Maandag het Standard en Poor’s Suid-Afrika na rommelstatus afgegradeer. Hulle het die naweek ‘n noodvergadering gehou, vermoedelik om ‘n kernkragoorkeenkoms van miljarde rande met Rusland te keer.
Die stap het die rand teen al die grootste geldeenhede laat verswak. Standard en Poor’s het die land se kredietgradering in Desember net een kerf bokant rommelstatus behou.
Die graderingsagentskap het glo besluit on Suid-Afrika af te gradeer na ‘n sub-beleggingsgraad “wat sy siening weerspieël dat die verdeeldheid in die ANC-geleide regering gelei het tot veranderinge in die uitvoerende leierskap”.
Moody’s het die regering se gradering van B-A-A-2 ook intussen op hersiening geplaas vir moontlike afgradering, wat ‘n verdere terugslag vir beleggersvertroue sal wees.
Moody’s het in ‘n verklaring aangekondig dat president Jacob Zuma se besluit om sleutelkabinetsposte te wysig vrae laat ontstaan het oor vordering wat gemaak word ten opsigte van die land se fiskale situasie en ekonomiese groei.
Moody’s se kennisgewing lig die regering in dat die agentskap bekommerd is oor die toekomstige doeltreffendheid van die land se besluitnemingsliggame en die onmiddellike gevolge wat dit vir groei en skulddelging sal hê.
Die Tesourie sê intussen hy is daartoe verbind om ‘n verantwoordelike fiskale beleid te volg. Die Tesourie sê in ‘n verklaring Suid-Afrika sal volhou met ‘n konsekwente beleidsraamwerk wat gematig en deursigtig op veranderende omstandighede reageer.
Die besluit volg op ‘n kabinetskommeling waarin die minister van finansies, Pravin Gordhan, en sy adjunk Mcebisi Jonas die trekpas gekry het.
Die rand het dadelik gereageer en gedaal tot ‘n laagtepunt van R13.71 teen die dollar. Teen 17:53 het dit op R13.67 teen die Amerikaanse geldeenheid verhandel.
S & P het gesê die uitvoerende veranderinge wat deur president Jacob Zuma het in gevaar fiskale en groei uitkomste gestel.
Die vooruitsigte op al die langtermyn graderings is nou negatief.
Die voormalige president Kgalema Motlanthe, het amptelik sy steun aan die private sektor, nie-regeringsorganisasies, arbeidsfederasies en opposisiepartye toegesê en Jacob Zuma gevra om te bedank.
Motlanthe het dié oproep gedoen tydens ‘n onderhoud met Bloomberg. Hy sê ‘n ineenstorting in die ANC se “demokratiese waardes” onder Zuma, en ‘n uitspraak in die Grondwethof dat hy sy ampseed verbreek het, het bewys dat Zuma nie die land kan regeer nie.
Motlanthe het olie op die vuur gegooi deur Zuma as iemand voor te hou wat nooit besin het oor dit wat in nasionale belang is nie en dat hy tot irrasionaliteit in sy optrede geneig is.