Of is dit iemand anders wie in beheer is van jou PRAAG.co.za se DISQUS forum ? wie alle non-conformist opinies dadelik probeer dood skiet ? Liewe vader !! As jy reken die MSM is gepla met sensuur hoe regverdig jy dan jou eie onverdraagsaamheid ?
    Of verkies jy jou daaglikse 4 diakens se instemming en thumbs-up vir jou ongelooflike prosa skeppings ?
    Blaas so bietjie af toe.