Ryk wit Sandoniete ‘betoog’ langs hul duur motors teen Zuma

'n Flouerige verlinkse poging teen Zuma in William Nicol-rylaan, Sandton

Massa-optogte om president Jacob Zuma te oorreed om te bedank, sal vandag landwyd gehou word. In Johannesburg se noordelike voorstede waar wit Engelse woon, is die saamtrekke uitsluitlik wit.

In William Nicol-rylaan hou ryk Engelse tantes plakkate op wat kommunis Chris Hani verheerlik. Hule duur motors is neffens hul geparkeer. Die ironie is dat die Britse banke se veldtog teen Zuma hierdie mense se sakke eerste gaan raak, maar hulle is te onnosel om dit te besef.

Verliese van miljarde rande en ‘n daling in die geldeenheid sal pensioenfondse waarskynlik die ergste raak. Nedbank se bestuurshoof, Mike Brown wys daarop dat die buitelandse gradering afgeskaal is en nie die plaaslike gradering nie. Volgens hom het aandele in die finasiële sektor waarskynlik met tot R150-miljard gedaal en die rand se waarde met byna 15 persent verminder.

Die betogings is gereël deur pro-Britse burgerlike organisasies en die DA nadat President Jacob Zuma die voormalige Minister van Finansies, Pravin Gordhan en sy adjunk, Mcebisi Jonas, in ‘n kabinetskommeling afgedank het. Gordhan was hul man in die regering.

Gordhan het intussen te kenne gegee dat hy steeds deel van die ANC wil wees, wat die optogte nou taamlik sinneloos laat lyk. Die voormalige Minister van Finansies het Suid-Afrikaners gevra om “positief” te bly oor die land. Gordhan was een van die sprekers tydens die gedenkdiens vir die ANC-veteraan, Ahmed Kathrada, in die St George’s-katedraal in Kaapstad.

Onsekerheid het aanvanklik geheers oor die optog na die Uniegebou in Pretoria waar polisievoertuie reeds Donderdagaand ontplooi is. Die Tshwane Metropolisie het aan die organiseerders, Save South Africa, gesê dat toestemming geweier is vir die optog, waarna die drukgroep ‘n hofbevel gekry het wat die verbod omgekeer het.

Die uitvoerende burgemeester van die Tshwane Metroraad, Solly Msimanga, het vroeër ontken dat toestemming geweier is. Msimanga het op sosiale media gesê iemand speel politieke speletjies en misbruik hulle posisie.

Die waarnemende Nasionale Polisiekommissaris, Khomotso Phahlane, het intussen gesê die polisie sal alle optogte as wettig hanteer indien die howe so beslis het.

Optogte word ook beplan in Kaapstad, Durban, Port Elizabeth, Mbombela en ander groot sentra.

In Johannesburg se middestad het 600 MK-lede ontplooi om Luthulihuis teen die DA se opmars te verdedig. COSAS neem ook aan die optrede deel om president Zuma te beskerm.

Motoriste word gewaarsku om Johannesburg se middestad môre tussen tien- en twee-uur te vermy aangesien die DA ‘n optog daar gaan hou.

Verskeie strate in en om die middestad sal gesluit wees. ‘n Woordvoerder van Johannesburg se metropolisie, Wayne Minnaar sê die optog begin by Westgate en sal in Henry Nxumalo-straat, wes van Mary Fitzgerald-plein verby beweeg. Die protesgangers sal dan later na Westgate terugkeer. Talle ander protesoptogte word ook beplan.

Die DA in die Noord-Kaap gaan vandag ‘n deur-tot-deur veldtog voer om gemeenskappe in Kimberley aan te moedig om ‘n versoekskrif te onderteken waarin gevra word dat president Zuma bedank.

Die DA se bruin Noord-Kaapse leier, Andrew Louw, sê diegene wat hul vertroue in die President verloor het, word uitgenooi om by hulle aan te sluit by die Perseverance Kollege in die stad.

Die voormalige voorsitter van die Afrika Unie se kommissie, Nkosazana Dlamini-Zuma het jong Suid-Afrikaners aangemoedig om meer militant te raak en die stryd vir sosioekonomiese transformasie te lei.

Sy het gepraat by ‘n geleentheid om die 38 jaar sedert die teregstelling van oud-terroris Solomon Mahlangu in 1979 te herdenk. Mahlangi is gehang nadat hy skuldig bevind is aan moord tydens ‘n UMkhonto WeSizwe-operasie.

Dlamini-Zuma sê die jeug moet Mahlangu se voorbeeld volg. Volgens haar moet die grondkwessie ook voor die ANC se beleidskonferensie bespreek word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.